Coram Deo Cover Image

Coming soon...

26 November 2022

Die Heilige Gees: Sonde oortuiging

Johannes 16:8

Lank voor my tyd was daar twee broers by ons teologiese Seminarium. Een het teologie studeer en die ander een het daar gehuur. Blykbaar het die teologiese student dikwels die evangelie met sy ongelowige broer gedeel. Toe laasgenoemde weier om hom te bekeer, het sy broer hom gegryp, met die vuis bygedam en gesê: ‘Nou kom jy tot bekering!’

Niemand kom so tot bekering nie. Net die Heilige Gees kan iemand van sy sonde oortuig. “En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel” (Joh. 16:8).1

 

1. Hoe oortuig die Gees mense?

Jesus verwys na die Heilige Gees as die Helper, Raadsman, Trooster of Advokaat (v.7). Die Griekse woord is Paraklētos en beteken om naby te roep. Dit is ’n tegniese term vir ’n regsadvokaat of prokureur. Die Heilige Gees verdedig, help, troos en versterk gelowiges in tye van hartseer, swaarkry en vervolging (v.6-7, 14:16-18, 26-27, 15:18-16:4). Hy oortuig ongelowiges van sonde, geregtigheid en oordeel (v.8-11). Toe Jesus op aarde was het Hy hierdie rol deur sy lewe en prediking vervul: “Die wêreld kan julle nie haat nie, maar hy haat My, omdat Ek van hom getuig dat sy dade boos is.” (7:7). Toe Jesus opvaar hemel toe, het Hy die Gees gestuur om sy rol oor te neem (v.7, 10, 7:39). Volgens Jesus is dit beter so (v.7). Wat bedoel Hy? As mens kon Jesus op een plek op ’n slag wees, terwyl die Heilige Gees tegelykertyd oral is (Ps. 139:7). In een oomblik kan Hy mense in Kanada, Japan, Brasilië, Ghana, Turkye en Tasmanië van hulle sonde oortuig. Omdat Hy ’n Gees is, kan Hy mense se gedagtes binnedring en sonde uitwys wat hulle self nie sien nie (v.8, 4:24, Jer. 17:9-10, 1Kor. 2:10-11, Rom. 8:26-27).

Hoe doen Hy dit? Oor die algemeen oortuig hy mense deur hulle gewete (Rom. 2:14-15). Hulle is skuldig, omdat dit duidelik is God bestaan, terwyl hulle Hom ontken en hulle sonde bo Hom kies (Rom. 1:19-23). Die Heilige Gees oortuig hulle gewete dat God hulle gaan oordeel (Rom. 1:32). Na Jesus se hemelvaart kom die Gees mense deur die evangelie van hulle sonde oortuig (v.8). Hy oortuig hulle veral van die sonde van ongeloof (v.9). Hy sê as’t ware: ‘Dit wat jy van Jesus gehoor het, is waar en jy weet dit. Dit is nie onlogies nie en die bewyse is voldoende. Al hoekom jy Hom ontken en ignoreer, is omdat jy jou sonde liefhet. Jou ongeloof is ’n morele eerder as ’n intellektuele probleem (vgl. Ps. 14:1-3).’ Om hierdie rede help dit nie jy wil ’n ateïs intellektueel oortuig nie. Gaan vir sy gewete. Wys hom op sy sonde en sê dat dit die rede is hoekom hy nie wil glo nie. Gebruik dieselfde taktiek ongelowiges wat sê God is net liefde en sal niemand straf nie. Gebruik die wet as ’n lat, sodat die persoon sy verlorenheid raaksien en Chrsitus aanroep: “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.” (Gal. 3:24, Ou Vertaling). Hou net in gedagte dat slegs die Gees die swaard van die Woord deur die sondaar se hart kan dryf (v.8, Heb. 4:12-13, Ef. 6:17, Hand. 2:37). Die Gees moet die sondaar oortuig dat die Bybel se lering oor Christus en sy verlossingswerk waar is (2Tim. 3:15-16, 4:2). Die Gees moet die sondaar oortuig dat hy teen Christus gesondig het en straf verdien (v.8-11).

Soms onbloot die Gees iemand se hart deur ’n woord van kennis of die gawe van profesie. Die Nuwe Testamentiese gawe van profesie is nooit ’n nuwe openbaring buite die Skrif nie, maar verwys na ’n persoonlike woord vir ’n spesifieke persoon of situasie. Ten opsigte van sonde oortuiging, gebruik die Heilige Gees dit as volg: ’n prediker of ander gelowige sê iets wat die ongelowige op ’n spesifieke tydstip dink. Paulus sê: “Maar indien almal profeteer en ’n ongelowige of ’n oningeligte persoon kom binne, word hy deur almal tot insig gebring en tot verantwoording geroep. Die geheime van sy hart word blootgelê, en hy sal met sy gesig op die grond val, God aanbid en erken: ‘Werklik, God is in julle midde.’ ” (1Kor. 14:24-25). Spurgeon het dit ’n paar keer in sy lewe ervaar. Hy sê:

‘While preaching in the hall, on one occasion, I deliberately pointed to a man in the midst of the crowd, and said, “There is a man sitting there, who is a shoemaker; he keeps his shop open on Sundays, it was open last Sabbath morning, he took ninepence, and there was fourpence profit out of it; his soul is sold to Satan for fourpence!” A city missionary, when going his rounds, met with this man, and seeing that he was reading one of my sermons, he asked the question, “Do you know Mr. Spurgeon?” “Yes,” replied the man, “I have every reason to know him, I have been to hear him; and, under his preaching, by God’s grace I have become a new creature in Christ Jesus. Shall I tell you how it happened? I went to the Music Hall, and took my seat in the middle of the place; Mr. Spurgeon looked at me as if he knew me, and in his sermon he pointed to me, and told the congregation that I was a shoemaker, and that I kept my shop open on Sundays; and I did, sir. I should not have minded that; but he also said that I took ninepence the Sunday before, and that there was fourpence profit out of it. I did take ninepence that day, and fourpence was just the profit; but how he should know that, I could not tell. Then it struck me that it was God who had spoken to my soul through him, so I shut up my shop the next Sunday. At first, I was afraid to go again to hear him, lest he should tell the people more about me; but afterwards I went, and the Lord met with me, and saved my soul.”’2

Volgens sy vrou het die volgende gebeur toe hy by ’n ander geleentheid besig was om te preek:

‘He suddenly broke off from his subject, and pointing in a certain direction, said, “Young man, those gloves you are wearing have not been paid for: you have stolen them from your employer.” At the close of the service, a young man, looking very pale and greatly agitated, came to the room which was used as a vestry, and begged for a private interview with Spurgeon. On being admitted, he placed a pair of gloves upon the table, and tearfully said, “It’s the first time I have robbed my master, and I will never do it again. You won’t expose me, sir, will you? It would kill my mother if she heard that I had become a thief.” The preacher had drawn the bow at a venture, but the arrow struck the target for which God intended it, and the startled hearer was, in that singular way, probably saved from committing a greater crime.’3

Ek het dit eenkeer in my bediening beleef. Voor die begin van die oggenddiens het ’n man ingestap en gaan sit. Na die preek het hy my gebel. Hy kon skaars praat, so het hy gehuil. Die Here het hom van sy sonde oortuig. Toe hy voor die diens op sy plek gaan sit, toe kyk hy na die armes om hom. ‘Watter soort mense kom na hierdie kerk toe?’ het hy gedink. Tydens die preek het ek sy gedagtes akkuraat beskryf. Ek het maar net die teks toegepas. Die Gees het die toepassing van die Woord soos ’n swaard deur sy hart gedryf. Ek het die man nie persoonlik aangespreek nie, maar die Heilige Gees het ’n vinger op sy sonde gelê. Hy het my gebel en vertel wat gebeur het. So werk die Gees dan partykeer deur die gawe van kennis en profesie, of deur die Woord self om mense se sonde te bloot te lê. My plig as prediker is om mense se sonde deur die instaatstelling van die Heilige Gees aan te spreek: “Maar ek, ek is gevul met krag, met die Gees van die Here, met ’n sin vir geregtigheid en die moed, om aan Jakob sy opstand en aan Israel sy sonde bekend te maak” (Miga 3:8).

Soms werk die Heilige Gees sonder die Woord om mense van hulle sonde te oortuig. In Gen. 20:3-7 het Hy Abimeleg deur ’n droom teen sy sonde gewaarsku. Vandag nog kan die Here toelaat dat iemand oor die wederkoms of die oordeelsdag droom om hulle van sonde te oortuig. In Hand. 16:26-30 het die Here die tronkwag van Filippi deur ’n aardbewing van sy sonde oortuig. In ’n storm op see het John Wesley gesien hoe ongelowiges vreesbevange is, terwyl die gelowige Morawiërs kalm gebly en lofliede gesing het. Die Here het dit gebruik om hom van sy verlorenheid te oortuig.4

Vir party mense lei hierdie oortuiging tot bekering. In die winter van 2006 en 2007 het ’n ateïs in Engeland om middernag wakker geword. Iets het hom getrek om op te staan en buite te gaan stap. Aanvanklik het hy dit weerstaan, maar hy kon dit nie afskud nie. Uiteindelik het hy opgestaan en in die koue uitgegaan. Toe hy by die voordeur uitloop het hy nie in God geglo nie. Toe hy ’n ruk later by die deur inloop, het hy in God geglo. Daar en dan het hy tot die Een gebid wie hy sy lewe lank geïgnoreer het. Kort daarna het hy Markus begin lees, tot bekering gekom en by ’n evangeliese kerk aangesluit.5

Nog een voorbeeld sal my punt staaf. Adoniram Judson het in ’n Christelike huis grootgeword. Toe hy sy studies begin, het ’n mede-student en Deïs genaamd Jacob Eames hom negatief beïnvloed. Volgens Eames se geloof was God dood. Hy het die wêreld gemaak en daarna onttrek. Dit het Judson verwar en toe hy later die kollege verlaat, het hy roekeloos begin lewe. Na ’n geruime tyd het hy een aand by ’n herberg oornag. Die eienaar het gesê hy het ’n kamer beskikbaar, maar ongelukkig was daar ’n sterwende man in die kamer langsaan. Judson was bereid om die oop kamer te vat. Gedurende die nag kon hy deur die muur hoor hoe die siek man hoes en roggel. Hy het oor sy lewe begin dink en gewonder of hy gereed is om te sterf. Toe hy die volgende oggend vertrek, toe vra hy die herbergier: ‘Hoe gaan dit met die siek man?’ ‘Hy het in die nag gesterf.’ Judson was geskok. ‘Wie was hy?’ het hy gevra. ‘O, dit was ’n jong man van die kollege in Providence. Sy naam was Eames, Jacob Eames.’ Die Heilige Gees het hierdie insident gebruik om Judson van sy sonde te oortuig. Hy het later tot bekering gekom en ’n sendeling geword.6

Enigiemand wat gered wil word moet eers besef hy is verlore. ’n Vrolike bekering sonder enige sonde oortuiging is geen bekering nie: “En die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is die mense wat die woord dadelik met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor; maar hulle het nie wortel geskiet nie en hou net ’n rukkie. As verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hulle dadelik.” (Mark. 4:16-17, eie beklemtoning). Dit beteken nie almal se oortuiging is ewe intens nie. John Bunyan se sonde stryd was intens; hy het vir jare geworstel.7 ’n Vrou onder Spurgeon se bediening het Christus se lieflike karakter gesien. Sy het besef sy is nie soos Hy nie en het sy Naam aangeroep. Spurgeon sê dat baie mense onder sy bediening so tot bekering gekom het.8 Maar al is almal se sonde oortuiging nie ewe intens nie: elke bekeerling het die Gees van slawerny voor hy die Gees van aanneming ontvang (Rom. 8:15).9 As die Gees van slawerny wys die Heilige Gees jy is ’n slaaf van sonde. Hy bring jou onder die skrik van God se oordeel.

 

2. Wat gebeur na sonde oortuiging?

Nie almal onder sonde oortuiging kom tot bekering nie. Ek het die twee al dikwels verwar en gedink iemand se trane wys noodwendig hy of sy het tot bekering gekom. Dit is nie altyd so nie. Party mense voel jammer oor die skuldgevoelens (Matt. 27:3-5). Ander voel skaam en verleë oor hulle sonde. Ander is jammer oor sonde se slegte gevolge (Eks. 9:27-28, 10:16-17, 1Kon. 21:17-29). Party mense vrees God se straf (Mark. 6:20, Hand. 24:25). Toe ek agt was, het ek in my bed gehuil, omdat ek bang was vir die hel. My ma het met my gepraat, maar daarna het my lewe dieselfde gebly. Soms huil mense in ’n erediens as gevolg van sosiale druk. Hulle sien hoe mense rondom hulle huil, dan huil hulle saam. Party mense huil as gevolg van sielkundige manipulasie. Na ’n vurige boodskap maak die prediker ’n uitnodiging, terwyl musiek saggies in die agtergrond speel. Mense stroom vorentoe om die Here aan te neem. Die atmosfeer is oorweldigend. Uiteindelik kan jy nie in jou stoel bly nie. Jy moet iets doen. Jy staan op en gaan vorentoe. Charles Finney het geweet hoe om mense so te manipuleer. Maar mense se berou wys nie noodwendig hulle het tot bekering gekom nie. Paulus sê: “Want die droefheid, volgens die wil van God, bewerk inkeer, wat tot verlossing lei, en waaroor niemand ooit spyt is nie; maar wêreldse droefheid lei tot die dood.” (2Kor. 7:10).

Hoe reageer so iemand as die Heilige Gees hom van sonde oortuig? Party mense vervolg die prediker (Hand. 7:54, 58). Ander maak hulle nek styf en verset hulle teen die waarheid (Hand. 7:51). Sommige probeer hulle sonde met godsdienstige werke uitkanselleer. Soos John Bunyan dink hulle die Here sal hulle vergewe as hulle genoeg Bybel lees, bid, kerk toe gaan, en goeie werke doen.10 Waar iemand werklik tot bekering kom, oortuig die Gees hulle nie alleen van sonde nie (v.8), maar Hy open hulle oë om die waarheid te verstaan; Hy gee nuwe lewe en bring die evangelie met krag na hulle harte toe (Hand. 16:14, 2Kor. 3:14-18, 4:4-6, 1Tess. 1:5, Tit. 3:5-6). Vir so iemand lei sonde oortuiging tot belydenis, bekering en ’n soeke na God vir redding en vergifnis (2Kor. 7:11, 1Joh. 1:9, Rom. 10:13). Deur geloof bring die Heilige Gees Christus na die persoon se hart toe (Gal. 2:20, 3:2, Ef. 3:16-17). Daarna dra die persoon met volharding vrug wat by die bekering pas (Matt. 3:8, Luk. 8:15).

 

3. Waarvan oortuig die Gees ons?

Die Heilige Gees wys jy is deel van die wêreld wat in opstand teen God lewe (3:19-20, 1Joh. 2:16, 5:19). Is jy lief vir die wêreld se musiek, materialisme, modes, vermaak, vuil grappe—die wêreld se manier van lewe? Indien wel, is jy ’n vyand van God; sy liefde is nie in jou nie (1Joh. 2:15, Jak. 4:4).

Die Heilige Gees oortuig die wêreld van sonde (v.8). In die konteks van v.9 is hierdie sonde ongeloof: jy glo nie Jesus is die Messias en die Seun van God nie. Die Gees se koms op sigself wys Jesus is die opgestane Messias en Koning wat, volgens die profesieë, die Heilige Gees moes uitstort (vgl. Handelinge 2). Om ongelowig te bly en Jesus te verwerp, is geen klein sonde nie. Moenie soos een van my studente sê: ‘Oom, gestel iemand doen alles reg, maar hy glo nie in Jesus nie—gaan hy hel toe?’ In die eerste plek kan jy nie sonder Jesus reg lewe nie. Tweedens is ongeloof ’n ernstige sonde en die fontein van elke ander sonde. Spurgeon sê: ‘This is the monarch sin, the quintessence of guilt, the mixture of the venom of all crimes, the dregs of the wine of Gomorrah; it is the A1 sin, the masterpiece of Satan, the chief work of the devil... Unbelief...murdered the Lord Jesus Christ... Unbelief...is the egg of all crime, the seed of every offence; in fact, everything that is evil and vile lies couched in that one word—unbelief.’11 Spurgeon is reg. Ongeloof was die heel eerste sonde. In Gen. 3:1 het die duiwel Eva versoek om nie te glo God is goed nie: “Is dit werklik so dat God gesê het julle mag nie van enige boom in die tuin eet nie?” (Gen. 3:1). In Gen. 3:4-5 het hy haar versoek om God se waarskuwing in twyfel te trek; om nie te glo Hy sal hulle straf nie: “Die slang sê toe vir die vrou: ‘Julle sal beslis nie sterf nie. Maar God weet dat die dag wanneer julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan. Dan sal julle word soos God, wat goed en kwaad ken.’ ”

Die Nuwe Testament sê: “Wie in Hom [die Seun van God] glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die unieke Seun van God geglo het nie... Daarom het Ek vir julle gesê dat julle in julle sondes sal sterf; want as julle nie glo dat Ek Is nie, sal julle in julle sondes sterf.” (8:24, 3:18). Die Bybel verdoem liberale teoloë se ongeloof. Hulle glo nie Jesus is uit ’n maagd gebore nie. Hulle glo nie Hy het liggaamlik, letterlik en histories uit die dood opgestaan nie. Hulle glo nie Hy het demone uitgedryf en wonderwerke gedoen nie. Hulle glo nie Hy het in ons plek aan die kruis gesterf en die straf vir ons sonde gedra nie.

God se Woord veroordeel ook mense wat die feite aangaande Jesus glo, maar hulleself nie aan Hom toevertrou nie. Hulle het die geloof van duiwels (Jak. 2:19). Hulle is selfregverdig. Dit is iets waarvan die Heilige Gees hulle oortuig (v.8). Die Gees se koms bewys God het Christus uit die dood opgewek, omdat Hy onskuldig en regverdig is (v.10, Rom. 4:25, Hand. 2:33, 36, 3:14). Die wêreld is selfgeregverdig (v.10, Luk. 18:11-12, Rom. 10:3, Fil. 3:4-6, Jes. 64:6, Rom. 3:10, 19-20, Gal. 3:10). Die Gees oortuig ons om nie ons sub-standaard geregtigheid te vertrou nie, maar Christus se geregtigheid (2Kor. 5:21, Fil. 3:9). Moet jou dus nie net van immoraliteit bekeer nie, maar van moraliteit sonder Christus; van vertroue in jou eie goedheid.

Laastens oortuig die Heilige Gees mense van oordeel (v.8). Hy verdoem hulle skewe oordeel van Christus, sodat hulle Hom ’n sondaar noem (9:24). Die meeste Jode het gedink Jesus is net ’n mens (6:42, Jes. 53:2-3, Matt. 13:55-57, 2Kor. 5:16). Hulle het Hom skuldig bevind en gesê Hy verdien God se straf (26:66, Jes. 53:4). Vandag doen mense dieselfde. Ortodokse Jode noem Jesus ’n indringer. Moslems en Boeddhiste sê Hy is net ’n profeet of wyse leermeester. Die Jehovas Getuies sê Hy is die Seun van God, maar nie God nie. Die Heilige Gees oortuig hulle van ’n verkeerde oordeel (v.8). Jesus is die onskuldige en ewige Seun van God. God het Hom nie gestraf nie, maar aan die kruis het Christus die duiwel geoordeel en is Hy vir ons sonde gestraf (v.11, 12:31, Gen. 3:15, Kol. 2:15, Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8).

Buiten dat die Heilige Gees die wêreld oortuig, oortuig Hy gelowiges deur hulle gewete, sy Woord, ander gelowiges en moeilike omstandighede (1Sam. 24:5, 2Sam. 12:7, Ps. 141:5, 119:67). Ek bedoel nie Hy gooi jou sonde voor jou gesig nie (Heb. 10:17). Maar Hy herinner jou aan dit wat jy miskyk, ignoreer of vergeet; Hy doen dit, sodat jy jou kan bekeer (Job 34:31, Mark. 14:72). Vra die Heilige Gees om jou sonde uit te wys. Bid saam met Dawid: “Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes. Kyk of ek nie op ’n pad van verdriet is nie, en lei my op die ewige pad.” (Ps. 139:23-24).

’n Paar jaar gelede moes ek iemand by die treinstasie aflaai. Omdat ons vroeg was, het ek saam met hulle in die kar gewag. Die mense se kinders was woelig. Die vrou het haar humeur verloor en op die kinders geskreeu. Ek was geïrriteerd en het gedink: ‘Shut net up!’ Ek het huistoe gery en die volgende dag my stiltetyd gehou. My tyd in die Woord en gebed was koud en leeg. Dinsdag en Woensdag was dieselfde: dit het gevoel of my gebede die plafon tref. My preekvoorbereiding was dood. Ek was moedeloos en het die Here aangeroep: ‘Wys my asseblief wat fout is!’ Onmiddellik het die Heilige Gees my sonde uitgewys. Ek het onthou hoe ek geïrriteerd was. Ek het my voor die Here verneder en my sonde bely. Die Here se liefde, vrede en blydskap het my oorweldig. My stiltetyd en preekvoorbereiding was hemels. Die sin van die Here se nabyheid was wonderlik. As gevolg van hierdie en soortgelyke ervarings kan ek eerlik sê: ek dank God vir die Heilige Gees se bediening van sonde oortuiging.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Charles H. Spurgeon, The Autobiography of Charles H. Spurgeon (London: Curts & Jennings, 1899), 2:226-7 in Wayne Grudem (Ed.), Are Miraculous Gifts for Today: Four Views (Leicester, England: Inter-Varsity Press, 1996), 201-2

3  C.H. Spurgeon, Autobiography: Volume 2—The Full Harvest (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1973), 60

4  Arnold Dallimore, George Whitefield: Vol. 1 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1980), 145-6

5  Stuart Olyott, Something Must Be Known & Felt (Bridgend, Wales: Evangelical Movement of Wales, 2014), 47-8

6  John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 558-9

7  John Bunyan, Grace Abounding to the Chief of Sinners (Springdale, PA: Whitaker House, 1993)

8  Spurgeon, Full Harvest, 235

9  Martyn Lloyd-Jones wys oortuigend dat die Gees van slawerny die Heilige Gees se werk van sonde oortuiging beskryf, en dat Paulus nie na ’n ander gees verwys nie. D. Martyn Lloyd-Jones, Romans: Exposition of Chapter 8.5-17—The Sons of God (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1974), 196-217

10  Bunyan, ibid.

11  C.H. Spurgeon, Autobiography: Volume 1—The Early Years (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1962), 227-8

Kategorieë