Coram Deo Cover Image

Coming soon...

2 February 2023

Die Heilige Gees: ’n Ander Trooster

Johannes 14:16

In die 1800’s het diamantmyne nie die moderne toerusting en masjienerie gehad wat ons vandag het nie. Om diamante te ontgin, was harde werk. Maar die een wat vohard het, is beloon.

So is dit met Jesus se lering oor die Gees: dit is diep, maar wie aandagtig en biddend oplet, word beloon. Jy sal soos iemand wees wat uit ’n warm en bedompige kamer loop en vars lug inasem.

 

1. Die Vader en die Seun

Kinders is teleurgesteld as een van hulle ouers siek raak en hulle vakansieplanne deur die mat val. Maar dan is hulle opgewonde as hulle hoor hulle oupa en ouma kom kuier, hulle gaan groot geskenke kry, hulle gaan Gold Reef City toe en sommer baie swem en braai.

Die dissipels was ontsteld toe hulle hoor Jesus gaan terug hemel toe (13:3, 33). Jesus het daarvoor opgemaak toe Hy hulle troos en sê Hy gaan vir hulle ’n plek in die hemel voorberei, Hy kom hulle weer haal, Hy sal die Gees stuur om Hom te verteenwoordig en by hulle te wees (v.1-3, 16-18, 23, Matt. 28:19). Jesus sou die Vader vra om die Gees na hulle te stuur. Die Grieks (erōtaō) beteken letterlik om uit ’n spesiale posisie te vra.1 Jesus sou as die geliefde Seun van God vra (Matt. 3:17). Hy het geweet dat die Vader Hom altyd gunstig antwoord (9:31, 11:41-42). Toe Christus in die hemel kom, het Hy ’n vars uitstorting van die Heilige Gees ontvang (v.16, Heb. 1:9). Hy het die Gees nie hoofsaaklik vir Homself ontvang nie. Die Heilige Gees was nog altyd sý Gees (Rom. 8:9, Gal. 4:6). Selfs as mens het Hy die Gees sonder mate ontvang (Joh. 3:34). Hoekom het die Vader die Gees dan weer oor Hom uitgestort? Dit was sodat Hy ons hemelse Middelaar kon wees (1Tim. 2:5) en dat Hy die Gees oor ons kon uitstort (v.16, Hand. 2:33). Toe Christus sy Vader vir die Gees vra, is Hy verhoor omdat Hy en die Vader mekaar liefhet (v.31, 3:35, 10:11, 17). Die Seun vra net wat die Vader wil en die Vader gee alles wat die Seun vra (4:34, 5:30, 6:38, 8:29). Die letsels in Christus se hande en voete herinner die Vader aan sy liefde vir ons (16:27). Daarom antwoord Hy Christus se gebede vir ons (Op. 5:6-7, 9), en stort Hy die Gees ryklik oor ons uit (Tit. 3:6).

Omdat Jesus opgestaan het en vir ewig lewe, kan Hy altyd vir ons intree (Heb. 7:16, 25). Die Vader sal sy gebede nie weier nie. Jesus se nr. 1 versoek namens ons, is dat die Vader die Heilige Gees gee aan elkeen wat in Hom glo (v.16). Deur die Gees ontvang ons die Vader se geskenke wat Christus aan die kruis vir ons gekoop het (Ef. 1:3, 13-14): weergeboorte, regverdigmaking, inlywing in die liggaam van Christus, die geestelike gawes, oorwinning oor sonde, aanneming, sekerheid van redding, ’n verhouding met God, ’n Godvresende karakter en meer (Tit. 3:5-6, 1Kor. 12:13, 7, Rom. 8:13-16, 2Kor. 13:13, Gal. 5:22-23). Ongelowiges geniet party van hierdie gawes, maar nie almal nie. Hulle is soos iemand wat langs ’n waterval staan. Hulle voel die sproei en geniet party van God se gawes (Num. 24:2, Matt. 7:22-23, Heb. 6:4-5). Maar die Gees woon nie in hulle nie, en daarom geniet hulle nie sy volheid soos gelowiges nie (v.17). Ons ontvang meer as die Gees se gawes. Ons ontvang die Gees self (v.16). Hy is God se nr. 1 geskenk aan ons. Eintlik moet jy Christus hê as jy die Vader en die Gees wil hê (v.23, Gal. 3:13-14, 1Joh. 2:23). Die hemel kan jou nie meer gee nie. Wie die Gewer het, het alles. Die Vader, die Seun, en die Heilige Gees is ons s’n. Die Vader en die Seun deel dieselfde Gees (10:30, Matt. 10:20, Gal. 4:6, Rom. 8:9). Die Gees gaan van die Vader en die Seun uit soos hitte en lig van die son en sy strale uitgaan (v.16, 26, 15:26, 16:7). Dit beteken die Vader, die Seun en die Heilige Gees is een (Matt. 28:19). Van ewig af het hulle mekaar liefgehad en volmaakte gemeenskap met mekaar geniet (Spr. 8:30, Joh. 17:5, 24, 1Joh. 4:8, 2Kor. 13:13). God is in Homself vervul. Hy het ons nie nodig nie (Hand. 17:25). Nogtans begeer Hy gemeenskap met ons soos Hooglied se bruidegom sy bruid begeer (v.23, Spr. 15:8, Ps. 45:11, Hoogl. 7:10).

Sien sy liefde vir jou. Moenie jou persoonlike tyd met die Here afskeep, of die samekoms van die gelowiges versaak nie. Die Gees raak maklik bedroef en onttrek Homself as jy Hom ignoreer en geringskat (Ef. 4:30). Soms vat dit weke of maande voordat jy weer van sy nabyheid bewus raak. Slaan ag as die Gees jou hart prikkel om te bid. Luister en bekeer jou as Hy jou deur sy Woord aanspreek. Wees dankbaar as Hy jou met ’n Bybelse belofte troos. Moenie uit ’n erediens wegstap en verder gesels as die Heilige Gees deur die boodskap met jou praat nie. Moet Hom nie uit jou gedagtes skuif, sodat die hemelse Duif uiteindelik wegvlieg nie. Waardeer dit as die Heilige Gees naby kom soos ’n bruid haar diamantring en bruidegom se liefde koester. Smul aan die Gees se nabyheid soos jy aan warm brood met botter, sagte beesstert of Belgiese sjokolade sou smul (2Kor. 13:13, 1Joh. 1:3, Op. 3:20).

 

2. Die Heilige Gees

My sussie is ’n Engelse onderwyseres. Toe sy ’n paar jaar gelede op kraamverlof was, het my pa vir haar ingestaan. Net so het Jesus met sy hemelvaart ’n ander- of selfde soort Trooster gestuur om vir Hom in te staan (v.16, Gk. allos).2 Christus én die Heilige Gees is ’n Paraklētos, Trooster, of Advokaat wat langs jou staan (v.16).3 Jesus is ons Advokaat in die hemel, terwyl die Heilige Gees Hom op aarde verteenwoordig. As die wêreld jou vervolg en valslik aankla; as die duiwel jou sonde voor jou gesig gooi, verdedig Jesus jou in hemel en pleit sy bloed (Hand. 6:11-14, 7:54-60, Rom. 8:33-34a, 1Joh. 2:1, Gk. Paraklētos). Op aarde verdedig die Heilige Gees jou (v.16). As die duiwel jou versoek of as jy sonde gedoen het, vestig die Gees jou aandag op Christus wat jou beskerm en vir jou bid (Heb. 4:15-16, 7:25). Hy wys jou na Christus toe om jou sonde te bely en vergewe te word (1Joh. 1:7, 9). Hy belyn jou gebede met Jesus s’n, sodat jy op die aarde bid wat Christus in die hemel bid; sodat jy in sy Naam bid (v.13-14, Rom. 8:26-27, 34b). Die Vader hoor die Gees se gebede deur jou (Ef. 2:18). Hy stuur sy Gees met nuwe krag dat Hy jou kan help om te volhard (Jud. 20-21, 24).

Voel jy te swak om self te bid? Bid God se beloftes (Jes. 62:6-7). Vra ander gelowiges om vir jou te bid. Bid veral dat die Vader jou opnuut met sy Gees en met geestelike krag sal vul (Luk. 11:13, Ef. 3:14, 16). Dit is wat die Ou Vertaling se ‘Trooster’ beteken. Dit kom van die King James Version se ‘Comforter’ af wat hulle by John Wycliffe geleen het. In middel Engels beteken ‘Comforter’ om krag by te voeg. Dit kom van die Latynse confortare en beteken om baie te versterk.4 Die Heilige Gees versterk jou voordat jy ly (15:26-27, 18-25). Dit is asof Hy vir jou ’n feesmaal voorsit, sodat jy kan eet voor jy op ’n lang reis gaan. Onthou dit as die lyding kom, sodat jy nie dink God het jou vergeet nie.

Die Gees versterk ons as ons eensaam en hartseer is (v.1, 16, 16:5-7). Moenie dink Hy is afwesig, omdat Hy jou nie bonatuurlik vertroos nie. Natuurlik kan Hy dit doen. Op 9 Aug. 1601 het Hy dit vir Patrick Simpson in Skotland gedoen. Toe Simpson se vrou op haar sterfbed was, het die duiwel haar aangeval en gesê sy is nie gered nie. Die aanvalle was intens en het haar soos golwe oorspoel. Later het dit so erg geword, dat sy geen meer hoop gesien het nie. Sy was in ’n donker gat. Simpson het ernstig vir sy vrou gebid. Een oggend het hy buite onder die bome gaan bid. Iemand wat sy vrou deur die nag opgepas het, wou sien wat hy doen. Toe sy nader kruip, het sy stemme en ’n hemelse melodie gehoor. Simpson het op sy gesig gelê. Die vrou het vergifnis gevra dat sy so nuuskierig was. ‘Wat het ek gehoor?’ wou sy weet. Simpson was huiwerig te vertel. Die vrou moes eers belowe dat vir niemand sou sê nie. Eers na Simpson se dood kon sy vir mense vertel. Simpson het ’n visioen van engele gesien het. Hulle het in ’n hoorbare stem gesê dat die Here sy vrou geestelik gaan herstel. Toe Simpson in die huis ingaan, was die nagmerrie verby. Sy vrou was vol van die Here se vrede. Tot die dag van haar dood, het die duiwel haar nie weer gepla nie. Sy was soos ’n brandhout wat uit die vuur geruk is.5

Die Heilige Gees kan mense troos soos Hy wil. Gewoonlik herinner Hy ons aan God se beloftes, of stuur Hy ander gelowiges om ons te troos (v.26, Ps. 119:50, 52, Rom. 15:4, 2Kor. 7:6, 2Tim. 1:15-17). Hy troos, versterk en bemoedig ons met die regte woorde as ons vir om Christus ontwil voor die Menseregtekommissie of die hof moet verskyn (v.26, Luk. 12:11-12, Hand. 4:8, 13, 6:10). Soms maak sy woorde die ongelowiges stil, maar partykeer vervolg hulle ons op ’n tegniese punt in die wet, omdat hulle niks teen ons kan kry nie. In sulke tye versterk en vertroos die Vader en die Seun ons deur die Heilige Gees (2Tess. 2:16-17, 1Pet. 4:15). Hy vertroos ons deur ander gelowiges wat vir ons bid (Ef. 6:18). Die Heilige Gees of Trooster kom met nuwe krag as die antwoord op hierdie gebede. Hy verseker ons van God se genade en troos ons met sy groot liefde (Ps. 147:3, 86:17, Rom. 5:5). Hy vertroos ons soos ’n ma haar kind vertroos (Jes. 66:13). Hy laat ons in sy vertroosting lewe (Hand. 9:31). Deur die Gees troos die Vader ons, sodat ons sy troos met ander kan deel (2Kor. 1:3-7).

Wanneer ons ly, kom ons sonde soos metaalskuim in ons harte op. Die Heilige Gees oortuig ons van sonde, geregtigheid en oordeel (16:8). Wanneer dit gebeur, soek baie mense hulle troos in vakansie, vriende, ’n berader, sport, pornografie, pille, drank, slaap, alleen wees, of iets anders. Maar dit bedaar nie hulle gewete nie (vgl. Job 16:2). Gelowiges vind hulle troos in die Heilige Gees en Christus se vergifnis (v.16, 16:7, Jes. 40:1-2, 61:1-3, Matt. 5:4). Omdat die Gees vir ewig by ons is, is sy troos altyd beskikbaar (v.16-17, Jes. 59:21). Ook op jou sterfbed sal die Trooster daar wees (Ps. 23:4). In die hemel sal Hy jou verder troos as God die trane van jou oë afvee en jou met die goeie versadig (Luk. 16:25, Op. 7:17).

Die grootste troos is as die Gees die rykdom van God se genade, wysheid en kennis in Christus aan jou bekend maak (Ef. 2:7, Kol. 2:3). Waar dit gebeur, sien jy jou aardse lyding in ’n ander lig. Jy is soos iemand wat altyd net ’n blaar of ’n ster gesien het. Maar dan haal die Heilige Gees ’n mikroskoop of teleskoop uit. Jy ontdek wonders wat jy nie voorheen verstaan het nie. Skielik besef jy hoekom jy gely het, en hoe wonderlik God se raadsplan is. As jy jou lewe oor kon hê, sou jy dit nie verander het nie. Jy staan verbyster en kan nie anders nie as om die Vader, die Seun en die Heilige Gees as die ewige Trooster te bewonder (v.16, Luk. 2:25, Rom. 15:5, Gk. paraklēsis).


1  https://biblehub.com/greek/2065.htm

2  https://biblehub.com/greek/243.htm

3  https://biblehub.com/greek/3875.htm

4  https://www.etymonline.com/word/comforter en D.A. Carson, The Gospel According to John (Leicester: Inter-Varsity Press, 1991), 499

5  John Howie, The Scots Worthies (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1995 [1870]), 107-9

Kategorieë