Die wêreld weet nie wat halleluja beteken nie. Jare gelede was daar ‘n populêre lied wat gesê het: ‘It’s raining men, hallelujah!’ In sommige kerke dink mense nie mooi voordat hulle ‘halleluja’ of ‘amen’ sê nie. Ek het ‘n diens bygewoon waarin mense ‘amen!’ geroep het toe die spreker sê: ‘Ons staan agter op ‘n trok in Rusland...’
Wanneer ek dan in hierdie preek die woord ‘halleluja’ gebruik, bedoel ek dit nie as ‘n cliché nie, maar gebruik ek dit soos wat Johannes dit in Op.19:1-10 gebruik het.
Die eerste halleluja (v.1-2)
Omdat die woord ‘halleluja’ so algemeen in ons musiek voorkom, dink ons nie altyd mooi wat ons sê wanneer ons dit sing nie. Dit was nie die geval in Op.19 nie.
Johannes het iets gehoor wat geklink het soos die stem van ‘n baie groot menigte in die hemel (v.1, 5:11-14, 7:9, 11:15). ‘Halleluja!’ het hulle uitgeroep (v.1). Ek het vroeër in die reeks gesê dat ‘halleluja’ slegs hier in die Nuwe Testament voorkom, en dat dit letterlik ‘prys Jah(we)’ beteken.
Waarvoor het hulle die Here geprys?
[1] Die mens se verlossing kom geheel en al van die Here af (v.1, Rm.8:29-30, 11:36, Ef.2:8-9). Die Here het ook sy bruid van die prostituut se onderdrukking verlos (18:20).
[2] Omdat verlossing van die Here af kom, het hulle gesê dat die heerlikheid aan Hom behoort en aan niemand anders nie: Soli Deo Gloria (v.1, Jes.48:11).
[3] Hulle het Hom ook geprys dat Hy die mag gehad het om te skep, te onderhou, die geskiedenis te beheer, te verlos en te oordeel (v.1).
Die rede hoekom hulle Hom so geprys het, is omdat Hy waaragtig en regverdig was toe Hy die groot prostituut genaamd Babilon – dit is, Jerusalem – geoordeel het (v.2, hfst.17-18).[1] Dit was immers a.g.v. háár geestelike egbreuk dat die land [Gk. gē] in ‘n moeras van immoraliteit verval het (v.2).
Verder was dit ook sý wat die bloed van die Here se diensknegte vergiet het, en daarom het Hy wraak geneem en haar geoordeel (v.2, 18:20, 24, 16:6, Dt.32:35, 41, 43, Lk.11:47-51, vgl. 2 Kon.9:7).
Die tweede halleluja (v.3)
Robert Murray McCheyne was ‘n Skotse prediker in die 1800’s. Op 9 Nov. 1834 het hy gehoor dat iemand wat baie verkeerde lering versprei het, gesterf het. Hy was bly oor die nuus.[2] Toe ek dit gelees het was ek aanvanklik geskok. Maar as ek dit met Op.19 vergelyk, besef ek dat hy reg was.
Die groot menigte van v.1 het weer ‘halleluja!’ geroep (v.3). Jerusalem was soos Sodom, en daarom het haar rook soos Sodom s’n in die lug opgestyg (v.3, 11:8, 17:16, 18:8). Die rook was ‘n voorsmakie van die ewige straf wat sy in die hel sou beleef het (v.3, 14:10-11, Jes.34:8-10, 2 Pt.2:6, Jud.7).
Hoe moet ons hierdie eerste drie verse toepas? Soos die gelowiges in hierdie verse, sal jy ook die Here vir jou verlossing prys wanneer jy in die hemel is. Jy sal geen krediet vir jouself neem, asof die bepalende besluit vir jou redding by jóú en jou vrye wil gelê het nie. Jy sal verstaan dat Hý die Outeur en Voleinder van jou geloof is, dat Hý die goeie werk in jou begin en volbring het, en dat Hy jou gered het tot die lof van sý heerlikheid (Heb.12:2, Fil.1:6, Ef.1:6, 12, 14).
Jy sal Hom ook prys vir sy regverdige oordele oor OGOD en hulle ateïstiese ondersteuners, ISIS en ander Moslem-groepe, die Kommuniste, en die res van die kerk se vyande (v.2, Ps.58:11). Jy sal bly wees dat jy nie self wraak geneem het nie, maar dat jy dit vir die regverdige God gelos het. Jou lofprysing sal nie sadisties wees, sodat jy lekker kry oor jou vyande wat in die hel is nie.
Maar jy sal ook nie hartseer wees nie. God se heilige grootheid, geregtigheid en almag sal so oorweldigend wees, dat dit alles oorskadu. Jy sal sê dat dit goed en reg is dat Hy die kerk se vyande in die hel gewerp het.
Jy sal ook opnuut dankbaar wees dat Hy jou gered het, en dat jy nie saam met die goddelose in die hel is nie. Jy sal besef dat jy die hel verdien het, en dat dit sy vrye genade is wat die verskil gemaak het. Jy sal nie anders kan as om Hom vir ewig te prys in alles wat jy doen nie.
Die derde halleluja (v.4-5)
Ek het by twee geleenthede iemand in die hof gaan ondersteun. By beide geleenthede het ‘n polisieman my aangespreek: een keer omdat ek ‘n hoed op my kop gehad het, en die ander keer omdat ek teen die muur gestaan het. En as die hof so ernstig was dat ek respek moes wys, hoeveel te meer is dit nie die geval in die hemel nie?
Die 24 ouderlinge en die 4 lewende wesens het voor die troon geval en die Here aanbid wat daarop gesit het. Ek het in hfst.4 gewys dat die 24 ouderlinge ‘n rangorde van engele is, en dat die 4 lewende wesens gerubs is.[3]
Hulle het op hulle gesigte voor die troon geval en die Here aanbid (v.4). Hulle ‘amen’ het die groot menigte van v.1-3 se ‘halleluja’ ge-eggo (v.4). Dit is asof hulle gesê het: ‘Dit ís so; ons stem saam dat die Here geprys moet word.’
Daar het ‘n stem van die troon af gekom: “Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot!” (v.5). Die stem wat van die troon af gekom het was Jesus s’n. In sy menslike natuur was die Vader ook sý God, en het Hy Hom geprys (Ps.115:1, Jh.20:17, Ef.1:3, 17, Heb.2:12). Hy het vir God se knegte, vir die wat Hom vrees, gesê om Hom te prys (v.5, 1-10). Dit het vir almal gegeld, klein en groot (v.5, 11:18). Dit is tog hoekom Hy hulle gemaak het (Ps.148:2, 11-14, Jes.43:7, 21).
En as jy hiervoor geskep is sal jou siel nie rus, totdat jy dit doen nie. Ek bedoel nie net dat jy ‘Jesus-liedjies’ moet sing nie, maar dat jy deur tydsame gebed en bepeinsing in ‘n verhouding met die Here moet leef. As jy dit gereeld doen sal jy op een of ander stadium ‘n diep ervaring met die Here hê, sodat jy nie anders kan as om Hom te prys nie.
Eers dán sal jy besef dat ware lofprysing die hoogste piek is wat jy ooit in hierdie wêreld en in die volgende een sal bereik. Ewe skielik sal die plesiere van hierdie wêreld vir jou leeg en hol wees. Jy sal agterkom dat drank, vriende, jou huweliksmaat en kinders, seks, rykdom, nuwe goed, ‘n ander werk, lekker kos, populariteit en aansien, akademiese grade, jou net tydelik gelukkig kan maak. Om ware vervulling, satisfaksie en versadiging te hê, moet jy die Here prys. Dit kan nie anders nie, omdat Hy jou hiervoor gemaak het.
Die vierde halleluja (v.6-9)
Wanneer iemand in Johannes se tyd verloof geraak het, moes hy ‘n bruidsprys aan die bruid se pa betaal het. Verlowing was meer bindend as wat dit vandag is; dit moes met ‘n amptelike skeibrief verbreek word (Mt.1:18-25).
As die man klaar verloof geraak het, het hy vir ‘n kort tydjie weggegaan om alles gereed te kry vir die troudag. As dit gereed was, het hy sy bruid kom haal en haar na sy huis toe gevat.
Hulle het vir sewe dae fees gevier, en aan die einde daarvan beloftes uitgeruil. Daarna het hy haar in sy huis ingebring.[4] Dit sal help om hierdie agtergrond in gedagte te hou wanneer jy v.6-8 bestudeer.
Johannes het weer ‘n stem gehoor wat soos ‘n groot menigte klink, soos die gedreun van baie waters en soos die geluid van harde donderslae (v.6, 14:2). Hulle het die Here met ‘n ‘halleluja’ geprys, omdat Hy as die Almagtige God regeer het (v.6). Sy aardse Koninkryk het begin toe Jesus na die hemel toe opgevaar het en dit in sy Naam geregistreer is; dit sal oor die wêreld versprei en by die wederkoms vervul word (hfst.5, 11:15, 17, Ps.2:6-8, 110:1, Dn.2:35, 7:13-14, Mt.4:17, 6:10, 12:28, 28:18, Lk.10:9, 17:21).
Net so het Jesus se huwelik by sy eerste koms begin, en sal dit by die wederkoms vervul word (v.7, Mt.9:15). Kom ek verduidelik dit so:
Omdat Israel aanhoudend in die Ou Testament egbreuk gepleeg het, het die Here haar met ‘n skeibrief weggestuur (Jer.3:1-8, Mt.19:9). Hy het haar egter vergewe en teruggevat (Hosea). Maar in 16:21 en 17:16 het Hy genoeg gehad, sodat Hy die prostituut gestenig en verbrand het (Dt.22:22, Lv.21:9).
Dit het in 70 n.C. gebeur toe Hy die tempel met sy priesters en offers verwoes het, en so die ou verbond met Israel finaal tot ‘n einde gebring het (Heb.8:13, 10:9). Maar dit is nie asof sy huwelik misluk het nie. God se ware bruid was nog altyd dié wat in Christus geglo het, en nie dié wat as Jode gebore is en besny is nie (Rm.2:28-29, 9:6-8, Gal.3:7, 16, 29).
God het in 21:2, 9, Jes.54:5, 62:5 gesê dat die hemelse Jerusalem (die kerk volgens Gal.4:26) sy bruid is. Deur sy dood het Hy die bruidsprys betaal, en toe sy in Hom geglo het, het Hy aan haar verloof geraak (Ef.5:22-33, 2 Kor.11:2).
Hy het opgevaar hemel toe om alles gereed te kry vir die troudag. Sy het ook moeite gedoen om haarself gereed te kry, deurdat sy die blink wit trourok van haar heilige en gehoorsame dade aangetrek het (v.7-8, 3:4-5, 14:4, 1 Jh.3:3). Deur sy kruisdood het Jesus hierdie fyn linne trourok vir haar gekoop (v.8, 7:14, Gn.3:21, Ps.132:9, Sp.31:22, Jes.61:10).
Die punt is dat die Here sy bruid instaatgestel het om goeie werke te doen, maar dat dit sý is wat dit moes doen (v.7-8, Ef.2:10). God se bruid moes haarself vir die hemel voorberei, maar die Here sou gegee het wat nodig was om dit te doen (Fil.2:12-13).
Dit beteken nie dat sy vir die hemel moes wag om fees te vier nie. Volgens die Bybel bestaan die fees ten minste uit drie disse, en is dit so te sê ‘n driegang maaltyd.
- Wanneer iemand tot bekering kom, geniet sy in die Woord, die gemeenskap van gelowiges, die nagmaal en gebed ‘n ete met die Here (3:20, Lk.10:39, 42, Hd.2:42, 1 Kor.5:8).
- Wanneer ‘n Christen doodgaan, gaan sy dadelik hemel toe. Daar het sy ‘n voller ervaring van die feesmaal saam met Jesus (v.7, Mt.26:29, Jh.14:2-3, Fil.1:23).
- Wanneer Jesus weer kom, sal sy vir ewig die finale dis van die feesmaal saam met Hom geniet (Jes.25:6).
Is dit enige wonder dat die bruid in v.7 bly was en die Here verheerlik het? Is die bruid se blydskap joune? Is jy reg om by die feesmaal aan te sit? Is die klere van jou lewe rein? Het jy dit wit gemaak in die bleikmiddel Jesus Christus se bloed, en hou jy dit so deur ‘n heilige lewe van gehoorsaamheid?
Jy kan ander mense flous, omdat jy elke Sondag in die kerk sit en godsdienstige dinge doen. Maar jy kan nie die Koning flous nie – Hy sien dwarsdeur jou. Hy weet of jy in die kerk, huis, huwelik, skool, werkplek, en vriendekring die wit klere van ‘n rein hart en ‘n heilige lewe aan het of nie (Mt.22:11-12). As jy dit nie aan het nie, sal jy uit die kerkbanke uit hel toe gaan (Mt.22:13).
Sorg daarom dat jy voortdurend die wit klere van ‘n heilige lewe aan het. Moet egter nie dink dat jy dit self so wit gekry het nie. Jy weet goed dat Jesus hierdie wit klere vir jou gegee het. As jy dit nog nie het nie, moet jy vir Hom vra om jou uit die modderpoel van jou sonde te red, jou in die fontein van sy bloed te was, en vir jou die wit klere van sy geregtigheid aan te trek.
Só kan jy weet dat Hy jou na die troue toe genooi het, en is jy baie geseënd (v.8-9). Soos wat jy jóú huweliksmaat en gaste gekies het, het die Here sýne gekies. Beskou dit dan as ‘n voorreg en nie as ‘n reg nie dat Hy jou gekies het om deel van sy bruid te wees, en dat Hy jou na die troue toe genooi het (v.9, Mt.22:14, Hd.13:48).[5]
Dank ook die Here dat hierdie nie maar net ‘n feëverhaal is soos Sneeuwitjie of Aspoestertjie nie. Alles wat die engel vir Johannes gesê het is God se ware woorde (v.9).
Die laaste halleluja (v.10)
Omtrent 15 jaar gelede het ‘n vriend van my tot bekering gekom. Hy het vir my gesê dat ek sy lewe gered het. Ek het mooi aan hom verduidelik dat dit die Here was en nie ek nie.
Iets soortgelyk het in v.10 gebeur. Johannes was so verwonderd dat hy probeer het om die engel te aanbid. Hy het as’t ware voor die engel se voete geval en ‘halleluja’ gesê.
Die engel het hom dadelik gekeer en gesê dat hy God se slaaf is net soos Johannes en die profete wat van Jesus getuig het (v.10, 5, 22:8-9, Hd.10:25-26). As Jesus dan die middelpunt van hulle boodskap was, moes Johannes Hóm aanbid het en nie die engel nie (v.10, Lk.24:25-27, 44-45, Jh.5:46).
Ons moet God alleen dien: ons mag nie tot engele bid of hulle aanbid nie, hetsy gevalle engele of heilige engele (v.10, 22:8-9, Eks.20:3, Mt.4:9-10, Kol.2:18). Ons mag ook nie ‘n ds. vir sy preke of bediening prys, asof hy die Here is wat hierdie dinge doen nie. Verder mag geen ds. of lidmaat mense versoek om hulle te prys nie, maar moet Jesus die middelpunt van hulle boodskap en lewe wees (v.10).
Ten slotte moet ek sê dat enige siening oor Openbaring wat op die fyn besonderhede van die eindtyd fokus en nie op Jesus nie, glad nie oorweeg moet word nie. ‘n Siening wat jou bang maak en jou nie dryf om ‘halleluja!’ te sê nie, eggo nie die hemel se volkslied nie en mis die punt.
[1] Sien my preek, Die Lam, die Prostituut en die Antichris vir ‘n bewys dat die prostituut of Babilon ‘n skuilnaam vir Jerusalem is.
[2] Iain Murray, The Puritan Hope, p.194
[3] Sien my preek, ‘n Visioen van die hemel. Daarin het ek gewys dat die lewende wesens ooreenstem met die gerubs in Esg.1, 10. Ek het ook gewys dat die 24 ouderlinge op trone gesit het, en dat Paulus in Kol.1:16 van sommige hemelwesens as ‘trone’ praat. Volgens party is die 24 ouderlinge ‘n voorstelling van al die gelowiges in die Ou- en Nuwe Testamente, en is die 4 lewende wesens simbolies van die hele skepping. Ek huldig nie hierdie siening nie, omdat Johannes in Op.7:9, 11 tussen die 24 ouderlinge en die gelowiges in die hemel onderskei.
[4] William Hendriksen, More than Conquerors, p.215
[5] Ek dink nie Johannes probeer om tussen die bruid en die genooide gaste te onderskei nie. Christene is die bruid en die gaste wat na die troue toe genooi is, net soos wat Jesus in 7:17 die Lam en die Herder is.