Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 February 2023

Die Heilige Gees: Van heerlikheid tot heerlikheid

2Korintiërs 3:18

“Die pad van regverdiges is soos die helder oggendlig—dit verhelder geleidelik tot die volle dag.” (Spr. 4:18).1 Heiligmaking werk so: hoe verder jy in die Christelike lewe vorder, hoe meer word jy soos Christus. As Hy weer kom, sal die son van jou lewe sewe keer helderder as voorheen skyn en nooit weer ondergaan nie.

 

1. Waar begin heiligmaking?

Twee mans het my eenkeer besoek. Hulle wou ons kerkgebou huur. Ek het hulle geloofsbelydenis gaan opsoek en die volgende ontdek:

Ons glo in regverdigmaking deur geloof alleen.

Hierop volg heiligmaking.

As jy heilig genoeg is, word jy weergebore.

Hierdie beskouing is Onbybels. Volgens die Bybel begin heiligmaking by weergeboorte eerder as andersom.

Ander groepe glo jy kan weergebore wees sonder om heilig te word. Solank Jesus jou Verlosser is, maak dit nie saak of Hy jou Here is nie. Jy kan so onheilig soos die duiwel wees en nog steeds hemel toe gaan. Volgens die Bybel volg heiligmaking op weergeboorte soos gare ’n naald volg. Jy kan onmoontlik onheilig wees en hemel toe gaan: “Streef...na die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” (Heb. 12:14). God het ons gekies, bestem en geroep om heilig soos Jesus te wees (Ef. 1:4, Rom. 8:29, Tit. 1:1, 1Joh 2:6). Om soos Jesus te wees, moet jy geestelike oë hê om Hom te sien. Die Jode was geestelik blind en kon nie sien dat Hy die Seun van God is nie (v.14-15, Joh. 5:39, 46-47). Hulle het Hom as ’n gewone mens beskou (5:16). Ongelowige heidene is net so blind en kyk Christus se heerlikheid mis (v.18, Rom. 1:21, Ef. 4:18). Hulle beskou Hom in dieselfde klas as Moses, Boeddha, Mandela, Mohammed en Ghandi. Iain Murray skryf: ‘In the days of his flesh many saw Him and were unmoved; today many can read the Bible and see nothing marvellous in Christ.’2 Om Christus se heerlikheid te sien, moet die Gees die sluier voor ons oë wegvat en ons vry maak om te glo (v.16-18). Hy moet Christus se lewe in ons plant en laat sy lig op ons laat skyn, sodat ons goeie vrugte dra (Ps. 1:2-3, Joh. 15:4-5, Gal. 5:22-23, Ef. 5:8-9, Fil. 1:11). Sonder die Gees kan mense uiterlik godsdienstig en mooi lyk, maar die vrug van hulle harte is leweloos, kunsmatig, vals, onheilig en vrot. Om goeie vrug te dra, moet die Gees ’n mens se oë en hart vir Christus se heerlikheid open (v.16-18, 4:4-6, Hand. 16:14, Ef. 1:17-18). As jy sy heerlikheid sien, sal jy jou oor sy lieflike skoonheid, heiligheid en majesteit verwonder. Jy sal nie daar stop nie, maar sal meer en weer wil sien (v.18, 2Pet. 3:18, Joh. 17:14). As sonde sy heerlikheid uitblok soos ’n wolk die son blok, sal dit jou bedroef. Jy sal jou sonde bely om jou gemeenskap met Christus te herstel (1Joh. 1:9, 3-7). Dit is die verskil tussen evangeliese heiligmaking en godsdienstige heiligmaking. Godsdienstige heiligmaking fokus op reëls en dissipline; evangeliese heiligmaking fokus op Christus. Godsdienstige heiligmaking probeer die wortel deur die vrugte bereik. So iemand dink om volgens die vrug van die Gees te lewe kan hulle red. Wie evangeliese heiligmaking volg, begin by die wortel. So iemand wil voortdurend deur geloof, die Woord en gebed in Christus bly om goeie vrug tot eer van die Vader te dra (Joh. 15:1, 4-5, 7-8).

 

2. Hoe gebeur dit?

Ou spieëls was van gepoleerde koper gemaak (Eks. 38:8). Die beeld was nie so duidelik soos in moderne spieëls nie (1Kor. 13:12). Hou dit in gedagte as jy v.18 lees. Volgens Paulus wys die Heilige Gees ons Christus se heerlikheid in ’n spieël (Gk. katoptrizomenoi). Hy sinspeel op Gen. 1:26-27 waar God die mens na sy beeld gemaak het. Sonde het sy beeld in ons versteur soos as jy ’n klip in water gooi en dit jou refleksie vertroebel. Jesus het aarde toe gekom om ons na God se beeld te herstel. As God is Jesus die beeldgewer en as mens die beelddraer (4:4, Kol. 1:15, Heb. 1:3). Dit beteken nie Hy herstel ons na God se beeld deurdat ons sy voorbeeld probeer navolg nie. Weens ons sonde kan ons dit nie regkry nie (Rom. 8:7-8). Daarom moes Christus aan die kruis sterf om ons te vergewe en heilig te maak (Heb. 10:10, 14). Hierdie heiligmaking kom deur geloof (Hand. 26:18). Die Heilige Gees gee ons ’n nuwe natuur wat gewillig is en die vermoë het om reg te doen; ’n natuur wat Christus se karakter al hoe meer weerspieël (v.17-18, Eseg. 36:26-27, Ef. 4:24, Heb. 8:10). Heiligmaking begin by weergeboorte deur die Gees wat ons reinig en afsonder om vir God te lewe (1Kor. 6:11, 2Tess. 2:13, 1Pet. 1:2).

Dit stop nie daar nie. Met verloop van tyd wys die Gees ons al hoe meer van Christus, sodat ons stelselmatig soos Hy word (v.18, Ps. 34:6, Kol. 3:10). Dit gebeur nie oornag soos regverdigmaking nie. Met regverdigmaking verklaar God ons in ’n oomblik onskuldig en regverdig deur geloof in Christus. Heiligmaking werk anders. Dit is ’n proses waardeur die Gees ons gewillig maak en in staat stel om sonde dood te maak en reg te doen (Rom. 8:13, Fil. 2:12-13). Alhoewel ons al hoe minder sondig, word ons nie sondeloos nie. Sogenaamde heiligheidsteologie sê jy kan op aarde volmaak. Dit is onbybels. Totdat jy jou asem uitblaas, sal jy gedurig jou sonde bely en strewe om soos Christus te wees. Die Bybel sê:

“Nie dat ek dit al verkry het of reeds volmaak is nie, maar ek streef daarna om dit my eie te maak, omdat Christus Jesus my reeds sy eie gemaak het. Broers, ek reken nie dat ek dit self reeds my eie gemaak het nie, maar een ding doen ek: Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê. Ek beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom.”

Enige gelowige wat sê hy is reeds volmaak lieg en maak God tot leuenaar: “As ons sê dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie... As ons sê dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” (1Joh. 1:8, 10). In stede daarvan dat jy jou sonde ontken, moet jy dit bely: “As ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig.” (1Joh. 1:9).

Tot die dag wat jy sterf, sal jy geestelik groei (v.18, Gk. metamorphoumetha). In die hemel sal jou gees volmaak wees (Heb. 12:23). Wanneer Jesus kom en jou liggaam opwek, sal jou liggaam volmaak wees (Fil. 3:21, 1Tess. 5:23, 1Joh. 3:2). As jy dit voor oë hou, sal jy alles in jou vermoë doen om rein te wees soos Christus rein is (1Joh. 3:3). Jy sal saam met Robert Murray McCheyne bid: ‘...Lord, make me as holy as a pardoned sinner can be made.’3 In die ware sin van die woord sal jy ’n Christen—volgeling van Christus—wees en sy karakter weerspieël (v.18). Jy sal Hom soveel as moontlik deur die Woord, gebed, die nagmaal en ander gelowiges se lewens wil sien. Jy sal soos my gimnastiek afrigter wees. Toe hy 13 was, het hy olimpiese gimnastiek op TV gesien. Dit het hom gefasineer. Hy het dit opgeneem om oor en oor gekyk hoe hulle dit doen. Hy het die video gestop, teruggespeel en weer gekyk. Hy het dit op stadige aksie gekyk. Daarna het hy dit in die agterplaas probeer. Toe ’n onderwyser by die skool hom sien, was hy verbaas. Hy het die jong seun aangemoedig om by ’n klub aan te sluit. Sewe jaar later was die jong seun ’n man by die junior olimpiese spele.

Laat ons Jesus se lewe so dophou. Laat ons sy karakter en lewe oor en oor ondersoek. Wees heilig om die Vader te verheerlik en nie sodat mense jou as heilig kan onthou nie (‘saint’ so-en-so). Hiervoor het Hy jou gemaak (Jes. 43:7, 21). Sonder dit sal jy nie gelukkig wees nie, al is alles joune. Maak dit jou doel om soos Christus te wees en sy heerlikheid in die Vader se koninkryk te weerspieël (v.18, Matt. 13:43). Sy weerspieëling sal nie met verloop van tyd soos ’n ‘glow in the dark’ speelding verdof nie (v.7, 13). Namate jy Christus beter ken, sal jy sy glans helderder weerkaats: van heerlikheid tot heerlikheid (v.18). Die engele sal verbaas wees as hulle in jou dinge van Christus sien wat hulle nie geweet het nie (Ef. 3:10). Ek bedoel nie hulle sal jou aanbid nie. Hulle weet jy is die suurstofbottel, Christus is die atmosfeer (Hand. 17:25, 28, 1Joh. 1:2, 5:20); jou kennis is die goue muntstuk, Christus is die goudmyn (Kol. 2:3); jou liefde is ’n kragprop, Christus is die kragstasie (1Joh. 4:8, 19); jou lewe is die fyn eggo van ’n magtige simfonie orkes, Hy is die musiek.

 

3. Hoe weet jy dit sal werk?

Jy trek jou klavier na ’n nuwe huis toe. Wie vra jy om te help? Sekerlik nie jou vierjarige kleinseun en sy maatjie nie. Jy kry ses of agt groot mans om jou te help. Sodoende weet jy die werk word gedoen. Net so weet jy heiligmaking sal werk, omdat die almagtige Here en Gees dit doen (v.18, vgl. Fil. 1:6, 1Pet. 1:5). Dit was ’n troos vir die Korintiërs in ’n samelewing vol keiser aanbidding en seksuele losbandigheid. Dit is ’n troos vir ons in ’n wêreld waar mense geld aanbid en jy harder moet werk, sodat hulle meer geld kan maak. Dan is daar die druk van regerings en maatskappye wat die LGBTQ+ narratief glo. Hulle druk dit in ons kele af en wil hê almal moet konformeer. Gelukkig is die Gees by ons en kan ons te midde van ’n bose samelewing heilig wees (v.18). As Henog, Noag, Obadja en Daniël in ’n goddelose wêreld heilig kon wees, kan jy ook (Gen. 5:24, 6:9, 1Kon. 18:3, Dan. 6:4). Jy het die voordeel van ’n volledige Bybel en al die beloftes van die Ou- en die Nuwe Testament. Jy lewe na Jesus se kruisdood, opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees op alle gelowiges. Moenie sê jy kan nie heilig wees nie. Jy kan. Die Heilige Gees sal seker maak dit gebeur (v.18, Rom. 8:30). Al wat Hy vra, is dat jy deur die Woord en gebed naby Hom lewe, Hom nie met sonde bedroef nie, jou sonde bely en jou aan sy dissipline onderwerp, sodat Hy jou daardeur kan heilig maak (Joh. 15:7, 17:17, Gal. 5:16-18, Eph. 6:17-18, 4:30, Heb. 12:10, Ps. 32:8-9).

Begeer om soos Christus te wees en dat Hy in jou gevorm word tot jy soos Hy is (v.18, Gal. 4:19). Begeer om Hom te ken (Fil. 3:8). Bid dat Hy meer sal word en jy minder (Joh. 3:30). Begeer dat Hy in en deur jou verheerlik word (Joh. 16:14). Bid saam met Charles Wesley:

Finish, then, thy new creation;
pure and spotless let us be.
Let us see thy great salvation
perfectly restored in thee.
Changed from glory into glory,
till in heav’n we take our place,
till we cast our crowns before thee,
lost in wonder, love and praise.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Iain H. Murray, Evangelical Holiness and Other Addresses (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2013), 12

3  Andrew Bonar, Robert Murray M’Cheyne (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1960, 2012 [1844]), 244-5

Kategorieë