Coram Deo Cover Image

Coming soon...

8 May 2022

Die sewe kruiswoorde van Jesus: Heerlikheid

Lukas 23:46

In ’n sekere sin is die sewe kruiswoorde van Jesus soos die skepping. Op die sesde dag het die Here alles voltooi en daarna het Hy gerus (Gen. 1:31-2:3). Net so was Jesus se sesde kruiswoord: “Dit is volbring!” (Joh. 19:30). Daarna het Hy gerus en sy hemelse heerlikheid ingegaan. Deur Hom kan ons die rus van die hemel ingaan (Op. 14:13).

 

1. Jesus se verhouding

’n Iranese Moslem vrou sê dat Allah 99 name het. Nie een van die name is ‘vader’ nie. Sy vertel dat sy in ’n gebroke huis groot geword het. Haar pa was aggressief en het gedurig die ma aangerand. Hy het ook sy seun probeer doodmaak. As gevolg hiervan het die vrou haar pa gehaat. Toe sy volwasse word, toe vlug sy Engeland toe. Daar het sy ’n Iranese vriendin ontmoet en haar hart met die vrou gedeel. Die vriendin het gesê: ‘Ek is nie godsdienstig nie, maar my dogter het ’n Christen geword en haar lewe het verander.’ So het die twee vroue die dogter se gemeente besoek. Daar het die vrou die Christene se blydskap gesien, die evangelie gehoor en tot bekering gekom.

Maar sy kon God nie ‘Vader’ noem nie. Sy het die Bybel bestudeer, die Vader se liefde verstaan en Hom met ’n dankbare hart ontvang. Hy het haar lewe verander en haar gehelp om haar pa te vergewe.

Kort daarna het sy die evangelie met haar ma gedeel. Na ’n paar pogings het haar ma tot bekering gekom. Ook haar susterskind, skoonsus, suster, broer en ses ander familielede het deur haar getuienis tot bekering gekom.

Haar pa was egter nog ongered. Hy het die ma vir ’n jong meisie gelos en vir jare geen kontak met sy familie gehad nie. Op ’n dag toe bel die vrou haar pa. Hy het kanker gehad. Die jong meisie het hom gelos. Die ma het moed bymekaar geskraap en besluit om haar eks-man te versorg. Drie dae voor sy dood toe bel sy dogter hom (die vrou in ons storie). Sy het die evangelie met hom gedeel. Hy het die Here aangeroep om hom te red en te vergewe.1

God is ’n wonderlike Vader. Jesus het die Vader geken en ’n unieke verhouding met Hom gehad (Joh. 1:1, 10:30, 38, 14:9-11, 20:17). Die Vader het die Seun liefgehad en die Seun die Vader (Matt. 3:17, Joh. 3:35, 5:20, 10:17, 14:31, 15:9-10). Gedurende een tydstip aan die kruis het Jesus sy sin van die Vader se nabyheid verloor (Matt. 27:46). Voor die einde het Hy dit herwin (v.46). Dit spreek van sy intieme en persoonlike verhouding met die Vader.

Deur Jesus kan ons God ons Vader noem en ’n verhouding met Hom hê (Matt. 6:9, Joh. 1:12-13, Gal. 4:5-7, 1Joh. 1:3, 3:1). Dit het implikasies (bv. Matt. 6:8, 26, 7:9-11), maar ek wil myself tot een toepassing beperk: die Christen se sterfbed.

Hy wat God as sy Vader ken, het volle berusting op sy sterfbed. Ons sien dit toe Jesus in v.46 sê: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Deur Christus kan ook ons vreesloos op ons sterfbed wees: “Aangesien die kinders dan aan vlees en bloed deel het, het ook Hy net so aan dieselfde dinge deel gekry, sodat Hy deur sy dood die een wat oor die dood mag het, dit is die Duiwel, kragteloos kon maak, en sodat Hy hulle wat uit vrees vir die dood hulle lewe lank in slawerny verkeer het, kon bevry.” (Heb. 2:14-15).

Wyle Martin Holdt het dit beleef. Toe sy bediende ’n paar dae voor sy dood by die kamer inkom, toe gooi hy sy hande in die lug en sê: ‘Maria! Ek gaan hemel toe!’ ’n Amerikaanse teoloog genaamd Gresham Machen het dit beleef. Op sy sterfbed het hy ’n visioen van die hemel gehad en vir sy vriend gesê: ‘Sam, it was glorious, it was glorious.’2

Kan jy in vrede sterf as jy twyfel dat God jou Vader is en jy sy kind is? Kan jy in vrede sterf as jy ’n verkeerde beeld van die Vader het en Hom as ’n afsydige God beskou? Ken God as jou Vader deur Jesus Christus (Joh. 1:18, 14:6), dan sal jy in vrede sterf (v.46). Jesus het geweet dat sy lewe nie meer in die hande van mense is nie (9:44), maar in sy Vader se hande (v.46). Daarom het Hy in vrede gesterf.

As jy jou bekeer en vergewe is, is die Vader se hande die veiligste plek in die heelal (2Sam. 24:14, Joh. 10:29). As jy Jesus verwerp en jou eie geregtigheid opstel, is die Vader se hande die gevaarlikste plek in die heelal (Heb. 10:29, 31). Die vraag is nie of jy in die Vader se hande is nie, maar of jy as ’n gelowige of ongelowige daar is. Dit sal tot groot mate bepaal of jy in vrede sterf.

 

2. Jesus se oorwinning

Gewoonlik praat ’n sterwende mens sag, veral as dit sy laaste woorde is. Jesus se laaste woorde het Hy met ’n harde stem en in oorwinning uitgeroep (v.46, Joh. 19:30). Die hemel en die aarde moes weet dat Hy oorwin het (vgl. Joh. 11:41-43). Sy oorwinning bevoordeel elke gelowige. Deur Christus oorwin ons die vlees, die wêreld en die duiwel (Rom. 6:14, 8:37-39, 1Kor. 15:55, 57, 1Joh. 2:13-14, 5:4-5, Op. 12:11).

Jesus se oorwinning oor die hel beteken nie Hy het soontoe gegaan toe Hy sy asem uitblaas nie. Sommige dink Hy het, omdat die Apostoliese Geloofsbelydenis dit sê: ‘[Ek glo] in Jesus Christus...wat...gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het...’ (eie beklemtoning).3 Hierdie frase ontbreek in die vroeë weergawes van die belydenis.4 Selfs Rufinus wat die woorde in 390 n.C. bygevoeg het, het nie geglo Jesus is hel toe nie. Hy het die Griekse woord hadēs met verwysing na die graf gebruik eerder as geēnna wat ‘hel’ beteken. Buitendien baseer ons nie ons geloof op belydenisse nie, maar op die Bybel (net soos jy nie een klavier volgens ’n ander een stem nie, maar volgens die stemvurk).

Volgens party mense leer die Bybel ons dat Jesus hel toe is na Hy gesterf het. 1Pet. 3:18-20 sê: “Immers, ook Christus het eens en vir altyd vir sondes gely, Hy, die Regverdige, ter wille van onregverdiges, sodat Hy julle na God kon bring. Hy is wel liggaamlik doodgemaak, maar deur die Gees is Hy lewend gemaak. Deur die Gees het Hy ook gegaan en dit vir die geeste in gevangenskap aangekondig. Daardie geeste was destyds ongehoorsaam, toe God in Noag se dae geduldig bly wag het, terwyl die ark gebou is...”5

Wat beteken hierdie verse? Party mense dink dit beteken dat Jesus vir ons sonde in die hel gaan ly het toe Hy dood is en dat Hy die bose daar oorwin het. Volgens Joh. 19:30 het Jesus sy verlossingswerk aan die kruis afgehandel: “Dit is volbring!”

Ander dink dat Hy hel toe is om vir die verlorenes ’n tweede kans te gee. Hulle misverstaan 1Pet. 4:6: “Dit is immers waarom die evangelie ook aan hulle wat reeds dood is, verkondig is, sodat, al sou hulle wel volgens menslike maatstaf na die liggaam geoordeel word, hulle volgens die maatstaf van God na die gees kan leef.” Petrus praat van gelowiges wat reeds gesterf het. Voordat hulle oorlede is, is die evangelie aan hulle verkondig. Daar is geen aanduiding dat mense na die dood tot bekering kom nie (sien 16:26, Heb. 9:27).

Volgens party mense het Jesus in die doderyk neergedaal om Ou Testamentiese gelowiges uit die gevangenis te bevry6. Petrus sê niks hiervan nie. Buitendien is Ou Testamentiese gelowiges hemel toe toe hulle gesterf het (9:30-31, 16:22, 2Kon. 2:11, Pred. 12:7, Matt. 22:32, Heb. 11:5).

Sommige dink dat Petrus die volgende bedoel: toe Noag die ark gebou het, was die wêreld ongehoorsaam. Deur die Heilige Gees in Noag, het Christus die goddelose gewaarsku (1Pet. 1:10-11, 2Pet. 2:5). Hulle wou nie luister nie en daarom is hulle nou geeste in die gevangenis.7 Hierdie interpretasie rek die eenvoudige betekenis van die woorde.

Nêrens sê Petrus dat die geeste waarvan hy hier praat mense se geeste is nie. Hy verwys meer waarskynlik na die bose geeste wat in Noag se tyd ongehoorsaam was en nou in die gevangenis is (Gen. 6:1-4, 2Pet. 2:4, Jud. 6). Toe Jesus gesterf het, toe dink die bose hulle het oorwin. Op pad hemel toe het Jesus ’n draai by die gevangenis gaan maak om sy oorwinning aan te kondig (Ef. 4:8, 1Pet. 3:19-20). Daarna het Hy in die hemel opgevaar (v.46, 43). In die Ou Testament het die hoëpriester in die allerheiligste ingegaan, nadat hy ’n dier geoffer het. In die Nuwe Testament het Christus in die hemel ingegaan, nadat Hy Homself geoffer het (Heb. 9:12, 24). Volgens Ps. 24:7-10 het Jesus twee keer in die hemel ingegaan: een keer na sy dood en een keer toe Hy opgevaar het.

Jesus het die dood en die hel oorwin. Hy het sy mag oor die dood gewys deurdat Hy besluit het wanneer Hy sou sterf (v.46, Joh. 10:18, 7:30, 8:20). Vir ons is dit anders. Niemand kies die presiese oomblik van sy dood nie (Pred. 8:8). Selfs die persoon wat selfmoord pleeg, kan nie sukses waarborg nie. En al is hy ook suksesvol kies hy nie wanneer dit sy laaste asem is nie.

Maar al kan jy nie v.46 op jou sterfbed sê nie, kan jy dit in beproewing sê: “In u hand gee ek my gees oor; U het my bevry, Here, troue God... U is my God, my tye is in u hand.” (Ps. 31:6, 16). Jy kan dit van heiligmaking sê: ‘Hier is my gees, my lewe, my alles. Bewaar my asseblief in u hand.’ (sien Rom. 12:1).

Niemand op sy sterfbed kan soos Jesus kies wanneer hy sy gees aan die Vader oorgee nie, maar jy kan sê: “Here Jesus, ontvang my gees!” (Hand. 7:59). Christus alleen kon v.46 aan die einde van sy lewe sê, omdat net Hy mag het oor die dood.

Laat dit jou bemoedig: Jesus is sterker as die dood. Dit is onnodig om die dood te vrees as jy aan Jesus behoort. Ek weet die dood is die laaste vyand (1Kor. 15:26), maar dit is ook die goue koets wat jou na Jesus toe neem. Wanneer jy te sterwe kom, sal die Here jou veilig deur die donker vallei dra en jou deur water en vuur lei (Ps. 23:4, Jes. 43:2). Dit is nie jou gevoel wat dit bepaal nie, maar God se beloftes. Vul jouself daarmee (Ps. 37:31, 2Pet. 1:4) net soos Jesus Homself met die Skrif gevul het en dit voor die einde aangehaal het (v.46).

Sonder God se beloftes sal jy ’n moeilike sterfbed hê, sodat jy sê: “Sal my Heer ons dan vir ewig verstoot en ons nooit weer aanvaar nie? Is dit vir altyd die einde van sy troue liefde? Het sy boodskappe van geslag tot geslag tot ’n einde gekom? Het God vergeet om genadig te wees, of het Hy in toorn sy ontferming opgehef?” (Ps. 77:8-10). Jy sal soos Christen in Bunyan se Pilgrim’s Progress wees. Toe hy deur die rivier van die dood moes gaan, het hy God se beloftes vergeet en gesink. Eers toe hy die beloftes onthou, het hy veilig en gemaklik deur die rivier gegaan.8

Is dit nie beter om te weet dat jou gees na die Vader toe gaan wanneer jy jou asem uitblaas nie (v.46, Fil. 1:21-23)? Jesus se dood het dit verseker. ‘His dying breath has brought me life.’ (Stuart Townend).9 Die dood het nie ’n angel as jy in Jesus glo nie (1Kor. 15:55). Die oomblik wat jy jou asem uitblaas, open jy jou oë by die Here (Ps. 17:15, 23:6, 139:18, 2Kor. 5:8). Dan sal God se heerlikheid, skoonheid en liefde jou vul soos die sonlig jou kamer vul as dit deur die venster skyn. Na miljoene jare in die hemel sal jy jou verstom oor die nuwe dinge wat jy van God leer (Ef. 2:7, 1Pet. 1:4). In die hemel bly ons vreugde vars en nuut. Niks of niemand kan dit steel nie, selfs nie die gedagte aan sonde van die verlede nie. Dit sal eerder maak dat jy die Here nog meer vir sy genade en liefde prys (Rom. 9:23, Ef. 1:6-7, Op. 5:9).

Hoe kan enigiets jou van die hemelse hoop en blydskap skei? C.S. Lewis het dit mooi verduidelik. In The Last Battle beskryf Aslan (die leeu) Lucy en haar gesin se dood en die hemel as volg:

‘“There was a real railway accident,” said Aslan softly. “Your father and mother and all of you are...dead. The term is over: the holidays have begun. The dream is ended: this is the morning.”

...the things that began to happen after that were so great and beautiful that I cannot write them. And for us this is the end of all the stories, and we can most truly say that they all lived happily ever after. But for them it was only the beginning of the real story. All their life in this world and all their adventures in Narnia had only been the cover and the title page: now at last they were beginning Chapter One of the Great Story which no one on earth has read: which goes on forever: in which every chapter is better than the one before.’10

Die dood is nie iets wat jy moet vrees nie, maar ‘an ugly porch which leads to the threshold of an unspeakably glorious mansion.’ (Stuart Olyott).11


1  https://www.thegospelcoalition.org/article/couldnt-call-god-father/

2  Iain Murray, The Life of John Murray (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2007, 1984), 83

3  https://kerkargief.co.za/doks/bely/GB_12.pdf

4  Wayne Grudem, Systematic Theology (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1994, 2007), 586-7 en Henry Bettenson, Documents of the Christian Church (Oxford: Oxford University Press, 1963 [1943]), 23-4

5  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

6  J.I. Packer, I Want to Be a Christian (Eastbourne, England: Kingsway Publications, 1977 1985), 49

7  Grudem, ibid.,

8  John Bunyan, The Pilgrim’s Progress (Fearn, Ross-Shire: Christian Focus Publications, 2005), 165-6

9  Stuart Townend Copyright © 1995 Thankyou Music (Adm. by CapitolCMGPublishing.com excl. UK & Europe, adm. by Integrity Music, part of the David C Cook family, [email protected])

10  C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Last Battle (New York: HarperCollins Publishers, 1956), 767

11  Stuart Olyott, The Gospel As It Really Is (Darlington: Evangelical Press, 1979), 76

Kategorieë