Romeine 8:1-8
In 1994 het die Suid-Afrikaanse krieketspan teen Holland verloor. Onder gewone omstandighede sou dit nie gebeur het nie. Dit was die uitsondering. So is dit ook met Christene: ‘n gehoorsame lewe is normaal; om teen die sonde te verloor is die uitsondering. So leer Rom. 8:1-8 vir ons.
- ’n Lewe van vryheid (v.1-4)
Harry steel R1 biljoen by die hoofregter van die V.S.A. Hy moet die geld terugbetaal met rente. Hy het nie die geld nie en kry 65 jaar tronkstraf. Die dag voor hulle hom toesluit, skryf die regter sy skuld af en trek hy die saak terug. Harry is vry.
Onder die wet verdien ons die dood vir ons sonde. Toe Jesus aan die kruis sterf, het Hy ons sondige rekords afgeskryf. Deur die geloof kry ons sy perfekte rekord en is daar geen veroordeling vir ons nie (v.1, 2Kor. 5:21, Kol. 2:14).
Free from the law—oh, happy condition!
Jesus hath bled, and there is remission;
Cursed by the law and bruised by the fall,
Christ hath redeemed us once for all.
Once for all—oh, sinner, receive it;
Once for all—oh, doubter, believe it;
Cling to the cross, the burden will fall,
Christ hath redeemed us once for all.
─P.P. Bliss─
Die Heilige Gees gebruik wat Jesus aan die kruis gedoen het om ons van ons sonde te bevry: “Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.” (v.2). Dit is asof die wet van Moses ‘n streng polisie beampte is. Die sondige vlees is die misdadiger wat die wet wil oortree. Hoe meer wette daar is, hoe meer wil die vlees dit oortree (7:5, 7-9, 11). Die wet is kwaad oor ons sonde en sê dat ons die dood verdien (v.2).
Omdat Jesus ons straf gedra het, sê die nuwe ‘wet’ of beginsel van die Gees (die evangelie) dat ons die ewige lewe het en vry is van die ou wet wat ons die doodstraf oplê (v.2).
Hierdie verlossing en vryheid is net vir dié wat in Christus is deur die geloof (v.1-2, Joh. 8:36). Buite Christus hang God se oordeel soos ‘n swaard oor jou kop (Joh. 3:18, 36). Hoe weet jy of jy in Hom is? Jy is lief vir die wet en het die begeerte en vermoë om reg te doen deur die Gees.
Wat is implikasie van hierdie regverdigmaking en vryspraak deur Jesus wat ons straf gedra het?
- Wanneer jy ly, is dit nie God se oordeeloor jou nie. Dit is sy liefdevolle tugtiging waardeur Hy ons meer soos Jesus maak.
- Wanneer jy sterf, is dit nie God se oordeeloor jou nie. Die dood is ‘n oorgang na die hemel.
- Jy kan nie jou redding verloor en hel toegaan nie. As dit so was, lieg 1 om te sê dat daar vir ons geen veroordeling is nie. God het nie sy Seun vir jou sonde gestraf, net om jou vir dieselfde sonde te straf nie.
- Wanneer Jesus weer kom sal Hy jou nie oordeel nie (vgl. Joh. 5:24). God sal nie sy kinders se sonde voor die wêreldophaal nie. Jesus het alreeds daarmee afgereken. Vir gelowiges is die oordeelsdag ‘n tyd van beloning volgens ons
Die Vader, die Seun en die Heilige Gees werk saam om ons vry te spreek van die straf (v.1-4). God doen wat die wet nie kon nie, aangesien ons sondige vlees die wet wou oortree (v.3, Hand. 13:38-39).
Hoe red die Here ons? Hy het sy geliefde Seun gestuur (v.3). Jesus het volkome mens geword soos ons, maar Hy was nie ‘n sondaar nie (1Pet. 2:22, Heb. 2:17, 4:15). En tog het Hy die effek van die sondeval in sy liggaam gevoel: hartseer, moegheid, honger, pyn en dood. Daarom sê Paulus dat Jesus in die gelykheid van die sondige vlees gekom het (v.3). Hy bedoel nie dat Jesus ‘n sondaar was nie.
Jesus moes soos ons word om die straf vir ons sonde te dra (v.3, Jes. 53:4-6). As Hy net God was, kon Hy nie sterf nie (1Tim. 6:16). En as Hy net mens was, kon Hy nie die oneindige straf van miljoene sondaars dra binne 6 ure aan die kruis nie. En as Hy iets anders as mens geword het, was sy offer ongeldig: ‘n mens het gesondig en daarom moes Jesus mens word om ons straf te dra (v.3).
Die Vader het Hom verdoem vir ons sonde en aan ons Jesus se perfeke rekord van geregtigheid gegee deur die geloof (Matt. 27:46, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13). So het Jesus die regverdige vereistes van die wet namens ons vervul (v.4). Die Heilige Gees het die wet in ons vervul, deurdat Hy die wet op ons harte skryf en aan ons die krag gee om ‘nee’ te sê vir die sonde en ‘ja’ vir gehoorsaamheid (v.1, Heb. 8:10, Eseg. 36:26-27).
Hoe lyk die Heilige Gees se leiding prakties in jou lewe? Hoe weet jy dit is die Heilige Gees wat jou lei en nie die duiwel, die vlees, groepsdruk, stres, min slaap, jou hormone, jou emosies, siekte, sterk pille, verwarring, angs of lafhartigheid nie?
Die Gees sal jou nooit lei om teen die wet te gaan nie, maar om in ooreenstemming daarmee te leef (v.1, Gal. 5:18, 23). Hy kweek heilige begeertes wat lei tot heilige dade (Gal. 5:16-17, 22). Hy sal jou nooit lei om sonde te doen nie (Gal. 5:19-21). Hy herinner jou aan die Bybel. Hy prik jou hart en gewete wanneer jy verkeerd doen. Hy gee aan jou die verlange om vir die Here te lewe en nie vir jouself nie (2Kor. 5:9, 15).
Toets jouself om te sien of jy deur die Gees of die vlees lewe. Dit is tog nie iemand se belydenis wat wys of hy Christen is of nie, maar hoe die persoon lewe. Hoe lewe jy in jou huwelik, huisgesin, familie, gemeente, vriendekring, skool, werkplek, vermaaklikheid, gedagtes, woorde, ens.? Sê jy: ‘Ek is gehoorsaam en dank God vir Jesus en die Heilige Gees. Ek sug oor my sonde en verlang na die hemel waar ek die Here sal sien en nie meer sonde sal doen nie’? In daardie geval blyk dit dat jy ‘n Christen is. Sê jy: ‘Ek lewe vir myself, is ongehoorsaam en voel skuldig’? Vra die Here om v.1-4 in jou te doen.
- ‘n Lewe volgens die Gees (v.5-8)
Wat dink jy van hierdie stelling: ‘You are your thoughts’? (Stuart Olyott). Dit is waar. Wie en wat jy is waar net die Here sien, is wie jy werklik is (al dink mense jy is iets of iemand anders). Iemand wat volgens die vlees lewe se gedagtes is dag en nag vol sonde (v.5). Dit kom uit die persoon se hart en lei tot vleeslike dade soos seksuele sonde, afgodery, towery, vyandskap, bakleiery, jaloesie, woede, moord, dronkenskap, ens. (Matt. 15:19, Gal. 5:19-21).
Om in pas te bly met die Gees en volgens sy leiding te lewe, moet jy die dinge van die Gees bedink (v.5, Gal. 5:25). Wat is hierdie dinge?
- Die Gees-geïnspireerde Woord van God (Ps. 1:2, 119:97).
- Die Persoon en werk van Christus (Kol. 3:1-4).
- ‘n Christelike karakter en goeie werke:“Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Gal. 5:22).
Moenie jou gedagtes in neutraal sit en sodoende toelaat dat sonde en die duiwel jou gedagtes beheer nie. Bedink die dinge van die Gees. Sê dit hardop vir jouself as dit sal help.
Dalk glo jy dat dit nie saakmaak wat jy dink nie, omdat niemand dit sien nie. Maar uiteindelik sal almal weet wat jy dink, omdat dit sal uitkom in wat jy doen en sê. ‘n Bekende rympie sê:
Sow a thought, and you reap an act;
Sow an act, and you reap a habit;
Sow a habit, and you reap a character;
Sow a character, and you reap a destiny.
Gal. 6:7-8 sê dieselfde: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.”
Jesus sien jou geheime gedagtes en sal jou met die ewige dood straf as sonde jou lewe en gedagtes kenmerk (v.6, 2:16, Ps. 139:2). Iemand wat heilige dinge bedink lewe vir ewig en het vrede (v.6).
Soek jy hierdie vrede? Voel jy skuldig? Is jy angstig oor die dood en die hel? Vra Jesus om die sonde weg te vat wat jou vrede steel (Jes. 48:22). Bedink die dinge van die Gees en moenie toelaat dat sonde jou gedagtes vul nie. As jy dit doen sal jy rustig voel; jy sal vrede en ‘n skoon gewete hê (15:13, Ps. 119:165, Gal. 5:22, Ef. 2:14, 17).
Hoekom sterf dié wat die dinge van die vlees bedink en daarvolgens lewe? Want hulle haat God (v.7). Hulle wil nie hê Hy moet hulle sonde teëstaan en vir hulle sê hoe hulle moet lewe nie. Hulle weier om die wet te doen en kán ook nie, omdat die Gees nie in hulle is nie (v.7, 4, vgl. 1Kor. 2:14).
Dalk reageer jy deur een of meer van die volgende besware te maak:
#1: ‘Wat van homoseksueles wat volgens tekste soos Rom. 1:26-27 ongehoorsaam is, maar sê dat hulle Jesus liefhet? Hulle haat nie die Here soos v.7 sê nie.’
Antwoord: Hulle is lief vir ‘n god waarmee hulle gemaklik is; ‘n god wat sê dat homoseksualiteit nie sonde is nie. Hulle haat die God van die Bybel, omdat Hy nie hulle sonde goedkeur nie. Hulle is lief vir ‘n god van hulle eie verbeelding.
#2: ‘Wat van ongelowiges wat die wet nakom en nié daarteen rebeleer soos v.7 sê nie? Daar is baie ongelowiges wat nie steel, egbreuk pleeg, ens. nie.’
Antwoord: Ongelowiges hou nie die wet om die Here te verheerlik nie. Hulle doen dit vir selfsugtige redes soos om goed te voel oor hulleself, ander mense se guns te wen en ‘n plek in die hemel te ‘verdien’.
#3: ‘Hoe kan God mense vir hulle sonde verantwoordelik hou as hulle sonder die Heilige Gees nie die vermoë het om reg te doen nie?’
Antwoord: Dit is soos iemand wat vra: ‘Hoe kan die polisie ‘n dronk motoris vir ‘n voetganger se dood verantwoordelik hou as hy nie die vermoë gehad het om die kar op die pad te hou nie?’
Moet asb. nie dink dat die sondaar reg wil doen en dat die Here hom keer nie. Hy het nou wel nie die geestelike vermoë om die wet te hou en die Here te behaag nie (v.7-8). Maar omdat hy die Here haat, wil hy nie reg doen nie maar verkeerd (v.7).
Hoe lyk dit met jou? Wil jy reg doen? Doen jy dit om die Here te behaag? Het jy die geestelike vermoë om die wet te gehoorsaam? Is jy opreg lief vir die God van die Bybel? As jy ‘nee’ antwoord, is jy nie ‘n laer klas Christen nie maar ongered. As jy ‘ja’ antwoord, is jy nie ‘n spesiale soort Christen nie maar lewe jy die normale Christelike lewe.
Dit laat my dink aan ‘n video op Facebook van ‘n ou man en vrou wat jare lank getroud is en mekaar liefhet. Baie mense het die video gedeel en was in ekstase daaroor. Maar in die Christelike lewe is dit en ander dade van gehoorsaamheid normaal.