Verskeie Tekste
Wat sien jy as jy die woord heerlikheid hoor: ’n pragtige sonsondergang, ’n helder glans, sonstrale in die woud, majestieuse berge, iets anders? God se heerlikheid verwys na sy selfopenbaring (Eks. 33:18-34:8). Dit is sy heiligheid op die verhoog. Die Vader, die Seun en die Heilige Gees deel dieselfde heerlikheid. Die Bybel praat van die Vader van heerlikheid (Ef. 1:17), die Here van heerlikheid wat gekruisig is (1Kor. 2:8, Jak. 2:1), die Gees van heerlikheid (1Pet. 4:14). Hou in gedagte dat God sy heerlikheid met niemand deel nie (Jes. 48:11). Vir die Heilige Gees om God se heerlikheid te deel, wys Hy is self God.
Die Heilige Gees is wel onsigbaar,maar Hy openbaar sy heerlikheid deur verskillende illustrasies:
1. Water
’n Vrou het vir my gesê: ‘Ek het ’n vreemde kerk besoek. Tydens die sang, toe sing hulle van die Heilige Gees as ’n rivier. Die Bybel vergelyk Hom nie eers met ’n rivier nie.’ Eintlik praat die Bybel van die Heilige Gees as ’n rivier. Tydens die sewe dae van die Huttefees het die priester daagliks water met ’n goue kruik uit die bad van Siloam geskep en dit aan die voet van die brandoffer altaar uitgegiet.1 Die volk het onthou dat God hulle vir veertig jaar deur die woestyn gelei en water uit die rots gegee het (Eks. 17:1-7). Hulle het ook na die Messias se koms as ’n tyd van oorvloed uitgesien: “Water vloei uit sy emmers, en sy saad is by baie waters.” (Num. 24:7, Ou Vertaling). “Julle sal met vreugde water skep uit die fonteine van verlossing. Julle sal op daardie dag sê, ‘Prys die Here! Roep sy Naam uit! Maak onder die volke sy dade bekend! Verkondig dat sy Naam verhewe is!” (Jes. 12:3-4).2
Jesus het hierdie gebruike, beelde en profesieë geken. Daarom het Hy tydens Joh. 7:2 se Huttefees opgestaan en uitgeroep: “En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gaan staan en uitgeroep: ‘As iemand dors het, laat hy na My kom, en drink! Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ ” (Joh. 7:37-38, vgl. 4:14). Jesus wou hê almal moet weet dat Hy die Rots van lewende water is: “en almal het dieselfde geestelike drank gedrink. Want hulle het gedrink uit 'n geestelike rots wat hulle gevolg het—en die rots was Christus.” (1Kor. 10:4). Die water wat Jesus gee verwys na die Heilige Gees wat mense transformeer, reinig, verkwik, bekragtig en aan hulle lewe gee. Let op hoe die volgende verse die Heilige Gees as water uitbeeld:
“totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn ’n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir ’n bos gereken.” (Jes. 32:15, Ou Vertaling).
“Want Ek sal water uitgiet op dorre aarde, waterstrome op droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou nageslag, en my seën op jou nakomelinge. Hulle sal groei tussen gras, soos rivierwilgers langs waterstrome.” (Jes. 44:3-4).
“Ek sal rein water oor julle sprinkel, en julle sal rein wees. Van al julle onreinhede en van al julle afgodsbeelde sal Ek julle reinig. Ek sal vir julle ’n nuwe hart gee, ’n nuwe gees sal Ek in julle binneste gee; Ek sal die hart van klip uit julle liggame verwyder en vir julle ’n hart van vlees gee. My Gees sal Ek in julle binneste gee. Ek sal daarvoor sorg dat julle my vaste voorskrifte volg en dat julle my bepalings nakom en uitvoer.” (Eseg. 36:25-27).
“ ‘Ek sal nie weer my gesig vir hulle verberg nie, want Ek het my Gees op die huis van Israel uitgestort.’ Dit is die uitspraak van die Heer, die Here.” (Eseg. 39:29).
“Kinders van Sion, juig en wees bly in die Here julle God, want Hy gee vir julle reën as teken van geregtigheid, soos voorheen, sal Hy stortbuie en laatreëns vir julle laat uitsak... Ná hierdie dinge sal Ek my Gees uitstort op alle mense. Dan sal julle seuns en julle dogters profeteer. Julle ou mense sal drome droom, en julle jong mense sal visioene sien. Selfs op die slawe en slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort.” (Joël 2:23, 28-29).
“Jesus antwoord: ‘Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie binnegaan nie.’ ” (Joh. 3:5).
“...soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ Dit het Hy van die Gees gesê wat dié wat in Hom glo, sou ontvang. Die Gees was immers nog nie daar nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.” (Joh. 7:38-39).
“Want Johannes het wel met water gedoop, maar oor nie baie dae nie sal julle met die Heilige Gees gedoop word.” (Hand. 1:5).
“Nadat Hy tot aan die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor.” (Hand. 2:33).
“En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop—Jode of Grieke, slawe of vrymense—en ons is almal met een Gees deurdrenk.” (1Kor. 12:13).
Selfs in die hemel sal ons vir ewig deur die Heilige Gees lewe. Hy is die lewende water wat uit God se troon vloei (Op. 7:17, 21:6, 22:1-2, vgl. Eseg. 47:1-12). Hy sal vir ewig in ons wees (Joh. 14:17). Hy sal elke gelowige se opstandingsliggaam beheer, sodat ons vir ewig nie kan sondig nie (1Kor. 15:44, vgl. Gal. 6:1, Gk. pneumatikos). Drink nou al deur geloof in Christus van sy Gees as jy wil lewe (Joh. 7:37, 39). Drink verniet van die lewende water wat Hy gee (Jes. 55:1, Op. 22:17). Bely dat hierdie geestelike wassing van God se Gees deur die waterdoop (Hand. 10:44-48, 22:16, 1Kor. 6:11, Tit. 3:5-6, Heb. 10:22). Drink gedurig van die Gees deur gemeenskap met die Vader, die Seun en die Heilige Gees in sy Woord:
“maar wat vreugde vind in die wet van die Here en sy wet dag en nag mymerend prewel. So iemand sal wees soos ’n boom geplant langs watervore, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verdor nie. Alles wat hy aanpak, gedy.” (Ps. 1:2-3).
“Hulle drink hulle versadig aan die oorvloed van u huis, uit die stroom van u genietinge laat U hulle drink. Ja, by U is die fontein van lewe, in u lig sien ons lig.” (Ps. 36:9-10).
“Ek bid dat Hy vir julle na die rykdom van sy heerlikheid dít sal skenk: om deur sy Gees met krag na die innerlike mens versterk te word, sodat Christus deur die geloof in julle harte mag woon, terwyl julle in die liefde gewortel en gegrond is, sodat julle volledig in staat mag wees om saam met al die heiliges tot die besef te kom van die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte, ja, om die liefde van Christus te leer ken, wat alle begrip te bowe gaan, sodat julle gevul mag word met al die volheid van God.” (Ef. 3:16-19).
Drink tot die Gees soos water uit jou hart vloei en die mense rondom jou beïnvloed: “Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ ” (Joh. 7:38).
2. Asem en wind
In 1878 het Edwin Hatch geskryf:
Breathe on me, Breath of God,
Fill me with life anew
That I may love what Thou dost love,
And do what Thou wouldst do.
Om die Heilige Gees met asem of wind te vergelyk, is Bybels. Die Hebreeuse (ruach) en Griekse (pneuma) woorde vir Gees beteken ook asem of wind. Die Heilige Gees is vir die gelowige wat suurstof vir die longe is: Hy gee vitaliteit en energie. Na sy opstanding het Jesus op die dissipels geblaas en gesê: “Ontvang die Heilige Gees!” (Joh. 20:22). Deur die Gees het Hy hulle bekragtig om die evangelie met mense te deel (Joh. 20:23, Hand. 1:8). Hy bekragtig ons om dieselfde te doen. Sonder die Gees preek ons tevergeefs (Ps. 127:1). Waar Hy egter die boodskap vergesel, verander Hy mense se lewens (sien Eseg. 37:1-14, 2Kor. 3:14-17, Hand. 16:14, 1Tess. 1:5, 1Kor. 2:4). Henry Martyn (1781-1812) het dit besef en het gesê: ‘The finest words and arguments, without the power of the Holy Spirit, [are] so much wasted breath. Only God [can] give a man new life’.3 Om hierdie rede bid ons nie net vir die prediker, evangelis, sendeling of kinderwerker nie, maar vir die hoorders. Ons vra die Heilige Gees om hulle ore en harte vir die boodskap te open. Hoeveel van hulle gered sal word, weet ons nie. Die Heilige Gees kom soos Hy wil: soms as ’n sagte asem om individue te transformeer (Joh. 20:22) en ander kere as ’n magtige stormwind van herlewing (Joh. 3:8, Hand. 2:2).
3. Vuur
Bethel kerk in Kalifornië het ’n Fire Tunnel. Dit verwys na ’n groep mense in twee rye. Onervare gelowiges stap deur die tonnel, terwyl daar in tale oor hulle gebid en geprofeteer word. Hulle gaan aan die ruk, lag histeries en val op die grond neer. Volgens Bethel se leiers is dit die Gees se werk.4 Maar dit is nie hoe die vuur van God se Gees op mense kom nie. Sy vuur kom waar gelowiges ernstig en met volharding bid. Toe die Jerusalem-Christene so bid, het die Gees soos tonge van vuur op hulle gerus (Hand. 1:13-14, 2:1-4). In die Ou Testament het die vuurkolom van God se heerlikheid bo die tabernakel gerus (Eks. 40:34-35, Num. 9:15-16). Toe die Heilige Gees uitgestort is, het die tonge van vuur bo die gelowiges se koppe gewys hulle is die tempel van die Heilige Gees is (Hand. 2:3, 1Kor. 3:16, 6:19).
Johannes vergelyk die Heilige Gees met sewe vakkels en die kerk met sewe goue kandelare (Op. 4:5, 1:19). Die idee is dat die Gees die lig van Christus se heerlikheid in ons laat brand, sodat ons deur evangelisasie en ’n heilige lewe die lig vir die wêreld kan skyn (Matt. 5:16, Hand. 4:29-31).
Party gelowiges se vlammetjie brand flou, omdat hulle die Gees uitblus (1Tess. 5:19). As Hy hulle aanvuur om te bid, die Woord te oordink, Christus te gehoorsaam, of lofliede te sing, stel hulle uit en sê: ‘Ek sal later.’ Het jy dit al gedoen? Bely jou sonde en blaas die vlammetjie weer aan (Rom. 12:11, 2Tim. 1:6). Doen dit deur gebed, bepeinsing en gehoorsaamheid (Luk. 11:13, Hand. 5:32, Kol. 3:16, Ef. 5:18), dan sal die Heilige Gees sy vuur in jou aansteek. Sy vuur kom jou nie verteer nie (Eks. 3:2-6, Jes. 33:14, Heb. 12:29), maar om die onsuiwerhede (Eng. dross) in jou te verteer (sien Jes. 4:4, Sag. 13:9, Mal. 3:2-3, 1Pet. 1:2, 7).
4. ’n Duif
Tannie E. se leraar het gesê die Heilige Gees het nie ’n duif geword nie, maar soos ’n duif op Jesus neergedaal. Luk. 3:22 sê egter die Gees het in liggaamlike vorm soos ’n duif op Jesus neergedaal. Die Gees was sigbaar, sodat Johannes die Doper Hom kon sien (Joh. 1:32).
Hoekom het die Heilige Gees as ’n duif neergedaal? In Gen. 1:2 het die Gees van God soos ’n voël oor die waters gesweef. Die Heilige Gees is die Skepper. In Gen. 8:11 het ’n duif met ’n jong olyfblaar na Noag toe teruggekeer. Dit was ’n aanduiding van nuwe lewe na die vloed. Toe Jesus gedoop is, het die Gees soos ’n duif op Hom neergedaal om te wys Hy is die Seun van God en die Messias; Hy bring nuwe lewe en ’n nuwe skepping (Matt. 3:16, 2Kor. 5:17). Petrus het hierdie konneksie gesien: “Daardie geeste was destyds ongehoorsaam, toe God in Noag se dae geduldig bly wag het, terwyl die ark gebou is. In die ark is net ’n paar mense, altesaam agt, deur die vloedwaters heen gered. Die doop, wat ’n teenbeeld hiervan is, red ook julle nou. Die doop dien nie as 'n verwydering van die vuilheid van die liggaam nie, maar as 'n smeekgebed tot God om ’n skoon gewete, op grond van die opstanding van Jesus Christus” (1Pet. 3:20-21, eie beklemtoning).
Het jy die nuwe lewe wat Christus deur sy Gees bring? Het jy jou ou lewe agtergelaat? Haat jy sonde en is jy lief vir gehoorsaamheid? As jy jou opreg bekeer en vra dat Christus jou nuwe lewe skenk, sal sy Gees na jou toe kom. Die Gees is opreg soos ’n duif (vgl. Matt. 10:16) en daarom het Hy ’n behae in ’n opregte hart (vgl. Ps. 51:8, 13, 19).
5. Olie
Vroue gebruik allerhande olies. Olie streel die vel en laat ’n mens verkwik voel. In die Bybelse tyd het mense olie gebruik om hulle te verfris en te genees (Ps. 104:15, Luk. 10:34). Die Heilige Gees is soos olie: Hy genees die wonde van sonde en Hy verfris ons (Jes. 1:6, Ps. 147:3, Jer. 8:21-22). Ek het dit by twee spesifieke geleenthede gesien gebeur. J. en S. het ernstig teen die Here gesondig. Hulle het ware berou gehad en die Here om vergifnis gevra. Toe die Here hulle herstel, het die Heilige Gees hulle met die olie van sy genade en vergifnis kom streel.
Soos reeds gesê, verkwik en versterk die Heilige Gees ons. In die Ou Testament is priesters, profete en konings met olie gesalf (Lev. 8:12, 1Sam. 10:1, 1Kon. 19:16). Soos olie iemand verfris, het die Heilige Gees hulle vir hulle taak bekragtig en verfris: “Samuel het die horing met olie geneem en hom daar tussen sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af en ook verder van Dawid besit geneem.” (1Sam. 16:13).
In die Nuwe Testament het die Heilige Gees Jesus met geestelike olie vir sy taak as Priester, Profeet en Koning gesalf (Ps. 45:8, Heb. 1:9, Jes. 61:1, Luk. 4:18, Matt. 3:16, Hand. 4:26-27, 10:38, 3:22, Heb. 1:8, 5:5-6). Daarom word Jesus die Messias of Christus genoem, wat Gesalfde beteken.
Na sy hemelvaart het Jesus ons met die olie van sy Gees gesalf (2Kor. 1:21, 1Joh. 2:20, 27). God het sy Gees soos olie op Jesus, die Hoëpriester uitgegiet. Die olie het van die Hoof tot op die liggaam geloop; van Christus tot op sy liggaam, die kerk (Ps. 133:2). Deur ons met die olie van die Gees te salf, verkwik Jesus ons as priesters om geestelike offers te bring (Op. 5:10, 1Pet. 2:5, Heb. 13:15-16), as konings om ons sonde en die bose magte te oorwin (Op. 3:21, Rom. 6:14, Ef. 6:10-18), as profete om die evangelie te verkondig (Hand. 2:17, 1:8, 8:4).
Voel jy moeg en uitgeput? Vra die Here vir ’n vars salwing met die olie van sy Gees: “Suiwer olie is oor my uitgegiet.” (Ps. 92:11). “As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!” (Luk. 11:13).
6. ’n Seël en ’n waarborg
In die Bybelse tyd is slawe met ’n warm yster op hulle voorkoppe verseël om te wys aan wie hulle behoort (Op. 7:3). Soos ons ’n ring dra, sou ’n bruid ’n armband of halsnoer dra om te wys dat sy aan iemand behoort (Hoogl. 8:6). Konings sou ’n brief met klei of was toeplak en met ’n seëlring seël. Dit het egtheid aangedui, naamlik dat ’n brief regtig van die koning af kom (Est. 3:12).5
Toe Jesus gedoop is, het God Hom met sy Gees verseël om te wys dat Hy aan die Vader behoort en dat Hy die ware Messias is (Joh. 6:27). God het ons met die Heilige Gees verseël om te wys dat ons sy slawe en bruid is; ons behoort aan Hom en is egte kinders van God (Ef. 1:13, 4:30, 2Kor. 1:22a, 2Tim. 2:19). Ons het die Gees ook as waarborg dat ons die hemelse erfdeel sal verkry (Ef. 1:14, 2Kor. 1:22b, 5:5). Die Heilige Gees is die deposito wat wys dat die res van ons erfdeel op pad is; Hy is die verloofring wat wys die trouring kom.
Wie sê jy kan jou redding verloor, sê indirek dat die Heilige Gees as seël niks beteken nie. Dit is om te sê die Heilige Gees is ’n swak waarborg. Per implikasie sê jy Jesus se dood het misluk, want aan die kruis het Hy die Heilige Gees gekoop vir elkeen wat in Hom glo: “Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet deurdat Hy in ons plek ’n vervloeking geword het... Die doel was...dat ons die Gees wat beloof is, deur die geloof sou ontvang.” (Gal. 3:13-14). As seël en waarborg verseker die Heilige Gees jou redding is veilig: “juis hiervan oortuig dat Hy, wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus.” (Fil. 1:6).
Die Heilige Gees is wonderlik! Begeer jy nie ’n voller belewenis en nader verhouding met Hom nie? Bid saam met Andrew Reed (1787-1862) dat die Gees jou opnuut sal vul:
Come as the fire and purge our hearts
Like sacrificial flame,
Till our whole souls an offering be
In love’s redeeming name.Come as the dove, and spread Thy wings,
The wings of peaceful love;
And let Thy Church on earth become
Blest as Thy Church above.Come as the wind, O breath of God!
O Pentecostal grace!
Come, make Thy great salvation known,
Wide as the human race.
1 William Hendriksen, New Testament Commentary: John—Vol. 2 (Grand Rapids, Michigan: Baker Book House, 1953), 4, 22-3
2 Tensy anders aangedui, kom aanhalings uit die 2020 Vertaling.
3 John Thornbury (et. al.), Five Pioneer Missionaries (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965), 300
4 https://missionsandmysticism.wordpress.com/2017/03/16/fire-tunnels-the-new-apostolic-reformation-nar-and-adventures-in-missions/
5 Steve Gregg, Revelation: Four Views—A Parallel Commentary (Nashville, Tennessee: Thomas Nelson, 1997, 2013), 173 en William Hendriksen, More than Conquerors (Grand Rapids, Michigan: Baker Book House, 1939, 1967), 132-3