Coram Deo Cover Image

Coming soon...

1 March 2013

Die kring van die spotters

Crown of thorns on crimson

“En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê:  Hy roep Elía.  Toe hardloop daar dadelik een van hulle en neem ‘n spons en maak dit vol asyn, en sit dit op ‘n riet en laat Hom drink.  Maar die ander sê:  Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom te verlos.” (Matteus 27:47-49).

 

Toe George Whitefield in 1746 in die Moorfields gepreek het (opelug) was dark sterk opposisie.  Mense het op trompette en tromme geraas terwyl hy gepreek het.  Ander het vrot eiers, klippe, grond, en dooie katte gegooi.  Party het in bome geklim en op hom ge-urineer.  Daar was 'n man wat hom met 'n lang sweep probeer raakslaan het.  Een sersant het tussen die skare in gemarsjeer met sy troepe (inligting verkry uit Hammond, Peter; Victorious Christians; Christian Liberty Books; KAAPSTAD; 2011; p.276 en Dallimore, Arnold; George Whitefield – Volume 2; The Banner of Truth Trust; EDINBURGH; 1980; p.116).

 

Jesus is ten minste twaalf keer gespot by die kruis.  Die Joodse leiers het hom geblinddoek en in die gesig geklap en gesê:  “Profeteer 'n bietjie vir ons – wie het jou geklap?” (sien 26:68).  'n Groep van 400 tot 600 soldate ('n bataljon) het vir Jesus 'n mooi leed aangetrek, 'n doringkroon gevleg, en 'n riet as septer in sy hand gesit.  Hulle het voor Hom gebuig en hom met die riet oor sy kop geslaan.  “Wees gegroet O Koning van die Jode”, het hulle spottenderwys gesê (sien 27:27-30).  Bo Jesus was daar 'n bordjie:  “Jesus van Nasaret, Koning van die Jode” (v.37).  Deur Hom tussen twee misdadigers te kruisig het hulle Hom gekoggel (v.38).  Die toeskouers het Hom gespot:  “Jy kan mos die tempel afbreek en in drie dae herbou.  Kom van die kruis af as jy regtig die Seun van God is (v.39-40).  Die godsdienstige leiers het Hom gespot:  “Jy het mos ander gered.  Red jouself.  Jy is mos die Koning van Israel.  Kom van die kruis af dat ons in jou kan glo.  Laat God jou red; jy vertrou mos op Hom.  Jy het mos gesê:  Ek is die Seun van God.” (v.41-43).  Ook die rowers wat langs hom gekruisig was het só met Hom gespot (volgens Lukas 23 het een later tot bekering gekom).  Met sy verhoor het die Joodse leiers lasterlike dinge teen Hom gesê (Lukas 22:65).  Herodes wou sien hoe Jesus 'n wonderwerk doen.  Ek sou nie verbaas wees as hy spottenderwys gesvra het:  “Doen 'n bietjie vir ons 'n wonderwerk!” (Lukas 23:8).  Soos die Romeine het hy vr Jesus koningsklere aangetrek en hom gespot (Lukas 23:11).  Die Romeinse soldate het hom met suurwyn voor sy mond geterg (Lukas 23:36).  Soos die ander het hulle gesê:  “As jy die Koning van die Jode is, red jouself!” (Lukas 23:37).  Pilatus het vir Jesus met koningsklere voor die skare laat staan:  “Kyk die man!”, het hy gelag (Johannes 19:5).  Die soldate wat by die kruis gesit het, het vir Jesus kaal uitgetrek en sy klere verdeel – wat 'n vernedering (Johannes 19:23-24).

 

Nou word Jesus weer gespot (v.47-49).  Die Grieks dui aan dat hulle Hom aanhoudend gespot het.  Toe iemand sy dors wou les het die ander hom probeer keer.  “Wag, kom ons kyk of Elia Hom kom red”, het hulle gelag (v.49).  Moenie dink hulle het regtig gedink Hy roep vir Elia nie.  Hulle het die Aramese taal verstaan.  Toe Jesus “Eli” sê het Hy nie gefluister nie, maar hard uitgeroep (v.46).  Die Jode het geweet wat in die einde van die Ou Testament voorspel word:  Elia sou kom voor groot en verskriklike Dag van die Here (Maleagi 4:5).  Johannes die Doper het geleef en aangetrek soos Elia en dieselfde boodskap van bekering verkondig.  Hý was die Elia wat sou kom, maar die Joodse leiers het hom verwerp (17:10-13).  Dus was die spot van die kruis eintlik 'n dubbele spot.  Hulle het gespot met die Skrif en gespot met die Messias.

 

Hoe vreeslik is dit nie dat hulle na die verskriklike drie ure van stille duisternis dadelik begin spot het (v.45-49).  Dat goddelose mense nogsteeds nie hulle sonde laat staan nadat God vir Jesus geoordeel het nie.  Dit leer vir ons dat mense wat God se oordeel aanskou (en ervaar) nogsteeds nie wil ophou met hulle sonde nie.  Selfs dié wat in die hel is wíl nie tot bekering kom nie.  “En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee om die mense met vuur te skroei.  En die mense is geskroei met ‘n groot hitte, en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie.  En die vyfde engel het sy skaal uitgegooi op die troon van die dier, en sy koninkryk is verduister, en hulle het hul tonge gekou van pyn; en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie...en groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.” (Openbaring 16:8-11, 21).

 

Vandag nog spot mense met Jesus.  Hulle laster sy Naam in films.  Hulle dat hulle Christene is, maar lewe goddeloos (Titus 1:16).  Hulle maak 'n bespotting van Hom met hulle vals wonderwerke en geldgierigheid op TBN – en dit alles in sy Naam.  Hulle is arrogant en lewe asof Hy nie bestaan of in beheer is nie (Jakobus 4:13, 16).  Hulle maak 'n bespotting van die nagmaal en speel met heilige dinge (Spreuke 14:9, 1 Korintiërs 11:17-34).  Hulle hou nie hulle beloftes aan die Here nie (Prediker 5:3).  Hulle spot met die Bybel en die mense wat dit preek.  Hulle vertel grappe oor Jesus.  Moenie in hierdie mense se spottery deel nie.  Bly uit die kring van die spotters.

 

Almal weet dat boemelaars goedkoop papsak wyn drink.  Studente noem dit latoesh (laatoes).  Romeinse soldate het ook hierdie goedkoop suurwyn gedrink.  Een van die Romeine het hierdie wyn aangebied toe Jesus dors was (v.48).  Hierdie was die een enkele bewys van genade aan die kruis.  Die duisternis en straf was nou verby.  Die lig het weer geskyn.  Johannes sê dat Jesus gevra het vir iets om te drink (Johannes 19:28-30).  Die soldaat het 'n spons met suurwyn op 'n hissopriet teen Jesus se mond gehou (v.48, Johannes 19:29).  Hissop was 'n plant wat selfs uit klipmure kon uitgroei (1 Konings 4:33).  Dit is gebruik in Ou Testamentiese reinigingsrites.  Die Jode het 'n hissoptak gebruik om bloed teen die deurkosyne te smeer voor hulle uit Egipte weg is (Eksodus 12:22).  Melaatses is gereinig met 'n hissoptak wat in bloed gedoop is (Levitikus 14:4, 6).  Moses het 'n hissoptak afgebreek om die wetboek en die volk met bloed te sprinkel (Hebreërs 9:19).  Vir ons is die toepassing dít:  God mense wat onrein en sondig is reinig deur die bloed van sy seun.  Dawid bid dat God sy sonde van egbreuk en moord sal wegneem met hissop (Psalm 51:9).  Hier gebruik die Skrif hissop simbolies om te sê dat God die grootste sondaars kan reinig.  Glo dit.

 

Die dors in v.48 is nie dieselfde dors as in v.34, en Lukas 23:36 nie.  In die eerste geval wou hulle hê Jesus moes 'n mengsel drink om die pyn te verdoof.  Maar hy wou nie omdat Hy volkome ons pyn op Homself wou neem.  In die tweede geval het die soldate met Jesus gespot.  In v.48 het Jesus gedrink.  Dit wys vir ons dat Hy volkome mens was.  Die feit dat bereid was om suurwyn  te drink wys dat hy baie dors was.  Ons teks sê dat die spons vol suurwyn was en weer dui die Grieks vir ons aan dat Hy aangehou het drink het.  Jesus se dors het die Skrif vervul.  “Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was – sodat die Skrif vervul sou word – het Jesus gesê:  Ek het dors!”  (Johannes 19:28).  In die Psalms staan daar:  My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte...vir my dors het hulle my asyn laat drink.” (Psalm 22:16, 69:22).

 

Jesus was self dors en verstaan jou behoeftes en begeertes.  Neem dit na Hom toe in gebed.  Maar daar is 'n groter les hier.  Jesus het dors gehad sodat, jy nooit dors hoef te hê in die hel nie.  Lukas skryf:  “En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe.  En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.  En hy roep en sê:  Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.  Maar Abraham antwoord:  Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte.  En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.  En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.” (Lukas 16:23-26).  Mense in die hemel sal nooit dors word nie, “want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.” (Openbaring 7:17).

 

Daarom nooi die Here jou uit:  “laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” (Openbaring 22:17).  “elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14).  Hoekom wil jy jou dors les met die vuil brakwater van die wêreld?  Hoekom wil jy soos sondige Israel wees:  “Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen:  My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.” (Jeremia 2:13)?

Kategorieë