Handelinge 1:8-11
Beide in ons taak en toekoms het die kerk haar fokus verloor. Ons taak is nie om boere bazaars te hou, drama-klasse aan te bied, musiek konserte op te voer, of ‘fun’ jeugkampe te hou nie. Wat is die kerk se toekoms? Moet ons in vrees lewe vir 'n wegraping, die groot verdrukking of die 666? Wat is dan die kerk se taak en toekoms?
1. Wat is ons taak? (v.8)
Die kerk se taak word opgesom in v.8: “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.” 'n Predikant wat ek ken voel baie sterk oor plaaslike sending, en glo dat ons klem op wêreldsending te groot is. 'n Sendeling vriend van my het nie veel tyd vir plaaslike sending nie en glo dat ons op die eindes van die aarde moet fokus. Beide manne is verkeerd. Jesus het gesê dat ons op ons onmiddellike omgewing en op die eindes van die aarde moet fokus (v.8).
Jesus het gesê dat sy apostels getuies sal wees as die Heilige Gees oor hulle gekom het (v.8). 'n Geesvervulde persoon kan nie anders as om die evangelie te preek nie. Hoe sou die apostels getuig het? Kragtig (v.8). Waarvan sou hulle getuig het? Van Jesus wat opgestaan het (1:22, dit impliseer natuurlik dat Jesus ook gesterf het – vir ons sondes). Na wie verwys v.8 as dit praat van Jesus se getuies? Dit praat spesifiek van die apostels (Jesus praat immers met hulle, v.6). Dwarsdeur Handelinge verwys Lukas na die apostels as ooggetuies van die opstanding. Hulle is gekies as sy verteenwoordigers, en het wonderwerke gedoen om kragtig te getuig dat Jesus van Nasaret steeds lewe. Lukas skryf:
“Van die manne dan wat saam met ons rondgegaan het al die tyd waarin die Here Jesus by ons in— en uitgegaan het, van die doop van Johannes af tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is—van hulle moet daar een saam met ons getuie word van sy opstanding.” (1:21-22). Hier wys die Here ’n nuwe apostel aan in die plek van Judas.
“En vrees het op elkeen gekom, en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind.” (2:43).
“En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal.” (4:33).
“En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind; en hulle was almal eendragtig saam in die pilaargang van Salomo.” (5:12).
“Stéfanus, ‘n man vol van geloof en van die Heilige Gees, en Filippus...wat hulle voor die apostels gestel het; en hulle het gebid en hulle die hande opgelê...En Stéfanus, vol van geloof en krag, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen...En Filippus het afgekom in ‘n stad van Samaría en Christus aan hulle verkondig. En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen. Want uit baie van die wat onreine geeste gehad het, het die geeste uitgegaan terwyl hulle met ‘n groot stem skreeu; en baie wat lam en kreupel was, het gesond geword.” (6:5-6, 8, 8:5-7).
Stefanus en Filippus was nie apostels nie, maar het wonderwerke gedoen. Soos die teks wys, is hulle deur die apostels vir diens afgesonder. In 22:20 praat Lukas van Stefanus as 'n getuie.
“En ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die Joodse land en in Jerusalem. En hulle het Hom omgebring deur Hom aan ‘n kruishout op te hang. Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies was, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het. En Hy het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode. Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang.” (10:39-43). Hier wys Petrus duidelik dat die apostels gekies is om ooggetuies van die opstanding te wees. Húlle is die getuies van 1:8.
“het toe ‘n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here, wat aan die woord van sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind. En die menigte van die stad was verdeeld, en sommige het met die Jode en ander met die apostels saamgegaan.” (14:3-4).
“En die hele menigte het geswyg en na Bárnabas en Paulus geluister, terwyl hulle van al die tekens en wonders vertel wat God deur hulle onder die heidene gedoen het.” (15:12).
“En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen” (19:11).
“Maar rig jou op en staan op jou voete, want hiertoe het Ek aan jou verskyn om jou te bestem tot ‘n dienaar en getuie van die dinge wat jy gesien het en van die dinge waarin Ek nog aan jou sal verskyn” (26:16).
Ander verse in die Nuwe Testament sê dat die Heilige Gees die apostels instaat gestel het om kragtige wonders te doen, sodat dit kon wys dat hulle die uitverkore ooggetuies van Jesus se opstanding was: “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.” (2 Korintiërs 12:12). “hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het [die apostels is dié wat dit eerste van die Here af gehoor het], terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil?” (Hebreërs 2:4).
Die apostels is dus die primêre ooggetuies van Jesus se opstanding. Ons is nou wel nie ooggetuies nie, maar tog het ons die opstandingskrag van Jesus in ons redding ervaar (Efesiërs 2:5). In dié sin is ons ook getuies van sy opstanding.
Waar sou die apostels getuies wees? In Jerusalem, die hoofstad van die Judea provinsie. In Handelinge 2 het Petrus die Jode aangespreek as ‘manne van Judea en almal wat in Jerusalem woon’ (2:14, ESV). In 8:1, 4 sê Lukas dat die Jerusalem Christene die evangelie in die Judea en Samaria streke verkondig het. Die apostels was seker geskok toe Jesus gesê het hulle moet vir die Samaritane preek, want Johannes 4:9 sê “Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie.” Toe Jesus hulle in die begin uitgestuur het, het Hy gesê: “Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie” (Matteus 10:5). Nou, aan die einde van sy bediening, sê Jesus: “maak dissipels van al die nasies” (Matteus 28:19). In die hemel sal daar mense wees “uit alle nasies en stamme en volke en tale” (Openbaring 7:9). Die apostels het besef dat hulle die nasies moes evangeliseer: “Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.” (13:47).
Baie beskou 1:8 as die sleutelvers van die boek Handelinge. Die apostels sou die Heilige Gees ontvang en Jesus se getuies wees in Jerusalem, Judea, Samaria en tot by die eindes van die aarde. Hoofstuk 1-7 handel oor hulle getuienis in Jerusalem, die hoofstad van die Judea streek. Hoofstuk 8 handel oor hulle getuienis in Samaria. Hoofstuk 9-28 handel oor hulle getuienis tot by die eindes van die aarde (die heiden nasies). Die Heilige Gees is ook in hierdie volgorde uitgestort: Jerusalem (hoofstuk 2), Samaria (hoofstuk 8) en onder die heidene (hoofstuk 10, 19).
Die evangelie was nie net vir die Jode bedoel nie. Dit moes ook aan die ‘onrein’ Samaritane en heidene verkondig word. Ons moet ook nie terughou om die evangelie aan sekere groepe te verkondig, omdat ons bang is nie. Ons moet dit nie terughou van:
- Swart mense, omdat ons rassiste is, of omdat ons dink dat hulle voorvader gees aanbidding en tradisie te sterk is nie.
- Pakistani’s, omdat ons bang is vir Moslems nie.
- Jode, omdat ons dink dat hulle nooit sal glo Jesus is die Messias nie.
- Ryk blankes, omdat ons dink: ‘Dit is bitter moeilik vir 'n ryk persoon om in die hemel te kom’.
- Ateïste, omdat ons dink die evangelie staan nie 'n kans teen die bewyse van evolusionistiese wetenskap nie.
- Mense met swart klere, hare en grimmering, omdat ons dink dat die duiwel hulle lewens beheer.
- Afrikaners, omdat ons dink hulle ken die Bybel en het grootgeword in die kerk – hulle ken al die antwoorde en glo nie dat hulle die evangelie nodig het nie.
- Kleurlinge, omdat ons dink hulle is verslaaf aan wyn en kom nooit oor hulle verslawing nie, al kom hulle ook tot ‘bekering’.
Jy moet 'n groter vertroue hê in die belofte van 1 Timoteus 1:15-16: “Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ‘n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe.” Deel die evangelie in jou eie buurt en dorp, en tot by die eindes van die aarde. Dít is ons taak.
2. Wat is ons toekoms? (v.9-11)
Die kerk se toekoms word uitgespel in v.11: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.” As Jesus gaan terugkeer soos wat Hy opgevaar het, moet ons vra: Hoe het Hy opgevaar? 'n Strydwa van vuur (waarskynlik engele) het vir Elia weggeneem hemel toe (2 Konings 2). Jesus het nie engele nodig gehad nie, maar het deur 'n wonderwerk die aantrekkingskrag van die aarde oorkom en opgevaar hemel toe (v.9-10). Dieselfde Jesus wat opgevaar het sou weer terugkom aarde toe (v.11). Die les is dat Jesus in sy opstandingsliggaam sal terugkom. Ons kan dus aanneem dat Jesus nogsteeds 'n mens is. Paulus sê so: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.” (Filippense 3:20-21). 'n Wolk het Jesus uit die dissipels se sig uit weggeneem (v.9). In die Bybel spreek wolke dikwels van die Here se heerlike teenwoordigheid (1 Konings 8:11, Lukas 9:34). Die dissipels het gesien hoe Jesus weggeneem word:
“En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem. En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.” (v.9-11).
So sal Jesus dan ook weer sigbaar wees by sy wederkoms: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!” (Openbaring 1:7).
Waarheen het Jesus opgevaar? Die apostels het aangehou kyk, selfs nádat Hy weg was (v.10). Miskien het hulle gehoop dat Hy weer sou verskyn (soos in v.3). Dalk was hulle soos die profete wat vir Elia gesoek het, nadat hy weggeneem is hemel toe (2 Konings 2:16). Jesus het opgevaar na die Vader toe – vir ons. Die passiewe werkwoord in v.9 impliseer dat die Vader Hom opgeneem het. Jesus het immers gebid: “En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.” (Johannes 17:5). Daniël 7:13-14 het hierdie hemelvaart voorspel:
“Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.” (dit lyk vir my of hierdie verse van die hemelvaart praat en nie van die wederkoms nie; Jesus kom hier met die wolke na die Vader toe en nie na die aarde toe nie).
In sy evangelie sê Lukas: “En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem.” (Lukas 24:51). 1 Petrus 3:22 praat van Jesus “wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.” Die Hebreërskrywer sê: “Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn” (Hebreërs 9:24).
By Jesus se geboorte het die engele die skaapwagters verseker en vertroos. By sy graf het die engele die vroue verseker en vertroos. By sy hemelvaart het die engele die apostels verseker en vertroos (v.10-11). Die Here gebruik nogsteeds die lering oor die wederkoms om ons te motiveer in ons evangelie taak:
[1] As jy die evangelie getrou verkondig sal God oor jou glimlag. Laat dit ons aanspoor om nie op te gee nie.
[2] Wanneer Jesus kom sal ons Hom sien. Laat dít jou aanspoor om die evangelie te verkondig!
[3] Hoe wonderlik sal dit nie wees om by Jesus se koms mense te sien met wie jý die goeie nuus gedeel het nie?
[4] Het jy geld gegee, sodat die evangelie kan vorder? Jy sal nie spyt wees wanneer Jesus kom nie. Jy sal skatte in die hemel hê.
[5] As jy getrou die evangelie verkondig het, God sal jou beloon by Jesus se wederkoms. Hierdie is 'n groot wortel voor die donkie se neus.
[6] Persone en kerke wat die evangelie getrou verkondig het, sal nie beskaam word wanneer Jesus weer kom nie (Matteus 10:32-33).
[7] Verkondig die evangelie – al word jy vervolg. In die hemel sal daar geen meer vervolging wees nie. Jy sal vir ewig bly wees.
[8] Dink ook daaraan dat Satan jou nooit weer in die hemel kan verhinder nie. Byt vas in die taak wat jy hier moet volbring. Die Here sal jou vyand vernietig wanneer Hy weer kom.
Frans is die baas van 'n groot maatskappy. Hy is baie lief vir sy werkers. Op 'n dag toe sê hy: ‘Ek gaan vir 'n hele paar maande weg wees. Ek is baie lief vir julle en gaan weg om vir julle 'n groot estate te bou. Julle moet hard werk en my besigheid oppas. Wanneer ek klaar is kom ek om julle na julle nuwe huis toe te vat’. Wat dink jy sal sy werkers doen?
Wat doen jy en jou gemeente oor die taak van evangelisasie? Motiveer die kerk se toekoms jou?