Coram Deo Cover Image

Coming soon...

5 April 2014

Die pad na geestelike herstel

Road to recoveryHandelinge 3:11-26

Baie mense wat in groot karongelukke is moet rehabilitasie kry om te leer loop of praat.  Net so is daar 'n pad na geestelike herstel.  Anders as rehabilitasie vir die liggaam, kan geestelike rehabilitasie in 'n oomblik gebeur.  Hoe?

Geloof (v.11-16)

Petrus het die kreupel man gesond gemaak.  Mense was verbaas en het in die pilaargang van Salomo saamgedrom (v.11, cf. 5:12, Johannes 10:23).  Die pilaargang  was amper soos 'n skool se stoep:  pilare aan die kant van die stoep het die dak opgehou; nóg 'n ry pilare het in die middel van die stoep gestaan.  Jy kan jou indink hoeveel mense op so 'n lang en breë stoep kon pas.  Petrus het vir die Jode gesê:  “Israeliete, waarom is julle hieroor verwonderd, of waarom kyk julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of godsvrug bewerk het dat hy loop?” (v.12).  Die krag was nie in die apostels nie, maar in God se Kneg (Gk.); die Heilige en Regverdige (v.13-14).  Die Ou Testament gebruik hierdie titels met vewysing na die Messias:  “For you will not abandon my soul to Sheol, or let your holy one see corruption.” (Psalm 16:10, ESV).  “Kyk, my Kneg sal voorspoedig wees, Hy sal hoog en verhewe, ja, baie hoog word.” (Jesaja 52:13).  “deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra.” (Jesaja 53:11).

Ten spyte daarvan dat Jesus die Messias is, het die Jode Hom verloën:  hulle het gevra dat Hy gekruisig moet word, en dat Pilatus eerder ‘n moordenaar moes vrylaat (v.13-14, Markus 15:6-15).  Hoe ironies dat hulle die Outeur van die Lewe laat doodmaak het (v.15).  Maar God het Hom uit die graf laat opstaan, en daarvan was die apostels getuies (v.15).  ’n Bewys dat Jesus opgestaan het kan daarin gesien word dat die kreupel man in sy Naam genees is en geestelike lewe ontvang het (v.16).  Jesus se Naam spreek van sy gesag (net soos wat ’n verkeersman jou in die naam van die gereg stop).

In die Bybel is genesing van die liggaam dikwels 'n gelykenis van 'n geestelike realiteit.  Jesus genees byvoorbeeld 'n blinde man om te wys dat mense geestelik blind is sonder Hom (cf. Johannes 9).  Net so genees Petrus die lam man om te wys dat die Joodse se godsdiens nutteloos en kragteloos is sonder Hom.  Is jy geestelik kragteloos?  Jy sukkel om sonde te oorkom.  Jy kan nie jou gewete reinig nie, maar hou aan skuldig voel.  Jy weet God is kwaad vir jou en kan niks doen om sy guns te wen nie.  Jy is papswak wanneer dit kom by geestelike leiding in jou gesin.  Jou gebede is kragteloos.  Jy het nie eers krag om jou te bekeer nie.  Jy wil verander en probeer om volgens die Tien Gebooie te leef.  Jy het probeer om jouself te verander deur meer Bybel te lees, te bid, jou sonde te bely, kerk by te woon, tiendes te gee, Christen vriende te soek, te vas, gedoop te word.  Maar jy val gedurig weer terug.  Jou werklike probleem is trots.  Jy maak staat op jou eie pogings.  Jy moet van jouself vergeet en Johannes 19:30 ter harte neem:  “Dit is volbring!”  Jesus het alles gedoen wat nodig is dat jy gered kan word.  Moenie op jouself staatmaak nie.  Sê eerder saam met die digter:  ‘On Christ the solid Rock I stand, All other ground is sinking sand’.  Die pad na geestelike herstel begin by die kruis; vertrou dat die Man wat daar gehang het jou kan verander.

Bekering (v.17-26)

Die Jode het vir Jesus vermoor en was skuldig.  Maar hulle was onkundig oor die diepte van hulle sonde:  “En nou, broeders, ek weet dat julle dit in onwetendheid gedoen het, net soos julle owerstes.” (v.17).  Paulus praat van God se wysheid “wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie—want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie” (1 Korintiërs 2:8).  Jesus se gebed vir sy moordenaars was:  “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Lukas 23:34).

Maar al was die Jode skuldig, het God sy Seun se kruisdood voorspel en beplan (v.18).  As God dít vervul het, sal Hy ook die ander beloftes van seën aan sy kinders vervul.  Nog lank voordat Jesus gebore is, het Moses, Samuel, en aldie profete van Hom gepraat.  Soos Moses sou Hy 'n Middelaar wees tussen God en die volk.  Hy sou 'n mens (broer) wees.  Hy is die Woord wat namens God sou praat.  Die wat nie vir Hom wou luister nie moes sterf.  Daar sou 'n geestelike herstel wees vir dié wat hulle bekeer het (v.19-24, Deuteronomium 18:15-18).  Ja, die kruisdood was aaklig.  Maar God sou sy volk vergewe, verkwik en herstel as hulle die moord erken het, en opgehou het om Jesus as die Messias te verloën (v.19-21).  God sou sy belofte aan die seuns van die profete en Abraham nakom (v.25, cf. Galasiërs 3:16, 29).  Jesus het immers eerste na die Jode toe gekom om hulle te bekeer en te seën (v.26).  Die meeste Jode het Hom verwerp.  Die apostels (Jesus se verteenwoordigers) het van die Jode af weggedraai na die heidene toe:  “Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle [Jode] eers verkondig moes word.  Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene.” (13:46).  Vandag nog glo die meeste Jode nie in Jesus nie.  Maar daar kom 'n tyd wanneer die Jode weer tot bekering sal kom.  As die laaste uitverkore heiden gered is, sal die Jode in massas tot bekering kom.  Daar sal 'n globale herlewing wees.  Jode en heidene sal deel in v.19-21 se tye van verkwikking:  “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete.”  Petrus se punt is duidelik:  Jesus het opgevaar en sal in die hemel bly, totdat die Jode hulle bekeer het.  Wanneer dít gebeur het sal Hy weer kom en die hele skepping herstel.  Paulus sê dieselfde:

“En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!...Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is:  Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Romeine 11:12, 25-26).

Die Jode se slegte lewens het voorgevloei uit hulle verwerping van Jesus as die Messias (v.26).  Het jy 'n regte siening van Jesus?

  • Sê jy Hy is nie gelyk met die Vader nie?  Dan sal jy Hom nie die aanbidding gee wat Hom toekom nie.
  • Sê jy Hy is nie die enigste Verlosser nie?  Dan sal jy Hom verkleineer tot op dieselfde vlak as Mohammed, Buddha en Krishna.  Jy sal ook nie die evangelie deel met mense van ander godsdienste nie.  Hoekom moet jy, aangesien hulle sonder Jesus gered kan word?
  • Sê jy Hy is jou Verlosser, maar nie jou Here nie?  Jy sal doen wat jý wil en nie wat Hý sê nie.
  • Sê jy Hy is nie die soewereine Koning nie?  Jy sal vreesbevange lewe, asof die duiwel net soveel mag het soos Jesus.  Jy sal dink jou geval is uniek en buite Jesus se bereik:  ‘Jesus kan ander mense help, maar ek is te sleg’.
  • Sê jy Hy is nie 'n mens nie?  Jou gebede sal koud en onpersoonlik wees, want ‘Jesus verstaan nie wat ek moet deurmaak nie’.
  • Sê jy Hy is nie sondeloos nie?  Jy sal selfregverdig wees en dink jy kan net so goed wees soos Hy.

Bekeer jou en glo in die Bybelse Jesus.  As jy enige ander Jesus dien en aanbid is jy besig met afgodery.  Jou kanse vir geestelike herstel is nul.

Dawid en sy seun Absalom het 'n gebroke verhouding gehad.  Absalom het gevlug nadat hy sy broer vermoor het.  Na 'n lang tyd het Dawid toegelaat dat Absalom weer in Jerusalem kon bly, maar het vir twee jaar nie met hom gepraat nie.  Moet asseblief nie my illustrasie te ver vat en dink ek sê Absalom was goed en Dawid sleg nie.  Laat my egter toe om hierdie punt te maak:  as God jou herstel sal Hy jou nie op 'n armlengte hou nie.  Hy sal jou met omhelsing, soene, en feesviering verwelkom.  Bekeer jou dan en glo sy beloftes.

Kategorieë