Waaraan dink jy as jy die woord ‘kerk’ hoor? ‘n Gebou met ‘n spits toring, ou hout banke, en ‘n groot kansel? Samesang, offergawes, gebede, en ‘n lang preek? Kispakke, dasse en sykouse? Sondae? ‘n Denominasie of sinode? Wat sê die 1 Korintiërs 1:1-9?
Haar Hoof (v.1-2)
By ‘n begrafnis het ‘n vreemde man vir my gevra: ‘Wie is die hoof van die Baptistekerk?’ Ek het nie sy vraag verstaan nie. ‘Bedoel oom, wie is die leier van dié kerk, of wie is die president van die assosiasie?’ het ek gevra. ‘Nee, wie is die hoof van die Baptistekerk?’ het hy weer gesê. Hy het gejubel toe ek ‘Jesus Christus’ antwoord.
‘n Kollega van my moes vorms invul vir belasting-kwytskelding van die kerk. Op die vorm wou hulle weet wie die CEO en Direkteure van die kerk is. Hy het ingevul: die Vader, die Seun, en die Heilige Gees. Jy kan raai dat die vrou nie die vorm wou aanvaar nie. Maar dis waar: God is die Hoof van die kerk.
God het deur sy soewereine wil vir Paulus geroep om ‘n apostel[1] te wees. Uit Handelinge 9 onthou ons hoe Jesus hom op die pad na Damaskus voorgekeer het; hoe Hy hom gered en geroep het. Sosthenes het vir Paulus gehelp om die brief te skryf. Hy was seker Paulus se sekretaris. In Handelinge 18:17 lees ons dat hy die leier van die sinagoge in Korinte was. Op daardie stadium was hy nog Paulus se vyand. Hy het egter intussen tot bekering gekom en soveel gegroei, dat hy een van Paulus se mede-werkers geword het.
Paulus skryf sy brief aan die kerk van God in Korinte. Die kerk behoort aan Hom. In v.2 noem Paulus Hom ‘ons Here Jesus Christus’. Baie lê opgesluit in dié frase. ‘Here’ impliseer dat Hy die soewereine Hoof en Regeerder van die kerk is (Efesiërs 1:22). Jesus beteken Verlosser – Hy het die kerk met sy eie bloed gekoop en só as eiendom verkry (Handelinge 20:28). Christus beteken ‘gesalfde’ en is dieselfde as Messias. In die Ou Testament is konings, profete, en priesters met olie gesalf. As Koning regeer Jesus oor die kerk (Matteus 28:18). As Profeet openbaar Hy God se wil en leer Hy ons deur sy Gees (Johannes 16:13-15). As Priester bring Hy die offer vir ons sondes en tree Hy vir ons in (Hebreërs 7:25, 10:21-22).
As v.2 sê dat God die kerk in Korinte tot stand gebring het, moet jy jou nie veel steur aan mense wat sê die kerk is ‘n mens-gemaakte instelling nie. Buig die knie voor Jesus, die Hoof van die kerk. Hoe doen ‘n mens dit prakties? Jy onderwerp jou aan sy Gees wat ons in die Woord lei. Die Pous is nie die hoof van die kerk nie. Die Uitvoerende Komitee of President van ons Assosiasie is nie die hoof van die kerk nie. ‘n Sekere bekende kerkleier (soos Calvyn, John Wesley, of MacArhur) is nie die hoof van die kerk nie. ‘n Predikant met ‘n sterk persoonlikheid is nie die hoof van die kerk nie. Leiers uit verskillende bedieninge wat die ‘kerkraad’ vorm is nie die hoof van die kerk nie. Die kerk is nie ‘n demokrasie, waarin die gemeente die hoof is nie. Jesus alleen is die Hoof. Hy het ouderlinge aangestel om sy Woord aan die gemeente te leer en hulle daarin te lei. In soverre hulle dit doen moet gelowiges hulle leiers eer, volg, en gehoorsaam (1 Timoteus 5:17, Hebreërs 13:17). ‘n Christen wat sulke leiers volg is ook aan Jesus onderdanig (Hebreërs 13:7, 1 Korintiërs 4:16, 11:1). Omdat die kerk aan Jesus behoort het Hy die reg om te sê hoe dit bestuur moet word.
Haar lede (v.2, 9b)
Deur die boeke wat hy geskryf het, het Arthur Pink die kerk ‘n guns gedoen. Tog het hy ‘n groot blaps gemaak deur nie by ‘n kerk in te skakel nie. Hy het baie foute in die kerk gesien en gedink dat dit beter is om by die huis te bly en sy Bybel te lees. Hy het in 1931 geskryf: ‘We have travelled completely around the world, and ministered the Word in many places but there is no church known to us where we could hold membership.’[2] Dis hartseer. Die Bybel leer dat ons deel moet wees van ‘n plaaslike liggaam. So te sê elke brief in die Nuwe Testament is aan kerke of hulle leraars geskryf. Daar is meer as vyftig ‘mekaar-opdragte’ in die Nuwe Testament (dra mekaar se laste, wees lief vir mekaar, bid vir mekaar, vergewe mekaar, vermaan mekaar, ens.). Hoe kan jy dit effektief uitvoer as jy nie deel is van ‘n gemeente nie? Matteus 18:15-17 sê dat ons kerkdissipline moet toepas. Hebreërs 13:17 sê jy moet jou geestelike leiers gehoorsaam. 1 Korintiërs 11:17-34 sê ons moet die nagmaal saam met ander gelowiges herdenk. Hoe kan jy enige van hierdie dinge doen as jy nie deel is van ‘n gemeente nie? Dit is duidelik dat hulle in die vroeë kerk geweet het wie deel was van die gemeente en wie nie (Handelinge 2:41, 4:4, 5:13-14, Romeine 16:1).
Die Griekse woord vir kerk is ekklesia en beteken letterlik ‘uitgeroep’. Korinte was ‘n bose stad. Op ‘n berg buite die stad was ‘n tempel aan Venus, die godin van liefde. ‘n Duisend tempel prostitute het elke aand na die stad toe gekom om hulle ‘dienste’ aan te bied. Volgens 6:9-11 het die Korintiër-Christene op ‘n tyd deel gehad hierin, asook in baie ander sondes, maar nou het God hulle uit die wêreld uitgeroep (ekklesia) om aan Homself te behoort. Hy het hulle afgesonder. Dit is immers wat ‘geheiligdes’ beteken. Dis nie dat hulle op ‘n morele vlak volmaak heilig was nie. Maar deur Jesus se perfekte heiligheid het God hulle as volmaak beskou. Die Katolieke lering om sekere mense as heiliges (‘saints’) uit te sonder is onbybels. Volgens dié vers is elke gelowige ‘n heilige. God het hulle hiertoe geroep. Wat is dié roeping?
Die sondaar is geestelik dood. Wanneer iemand die evangelie preek, dan roep God sy uitverkorenes tot nuwe lewe (Romeine 8:30). Die sondaar sien hy is verlore, sodat hy desperaat uitroep dat God hom sal red (Romeine 10:13). Sy uitroep is dus ‘n reaksie op God se innerlike roeping. Daarom praat Paulus van die Korintiërs as “geroepe heiliges... wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep” (v.2).
Hoekom het God ons geroep? As God jou geroep het sal jy dien. Tog is jy nie primêr geroep om soos Marta te dien nie, maar om soos Maria by Jesus se voete te sit en gemeenskap met Hom te geniet (Lukas 10:38-42, 1 Johannes 1:3, Openbaring 21:3). In v.9 sê Paulus dat “julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.”
Paulus praat in v.2 van die kerk in Korinte, maar ook van gelowiges wat Jesus se Naam in elke plek aanroep. Teoloë praat van die sigbare en onsigbare kerk. Die onsigbare kerk is die kerk soos wat God dit sien: gelowiges uit alle eeue en op alle plekke. Dis wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het: ‘Ek sal my kerk bou’ (Matteus 16:18). Hebreërs 12:23 verwys na Christene in die hemel as ‘die gemeente’. Paulus sê in 2 Timoteus 2:19: “Die Here ken die wat syne is”. As die Korintiërs dít verstaan dan sal dit die eenheid in hulle gemeente help (v.10). Die sigbare kerk is die kerk soos wat ons dit sien. Die sigbare kerk bestaan uit dié wat ‘n geloofwaardige getuienis van redding het, en wie se lewe bewys dat hulle gered is. Natuurlik sal daar altyd vals gelowiges insluip, maar sover ons dit kan help moet nét gelowiges lidmate word. Augustinus het oor die onsigbare kerk gesê: ‘Many sheep are without and many wolves are within.’[3]
Moenie lidmaatskap verag en sê dat dit bloot ‘n formaliteit is nie. Beskou dit as ‘n voorreg. Is jy ‘n besoeker met ‘n geloofwaardige getuienis? Is die vrug van bekering sigbaar in jou lewe? Word ‘n lidmaat. Praat met die ouderlinge. Kom Vrydag 19:00 na ons lidmaatskapklas toe. Staan die doop in jou pad? In v.13-17 neem Paulus aan dat die Korintiërs gedoop is. Matteus 28:19 sê dat dissipels gedoop moet word. In Handelinge 2:41 word almal wat tot bekering gekom het, gedoop en by die gemeente gevoeg. Moenie wegbly as jy vrae het oor die doop nie. Praat met my – ek help graag. Is jy ‘n lidmaat wat verslap het? Ondersoek jouself of jy gered is. Indien jy gered is moet jy jouself weer aan jou roeping herinner (v.2, 9b). Reageer in liefde en gehoorsaamheid. God het die kerk lief. Wees soos Hy. Lê jy te veel klem op die onsigbare kerk, sodat die sigbare kerk vir jou onbelangrik geword het? Vers 2 maak duidelik dat die sigbare kerk vir God belangrik is. Die vroeë kerk het hullself toegewy aan geestelike gemeenskap (Handelinge 2:42). Is jy ‘n lidmaat of besoeker wat nog nie gered is nie? Bekeer jou en glo die evangelie. Mense wat lidmate is maar soos ongelowiges in sonde volhard, moet deur kerkdissipline uit die gemeente verwyder word (Matteus 18:17). Ek verstaan nie hoe mense sê dat hulle deel het aan Jesus (die Hoof), maar nie deel het aan sy liggaam nie? Hoe wil hulle in die hemel gemeenskap hê met ander gelowiges, as hulle dit nie op die aarde doen nie?
Haar gawes (v.3-7a)
In Junie 1972 het Lowell Sanders ‘n artikel in Moody Monthly (‘n nasionale Christelike tydskrif in Amerika) geskryf. Die titel was: ‘The Church with 900 Ministers’. Die artikel het gegaan oor Grace Community Church in Los Angeles. Sanders was verbaas dat al 900 lidmate betrokke was in die kerk. As lidmate met ‘n voorstel gekom het om iets in die kerk te doen, het die predikant gesê: ‘Gaan doen dit!’[4] Soos in dié kerk was die gelowiges in Korinte nie toeskouers op ‘n Sondag nie – hulle was betrokke.
Die Vader en die Seun het reddende genade aan die Korintiërs gegee, asook genade om die brief te gehoorsaam (v.3). God het sy Seun gestuur, sodat ook hulle deur sy kruisdood vrede met God en mekaar kon hê (v.3). Ten spyte van die probleme in die kerk, was Paulus dankbaar vir die genadegawes wat God aan hulle gegee het (v.4). In Christus was hulle verryk in woorde en kennis (v.5). Hulle het gawes gehad om die Woord te verstaan en vir ander te leer (12:8-10, Romeine 15:14). Hulle het geen rede gehad om in hulleself te roem nie, want hulle gawes was ‘n geskenk van God (4:7)! Die gawes was ‘n bewys dat die evangelie effektief in hulle gewerk het (v.6). Hulle kon immers nie hierdie gawes ontvang het as hulle nie ware gelowiges was nie. Die kerk het al die gawes gehad wat nodig was vir húlle spesifiek behoeftes (v.7a). So doen God vir elke kerk. Daarom is daar gawes in Rome wat verskil van die gawes in Korinte (12:8-10, 28-30, Romeine 12:6-8).
Gebruik jou gawe om in die gemeente te dien. Groet besoekers, pak tafels en stoele uit vir teetyd, besoek die siekes, lees die Bybel en bid saam met ‘n ander gelowige – doen iets! As jy net eers begin sal die Heilige Gees jou verder lei. Kyk waar jy nood sien en help daar. Doen dit wat jy geniet en goed doen; iets waarvan ander sê jy doen dit goed. Bid vir wysheid hoe jy jou gawe kan gebruik. Ons moet wegbreek van die idee dat lidmate toeskouers is, en dat die predikant betaal word om die werk te doen. Hoekom is dit belangrik dat jy jou gawe moet gebruik?
Haar hoop (v.7b-9a)
Ek onthou hoe my graad 3 juffrou vir ons gesê het dat die inspekteur skool toe kom, en dat alles netjies en gereed moet wees. Dit het ons gedryf om hard te werk en alles reg te kry. Is dit nie ook so met Jesus se wederkoms nie? Sal dit jou help om beter te dien en meer getrou te wees, as jy geweet het Jesus kom voor die einde van 2016?
Die hoop dat Jesus weer gaan kom om die ontroues te oordeel en sy kinders te beloon, dryf ons om getrou te wees en te dien (v.7). Dis hoe Hebreërs 10:25 ons aanspoor om getrou te wees: “laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” In die gelykenis van die talente gebruik Jesus dieselfde argument (Matteus 25:14-30). Jesus belowe om die Korintiërs vlekkeloos te laat vasstaan tot by sy wederkoms – al woon hulle in so ‘n goddelose stad (v.8). Hoe sal Hy dit doen? Hy doen dit deurdat hulle deel is van ‘n gemeente waar hulle getrou hulle gawes gebruik om mekaar op te bou (v.7-8). God is getrou en sal verseker dat hulle tot die einde toe volhard (v.9a). “Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Filippense 1:6). “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.” (1 Tessalonisense 5:23-24).
Hou hierdie hoop vooroë. Jy sal dit net regkry as jy weet wat om by sy koms te verwag; as jy weet wat Hy van jou verwag. In 3:12-15 skryf Paulus: “En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”
Op die oordeelsdag gaan Jesus sy kinders beloon (4:5, 2 Korintiërs 5:10). Vir Hom is dit nie belangrik hoeveel gawes jy gehad het nie, maar wat jy gedoen het met die gawes wat Hy vir jou gegee het. Iemand wat sy een gawe ten volle gebruik het, sal ‘n groter beloning ontvang as die persoon wat sy vyf gawes in die sand begrawe het. As jy van die hoop vergeet sal jy laks raak en dalk selfs opgee.
Wayne Mack het vir ons geleer dat ‘n man wat sê hy het sy vrou lief, maar haar gedurig sleg behandel, ‘n leuenaar is. Sy dade weerspreek sy woorde. Sê jou dade (nie jou woorde nie) dat die kerk vir jou baie belangrik is? Is dit vir jou so kosbaar soos wat dit vir God is?
[1] Die Griekse woord apostolos beteken boodskapper, gestuurde, of ambassadeur.
[2] Iain Murray, The Life of Arthur W. Pink, p.142
[3] Wayne Grudem, Systematic Theology, Inter-Varsity Press, LEICESTER, 1994, 2000, p.857
[4] Iain Murray, John MacArthur: Servant of the Word and Flock, p.36