Coram Deo Cover Image

Coming soon...

1 March 2023

Die Heilige Gees: Ses sondes teen die Gees

Verskeie Tekste

Freddie en Lisa gaan vir huweliksberading. Freddie roem dat hy nog nooit aan haar ontrou was nie. Hy sê nie dat hy haar emosioneel, verbaal en fisies afbreek nie. Net so vrees party mense die onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees, maar hulle vergeet dat hulle op ander maniere teen Hom sondig. Hoe doen hulle dit?

 

1. Hulle rebelleer teen Hom

Tiener rebellie is ’n hartseer realiteit vir baie ouers. ’n Rebelse kind is vir sy eie sonde verantwoordelik (Eseg. 18:20). Ongelukkig is ouers baie keer die oorsaak dat hulle kinders rebels raak: “Vaders, julle moenie julle kinders treiter, sodat hulle moedeloos word nie.” (Kol. 3:21).1

Waar mense teen die Heilige Gees rebelleer, is dit anders. Dit is nooit die Gees se skuld nie, maar altyd ons s’n. Die Here het Israel uit Egipe verlos en hulle deur die woestyn gelei. Nogtans het hulle teen Hom gerebelleer en sy Gees bedroef (Jes. 63:9-10, 14, Neh. 9:20-21). Hulle het oor kos, water en alles gekla. Elke keer het die Here hulle gehelp. Hy het die Rooi See oopgemaak dat hulle kon deurtrek. Hy het hulle vyande verslaan. Hy het brood uit die hemel voorsien en water uit ’n rots (Eksodus 14-17). Tog het hulle aanhoudend gekla en Moses se leierskap uitgedaag (Numeri 11-14, 16-17).

Ons pleeg dieselfde sonde. Soos Jona word ons kwaad vir die Here: ‘Hoekom het Hy my ma laat sterf?’ Het jy die Here gereeld vir jou ma gedank toe sy nog gelewe het? Ons dank die Here nie vir wat ons het nie, maar kla oor wat ons nie het nie. Toe ek studeer het, het ’n senior student eendag die tafelgebed gedoen. Hy het gesê: ‘...en maak ons opreg dankbaar vir wat ons eet. Amen.’ Toe hy sy oë oopmaak en afkyk, toe sê hy: ‘Ag nee! Alweer visvingers!’ Ons doen dieselfde. Ons kla as die vullis nie verwyder word nie. Maar kyk ons in die sakke en sê dankie vir wat ons gehad het? Ons kla oor die kragonderbrekings, maar het jy die Here al ooit vir elektrisiteit gedank? Ons kla oor die brandstofpryse, maar dank jy die Here vir jou kar? Ons kla oor te min geld, maar dank jy die Here vir jou werk? Ons kla oor ons korrupte land, maar dank jy die Here vir die natuurskoon? Ek was onlangs negatief oor ons korrupte samelewing. Toe my vrou dit hoor, toe sê sy: ‘Nee wat! Ek is positief. As die situasie so donker is, kan ons die lig van Christus helderder skyn.’ Ek probeer nie sê ons moet maak asof niks verkeerd is nie. Maar as Christene moet ons ’n dankbare gesindheid hê. Om te kla is ’n kenmerk van ongelowiges, vals leraars en ateïste (Rom. 1:21, 19-20, Judas 16): ‘Dit reën te veel... Dit reën te min!’ Sulke mense skop ’n bohaai op as hulle ’n restaurant besoek en die ete nie reg is nie. Kan hulle nie net mooi vra nie? Vir hulle is alles ’n probleem.

Hoekom kla hulle so? Want hul ken nie die goeie God van hemel en aarde nie. Hulle het niemand om te dank nie. Wie moet hulle dank: die oerknal (Eng. big bang), of die energie van die heelal? Ongelowiges kla, want hulle dink hulle verdien beter. As hulle maar net geweet het almal van ons verdien die hel. Enigiets buite die hel is genade. Ons het rede om die Here te dank. “Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie.” (Jak. 1:17). Moenie kla asof jy nie ’n liefdevolle, goeie, wyse en almagtige Vader het nie. As jy kla, dink die wêreld jy is soos hulle. Deur dankbaar te wees, sien ongelowiges die lig van Christus in jou en het jy die geleentheid om van Hom te getuig: “Doen alles sonder kla en teenpraat, sodat julle sonder blaam en onskuldig kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van ’n krom en ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal, deurdat julle vashou aan die woord van die lewe.” (Fil. 2:14-16a).

Kweek ’n dankbare hart deur die Here daagliks vir soveel as moontlik dinge te dank: “Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid.” (Kol. 4:2). “wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus.” (1Tess. 5:18). Vra die Gees om jou in ’n dankbare mens te verander: “...hulle wat gemurmureer het, sal onderrig aanvaar.” (Jes. 29:24). As jy vol van die Gees is, sal jy dankbaar wees: “En moenie deur wyn bedwelm raak nie; daardeur ontstaan losbandigheid. Inteendeel: Word vervul deur die Gees, terwyl julle onder mekaar psalms, lofgesange en geestelike liedere laat opklink, ja, van harte tot die Here sing en psalmsing, en God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus dank.” (Ef. 5:18-20). Deur die Heilige Gees sal Christus jou die krag gee om tevrede te wees: “Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. Ek weet wat dit is om te min te hê, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig in al hierdie dinge ingewy: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee.” (Fil. 4:11-13).

 

2. Hulle toets Hom

Ken jy ouers wat tot tien tel voor hulle kinders hulle gehoorsaam? Dit is slegte ouerskap. Die kinders druk hulle ouers so ver hulle kan. Party van hulle wag tot by nege voor hulle ’n opdrag uitvoer. Die Heilige Gees daarenteen is geduldig, maar sal nie toelaat dat mense Hom manipuleer nie. Hand. 5:1-11 beskryf die Gees se reaksie toe Ananias en Saffira Hom op die proef stel: “’n Man met die naam Ananias het saam met sy vrou Saffira ’n stuk grond verkoop, maar hy het, met sy vrou se medewete, van die geld vir homself teruggehou, en net ’n gedeelte gebring en aan die voete van die apostels neergelê. Petrus het toe gesê: ‘Ananias, waarom het Satan jou hart vervul, sodat jy vir die Heilige Gees gelieg en vir jouself van die geld vir die grond teruggehou het? Toe dit onverkoop bly lê het, was dit nie joune nie? En toe dit verkoop is, was die geld nie tot jou beskikking nie? Waarom het jy hierdie daad in jou hart bedink? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.’ By die aanhoor van hierdie woorde het Ananias inmekaargesak en gesterf, en groot vrees het almal oorval wat hiervan gehoor het. Die jong manne het toe nader gekom, hom in linne toegedraai, na buite gedra en begrawe. Ongeveer drie uur later het sy vrou ook binnegekom, onbewus van wat gebeur het. Petrus het vir haar gevra: ‘Sê my, het julle die grond vir sóveel verkoop?’ En sy het geantwoord: ‘Ja, vir soveel.’ Daarop sê Petrus vir haar: ‘Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te tart? Kyk, die voete van hulle wat jou man begrawe het, is by die deur; hulle gaan jou ook uitdra.’ Op daardie oomblik het sy by sy voete inmekaargesak en gesterf. Toe die jong manne inkom, het hulle haar dood aangetref, uitgedra en by haar man begrawe. En groot vrees het die hele gemeente en almal wat hiervan gehoor het, oorval.”

Ananias en Saffira het die Gees getoets toe hulle in die geheim sondig en daaroor lieg. Dit is asof hulle wou toets of die Gees regtig alomteenwoordig, alwetend en heilig is. Hulle het sleg tweede gekom. Moenie dink die Gees sien nie as jy in die geheim sondig nie. “Die goddelose sê in sy hart: ‘God vergeet. Hy hou sy oë toe; Hy sien dit nooit raak nie.’ ” (Ps. 10:11). “en hulle sê: ‘Hoe sal God dit weet? Is daar dan kennis by die Allerhoogste?’ ” (Ps. 73:11). “Hulle maak weduwees en vreemdelinge dood, hulle vermoor vaderlose kinders. Dan sê hulle nog: ‘Die Here sien dit nie, die God van Jakob merk dit nie op nie.’ Sien dit tog in, julle onverstandiges onder die volk! En dwase, wanneer word julle wys? Hy wat die oor inplant,

sal Hy nie kan hoor nie, of Hy wat die oog vorm, sal Hy nie kan sien nie?” (Ps. 94:6-9).

Die Heilige Gees sien en weet alles: “Voor die oë van die Here is die weë van ’n man immers oop en bloot, en al sy paaie hou Hy in die oog.” (Spr. 5:21). “Op elke plek is die oë van die Here, hulle hou slegtes en goeies dop.” (Spr. 15:3). “Ja, niks wat geskape is, is vir Hom verborge nie, maar alles is oop en bloot voor sy oë, Hom teenoor wie ons ons moet verantwoord.” (Heb. 4:13). Die Heilige Gees sien as jy geld steel, bedrog pleeg, pornografie kyk, ’n selfoonverhouding het, egbreuk pleeg. Hy sien as jy elegant voor ander bid, terwyl jy geen persoonlike gebedslewe het nie (Matt. 6:5-6). Verbaas dit jou as Hy nie jou gebede hoor nie (Ps. 66:18, Mal. 2:13-14)?

Ondersoek jou hart deur die Woord en gebed, veral voor die nagmaal (Ps. 139:23-24, 1Kor. 11:28, Heb. 4:12). Vra die Gees om jou geheime sonde deur die bloed van Jesus te reinig: “Wie het insig in sy onbewuste dwalings? Spreek my vry van verborge sondes!” (Ps. 19:13). Leef coram Deo—voor God se aangesig—met die wete die Heilige Gees sien alles: “Waarheen kan ek gaan, weg van u Gees; waarheen kan ek vlug, weg van u teenwoordigheid?” (Ps. 139:7).

Wie so lewe vrees God eerder as mense; hy vermy nie net sonde wanneer ander kyk nie, maar vermy dit in sy privaat lewe, sy hart en gedagtes. Soms leef ons asof die Gees nie dieper as die oppervlak sien nie. Ons dink ons kan in die geheim sondig en daarmee wegkom. Wie die Gees aanhoudend toets, sal agterkom Hy sien en weet alles. Hy sal jou sonde aan die lig bring op ’n manier wat jou verbaas: “...Julle sonde sal julle inhaal.” (Num. 32:23). Ek het al gesien hoe mense hulle mond verbypraat. Sonder om dit te bedoel, het hulle hulle sonde uitgelap. Ek het al gesien hoe ’n totale vreemdeling iemand se sonde aan die lig bring. Die persoon was geskok: ‘Hoe het julle uitgevind?’ Moenie dink jy kan wegkom nie. Dalk bring die Here dit na jou dood of op die oordeelsdag uit, maar dit sal uitkom: “Daar is niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. Daarom sal alles wat julle in die donker sê, in die lig gehoor word; en wat julle vir mekaar in julle slaapkamers in die oor fluister, sal van die dakstoepe af verkondig word.” (Luk. 12:2-3). Op die oordeelsdag sal jy verbaas staan as die Here jou wegstuur (Matt. 7:22-23). Sy Gees het jou deur die Woord en jou gewete gewaarsku, maar jy het dit geïgnoreer en die Gees getoets. Nou sit jy met die gebakte pere.

 

3. Hulle weerstaan Hom

Die boek Hosea gaan oor ’n profeet wat met ’n prostituut trou. Toe sy vrou die derde keer swanger is, was hy onseker of die kind syne is. Sy vrou het weggeloop en gaan rondslaap. Sy het in die slawemark geeïndig. Hosea het haar as sy eie gaan terugkoop. Hosea se huwelik is ’n spieëlbeeld van God se verhouding met Israel. Israel het gedurig agter ander gode aangeloop. Hulle was ontrou aan hulle huweliksverbond met God en het geestelike egbreuk gepleeg. Dit het vir duisende jare aangehou. Na Jesus se hemelvaart het Stefanus vir die Joodse leiers gesê: “Julle hardnekkiges met onbesnede harte en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; soos julle vaders gemaak het, so maak julle ook. Wie van die profete is nie deur julle vaders vervolg nie? Ja, hulle het diegene doodgemaak wat die koms van die Regverdige vooraf aangekondig het. Julle het nou sy verraaiers en moordenaars geword. Julle het die wet deur die beskikking van engele ontvang en tog nie onderhou nie!” (Hand. 7:51-53, vgl. Eseg. 3:7). Israel se ore was onbesnede. Dit was nie oop vir die Woord nie, maar hulle het dit aktief weerstaan.

Hoe bereik jy sulke mense? Hoe bereik jy die weerstandige familielid, lewensmaat, kollegas en bure? Onbesnede lippe (Eks. 6:12, 30) sal nie onbesnede ore bereik nie (Jer. 6:10). Dit help nie jy daag jou geliefdes uit om hulle te bekeer as jy dit nie doen nie. Hoe wil jy hulle vir die Here wen as jy soos ’n vark bestuur, oneerlike besigheid bedryf, na vuil films kyk en soos ’n matroos vloek? Bid vir ’n sagte en besnede hart (Deut. 30:6, Eseg. 36:26-27, Kol. 2:11) voor jy dit vir ander bid. Deel die Woord wat klipharte breek soos ’n hamer rotse breek (Jer. 23:29). Die Woord is ’n vlymskerp swaard wat die sondaar se siel binnedring (Heb. 4:12). Bid dat die Gees die sondaar se hart omploeg en sy weerstandigheid breek (Joh. 16:8). Saai die saad deur die Woord en gebed, en verwag ’n oes (Ps. 126:5-6, Mark. 4:26-29, Luk. 11:13, 1Kor. 3:6).

Weerstaan jy die Heilige Gees? Weier jy om te luister as jou ouers, leiers en vriende die Woord met jou deel? Is jy hardkoppig as die Gees jou gewete aanspreek? Staan jy die prediker teë wat heilig lewe en sy beste doen om die Woord met jou te deel? Wees versigtig. Die Here het Miriam, Aäron, Datan, Abiram en Korag gestraf toe hulle vir Moses teenstaan (Numeri 12, 16). Twee bere het 42 seuns verskeur toe hulle God se profeet verwerp (2Kon. 2:23-24). Toe John Logie in 1644 tydens Alexander Henderson se preekbeurt spot, het die Here hom doodgemaak.2 Bewe voor God se Woord (Ps. 119:120, Jes. 66:2). Gehoorsaam jou leiers as hulle jou die Woord leer (Heb. 13:17). Onderwerp jou aan die leiding van die Heilige Gees (Gal. 5:25). Moet Hom nie weerstaan nie.

 

4. Hulle bedroef Hom

’n Tannie in ons gemeente se man is laasjaar oorlede. Sy is hartseer, maar kan nie huil nie. Daar is fout met haar traankliere. So ook kan die Heilige Gees nie huil nie, omdat Hy ’n Gees is. Maar Hy kan hartseer wees. Jy bedroef Hom as jy sy goedheid ignoreer en kla, of as jy enige sonde doen (Jes. 63:9-10, Ef. 4:30). Die Gees is die waarborg en seël van ons hemelse erfenis (Ef. 1:13-14). As jy Hom bedroef, sal jy sy vrede en jou sekerheid van redding verloor (Ef. 4:30). Bid saam met Dawid: “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.” (Ps. 51:13, Ou Vertaling). Bely jou sonde; vra vergifnis dat jy die Heilige Gees bedroef het. Waar Christus jou met sy bloed reinig, sal die Gees volg soos die olyfolie in Lev. 14:14, 17 die bloed gevolg het.

 

5. Hulle blus Hom

Jy blus die Gees as jy sê die Bybel is die opinie van mense (moet ons jou opinie hieroor glo?) eerder as die Woord van God: “Daarom dan: die een wat dit verontagsaam, verontagsaam nie ’n mens nie, maar God, wat sy Heilige Gees aan julle gegee het.” (1Tess. 4:8). “En daarom beskik ons oor die profetiese woord, wat nog vaster staan. Julle doen die regte ding as julle daarop fokus, soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek, en die môrester opgaan in julle harte. Dit moet julle veral besef: Geen profesie in die Skrif berus op eie uitleg nie. Want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie; maar, meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is.” (2Pet. 1:20-21).

Jy blus die Gees as jy die Woord met jou lippe eer, maar op Sondae wegbly en nie luister as Hy praat nie. Jy blus Hom as Hy jou aanvuur om met iemand die evangelie te deel, te bid, die Woord te lees, te dien, lof te sing (Ef. 5:18-20), jou sonde te bely: “Moenie die Gees blus nie” (1Tess. 5:19). Jy blus die Gees as jy nalaat om jou gawe te gebruik en dit laat roes (2Tim. 1:6). Jy blus Hom as Hy jou tot ’n heilige lewe roep en jy dit minag: “God het ons tog nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligheid. Daarom dan: die een wat dit verontagsaam, verontagsaam nie ’n mens nie, maar God, wat sy Heilige Gees aan julle gegee het.” (1Tess. 4:7-8).

Jy blus die Gees as Hy duidelik werk, maar jy dit ontken: “Moenie die Gees blus nie; moenie profesieë geringskat nie” (1Tess. 5:19-20). Toe Jesus ’n demoonbesete blinde en dowe man genees het, toe sê die Fariseërs Hy doen dit deur die duiwel se mag (Matt. 12:22-24, Luk. 11:14-15). Toe ’n herlewing onder Jonathan Edwards se bediening in New England uitbreek, toe sê Charles Chauncy dit is niks meer as opgewekte emosie nie.3 ’n Paar maande gelede wou iemand my kom sien. Ek het nie geweet waaroor nie, maar toe ek vir die persoon bid, toe wys die Here my die probleem. Daar was geen manier wat ek dit kon weet nie. Ek was onseker hoekom die Here my vooraf gewys het. Dalk wou Hy die persoon bemoedig en sê: ‘Ek weet van jou probleem en het jou nie vergeet nie.’ Toe ek die storie vir iemand vertel, toe sê hy: ‘Dit was nie noodwendig die Here nie. Dalk het jy op ’n ander manier geweet.’

Jy blus die Gees as jy alles wat nie met streepteologie (Eng. cessationism) ooreenstem nie, uit die hand verwerp. Iemand vertel jou byvoorbeeld van die bonatuurlike genesing van ’n dowe mens in antwoord op gebed. Jou reaksie is: ‘Dit kan nie waar wees nie; sulke dinge het in die apostels se tyd opgehou en gebeur nie vandag nie.’ Ek het dit vir jare gedoen en moes onlangs om vergifnis vra.

Jy blus die Gees as jy weier om ’n prediker aan die Woord te toets. Toe ek ds. X as ’n vals leraar uitwys, toe sê iemand: ‘Ek sal nie my hand aan die gesalfde van die Here slaan nie.’ Die einste vals leraar sê dit van homself as mense hom aan die Woord toets. Soos die Jode in Berea moet ons elke prediker aan die Woord toets: “Die mense daar was meer welwillend as dié in Thessalonika. Hulle het die boodskap baie geesdriftig ontvang en die Skrifte daagliks bestudeer om vas te stel of dit so is.” (Hand. 17:11). “Hou vas aan wat goed is; verwerp wat verkeerd is. “Moenie die Gees blus nie; moenie profesieë geringskat nie, maar ondersoek alle dinge; behou die goeie; vermy elke vorm van boosheid.” (1Tess. 5:19-22).

 

6. Hulle beledig en belaster Hom

Wat is die sonde teen die Heilige Gees? Vroeër vanjaar toe lees ek ’n artikel waarin die skrywer sê: ‘Iemand wat as baba gedoop is en later as ’n gelowige gedoop word, pleeg die onvergeeflike sonde.’ Dit is nie die onvergeeflike sonde nie. Wie die Gees beledig en belaster sien die wonderdade van God, bonatuurlike antwoorde op gebed, die transformasie van sondaars onder die kragtige prediking van die Woord (Heb. 6:4-6, Matt. 12:22, Hand. 2:1-4, 41-47). Die bewyse dat Jesus die Messias en die Seun van God is, is oorweldigend. Die persoon kan dit nie ontken nie. Maar dan draai hy om en sê: ‘Dit is nie die werk van God nie, maar is van die duiwel afkomstig’ (Matt. 12:24). Die persoon doen dit nie net eenkeer nie. Ook is hy nie ’n onkundige spotter nie (Hand. 2:13, 3:17, 1Kor. 2:8, 2Kor. 5:16, 1Tim. 1:13). Hy verset hom willens en wetens teen die bewyse van God se werk (Num. 15:27-31, Matt. 12:31-32). So iemand kan nie vergewe word nie. Hy het die Gees se getuienis aangaande Christus vertrap en die bloed van sy kruisdood goedkoop gemaak (Heb. 10:29). Wie sal hom vergewe as hy van Christus wegdraai (Hand. 10:26)? Ons kan hom niks vertel wat hy nie weet nie. Hy weet Jesus is die enigste Verlosser, maar hy verwerp Hom (Hand. 4:12). Die Gees is kwaad vir so iemand. Hy stop sy oë en ore toe, en verhard sy hart. Uiteindelik verblind en verhard die Gees hom, want dit is wat hy wil hê (Hand. 28:25-27). Jy kan vir so iemand se bekering bid, maar jy het geen waarborg die Here sal jou hoor nie (1Joh. 5:16, Jer. 7:16).

Vrees jy dat jy of iemand in jou familie hierdie sonde pleeg het? Solank as jou gewete werk en jy vergifnis wil hê, is daar hoop (Joh. 6:37, 40). Die beste is egter dat jy nie afdwaal nie. Jy weet nie waar dit sal eindig nie: sal jy Petrus of Judas wees; sal jy jou bekeer of nie? Indien jy reeds op ’n verkeerde pad is, moet jy jou haastig bekeer (Gen. 19:16). Bid dat jy nie in die versoeking kom nie (Matt. 26:41). Waak dat die toenemende boosheid van ons samelewing jou nie aftrek nie (Matt. 24:12). Maak jou sonde dood en bid vir ’n godvresende karakter deur die werking van die Heilige Gees (Rom. 8:13, Gal. 5:22-23). Weerstaan die duiwel se versoeking deur die Woord en gebed (Ef. 6:17-18). Sorg altyd dat jy ’n skoon gewete het (1Tim. 1:19). Wees by ander gelowiges, sodat julle mekaar kan aanmoedig om op die regte pad te bly (Heb. 10:24-25). Wie met opset die samekoms van die gelowiges afskeep, sal die pad byster raak (Heb. 10:25-26, 1Joh. 2:19).

Party gelowiges vrees nie hierdie sonde nie, maar sê: ‘Dit gaan goed in ons gemeente. Ons is buite gevaar!’ Waar mense dit sê, het die afvalligheid reeds begin. Jy is soos Petrus wat gesê het: ‘Ek sal U nooit verloën nie’ (Mark. 14:29, 31). Jy is soos die gemeente van Laodisea wat gesê het: ‘Ons is ryk en het niks nodig nie’ (Op. 3:17-18). Die eerste plek waar hierdie gesindheid sigbaar word, is by die bidure. ’n Gemeente wat ophou bid, wys hulle vertrou hulleself eerder as die Gees. Hy sal sy krag terugtrek en toelaat dat hulle op hulle eie krag staatmaak. Hopelik sal hulle agterkom hulle eie krag is niks nie.

Laat ons ons sonde bely dat die Gees ons kan herstel en vergewe. “Ek sal hulle afvalligheid genees, Ek sal hulle uit vrye wil liefhê. Omdat my woede teen hom bedaar het, sal Ek vir Israel wees soos dou. Hy sal bloei soos ’n narsing, en wortels skiet soos die Libanon. Sy lote sal uitsprei; sy prag sal wees soos dié van ’n olyfboom, en sy geur soos dié van die Libanon. Dié wat in sy skaduwee gewoon het, sal terugkeer; hulle sal koring verbou, en uitspruit soos ’n wingerdstok. Die roem van Israel sal wees soos die wyn van die Libanon.” (Hos. 14:5-8). As ons die Heilige Gees ignoreer of ons tydelik bekeer, sal ons kerkgebou ’n plek vir rotte en vlermuise word. Of dit sal ’n skool of ’n moskee word soos in Europa.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  John Howie, The Scots Worthies (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1995 [1870]), 184

3  Sien Iain H. Murray, Jonathan Edwards: A New Biography (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1987).

Kategorieë