Coram Deo Cover Image

Coming soon...

1 June 2013

Die Regter se uitspraak oor Israel en Suid-Afrika ('n Kort oorsig oor Miga)

Judge's hammer and scales

 

Verbeel jou jy’s in die hof.  Dis die mid-700’s v.C.  Die Regter self het 'n klag gelê.  Die aanklaer wat die Regter verteenwoordig is 'n man met die naam Miga.  Elke aanklag word aangedui deur die woorde:  “Hoor tog” (1:2, 3:1, 6:1).

 

Die eerste klag (lees hoofstukke 1-2) is teen twee dorpe (Samaria en Jerusalem); teen die rykes wat die armes onderdruk, mense wat nee sê vir preke teen sonde en ja sê vir preke oor drank.  Die Regter belowe dat Hy hierdie mense gaan straf en toesien dat hulle slawe word.  Tog sal Hy 'n handvol uit slawerny laat terugkom en hulle sondes vergewe.

 

Die tweede klag (lees hoofstukke 3-5) is teen die korrupte leiers wat jou gráág wil help... as jy genoeg geld onderdeur die tafel gee.  Die klag is teen vals predikers wat te bang is om teen sonde te preek.  Die Regter sal 'n nuwe Leier aanstel om die gevangenes te bevry en vrede te bring.  Hy kom uit 'n klein dorpie met die naam Betlehem en is 'n mens wat nog altyd as God bestaan het.  Onder sý heerskappy sal die stad (Jerusalem) die belangrikste in die wêreld wees; 'n internasionale hoofstad (4:1-2, Openbaring 21:10).  Dinge sal voorspoedig wees.  Daar sal geen oorlog wees nie.  Wapens sal as plaasimplemente gebruik word (4:3-4, cf. Jesaja 2:4).

 

Die derde klag (lees hoofstukke 6-7) is teen 'n land vol van moord, familie-haat en korrupsie – al was die Koning nét goed vir hulle en het Hy hulle uit Egiptiese slawerny verlos.  Die Koning soek nie hulle geskenke nie; Hy soek húlle:  gehoorsaamheid, liefde en lojaliteit:  “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (6:8).  Die Regter vonnis die land tot 'n erge hongersnood (6:13-15).  Maar ten spyte van die duisternis sal die lig weer skyn (7:8-9).  Die Koning onthou sy belofte aan hulle voorvaders en sal hulle rebellie teen Hom vergewe (7:17-20).  Hy sal die land herstel en die grense uitbrei.  Mense uit die hele wêreld sal die land besoek, terwyl die Koning wonders doen soos in Moses se tyd.

 

God se klag teen Israel geld ook vir Suid-Afrika en die kerke van ons land.  Baie mense in ons land ken die name van verskillende soorte bier beter as wat hulle die Tien Gebooie ken.  Mense in leiersposisies is korrup:  hulle hou miljoene rande se troues en partytjies terwyl baie mense werkloos is.  Party mense vermoor ander en vat hulle grond:  “Wee die wat onreg uitdink en kwaad smee op hulle bedde; by die môrelig voer hulle dit uit, want dit is in die mag van hulle hand.  Ja, hulle begeer velde en roof dit; ook huise en neem dit.  So pleeg hulle dan geweld teenoor die man en sy huis, teenoor die mens en sy erfdeel.” (2:1-2).  Die polisie, prokureurs en regters vat omkoopgeld en laat mense wat skuldig is wegkom:  “Sy hoofde spreek vonnisse uit vir ‘n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld...Na die kwaad gaan die hande uit, om dit dapper te doen.  Die vors eis, en die regter vra betaling, en die groot man spreek die begeerte van sy siel uit, en hulle verdraai dit alles.” (3:11, 7:3).

 

Daar is baie mense wat skelm besigheid bedryf:  “Sal Ek rein kan wees by ‘n valse weegskaal en by ‘n sak vol bedrieglike gewigte?” (6:11).  Ons koerante is vol van moord.  Selfs moord op ongebore kinders is wettig:  “Die vrome het verdwyn uit die land, en daar is geen opregte meer onder die mense nie; hulle loer almal op bloed; hulle jaag elkeen sy broer met die net.” (7:2).  Daar is baie gebroke gesinne waar egskeiding hals oor kop toeneem en kinders rebels is:  “Want die seun minag die vader, die dogter staan op teen haar moeder, die skoondogter teen haar skoonmoeder, die man se vyande is sy huisgenote!” (7:6).

 

Ons land is vrot van prosperity predikers wat preek en ‘genees’ teen 'n prys:  “sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld” (3:11).  Baie mense in ons kerke soek nie preke teen sonde nie – hulle wil hulle ore gestreel hê:  “’Do not preach’ – thus they preach – ‘one should not preach of such things; disgrace will not overtake us.’...If a man should go about and utter wind and lies, saying, ‘I will preach to you of wine and strong drink,’ he would be the preacher for this people!” (2:6, 11, English Standard Version, cf. 2 Timoteus 4:3-4).  Baie predikante is bang hulle verloor hul werk as hulle teen sonde (soos homoseksualiteit en saambly) of die vals lering in ons teolgiese fakulteite preek.  'n Mens moet Geesvervuld wees om vreesloos teen sonde te kan preek:  “Ek daarenteen is vol krag, mét die Gees van die HERE, en reg en heldemoed, om aan Jakob sy oortreding te verkondig en aan Israel sy sonde.” (3:8).  Onderwysers word aangesê om die kinders in ons skole van alle godsdienste te leer.  Dis skandelik dat ons so ‘oopkop’ probeer wees en die deure wyd oopgemaak het vir afgodery:  “En al haar gesnede beelde sal stukkend geslaan en al wat sy as hoereloon ontvang het, met vuur verbrand word, en al haar afgode sal Ek tot ‘n verwoesting maak; want uit hoereloon het sy dit versamel, en tot hoereloon sal dit terugkeer.” (1:7).

 

Elza Meyer se Turn 2 God het die regte idee beet.  Maar laat ons ook die regte boodskap preek, sodat mense hulle tot die regte God sal bekeer.  God se vergifnis in Jesus Christus is ons enigste hoop.  God is heilig en ons nie.  Ons verdien sy verskriklike oordeel.  Uit genade en liefde het Hy aarde toe gekom (5:1-4), volkome mense geword en sy eie wet volmaak onderhou.  Hy het die straf wat ons verdien op Homself geneem aan die kruis.  Hy het liggaamlik uit die dood opgestaan en belowe die ewige lewe vir almal wat hulle bekeer en volkome op Hom vertrou.  Dít is die evangelie van hoop wat ons land nodig het:  “Wie is ‘n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan?  Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het ‘n welbehae in goedertierenheid.  Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.  U sal trou bewys aan Jakob, goedertierenheid aan Abraham, wat U aan ons vaders met ‘n eed beloof het sedert die dae van die voortyd.” (7:18-20).  Ek sien uit na 'n hemel en aarde waarin reg en geregtigheid woon; 'n wêreld waarin wapens as plaasimplemente gebruik sal word en elke mens onder sy eie wingerd en vyeboom sal sit (4:3-4, 2 Petrus 3:13).  Mag daardie dag gou kom.  Moenie dat dit jou verras nie.

Kategorieë