Coram Deo Cover Image

Coming soon...

22 January 2022

Die hel as ’n motivering vir evangelisasie

Lukas 10:13-16

In die mid-1700’s het Jonathan Edwards Sinners in the Hands of an Angry God in Enfield, New England gepreek. Gedurende die preek het mense angsbevange uitgeroep: ‘Wat moet ons doen om gered te word?’1 Daar het ’n herlewing uitgebreek.

Nie almal het waardering vir Edwards se preek nie. In 1961 het Phyllis McGinley Edwards se preek as ’n bangmaak-teologie gekritiseer:

And if they had been taught aright,

Small children carried bedwards

Would shudder lest they meet that night

The God of Mr. Edwards,

 

Abraham’s God, the Wrathful One,

Intolerant of error—

Not God the Father or the Son

But God the Holy Terror.2

Sowat twee dekades gelede het ek ’n predikant aan iemand hoor sê: ‘Jonathan Edwards het rondgegaan en Sinners in the Hands of an Angry God oral gepreek.’ Hierdie stelling is verkeerd. Edwards het die boodskap in sy eie gemeente gepreek en daarna in Enfield. Dit is nie asof hy net hel en verdoemenis gepreek het nie. Tog het hy nie ’n blinde oog vir die realiteit van die hel gedraai nie. Hy het Jesus se model gevolg en die hel as ’n motivering vir evangelisasie gebruik.

 

1. Gorasin en Betsaida (v.13-14)

Wanneer iemand skok of vrees wil uitdruk, fluit hy en skud hy sy kop. In Suid-Afrika voeg ons ‘Jo!’ of ‘Eish!’ by. In Jesus se tyd het hulle ‘weë!’ (v.13) gesê. Die Grieks (ouai) is ’n uitdrukking van hartseer, veroordeling of intense angs oor ’n ramp of gruwel.3 Lukas gebruik dit om te wys dat die komende straf onbeskryflik en angswekkend is.

Moenie soos party mense die hel tot die swaarkry van hierdie lewe beperk nie. Jesus sê die hel kom nog (v.13-14). In hierdie lewe geniet ongelowiges goeie dinge soos sonskyn, reën, sintuie, kos, klere en meer (Gen. 1:31, Ps. 104:14-15, 27-30, 145:9, 15-16, Matt. 5:45, Hand. 14:17, Jak. 1:17). In die hel sal hulle niks hiervan beleef nie. Die lyding wat hulle in hierdie lewe ervaar vergelyk nie met die lyding van die hel nie (Matt. 13:42, 50, Mark. 9:48, 2Tess. 1:9, Op. 14:10-11).

God is regverdig; Hy sal nie sonde onder die mat invee nie, maar Hy sal dit straf. Dit kan nie anders nie, omdat die mense in die hel Hom aanhoudend haat en vloek (Op. 16:10-11). ’n Ewige sonde (Mark. 3:29) verdien ’n ewige straf (Matt. 25:41, 46).

Vir Gorasin en Betsaida (dorpies teen die noordkus van die See van Galilea) sou die straf ekstra erg wees. Hoekom? Jesus het daar gepreek en baie wonderwerke in hulle midde gedoen (v.13, Joh. 1:44, Mark. 1:29-34, 6:45, 53-56, 8:22, Luk. 9:10-17). Ons weet van een wonderwerk wat hy vir ’n vrou van die heidense stede Tirus en Sidon gedoen het (Matt. 15:21-28). As Hy meer wonderwerke daar gedoen het, sou hulle hul in sak en as bekeer (v.13, vgl. Jona 3).

Dit was die Joodse dorpe (dorpe soos Gorasin en Betsaida) wat hulle nie bekeer het nie. En hoekom nie? Min dinge verhard ’n mens soos wanneer hy week in en week uit die waarheid hoor en niks daaromtrent doen nie. Om ’n prostituut, moordenaar, rower, of korrupte politikus te wees, is gevaarlik. Maar om ’n verlore kerkmens te wees, is gevaarliker. J.C. Ryle sê:

‘It is not open sin and flagrant profligacy (Afr. losbandigheid) alone which ruins souls. We have only to sit still and do nothing, when the gospel is pressed on our acceptance, and we shall find ourselves one day in the pit. We need not run into any excess of riot. We need not openly oppose true religion. We have only to remain cold, careless, indifferent, unmoved and unaffected, and our end will be in hell... No sin makes less noise, but none so surely damns the soul, as unbelief.’4

‘The saddest road to hell is that which runs under the pulpit, past the Bible, and through the midst of warnings and invitations.’5

Ek is besorg oor mense wat gereeld die evangelie hoor, ’n goeie gemeente besoek, na goeie preke op die internet luister en hulle nie bekeer nie. As jy dit lank genoeg doen, skroei jy jou gewete, sodat dit gevoelloos soos ’n eelt word. Die Here sal jou hart verhard soos Hy met Farao gedoen het. Hy sal jou verbreek sonder dat daar genesing is (Spr. 29:1). Jy sal nog steeds die evangelie hoor, maar jy sal dit nie kan insien of verstaan nie (Jes. 6:9-10). Op die oordeelsdag sal dit draagliker wees vir die Taliban en die Kommuniste van Noord-Korea as vir jou (v.14). Hierdeur leer Jesus vir ons twee lesse:

[a] Alhoewel almal in die hel se straf ewig is, is daar grade van straf, sodat party mense se straf erger is as ander s’n (v.14, 12, 12:47-48, 20:47, Matt. 26:24, Joh. 19:11, Hand. 1:25, Rom. 2:5-6, Heb. 10:29). Al Martin en Fred Zaspel sê: ‘It is the fool who reasons, “Well, if I’m going to hell, I might as well have my (sinful) fun in the meantime!” Every day given to sin, every venting of lust, every untruthful word, every next sin committed only adds to the punishment that will be assigned. It would be better for that man to die young than to live only to accumulate a lifetime of sin that will return to him in divine wrath.’6

Mense wat dink die hel is ’n partytjie weet nie wat kom nie. Moenie vir ’n oomblik dink jy en jou vriende sal saam wees nie. Die hel is donker en eensaam (Matt. 8:12, 25:30). Dit is nie ’n plek van samesyn, blydskap en feesviering soos die hemel nie (Matt. 8:11, Op. 7:9). Jy ly alleen.

Nog iets wat Gorasin en Betsaida se lyding erger maak as Tirus en Sidon s’n, is die feit dat hulle geweet het wat hulle kón hê (sien Luk. 13:25-29). Volgens my suster is dit soos wanneer jy twee verskillende mense vir ete nooi. Vir die een sê jy: ‘Ons gaan skaapboud, gebakte aartappels, roomys en sjokolade sous eet.’ Vir die ander een sê jy niks. Wanneer die gaste opdaag, eet julle sop. Jou oond het gebreek, die hond is dood en jou kind het uit die boom geval. Daar was nie tyd om ’n heerlike ete voor te berei nie. Vir die persoon wat geweet het wat julle sou eet, is die sop aaklig. Alhoewel die ander persoon nie van sop hou nie, is die ‘straf’ ligter as vir die een wat geweet het van die skaapboud.

Jy het van Jesus en die hemel gehoor. Moenie die geleentheid wat Hy jou gee, verspeel of versmaai nie. In ons land en gemeente word jy deur evangelie-voorregte omring. Dit sal hartseer wees as jy na al hierdie dinge verlore gaan. Die straf sal meer wees as wat jy kan verduur. Moenie langer wag om jou te bekeer en in Jesus te glo nie—doen dit nou (2Kor. 6:2).

[b] Tirus, Sidon en ander wat nie die evangelie gehoor het nie, staan skuldig. Die skepping en hulle gewete sê vir hulle God bestaan, maar ten spyte daarvan het hulle gekies om Hom te verwerp en in opstand teen Hom te lewe (Rom. 1:19-21, 24-32, 2:14-15, Eseg. 26-28). Moet dan nie sê dat dié wat nog nooit van Jesus gehoor het nie, onskuldig is. Alhoewel hulle ’n ligter straf sal ontvang, sal hulle nog steeds gestraf word (v.14).

 

2. Kapernaum (v.15-16)

Om een of ander rede dink party mense ek ken elke predikant in Suid-Afrika. Wanneer ek hierdie mense ontmoet, dan vra hulle: ‘Ken jy vir dominee Maritz? Hy het my gedoop.’ Duidelik is daar vir hulle geestelike waarde in die feit dat ene dominee Martiz hulle gedoop het (kontra 1Kor. 1:13-17).

Kapernaum was so. Omdat Jesus sy preekbasis daar gehad het en Hy wonderwerke voor hulle oë gedoen het, het hulle dit as ’n kaartjie na die hemel beskou (v.15, Matt. 4:13, 8:5-13, Mark. 1:21-28, 2:1-12, Joh. 6:59). Baie mense mislei hulleself so. As gevolg van hulle assosiasie met die doop, katkisasie, voorstelling en aanneming, dink hulle dat hulle gered is. Of hulle dink hulle is gered, omdat hulle op ’n uitnodiging gereageer het en ‘groot’ gedoop is Of erger: hulle beskou gereformeerde of Calvinistiese teologie as ’n paspoort na die hemel.

Om Jesus te sien en te hoor is nie genoeg nie. Die vraag is wat jy met Hom doen. Het jy jou van jou sonde bekeer? Glo en vertrou jy op Jesus? Het jy Hom as jou persoonlike Verlosser ontvang? Het jy Hom lief; gehoorsaam en volg jy Hom as jou Here? Om Jesus te sien en te hoor sonder dat jy in Hom glo en jou bekeer, lei tot hoogmoed. So iemand sal sê: ‘Ek het Jesus gehoor preek. Ek het sy hand geskud.’ Of in moderne terme: ‘Ek het ’n foto waar ek saam met John Piper staan. Steve Lawson het my boek geteken. Ek het by ’n konferensie met Voddie Baucham gesels. Ek is vriende met John MacArthur se vriend se vriend.’

Hierdie soort kennis maak dat jy met jou kop in die wolke loop (v.15). Maar om Jesus so te ken, kom van die duiwel af en sal jou ondergang beteken (v.15, Gen. 11:4, Jes. 14:13-14, 1Tim. 3:6). Ware kennis van Jesus maak jou nederig. Dit laat jou besef jy is niks (15:19, 18:13, Gen. 18:27, 32:10, Job 42:5-6, Jes. 6:5, Eseg. 36:31, Matt. 8:8, Joh. 1:27, 3:30, 1Kor. 15:9, Ef. 3:8, 1Tim. 1:15). As jy jouself so verneder, sal Jesus na jou toe kom (Ps. 34:19, 51:19, Jes. 57:15, 66:2, Matt. 5:3-4, Jak. 4:8-10). Om Richard Sibbes se woorde te gebruik: ‘God hath but two heavens to dwell in; the heaven of heavens and the heart of a poor humble man... As all the water that is upon the hills runs into the valleys, so all grace goes to the humble.’7

As jy jouself nie verneder nie, sal die Here jou verneder. Hoe hoër jy klim, hoe verder sal jy val (v.15). Volgens Jesus sal jy in die hel beland (v.15). Die Griekse woord is hadēs en beteken letterlik ‘die plek wat nie gesien word nie’. Dit verwys na die onsigbare plek van die dooies. Dit is ’n plek van straf (16:23-24) en beteken dat Kapernaum, Gorasin en Betsaida in die hel sal eindig.

Party mense sê dat die hel ’n bangmaak-siening van fundamentaliste of die Middeleeuse Kerk is. Volgens hulle kom hierdie siening van die Neo-Platoniste se Griekse invloed af. Maar wat ek hier sê, is niks anders as wat Jesus en die apostels gesê het nie. Jesus was so ernstig oor die hel, dat Hy in v.13-15 vyf stede verdoem het soos Hy in Genesis 19 gedoen het. Sodom en Gomorra se uitwissing was maar net ’n voorskou van die hel (v.12, Judas 7).

Die ergste straf wag op dié wat Jesus verwerp en self in die hemel probeer kom (v.15). God haat dit, omdat jy indirek daardeur sê Hy is nie heilig nie, jou sonde is nie ernstig nie, Hy sal jou middelmatige poging aanvaar en dit is sy werk om te vergewe. Volgens jou redenasie is die hel heeltemal onnodig en is dit die wrede straf van ’n wispelturige God. Jy kyk met opset verby die feit dat Jesus jou al telkemale na Hom toe genooi het en dat jy Hom aanhoudend verwerp en nie na Hom toe wil kom nie (13:34, 19:14, Joh. 5:40, 2Kron. 36:15-16). Millard Erickson se opsomming van C.S. Lewis se lering oor die hel geld vir jou: ‘...sin is man’s saying to God throughout life, “Go away and leave me alone.” Hell is God’s finally saying to man, “You may have your wish.” It is God’s leaving man to himself, as man has chosen.’8

Waarsku mense (selfs kinders) teen die realiteit van die hel. Wees oop en eerlik soos Jesus. Totdat jy die hel nie verstaan nie, kan jy God se groot liefde en die prys wat Jesus aan die kruis betaal het, nie waardeer nie. Wat die kruis wonderlik maak, is dat almal van ons die hel verdien, maar dat Jesus die helse straf in ons plek kom dra het (Jes. 53:4-6, 10, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13). Wie sal ooit weet wat werklik op Golgota gebeur het toe God die gordyn toetrek en Jesus angsbevange uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46).9 Hoe groot was die straf wat in daardie oomblik op die ewige Seun van God geval het? En hoe groot was die liefde wat bereid was om dit vir ons sonde te doen (Joh. 3:16, 1Joh. 3:16)?

As jy die hel uit jou raakwerk verwyder, word God se liefde en die kruis niksseggend. Dit is nie meer spesiaal nie. Evangelisasie is ook nie dringend nie. Hoekom moet dit wees as die hel nie werklik is nie? Vir Paulus was die hel ’n werklikheid en daarom het hy mense met groot dringendheid gewaarsku (2Kor. 2:15-16, 5:11, 2Tim. 4:1-2). Toe ek eenkeer ’n preek van D.A. Carson oor die hel luister, het dit my so aangeraak dat ek met groot erns die evangelie met mense in ’n winkel gedeel het.

As jy mense nie waarsku nie, beteken dit jy neem Jesus nie ernstig op nie. Of dit beteken jy gee nie om dat mense verlore gaan nie (kontra Fil. 3:18). R.C. Sproul vertel: ‘When I was in college and studying the Puritans, I had a professor who said that Jonathan Edwards had to be a sadist because he had this seemingly sadistic enjoyment of warning people about hell. I said to that professor, “It seems to me that if he were sadistic, the sadist would say to people, ‘There is no hell,’ and then giggle on his way home for having fooled them into plunging headfirst into eternal damnation.”’10

Een van my vriende het in ’n preek Luk. 16:27-31 gelees. Dit gaan oor ’n ryk man wat in die hel was en Abraham gevra het om iemand te stuur om sy broers te waarsku. ‘We need evangelists who have seen the other world!’ het my vriend gesê. In John Piper se woorde: ‘...smell the smoke of hell on one side and feel the crisp breezes of heaven on the other.’11 Ons kort evangeliste soos Jona. Sy vel was wit van die suur in die vis se maag. Die mense van Nineve het hulle ore gespits toe hy hulle teen God se oordeel waarsku (Jona 3). Ons kort evangeliste wat as’t ware uit die vuur geruk is (Sag. 3:2) en wie se klere nog na rook ruik.

Sommige se ore sal oop wees (v.16). Die Here maak dit oop, sodat hulle sy stem agter joune hoor (Hand. 16:14). Omdat dit Hy is wat mense red, kan geen prediker of hoorder in homself roem nie.

Party mense sal jou verwerp, omdat hulle Jesus en die Vader verwerp (v.16, 10-12). Moenie die boodskap aanpas of versag in die hoop dat mense dit sal aanvaar nie (2Tim. 4:3-4). Spreek die waarheid in liefde (Ef. 4:15). Vertrou die Here om mense se klipharde harte met die hamer van sy Woord te breek (Jer. 23:29); om die hart van klip uit te haal en vir hulle ’n sagte hart van vlees te gee (Eseg. 36:26).

Laat ons soveel as moontlik mense na Jesus toe wys, terwyl ons C.H. Spurgeon se woorde ter harte neem:

‘Oh, my brothers and sisters in Christ, if sinners will be damned, at least let them leap to hell over our bodies; and if they will perish, let them perish with our arms about their knees, imploring them to stay, and not madly to destroy themselves. If hell must be filled, at least let it be filled in the teeth of our exertions, and let not one go there unwarned and unprayed for.’12


1  Iain H. Murray, Jonathan Edwards: A New Biography (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1987), 168-9

2  Ibid., xxi

3  https://biblehub.com/greek/3759.htm en Johannes P. Louw & Eugene A. Nida (Ed.), Greek-English Lexicon of the New Testament Based on Semantic Domains: Vol. 1 (Cape Town: Bible Society of South Africa, 1989 [1988]), 22.9, p. 243

4  J.C. Ryle, Luke: Vol. 1—Expository Thoughts on the Gospels (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2012, 1986 [1858]), 270

5  J.C. Ryle, Home Truths (Ipswich, England: William Hunt, 1860), 14

6  https://www.thegospelcoalition.org/essay/degrees-punishment-hell/

7  Richard Sibbes, Josiah’s Reformation (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2011 [1629]), 62

8  Millard J. Erickson, Christian Theology (Grand Rapids: Baker Book House, 1983, 1984, 1985), 1240

9  2020 Vertaling

10  https://www.ligonier.org/learn/qas/should-fear-play-a-role-in-our-evangelism

11  John Piper, The Supremacy of God in Preaching (Grand Rapids, Michigan: Baker Books, 1990, 2004), 41

12  Uit sy preek oor Jeremia 4:20—The Wailing of Risca (9 December, 1860), Metropolitan Tabernacle Pulpit: Vol. 7. Verkry by https://www.spurgeon.org/resource-library/sermons/the-wailing-of-risca/#flipbook/

Kategorieë