Matteus 27:45-46
Iemand het my onlangs ’n klomp vrae oor Jesus se lyding gestuur. Dit was vir ’n onderhoud. Ek het dit moeilik gevind om te antwoord. Ek wou nie lukraak aan Jesus se lyding dink nie. Ek wou dit nie bloot intellektueel verstaan nie. Ek wou iets daarvan in my siel beleef. Maar wie kan regtig verstaan wat Jesus aan die kruis moes deurmaak? Wie kan sy benoudheid pyl? Mag die Heilige Gees ons vandag help om iets daarvan te verstaan.
Oh, make me understand it,
Help me to take it in,
What it meant to Thee, the Holy One,
To bear away my sin.1
1. Duisternis (v.45)
Ek kan skaars oor die drie ure van duisternis praat sonder om emosioneel te raak. Dit is asof God ’n gordyn oor die wêreld getrek het, sodat niemand kon sien wat Hy aan sy Seun moes doen nie. Ons weet baie van wat in die eerste drie ure van Jesus se kruisdood gebeur het toe Hy in die hande van mense was (v.32-44). Die Bybel is stil oor die drie ure van duisternis toe die Vader sy Seun vir ons sonde vervloek het; toe Jesus in die hande van die lewende God geval het (Gal. 3:13, Heb. 10:31). Wie weet wat regtig wat in hierdie tyd gebeur het?
Die duisternis het 12 uur die middag begin. By Jesus se geboorte was daar ’n helder lig in die nag (Luk. 2:9). Toe Hy gesterf het, was dit donker in die dag. Die duisternis dui op God se oordeel (vgl. Jes. 50:3, Joël 2:31, 3:15, Amos 8:9, Matt. 24:29). Hoekom het die Vader sy Seun gestraf? “Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.” (2Kor. 5:21).2
Die son het as’t ware swart rouklere gedra (Op. 6:12), asof dit wou sê: ‘Ek kan nie kyk hoe die Son van Geregtigheid (Mal. 4:2) deur mensehande vermoor word nie.’ Toe die son sy oë toemaak, was dit nie weens ’n sonsverduistering of wolke voor die son nie. Paasfees geskied wanneer dit volmaan is. Die maan is agter die aarde en nie tussen die son en die aarde nie. Dus kon dit nie ’n sonsverduistering wees nie. Volgens Luk. 23:44-45 het die son opgehou skyn. Dieselfde God wat vir ’n volle dag kan keer dat die son ondergaan (Jos. 10:13), kan dit in die middel van die dag uitdoof. Origines van Aleksandrië (c. 185-254 n.C.) maak melding van sekulêre geskiedkundiges wat hierdie verskynsel opgeteken het.3 Omdat die son opgehou skyn het, sou die volmaan nie sigbaar wees nie, omdat die maan die son se lig weerkaats.
Verder speel die duisternis ’n simboliese rol. Die magte van duisternis wou Jesus se lig uitdoof (Luk. 22:53, Joh. 8:12). Hulle was onsuksesvol (Joh. 1:5), want met die opstanding het Christus se lig deurgebreek. Die duisternis wys ook dat God sy guns oor sy Seun onttrek het: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” (1Joh. 1:5). Jesus het letterlik hel deurgemaak aan die kruis. Die hel is ’n plek van duisternis (8:12, 22:13, 25:30). Die lig van God se goedheid, liefde en guns is nie daar nie. Die kruis is erger as die hel. In die hel ly elkeen vir sy eie sonde. Aan die kruis het Jesus miljoene mense se straf gedra. Hy is die ewige God wat beteken dat Hy binne ’n paar ure ’n ewige straf kon verduur.
Die duisternis van Golgota was swaarder as die duisternis oor Egipte. Egipte se duisternis het oor die Egiptenare gekom en nie oor die Israeliete nie (Eks. 10:22-23). Op Golgota het die duisternis die hele land of aarde bedek (v.45, Gk. gē). Die duisternis is oral waar daar sonde is. Dit is in mense se siele en in die samelewing. Ons sien dit in die boosheid, verwarring, dwaling en vrees rondom ons. Satan en mense se sonde hou hulle in die donker (2Kor. 4:4, Ef. 5:11).
Hoe sal hierdie mense vrykom? Vertel hulle van Jesus wat deur die donker omhul is (v.45), sodat ons lig kan hê. Sê vir hulle: “Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood en Christus sal sy lig oor jou laat skyn.” (Ef. 5:14). Sê dit vir jouself as jy nog in die donker is. “Terwyl julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan wees.” (Joh. 12:36).
2. Verlatenheid (v.46)
Blykbaar het Martin Luther eenkeer oor hierdie vers gepreek. Vir ure het hy voor ’n oop Bybel gesit. Uiteindelik het hy opgestaan en gesê: ‘God forsaken by God—who can understand that?’4
Jesus het hierdie woorde kort voor 15:00 gesê (v.46). Die harde uitroep wys dat Jesus benoud was. Dit sou fisies seergemaak het om hard uit te roep. Hy sou homself teen die spykers in sy voete moes opstoot en teen die spykers in sy hande optrek om sy borskas vol lug te maak. Dit sou ook veroorsaak dat die wonde aan sy rug teen die growwe kruishout skaaf. Dit was pynlik, maar Hy kon dit nie inhou nie. Hy moes eenvoudig die Vader aanroep. Sy stem het die stilte gebreek en deur die donker gesny.
Wat het Hy gesê? “‘Eli, Eli, lemá sabagtáni?’ Dit beteken ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’” (v.46). Hierdie aanhaling kom uit Ps. 22:2. Dawid beskryf sy eie benoudheid, maar terselfdertyd voorspel hy die Messias se kruisdood (sien Ps. 22:8-9, 15-19). In sy benoudheid noem Jesus sy Vader ‘my God’ (v.46). Hy het die sin van sy Vader se nabyheid verloor, sodat Hy Hom nie meer ‘Abba, Vader’ kon noem nie (Mark. 14:36). Tog het Hy geweet waarheen om te draai, naamlik na die Woord en gebed (v.46). Dit is ’n goeie les vir ons: bid as die Here vir jou ver voel. Bid die Bybel (veral die Psalms) as jy nie weet wat om te sê nie.
Al kon Jesus nie ‘Vader’ sê nie, kon Hy Hom nog ‘my God’ noem. Jesus het nie opgehou om die Seun van God te wees soos die Word of Faith beweging sê nie. Kenneth Copeland sê: ‘How did Jesus then on the cross say, “My God”? Because God was not His Father any more. He took upon Himself the nature of Satan.’5 Dit is Godslasterlik om die minste te sê. As Jesus sy Godheid verloor het, dan was God nie meer drie-Enig nie. ’n Vader sonder die Seun is nie meer die Vader nie. Dan het God self opgehou om God te wees.
Om te sê dat Jesus sy Godheid verloor het, is om saam met die spotters en die duiwel te staan. Hulle het Jesus se Godheid uitgedaag (v.40, 43, 4:3, 6). Dit is ’n blatante leuen om te sê dat Jesus vir ’n oomblik opgehou het om God te wees. Die Romeinse soldaat wat by die kruis gestaan het, het bely dat Jesus die Seun van God is (v.54). As Jesus aan die kruis sy Godheid verloor het, kan Hy ons nie red nie. Geen mens kan ’n ander een se siel red nie (Ps. 49:8-10). Net God kan (Ps. 49:16).
Jesus het ons gered deurdat die Vader Hom in ons plek verlaat het. Ek bedoel nie dat die Vader en die Seun geskei kan word nie, maar dat die Vader sy genade, guns en seën van die Seun onttrek het. Vir Jesus was dit erger as vir enige mens, omdat Hy en die Vader een is en hulle altyd volmaakte gemeenskap met mekaar gehad het (Spr. 8:30, Joh. 1:1, 10:30). Skielik het die Vader nie meer oor Hom geglimlag nie (3:17), maar Hom vir ons sonde verbrysel (Jes. 53:4-5, 10). Dit was erg genoeg toe sy dissipels die rug op Hom draai. Ten minste het Hy geweet die Vader is met Hom (Joh. 16:32). Maar nou het die Vader Hom verlaat (v.46)! Dit het sy hart gebreek. In B.B. Warfield se woorde: ‘...our Lord, though he died on the cross, yet died not of the cross, but...of a broken heart.’6
Ook die Vader se pyn het diep geloop. Al is die Vader onveranderlik en kan niemand sy emosies van buite af beïnvloed nie, kan die emosies uit Homself kom. Soos v.46 die Seun se hart gebreek het, het dit die Vader se hart gebreek om sy Seun vir ons sonde te straf. Hoor hoe Dawid in 2Sam. 18:33 sy rebelse seun se dood betreur het: “My seun Absalom; my seun, my seun Absalom! As ek maar in jou plek kon sterf! Absalom, my seun, my seun!” Hoe moes die volmaakte Vader nie gevoel het om sy volmaakte Seun vir ons sonde te straf nie? Sê dit nie iets van die Vader en die Seun se liefde vir sondaars nie?
This must be a cross of love
for God to bruise his only Son.
Jesus, what a sacrifice to reach us.
It had to be a cross of love.7
***
Wat is antwoord op v.46: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Ps. 22:4: God is heilig en Hy haat sonde. Hy moet dit straf, selfs as Hy ons sonde in sy sondelose Seun sien: “U wie se oë te rein is om boosheid te aanskou” (Hab. 1:13).
Omdat Jesus deur die Vader verlaat is, sal Hy ons nooit verlaat nie. Vriende sal jou verlaat (2Tim. 4:10, 16), maar die Vader sal nie (2Kor. 4:9, Heb. 13:5). Daarom kan jy met ’n dankbare hart sê: ‘My God, my God, waarom het U my omhels?’8
Uiteindelik het die Vader selfs Jesus se hulpgeroep verhoor. Dit het nie so gevoel terwyl Jesus aan die kruis was nie (Ps. 22:2-3). Maar die Bybel sê dit:
“Red my uit die bek van die leeu, en van die horings van buffels. U het my geantwoord... Want Hy het die lyding van die magtelose nie geminag of misken nie; Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie; maar toe hy Hom om hulp gesmeek het, het Hy gehoor.” (Ps. 22:22, 25).
“Christus het tydens sy aardse lewe smekinge en pleitbedes met harde krete en trane gebring voor God, wat in staat was om Hom uit die dood te red, en Hy is verhoor op grond van sy eerbiedige onderworpenheid aan God.” (Heb. 5:7).
Die Vader het die Seun se hulpgeroep by die opstanding verhoor: “God het Hom egter laat opstaan en van die lyding van die dood bevry, omdat dit onmoontlik was dat Hy deur die dood vasgehou word... want U sal my siel nie aan Hades oorlaat, en u Heilige nie ontbinding laat beleef nie... ‘Hy is nóg aan Hades oorgelaat, nóg het sy liggaam ontbinding beleef.’” (Hand. 2:24, 27, 31).
Hoe kan jy vergifnis en verlossing deur Jesus se meriete verkry? Erken dat jy Godverlate in die duisternis moet wees (v.45-46). Ek en jy verdien om soos Jesus te sterf. Ons sonde verdien dit. My en jou sonde is dieper as woorde, gedagtes en dade. Dit gaan daaroor dat ons ons eie god wil wees (Gen. 3:5). Ons is met ’n sondige natuur gebore (Ps. 51:7). Ons was dood in die misdade en sondes, en het agter die duiwel aangeloop (Ef. 2:1-3). God beveel jou om die sonde te haat wat vir Jesus gekruisig het. Charles Spurgeon sê:
‘O sirs, if I had a dear brother who had been murdered, what would you think of me if I valued the knife which had been crimsoned with his blood?—if I made a friend of the murderer, and daily consorted with the assassin, who drove the dagger into my brother’s heart? Surely I, too, must be an accomplice in the crime! Sin murdered Christ; will you be a friend to it? Sin pierced the heart of the Incarnate God; can you love it?... Begone, O sin!... Begone, for thou hast crucified my Lord, and made Him cry, “Why hast Thou forsaken Me?”’9
Sien Jesus se benoudheid in v.46 en beskou dit as die Vader en die Seun se liefde vir jou:
How deep the Father’s love for us
How vast beyond all measure
That He should give His only Son
To make a wretch His treasure
How great the pain of searing loss
The Father turns His face away
As wounds which mar the Chosen One
Bring many sons to glory.10
1 Katherine Kelly, Give me a sight, O Savior
2 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
3 Origen, Contra Celsum, Book II.33. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/04162.htm
4 In C.H. Spurgeon, Metropolitan Tabernacle Pulpit: The Saddest Cry from the Cross (Sermon #2803). Verkry by https://www.spurgeongems.org/sermon/chs2803.pdf
5 Kenneth Copeland, Believer’s Voice of Victory, TBN, April 21, 1991 in John MacArthur, Strange Fire (Nashville, Tennessee: Nelson Books, 2013), 47
6 In Dane Ortlund, Gentle and Lowly: The Heart of Christ for Sinners and Sufferers (Wheaton, Illinois: Crossway, 2020), 200-1
7 Steve Green & Twila Paris
8 Vry vertaal uit Mark Jones, Knowing Christ (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2015), 147
9 C.H. Spurgeon, The Treasury of the Bible: New Testament—Vol. 1 (London: Marshall, Morgan & Scott, 1962), 403
10 Stuart Townend, How deep the Father’s love for us