Handelinge 2
Toe my oudste dogter sewe was, het ek haar van herlewing vertel. Ek het haar van die eerste groot ontwaking in New England vertel, dat die prokureur in Northampton nie werk gehad het nie, omdat baie mense tot bekering gekom het en daar geen dispute was nie. Ek het haar van die 1904 herlewing in Wallis vertel. Op die myne het die donkies opgehou werk toe die myners tot bekering kom. Hulle kon net werk as hulle gevloek en geslaan is, maar dit het opgehou. Misdaad het so te sê verdwyn, sodat die polisie geen werk gehad het nie. My dogter se oë het geglinster toe sy dit hoor. Sy het opgekyk, haar kop vinnig geskud en gesê: ‘Ons moet vir herlewing bid.’ Hopelik sê en doen jy dieselfde na vandag se boodskap.
1. Wat is herlewing? (v.1a)
Baie mense sien herlewing in 2Kron. 7:14, Ps. 85:5, Nehemia 8, Hos. 6:2, Hab. 3:2. ’n Noukeurige studie van hierdie verse wys dit gaan nie oor herlewing in die ware sin van die woord nie. Tegnies is daar geen herlewing voor Pinkster nie. Herlewing per definisie verwys na ’n uitstorting van die Heilige Gees soos reën in die woestyn. Die Ou Testament het dit voorspel (Jes. 32:15, 44:3, Joël 2:28-29, Esegiël 37), maar herlewing gebeur eers na Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart (v.33, Joh. 7:39). Christus gee sy Gees aan elke gelowige (Joh. 14:16-17, Rom. 8:9). Hy gee Hom in die mate wat Hy besluit (Ef. 4:7). Hy kies of die lewende water enkeldiep of kniediep is; of dit tot by ons heupe kom en of ons daarin kan swem (Esegiël 47). Waar Hy die Gees in groot mate op baie mense uitstort, noem ons dit ’n herlewing.
Party Christene ontken dit en sê Pinkster kan so min soos Jesus se menswording herhaal word. Toe een van my kollegas eenkeer oor herlewing praat, toe reageer ’n Britse leraar: ‘I don’t believe in revival.’ My vriend het hom oor herlewings in die Bybel en in die geskiedenis gevra, maar hy het voet by stuk gehou. Mense wat herlewing ontken, vergeet met elke bekering word die Gees opnuut uitgestort (Tit. 3:5-6). Dit is ’n mini-Pinkster. In Hand. 4:31 word die Gees oor die groep gelowiges van Handelinge 2-3 uitgestort. Volgens Ef. 3:16-19 kan gelowiges opnuut met die Gees en die volheid van God vervul word. Die uitstorting van die Gees word nie tot Pinkster beperk nie. Dit is vir die ganse tyd van die Nuwe Testament of die laaste dae bedoel (v.17, vgl. Heb. 1:1-2, 9:26). Ou predikers soos Thomas Boston (1676-1732) en Charles Spurgeon (1834-92) het nie geskroom om van herlewing as nog ’n Pinkster of massa uitstorting van die Gees te praat nie.1 George Whitefield, John Wesley, Jonathan Edwards en baie van die Puriteine het dieselfde gesê.
2. Hoe gebeur herlewing? (v.1b)
Jesus het die Gees uitgestort toe die dissipels in die bovertrek vergader (v.1). Wat het hulle in die bovertrek gedoen? Jesus het hulle beveel om in Jerusalem te wag tot hulle met die Heilige Gees gedoop is (1:4-5). Hulle het Jesus se belofte geglo en daarvoor gebid (1:14). Die Heilige Gees lei mense dikwels om te bid voordat Hy ’n herlewing stuur. Hy kom as ’n Gees van gebed en smeking (Sag. 12:1). ‘When [God] gives us a spirit of prayer, it is a pledge to us, that he means to answer us.’ (Richard Sibbes, 1577-1635).2 ‘Where God leads you to pray he means you to receive.’ (Spurgeon).3 Dit beteken nie mense wat bid, kan die Here se arm draai nie: “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word. Moenie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra.” (Matt. 6:7-8). Daar is nie ’n resep vir herlewing nie: doen A, B, C dan sal God sy Gees uitstort. Die Gees is soewerein; Hy volg nie ’n mens se wil nie, maar is soos die wind wat waai waar Hy wil (Joh. 3:8).
Ons moet met geloof en volharding vir herlewing bid en die Gees nie bedroef nie (Matt. 21:21-22, Luk. 11:13, 1Tess. 5:17, Ef. 4:30). Tog kies Christus alleen tot watter mate Hy die Gees oor ons uitstort. Niemand kan ’n herlewing vooraf aankondig of dit kunsmatig orkestreer nie. Sommige groepe in Amerika praat van ‘revival meetings’ en sê: ‘We are having a revival tonight.’ Hulle misverstaan die Bybelse betekenis van herlewing. God wil hê ons moet vir herlewing bid, die ware Woord deur die Gees se krag verkondig en gehoorsaam moet wees. Maar dan moet ons op die Here wag en glo Hy sal op sy eie tyd herlewing stuur.
3. Hoe lyk herlewing? (v.2-47)
Uiterlike manifestasies (v.2-11)
In Handelinge 2 volg tale op die uitstorting van die Heilige Gees. Dit beteken nie tale is altyd die bewys van herlewing nie. Mense en demone kan dit namaak. Die Gees self kan kragtige dade doen sonder dat mense tot bekering kom (Heb. 6:4-5). Die tale in Handelinge 2 het ’n spesifieke doel gehad. So vroeg as Deut. 28:49 het die Here vir sy volk gesê as hulle ander gode dien, sal Hy hulle deur mense van ’n ander taal oordeel. In Jes. 28:11 en Jer. 5:15 het Hy dit deur die Assiriërs en Babiloniërs gedoen. Hier waarsku Petrus die Jode dat die vreemde tale ’n teken van God se oordeel is (v.19-20). Deur die eeue het die Jode God se profete verwerp. Toe Hy sy Seun stuur, toe kruisig hulle Hom. Die tale in Handelinge 2 was ’n teken dat God die Jode gaan oordeel; dat Hy die evangelie by hulle gaan wegvat en vir ander tale stuur (Matt. 21:43). Handelinge 2 is die omgekeerde van Genesis 11. By die toring van Babel het God tale gestuur om mense te verwar en te verdeel. In Handelinge 2 stuur Hy tale om te wys alle volke gaan in Christus verenig word. In 70 n.C. het God sy volk deur die Romeine (mense met ’n vreemde taal!) geoordeel. Hier moes hulle die Here aanroep voor dit te laat was (v.21, 40).
Gee die Heilige Gees nog besondere gawes saam met herlewing. Hy kan dit maklik doen as Hy wil. Ons moet Hom nie weerstaan nie. Tog moet ons nie vir alles val, net omdat dit in ’n Christelike konteks plaasvind nie. Dit is ’n feit dat die Gees se werk soms ’n uitwerking op die mens se liggaam het. Deur die Bybel het mense gesidder, flou geword, siek gevoel en op hulle gesigte geval as die Here Homself openbaar (Eks. 34:8, Ps. 63:2, 84:3, 119:120, Dan. 10:8-9, Hab. 3:16). Jonathan Edwards se vrou Sarah (1710-58) het flou geword toe ’n sin van God se liefde haar oorweldig (vgl. Rom. 5:5).4 Onder Daniel Rowland (1711-90) se prediking in Wallis, het mense soos een man op hulle gesigte neergeval toe die Gees hulle van hulle sonde oortuig (vgl. Joh. 16:8).5 Edwards en Rowland se ervarings is nie uniek nie, maar het algemeen in herlewings gebeur.6 Tog was dit nie ’n teken van geestelikheid of redding nie. Massa-hipnose deur musiek, histerie en demone kan ’n sterk effek op die liggaam hê. Geen wonder mense val om as Benny Hinn sy baadjie oor hulle waai nie. Selfs onder George Whitefield (1714-70) se prediking het ’n vrou aan die buitewyke van die skare aan die huil geraak, al kon sy nie ’n woord hoor nie.7 Dit was nie die Woord en die Gees wat haar beïnvloed het nie, maar die skare. Crowd-Emotion-Amplification Effect is die geleerde woord.
As gelowiges moet ons nie liggaamlike sensasie aanmoedig of najaag, net omdat dit tydens herlewings gebeur nie. ’n Prediker in ons stad het die Toronto blessign so verdedig. Volgens hom was dit reg dat mense tydens die erediens agteroor val en flou word, omdat dit tydens herlewings in John Wesley, George Whitefield en Jonathan Edwards se tyd gebeur het. Maar die Skrif eerder as herlewings is ons maatstaf. Laat ons nie sê dié wat uiterlike manifestasies aan die Skrif wil meet of dit bevraagteken, weerstaan die Gees nie. In die Bybel het die Here sulke sensasies bedaar (Neh. 8:10-11, Dan. 10:8-12, 15-19, Matt. 17:6-7, Op. 1:17). Tydens herlewing verwyder verstandige leiers sulke mense uit die vertrek, sodat hulle ander nie steur of hulle aandag nie van die Woord aftrek nie.8 God is ’n God van orde, daarom moet elke erediens ordelik geskied (1Kor. 14:33, 40). Die vrug van die Gees is selfbeheersing (Gal. 5:23). Om buite jouself te raak, bedroef die Heilige Gees.
George Whitefield het dit verstaan. Toe hy op ’n keer by Solomon Williams (1700-76) se gemeente in Lebanon, New England preek, het die mense dol geraak. Hulle het gespring, gedans, gesing en gebid. W.B. Sprague vertel wat gebeur het: ‘...Mr Whitefield, stamping his foot with great violence on the floor, exclaimed with a voice of thunder—“What means all this tumult and disorder?” Instantly there was silence through the house; but some of them quickly remarked that they were so much delighted to see and hear their spiritual father, and were so filled with the Spirit, that they could not forbear their demonstrations of joy. Whitefield replied to them with great mildness of manner—“My dear children, you are like little partridges, just hatched from the egg. You run about with egg shells covering your eyes, and you cannot see and know where you are going.” The effect of his gentle expostulation was that the disorder entirely ceased, and they withdrew quietly to their several homes.’9
Wanorde maak dat ongelowiges wat die byeenkoms bywoon, sê Christene is mal (1Kor. 14:23). Waar die Gees waarlik in krag werk, kom ongelowiges uit nuuskierigheid en verstom hulle oor die Here se krag (v.6, 12). Party ongelowiges spot buitendien, maak nie saak hoe geestelik die werk is nie (v.13). As Christene moet ons die Gees se werk onderskei. Ons moet vra of mense se sondeoortuiging en opgewondheid tydelik is, en of dit op redding sal uitloop (Matt. 13:20-21, Joh. 16:8). Ons moet mense nie gou doop nie (8:13). Laat ons eers kyk of hulle met volharding vrug dra (8:13, Matt. 3:7-8). Party sal beswaar aanteken, omdat Petrus die nuwe bekeerlinge dadelik gedoop het (v.41). Maar hy het dit nie sonder rede gedoen nie. God se volk het die Messias verwerp en Hom laat kruisig. As mense hulle nou met Hom wou vereenselwig, kon hulle vervolg word. Hulle Christelike belydenis en doop was riskant. Daarom het Petrus hulle belydenis geglo en hulle dadelik gedoop. Ons konteks is anders. Ons lewe in ’n land met godsdiensvryheid. Mense sê maklik hulle is gered. As jy hulle klaar gedoop het, verdwyn hulle van die aardbol af. Of hulle kom kerk toe, maar hulle lewe het nie verander nie.
Bybelse prediking (v.14-37)
In elke herlewing is daar ’n terugkeer na Bybelse prediking. God kies om mense deur evangelie-prediking te red (Rom. 1:16, 10:13-17, 1Kor. 1:18, 21, Jak. 1:21-22, 1Pet. 1:23-25). Die afwesigheid van sterk prediking maak dat sommige die egtheid van die Asbury herlewing bevraagteken. Sekerlik het talle studente onder sonde oortuiging gekom. Ek betwyfel nie dat die Gees tot ’n mate werksaam was nie. Die probleem is dat Asbury universiteit versuim het om die Christus te verkondig. Sodoende het hulle nagelaat om die Gees se wil te doen. Dit het in die 1904 herlewing in Wallis gebeur. Enkele persone was gereed om God se Woord te verkondig, maar die jongmense het hulle gekeer en die predikers se stem met lofgesange uitgedoof. Iemand wat by die herlewing betrokke was, het gesê: ‘Die 1859 herlewing is deur die prediking van die kruis gekenmerk. Menslike emosies het die 1904 herlewing gekenmerk.’10
Die Heilige Gees wil Christus op die voorgrond hê (Joh. 16:14). Toe Petrus op Pinksterdag preek, was Christus die middelpunt (v.22-36, vgl. 1Kor. 2:2). In ’n herlewing is die prediking vol van Christus in sy Woord. Let op hoe Petrus in v.16-21, 25-28, 34-35 die Woord aanhaal en verduidelik. Waar ’n herlewing plaasvind, begeer mense meer van die Woord. Nadat Laurence Caderton (c.1536-1640) eenkeer vir twee ure gepreek het en wou ophou, toe sê die gemeente: ‘For God’s sake, Sir, Go on, go on!’11
Gedurende herlewing is die prediking op die man af. Predikers draai nie doekies om nie, maar spreek sonde aan (v.23, 36, 4:13, vgl. Miga 3:8, Gal. 3:24). Die evangelie kom nie in woord alleen nie, maar deur die Heilige Gees en met krag (1Tess. 1:5). Die boodskap raak meer as die intellek; dit tref die gewete (v.37, 16:30, Joh. 16:8). Mense se harte word ontbloot; hulle vrees die Here en sidder voor Hom (1Kor. 14:25, Heb. 4:12-13). So was dit in Enfield toe Jonathan Edwards gepreek het. Mense het uitgeroep: ‘What shall I do to be saved?... Oh I am going to hell!... Oh what shall I do for Christ?’12
Massa bekerings (v.38-41)
Gedurende herlewing kom groot getalle mense tot bekering (v.38-41, 47, 4:4, 5:14, 6:1, 7, Matt. 13:31-32). Ek praat nie van mense wat onder musiek vorentoe stroom en ’n sondaarsgebed opsê nie. Alhoewel party so tot bekering kom, is ‘altar calls’ nie in die Bybel nie. Dit doen meer skade as goed. Mense verwar hulle voete met die hart. Hulle dink as iemand se voete beweeg, beweeg sy hart. Baie sogenaamde bekeerlinge se liefde is soos die oggenddou: dit smelt as die son opkom (Hos. 6:4). Sondag reageer hulle op ’n ‘altar call’ en twee weke later lyk hulle lewe dieselfde as voorheen. Ware bekeerlinge dra vrug met volharding (Luk. 8:15). Na ’n kredietwaardige getuienis word hulle by die gemeente gevoeg (v.38, 41). Na John Elias se boodskap te Pwllheli in 1832, is 2500 mense by die gemeentes gevoeg.13 Hulle getuienis van redding was Bybels en hulle vrug het gehou.
Lewens verander (v.42-47)
Onder die ‘altar call’ sisteem val baie sogenaamde bekeerlinge weg. Die meeste van Charles Finney (1792-1875) se bekeerlinge het weggeval. Slegs 10-20% van hulle het met die Here aangehou.14 In ’n ware herlewing is die vrug blywend. Mense sluit by die gemeente aan. Hulle groei in die Woord en gebed. Hulle herdenk Jesus se dood deur die nagmaal. Hulle bid en sien kragtige antwoorde op gebed. Hulle gebruik hulle gawes. Hulle dien mekaar. Hulle wil by die gemeentelike byeenkomste wees. Hulle prys die Here met lofgesange (sien v.41-47a). Hulle begeer dat ander gered moet word. Hulle bid vir hierdie mense se bekering en deel die evangelie met hulle. Gevolglik groei die kerk soos die Here mense red en hulle byvoeg (v.47b). Deur die kerk se getuienis word die samelewing verander. Dit het in Genadendal in die Wes-Kaap gebeur. In die mid-1700’s het Georg Schmidt as ’n sendeling Suid-Afrika toe gekom. Na ’n kort rukkie het drie Khoi mense tot bekering gekom en is hulle gedoop. Toe die NG Kerk hiervan uitvind, het hulle Schmidt verbied om verder te werk, aangesien hy nie ’n geordende leraar was nie. Schmidt moes na Europa toe terugkeer.
Vyftig jaar later het drie Morawiese sendelinge by Genadendal aangeland. Hulle het een van die eerste dopelinge (Lena) ontmoet. Sy het haar Bybel getrou gelees en probeer om die werkie aan die gang te hou. Onder die sendelinge het daar ’n herlewing uitgebreek. Baie mense het tot bekering gekom. Dit het die samelewing beïnvloed. Die eerste sendingstasie in Afrika is in Genadendal opgerig. Ons land se eerste onderwyskollege, gastehuis en apteek het in Genadendal ontstaan. Dit het een van die beste biblioteke gehad. Genadendal het sy eie drukpers gehad. Die ekonomie was so sterk dat Genadendal die tweede grootste nedersetting in die Kaap geword het.15 Dit is die effek van Bybelse Christenskap op ’n samelewing (Matt. 5:13-16).
4. Herlewing in die toekoms?
Volgens v.5, 14, 22, 36 het Petrus vir die Jode gepreek. Toe die Jode die evangelie aanhoudend verwerp, het God dit na die heidene toe gestuur (13:46-48, 18:6, 28:28). In die toekoms sal God ’n herlewing onder die Jode bring en baie van hulle in ’n oogwink red (Rom. 11:23-29, Eseg. 37:1-14, Jes. 66:8). Die bekering van die Jode sal ’n geestelike ontwaking in die wêreld veroorsaak, sodat baie mense tot bekering kom (Rom. 11:12, 15, Ef. 2:5). Baie van my vriende glo dit nie, maar die Ou Testamentiese profesieë getuig daarvan (Ps. 2:8, 22:28, 72:8, 11, 17, 19, 86:9-10, 102:16, 23, Jes. 2:2-4, 9:6, 11:9-10, 49:6-7, 60:3). Thomas Goodwin (1600-80) sê: ‘There will come a time when the generality of mankind, both Jew and Gentile, shall come to Jesus Christ.’16
Geen hoeveelheid politieke aksie, opvoeding of sosiale werk sal die toekomstige herlewing meebring nie. Dit sal nie plaasvind, omdat sekere groepe die filmindustrie of ekonomie vir Christus eis nie. Dit sal deur die Gees gebeur: “‘Nie deur mag of deur krag nie, maar deur my Gees,’ sê die Here, Heerser oor alle magte.” (Sag. 4:6). Klink dit vir jou onmoontlik? “So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘As dit in daardie dae onmoontlik gelyk het in die oë van hulle wat van hierdie volk oorgebly het, sal dit dan in My oë ook onmoontlik wees?’ Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.” (Sag. 8:6).
Laat ons vir herlewing bid en saam met Spurgeon sê: ‘I see no reason why we should not have a greater Pentecost than Peter saw, and a Reformation deeper in its foundations, and truer in its upbuildings than all the reforms which Luther or Calvin achieved. We have the same Christ, remember that. The times are altered, but Jesus is the Eternal, and time touches him not... Oh! Spirit of God, bring back thy Church to a belief in the gospel! Bring back her ministers to preach it once again with the Holy Ghost, and not striving after wit and learning. Then shall we see thine arm made bare, O God, in the eyes of all the people, and the myriads shall be brought to rally round the throne of God and the Lamb. The Gospel must succeed; it shall succeed; it cannot be prevented from succeeding; a multitude that no man can number must be saved.’17
1 Iain H. Murray, The Puritan Hope (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1971), 114, 237.
2 Richard Sibbes, The Love of Christ (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2011 [1639, 1862]), 213.
3 C.H. Spurgeon, Metropolitan Tabernacle Pulpit Vol. 30, Sermon on Psalm 10:17 (5 October 1884). Verkry by https://www.spurgeon.org/resource-library/sermons/thought-reading-extraordinary/#flipbook/
4 The Works of Jonathan Edwards: Vol. 1 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1974 [1834]), 376-7.
5 Murray, Puritan Hope, 116.
6 Iain H. Murray, Revival & Revivalism (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1994), 163.
7 Iain H. Murray, Pentecost—Today? (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1998), 146-7.
8 Murray, Revival & Revivalism, 210.
9 Iain H. Murray, Jonathan Edwards: A New Biography (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1987), 218-9.
10 Murray, Pentecost, 155-6, 159, 161-2, 165-6.
11 Murray, Puritan Hope, 9.
12 Murray, Jonathan Edwards, 169.
13 Murray, Puritan Hope, 127.
14 Murray, Pentecost, 46 n. 2 en Murray, Revival & Revivalism, 288-9.
15 https://www.sahistory.org.za/place/genadendal-historic-village-museum en https://www.hermanusonline.mobi/hermanus-history-2/genadendal-mission-station. Sien ook Val Nowlen, Valley of Grace (Garstfontein, Pretoria: Self-Published, 2007).
16 Murray, Puritan Hope, xii.
17 Ibid., 237-8.