Die hel is erg
[1] Die Griekse woord vir ‘hel’ in Matteus 18:9 is Gehenna. Hierdie naam is 'n transliterasie van die Hinnom-vallei (suid van Jerusalem, Josua 15:8) waarvan ons in die Ou Testament lees. Toe die volk in afgodery verval het, het hulle hul kinders hier verbrand vir Moleg (Jeremia 7:31). Later het dit 'n ashoop geword waar mense hulle vullis verbrand het. Soos by enige ashoop was daar wurms tussen die rommel. Die vuur het nooit opgehou brand nie. Jesus gebruik die beeld van hierdie vervloekte plek om die hel te beskryf. Die hel sal ook 'n vervloekte plek wees. Enigiemand wat daarheen gaan is afgryslik en haatlik. Party tekste in die Nuwe Testament vertaal die woord Hades met ‘hel’ (soos Lukas 16:23). Hades word gewoonlik gebruik van die hel vóór die wederkoms, terwyl Gehenna verwys na die hel ná die wederkoms.
[2] Jesus beskryf die hel as 'n onuitblusbare vuur (Markus 9:48). Het jy jouself al ooit gebrand op die stoofplaat, in die oond, met 'n kers? Hoe moet dit wees om vir altyd te brand? Kan jy jouself hierdie pyn indink?
[3] Die hel is soos 'n tronksel van eensame afsondering; 'n plek waar jy vir ewig gebind sal wees (22:13, 23:33, 2 Petrus 2:4). Jy sal die gekerm en gehuil van ander mense hoor, maar jy sal vir ewig nie 'n ander persoon sien nie. In die hemel is daar 'n heerlike samesyn van mense. In die hel sal dit bitter eensaam wees.
[4] Die hel word beskryf as 'n poel van swawel en vuur (Openbaring 21:8). Die beeld is een van mense wat versmoor, verstik en verdrink. Min dinge kan erger wees as dit.
[5] Mense sal gepynig en gemartel word (Openbaring 14:10). Enige aardse marteling waaraan jy kan dink vergelyk nie hiermee nie.
[6] Die hel is 'n plek waar Satan en sy demone gestraf word (Matteus 25:41). Satan en sy demone sal ook die mense wat daar is teister en haat. Dink jy Satanisme of demoon-besetenheid is erg? In die hel sal mense van aangesig tot aangesig met die ergste demoniese aktiwiteite kom. Die hemel is 'n plek vol van liefde, en die hel 'n plek van onverdunde haat.
[7] Party lyke word deur wurms geëet (sien Handelinge 12:23). Hoe sal dit wees om lewendig te wees en vir ewig deur wurms geëet te word (Markus 9:48)?
[8] 'n Gelowige se gewete is skoongewas (Hebreërs 9:14). In die hel sal jou gewete nooit ophou om jou aan te kla nie. Die woorde van preke soos hierdie sal oor en oor in jou kop speel. Jy sal weet jy moes jou bekeer het, maar nou is dit te laat.
[9] In die hel word jy nie skielik regverdig nie. Die mense daar hou aan met sondig. Markus 3:29 praat van 'n ewige sonde en Openbaring 22:11 sê: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word...” Op aarde perk God nog goddelose mense se sonde in. Daar word mense totaal en al oorgegee aan die genadeloosheid van hulle eie sonde.
[10] Mense in die hel sal geskei wees van God en al sy goedheid (2 Tessalonisense 1:9). Op aarde het die ongelowige nog voorregte soos sonskyn en pizza geniet. In die hel is daar nie 'n druppel van God se goedheid nie.
[11] Dié wat in die hel is sal depressief wees, angstig en vreesbevange wees, die ergste siektes denkbaar ervaar (kanker, gout, longontsteking, migraine, ensovoorts) en baie ander gevolge van die sondeval beleef.
[12] Inwoners van die hel sal van ver af die vreugdes van die hemel sien, maar niks daarvan kry nie (Lukas 13:28, 16:23). Moet egter nie dink dat mense wat in die hel is graag heilig en in die hemel wil wees nie. Hulle vloek God vanuit die hel en wíl hulle nie bekeer nie (Openbaring 16:11).
[13] Die hel word beskryf as 'n plek van diep duisternis (25:30). Mense in die hel sal nooit die lig van God se guns beleef nie. Dit sal 'n erger marteling wees as die Donker Gat in Kaapstad se Goede Hoop kasteel.
[14] Die hel word beskryf as 'n bodemlose afgrond of put (Openbaring 9:2). Hoe moet dit wees om vir ewig te val?
[15] In die hel sal jy altyd die nagmerrie van die dood moet deurmaak sonder om ooit finaal te sterf (Openbaring 20:14).
[16] In die hel huil mense, kners op hulle tande, kou hulle tonge van pyn, en word vernietig in liggaam en siel (10:28, 25:30, Openbaring 16:10). As jy eet en jy byt jou tong raak is dit seer. Daar sal jy vir altyd jou tong kou van pyn.
[17] Iemand het gesê: ‘Heaven is being in God’s presence forever with a Mediator. Hell is being in his presence forever without a Mediator.’ Openbaring 14:10 sê dat mense in sy teenwoordigheid sal ly. Dit moet skrikwekkend wees om in 'n toornige en heilige God se gesig te kyk!
Die hel is ewig
As die bogenoemde dinge tydelik was, sou daar hoop wees. Maar die hel is ewig. Jesus praat van die ewige vuur (Matteus 18:8b). Johannes skryf: “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie” (Openbaring 14:11). Mense wat sê ongelowiges sal net uitgewis word, neem nie Jesus se woorde ernstig op nie. Mense wat glo in 'n vagevuur of universalisme (‘almal sal uiteindelik gered word’) ook nie. As die hel nie ewig is nie, is die hemel ook nie ewig nie, want Jesus sê: “En [die goddelose] sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.” (25:46). As daar nie 'n hel is nie, was Jesus se Godverlate toestand aan die kruis heeltemal onnodig (27:46). Jesus is die ewige God, en kon dus binne 'n paar uur aan die kruis 'n ewige straf namens ons ondergaan. As daar nie 'n hel is nie, sal die ongeregtighede van hierdie wêreld nooit reggestel word nie. As daar nie 'n hel is nie, is daar geen straf vir Satan en al die boosheid wat hy gedoen het nie. 'n Ewige en heilige God vereis dat die hel ook ewig moet wees. Solank as wat God heilig is, sal Hy sonde straf. In die hel sondig mense vir ewig (Markus 3:29, Openbaring 16:11), en daarom word hulle vir ewig gestraf.
Die regte reaksie op die realiteit van die hel
[1] Moenie die Here of sy lering oor die hel haat nie. Moenie sê God is wreed en onregverdig nie. Laat hierdie leerstelling jou eerder aanmoedig om die Here te aanbid vir sy regverdigheid, heiligheid, almag en toorn om sonde te straf (Romeine 9:22). Die Here is wys en goed, en daarom moet ons Hom nie bevraagteken oor die hel nie. Prys en dank die Here vir sy liefde en genade: jy het óók die hel verdien, maar Hy het jou gered. Niemand in die hemel sal hartseer wees oor mense wat in die hel is nie. Eerder: jy sal die Here prys vir die dinge wat ek nou-net genoem het: Jesus se lewe en kruisdood, God se liefde en genade, die evangelie, God se geregtigheid, heiligheid en krag. “Halleluja! En haar rook gaan op tot in alle ewigheid.” (Openbaring 19:3).
[2] Laat jou hart gebroke wees en ontferm jou oor dié wat daarheen gaan. Verneder jouself voor God. God self het geen plesier in die dood van die goddelose nie, maar wil eerder hê dat hulle hul moet bekeer en lewe (Esegiël 18:32). Jesus het gehuil oor dié wat hulle nie bekeer het nie (Matteus 23:37, Lukas 19:41). Paulus ook (Romeine 9:2-3, Filippense 3:18-19). Jy moet ook.
[3] Wees ernstig oor die ewigheid. Moenie grappe maak oor die hel nie. Vrees God.
[4] In ons land en wêreld is daar baie ongeregtigheid. Dank God dat reg en geregtigheid op die einde sal geskied.
[5] Veg hard en met erns teen sonde (Matteus 18:7-9). Dink oor die hel en besef hoe aaklig sonde is, want dit is sonde wat maak dat mense hel toe gaan.
[6] Moenie self wraak neem nie; los dit vir God (Romeine 12:19). Dink eerder daaraan dat jou vyande in hierdie verskriklike plek sal beland, en voel jammer vir hulle.
[7] Laat die leerstelling oor die hel jou dryf om die evangelie met mense te deel.
[8] Bekeer jou en glo die evangelie. Moenie jouself flous en dink jy kan aanhou sondig sonder dat daar gevolge sal wees nie. Moet jou nie verbeel dat 'n liefdevolle God niemand hel toe sal stuur nie. Die Bybel sê uitdruklik dat geen onheilige en onregverdige persoon hemel toe sal gaan nie (1 Korintiërs 6:9-10, Hebreërs 12:14). Doen alles in jou vermoeë om die lot van die hel te ontsnap. Moenie met sonde speel nie, want dit is sonde wat daarheen lei (Romeine 6:23). Hoe kan jou sonde vergewe word? Jesus het hel aan die kruis deurgemaak vir ons. As jy jou bekeer en op Hom vertrou sal Hy jou sonde uitwis en sy volmaakte geregtigheid aan jou toereken. Hy sal jou dan help om te stry teen sonde en versoeking, sodat jy nie in daardie verskriklike plek beland nie.