1Korintiërs 2:1-5
Geesvervulde prediking is nie passievolle geraas nie. Jonathan Edwards was ’n besadigde prediker. Hy het sy preke nie vervelig afgelees soos party dink nie. Ja, hy was rustig, maar hy was ook diep ernstig. Onder sy prediking het die Here honderde mense tot bekering gebring.1 As ’n man vol van die Gees, het Edwards kragtig gepreek. Hy het meer as woorde gepreek. God was in die man en sy boodskap. Hy het by die fontein van Christus gedrink; die Gees het soos lewende waterstrome uit sy hart gevloei en lewe gebring waar dit gaan (Joh. 7:37-39).
Dit was ook waar van Hywell Griffiths. Stuart Olyott beskryf sy prediking as volg: ‘The preacher’s sermons were quite lengthy, filled with word-pictures and delivered with obvious love and deep emotion. But there was something else. They were accompanied by an indefinable influence. As Hywel Griffiths preached, heaven came to earth. The invisible world was more real than the visible one. There was a touch of glory. Christ was more precious than anything or anyone in the universe. The Word came over with a self-authenticating force that was irresistible. Not to believe was not an option, because it was indescribably foolish. The only wise thing to do was to trust the Lord completely, and to love Him with all of my heart, soul, mind and strength. I was not alone in receiving these impressions. After each sermon the congregation sat in stunned silence, overcome by the sheer power of the Word. Sometimes the silence was followed by spontaneous prayer. Some came to Christ. Many others like me, who were already believers, were changed for ever.’2
Daar het jy twee voorbeelde van Geesvervulde prediking. Paulus verdedig en veduidelik dit in die teks voor ons.
1. Die inhoud van Geesvervulde prediking (v.1-2)
Om Jode en heidene te oortuig, het Paulus die Woord met oortuiging gepreek toe Paulus in Korinte kom (Hand. 18:4-5). Hy was ’n geleerde man (Hand. 22:3). As hy wou, kon hy die Griekse skrywers aanhaal en sy kennis vertoon (Hand. 17:28, Tit. 1:12). Tog het hy Aristoteles, Sokrates, Plato en ander filosowe geïgnoreer om God se getuienis aangaande Christus te verkondig (v.1-2, 1:18-25). Die Gees het sy prediking geseën, nie net omdat die inhoud reg was nie. Sommige leraars preek die waarheid, maar hulle leef in sonde. Die Gees sal dit nie seën nie (Matt. 23:2-3, 1Tim. 4:16). Waar Hy ’n mate van seën gee, seën Hy sy Woord en ander se gebede daarvoor eerder as die prediker self. Spurgeon sê: ‘I was reading yesterday a book by Father Faber, late of Oratory, at Brompton, a marvellous compound of truth and error. In it he relates a legend to this effect. A certain preacher, whose sermons converted men by scores, received a revelation from heaven that not one of the conversions was owing to his talents or eloquence, but all to the prayers of an illiterate lay-brother, who sat on the pulpit steps, pleading all the time for the success of the sermon. It may in the all-revealing day be so with us. We may discover, after having laboured long and wearily in preaching, that all the honour belongs to another builder, whose prayers were gold, silver, and precious stones, while our sermonisings being apart from prayer, were but hay and stubble.’3
Die Heilige Gees seën die prediker wat gedurigdeur bid; wat Christus leef en Hom verkondig (v.2, Fil. 1:21, Joh. 15:7, 16). Hy seën die prediker wat die Bybel noukeurig bestudeer (Esra 7:10, 2Tim. 2:15), maar ook Geesvervuld lewe en daarvoor bid (Luk. 11:13, Ef. 5:18). Nie alleen is hy in die Woord nie; die Woord is in hom (Kol. 3:16). Hy bestudeer die Woord anders as liberale teoloë: hy steun nie op sy eie insigte nie (Spr. 3:5-7, 28:26a), maar het die Woord lief, oordink dit aanhoudend, bid vir insig, deurweek sy studie met gebed, en vra die gemeente om saam te bid (Ps. 119:97, 135, 1Tess. 5:17, 2Tess. 3:1). Gevolglik brand die Woord soos ’n vuur in sy binneste (Jer. 20:9). Die Gees beklee hom met krag om dit te verkondig (Luk. 24:49), sodat hy en gemeente die Here eerder as goeie eksegese, ’n charismatiese persoonlikheid, of ’n elegante styl prys.
Soms weerhou die Gees sy seën tot die leraar besef sy talente, gawes, ywer, argumente en intellek kan nie ’n sondaars se klipharde hart verander nie. Hopelik dryf dit hom op sy knieë as hy besef die mens se probleem is moreel eerder as intellektueel, en dat sy slim redenasies niks beteken nie. Hy moet dag en nag bid voordat hy die gekruisigde Christus verkondig (v.2, Kol. 1:9, 4:12). Christus moet vir hom alles wees; nie net in die kansel nie, maar in sy binnekamer en persoonlike lewe. Dit was so vir Paulus. Bowenal wou hy Christus sien en begryp (v.2, Gk. eidō). Hy wou Hom ken, en deur sy lewe en prediking bekend maak (1:23, 4:16-17, 11:1). Hy het Jesus nie net as ’n goeie voorbeeld verkondig nie, maar as die Een wat vir ons sonde gekruisig is (15:3, Matt. 1:21). Die Griekse perfektum beteken Jesus se kruisdood is afgehandel en het ’n effek in die hede (v.2, Gal. 2:20). Dit beteken Hy is nie meer gekruisig nie (v.2). Hy het opgestaan (15:4-5) en gee ons die voordele van sy kruisdood deur geloof in die prediking (1:18, 23, Rom. 10:17).
Dit beteken nie die Gees seën almal wat Christus verkondig nie. Sommige doen dit uit verkeerde motiewe (Fil. 1:15-18). Die Heilige Gees seën die prediker wat Christus met suiwer motiewe verkondig en Hom uitleef (v.2, 4). Een van wyle Martin Holdt se ouderlinge het dit persoonlik ervaar. Sy getuienis toe hy by ’n ander gemeente moes preek, was as volg: ‘When I got to Christ in the sermon, the Holy Spirit climbed in!’ Die Heilige Gees wil Christus verheerlik (Joh. 16:14). As jou leraar nie Christus verkondig nie, sê vir hom: ‘Ons wil vir Jesus sien. Skilder Hom vir ons af. Neem jou voor om niks anders as Christus die gekruisigde te ken nie. Bring my die die ou ou tyding. Bring my dieselfde tyding. Bring my die tyding dikwels’ (v.2, Gal. 3:1).
2. Die krag van Geesvervulde prediking (v.3-5)
Toe Paulus in Korinte was, het hy gesidder; hy was benoud en angstig (v.3). In Handelinge 15 het hy en sy spanmaat skerp verskil en paaie geskei. In Handelinge 16 is hy geslaan en in die tronk gegooi. In Handelinge 17 het die Jode hom vervolg. Hy moes uit twee stede vlug. In Atene was daar allerhande afgode. Min mense het positief op die evangelie gereageer. In Korinte het die Jode Paulus se boodskap verwerp (Hand. 18:6). Hy was moedeloos en wou opgee. Jesus het hom bemoedig om aan te hou (Hand. 18:9-10). Die Jode het hom aangeval, maar was onsuksesvol (Hand. 18:12-17). Buiten vir die teenkanting, was Paulus van sy eie swakheid bewus. Voor sy bekering het hy Christene vervolg (1Tim. 1:13). Hy het sonde in sy hart oorgehad en homself as die grootste sondaar beskou (1Tim. 1:15). Sy verantwoordelikheid as ’n prediker het hom laat sidder: “Want ons is ’n aangename geur van Christus aan God, vir dié wat verlos word, én vir dié wat verlore gaan —vir laasgenoemde ’n reuk vanuit die dood tot die dood, vir eersgenoemde ’n geur vanuit die lewe tot die lewe. En wie is hiertoe bekwaam?” (2Kor. 2:16). Paulus het geweet hoe mense op die prediking reageer, beïnvloed hulle ewige bestemming. Is dit enige wonder dat hy gesidder het (v.3)?
Elke prediker moet voor God se Woord bewe (Jes. 66:2). Ons gaan rekenskap van God se kudde gee en ’n strenger oordeel ondergaan (Heb. 13:17, Jak. 3:1). ’n Sekere ouderling het dit verstaan. Toe hy eenkeer moes preek, het hy en Martin Holdt voor die diens saamgebid. Toe hulle klaar was, het die ouderling se hande gebewe. Martin het gewonder wat aangaan. Die man het gesê: ‘Besef jy wat ’n verantwoordelikheid dit is om God se Woord te preek? Ek moet namens God met mense praat!’ John Knox het dit begryp: ‘I have never once feared the devil, but I tremble every time I enter the pulpit.’4 Hierdie wete het Paulus na die Here toe gedryf. Hy het geweet hy is onbevoeg en swak, en het die Here vir krag gevra (v.3-4, 2Kor. 3:5, 12:7-10).
Beproewings, versoekings, persoonlike swakheid, ’n groot sin van verantwoordelikheid, die vooruitsig van die oordeelsdag is goed vir ’n leraar. Dit dryf hom na Christus toe. As hy sukses bereik, sal hy homself nie op die skouer klop nie, maar in die Here roem (1:31, 4:7). ’n Selfversekerde, biddelose prediker hoort nie in die kansel nie. In stede daarvan dat hy die Gees vertrou, vertrou hy op manipulasie, skuldgevoelens, omkopery, oorreding en elegantheid om mense te oortuig. Die Grieke, die advertensiebedryf en Charles Finney het geweet hoe om mense sielkundig te manipuleer en op hulle gevoelens te speel. Paulus was nie so nie. Hy kon nie goed praat nie (2Kor. 10:10, 11:6). Hy het die Gees eerder as homself of menslike wysheid vertrou (v.1, 4). As ’n leraar sy briljante intellek vertrou, glo mense hom net tot iemand anders ’n slimmer argument het. Ek bedoel nie ’n prediker moet vervelig wees en swak argumente gebruik nie. ’n Vervelige prediker wys God se Woord gryp hom nie aan nie. Sy swak argumente wys hy verkondig sy eie of ander mense se idees eerder as God se Woord. God se Woord is wyser as mense en sit enige argument ore aan (1:19, 2Kor. 10:5).
Wie regtig ’n verskil wil maak, moet met erns bid en die Gees vertrou om die Woord soos ’n swaard deur die sondaar se hart te dryf (v.4, 2Tim. 2:7, Heb. 4:12). Laat hy soos Jakob met die Here worstel en sê: ‘Ek sal U nie laat gaan tot U my seën nie’ (Gen. 32:26). Laat hom met Moses sê: ‘Ek gaan nie as U nie saamgaan nie’ (Eks. 33:15). Robert Bruce (1554-1631) het dit gedoen. Toe hy by vir groepie in Skotland moes preek, het hy nie opgedaag nie. Hulle het ’n diensmeisie gestuur om hom te roep. Sy het sonder hom teruggekeer en gesê:
‘Ek hoor sy stem in die huis waar hy tuisgaan. Hy praat met iemand.’
‘Gaan haal hom,’ het hulle gesê.
‘Ek kan nie; die gespek klink ernstig.’
‘Maar dit is tyd om te begin. Met wie praat hy? Wat sê hy?’
‘Ek het gehoor hy sê: “Ek kan nie gaan tensy U saamgaan nie.” ’
‘Ah! Hy praat met die Here. Los hom. Ons sal wag tot hy klaar gebid het.’
Toe mnr. Bruce uiteindelik opdaag, het almal geweet hy was by die Here. Hulle kon dit in die boodskap hoor. Dit het met groot krag gekom en die gemeente diep geraak.5
Elia het ’n altaar gebou en bul daarop geslag. Toe hy klaar was, toe vra hy die Here om vuur uit die hemel te stuur. Net so moet elke leraar die Woord bestudeer en ’n boodskap voorberei. Maar hy moet die Here vir die vuur vertrou. Hy moet met groot erns bid en die Here vra om die boodskap effektief te maak. Soos Spurgeon moet hy met elke tree na die kansel sê: ‘I believe in the Holy Spirit, I believe in the Holy Spirit.’6 In die kansel moet hy nie sy preek aflees of aan sy notas vasklou nie. Verkorte notas is beter as ’n volledige manuskrip. Die prediker moet met vryheid kan praat. As die Gees hom ’n beter kruisverwysing, illustrasie of toepassing in sy gedagtes gee, moet hy dit nie weerstaan nie. Die Gees ken die behoefte van elke hoorder. Daarom lei Hy die prediker soms om iets op die ingewing van die oomblik te sê. Dit het met Martin Holdt gebeur. ’n Lidmaat se ongelowige man het opgehou kerk toe gaan. Hulle het vir sy redding gebid. Op ’n dag toe sê hy vir die Here: ‘Here, ek sal Sondag kerk toe gaan. As Martin Holdt oor die dood preek en ’n uitnodiging maak, sal ek my lewe aan U oorgee.’ Dit het gebeur soos hy gebid het. Martin het oor die dood gepreek en gesê: ‘Ek maak nie gewoonlik uitnodigings nie, maar vanaand gaan ek dit doen.’ Tot sy verbasing het die ongelowige man opgestaan, vorentoe gekom, en die Here aangeroep om hom te red.7 Wat sou gebeur het as Martin nie van sy notas afgewyk het nie?
Vir die prediker om God se Woord suiwer af te lewer, is nie genoeg nie. Die evangelie moenie in woord alleen kom nie, maar deur die Heilige Gees en met krag (v.4, 1Tess. 1:5). Verwys dit na wonderwerke? Miskien. Die Gees het immers die apostels bekragtig om wonders te doen. Alhoewel wonderwerke niemand red nie (1:22), het dit mense se aandag getrek om die boodskap te hoor, te glo en gered te word (Hand. 1:8, 4:30, 33, 13:12, 6-11). Onder Geesvervulde prediking openbaar God mense se gedagtes. Hy wys wat hulle op die oomblik dink. By ware prediking is daar ’n element van profesie betrokke: “Maar indien almal profeteer en ’n ongelowige of ’n oningeligte persoon kom binne, word hy deur almal tot insig gebring en tot verantwoording geroep. Die geheime van sy hart word blootgelê, en hy sal met sy gesig op die grond val, God aanbid en erken: ‘Werklik, God is in julle midde.” ’ (14:24-25).
Onder sulke sulke prediking staan mense nie onverskillig nie. Daar is ’n definitiewe reaksie. Party mense neem die waarheid aan, terwyl ander dit verwerp (Hand. 28:24). Sonder die Gees slaap mense onder die prediking. Hulle het ’n traak-my-nie-agtige houding. Al ons slim argumente maak nie ’n verskil nie. Laat elke prediker hom dan aan gebed en die bediening van die Woord wy (Hand. 6:4). Sonder die ingrype van die Gees bly mense in die greep van Satan. Hy verblind hulle om nie die waarheid te verstaan nie. Slegs waar die Gees werk, sal mense die waarheid insien en tot bekering kom (v.4, Hand. 16:14, 2Kor. 4:4-6).
Die prediker wat op sy eie of mense se wysheid staatmaak, benadeel die gemeente. Hulle geloof berus op menslike wysheid eerder as op die krag van God (v.5). So ’n leraar beteken niks vir die gemeente nie. Mense vertrou op hom, maar hy kan hulle nie verander of heilig maak nie. Paulus het dit geweet en dus die aandag van homself en ander na Christus toe gedraai; Christus die krag van God tot redding (v.2, 5, 1:12, 18, 24, 30).
Sonder die krag van die Gees in die prediking, verafgod ons maklik die prediker. Ons kyk na hom eerder as Christus (v.5). Verstaan jy hoekom ons in die Gees moet preek? As ons dit nie doen nie, bou mense hulle geloof op ons eerder as op God se Woord (v.4-5). ’n Gemeente is so sterk of swak soos sy kansel. Baie mense glo dit nie. Hulle dink hulle kan ewe sterk op hulle eie aangaan. Hulle ontken dat ’n gemeente se volwassenheid grootliks van sy kansel afhang. ’n Gemeente sonder goeie prediking is onvolwasse en swak (Ef. 4:11-16). Prediking is die hoofmiddel waardeur die Here ons red en laat groei (1:21, Rom. 10:14, 2Tim. 3:16, 4:2).
Het jy geliefdes wat onder ’n swak kanselbediening sit? Ek reken jy kan sien hulle is geestelik anemies. Moenie net vir hulle groei bid nie; bid vir ’n leraar wat hulle volgens v.1-5 sal bedien. Jy sal sien hoe hulle groei en die Here baie van hulle persoonlike probleme oplos.
Ons benodig sulke prediking. Bid dit vir jou gemeente en die kerk in Suid-Afrika. Jy sal alleenlik so bid as jy saam met Spurgeon glo ons beste pogings sonder die Heilige Gees is tevergeefs: ‘It were better to speak six words in the power of the Holy Ghost...than to preach seventy years of sermons without the Spirit.’8 ‘We might preach till our tongues rotted, till we should exhaust our lungs and die, but never a soul would be converted unless there were mysterious power going with it—the Holy Ghost changing the will of man. O Sirs! We might as well preach to stone walls as preach to humanity unless the Holy Ghost be with the Word, to give it power to convert the soul.’9
1 Iain H. Murray, Jonathan Edwards: A New Biography (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1987), 191.
2 Stuart Olyott, Preaching—Pure and Simple (Bridgend, Wales: Bryntirion Press, 2005), 159-60.
3 Charles Spurgeon, Lectures to my Students (London: Marshall, Morgan & Scott, 1954), 47.
4 Steven J. Lawson, Famine in the Land: A Passionate Call for Expository Preaching (Chicago: Moody Publishers, 2003), 94.
5 John Howie, The Scots Worthies (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1995 [1870]), 147-8, 150.
6 John Stott, I Believe in Preaching (London: Hodder & Stoughton, 1982), 334.
7 Rex Jefferies, The Man in the Gap: The Life and Ministry of Martin Petersen Holdt (Wapwallopen, PA: Shepherd Press, 2020), 64-5.
8 Stott, ibid., 334.
9 Ibid., 335.