Efesiërs 4:1-6
Liberale teoloë en Pous Francis sê alle godsdienste is een. Ons land se leerplan vir skole sê alle godsdienste is gelyk. Selfs in die kerk wil mense hê ons moet inklusief preek. ‘Doctrine divides!’ is hulle kreet. In die vorige eeu het ’n Walliese uitsaaier, Aneirin Talfan Davies, vir Martyn Lloyd-Jones gevra: ‘Don’t you think Evangelical Christians are causing division in the church?’ Dit het hy gevra omdat Evangeliese Christene nie met die liberales handevat nie. Lloyd-Jones het sy man gestaan en gesê dat Christene se eenheid in die waarheid van Jesus en evangelie gesetel is. Dit is presies wat Paulus in Ef. 4:1-6 sê.
1. ’n Oproep tot geestelike eenheid (v.1-3)
Paulus koppel 4:1-16 se geestelike eenheid aan Efesiërs 1-3: “Daarom spoor ek julle aan...om so te leef dat julle die roeping waarmee julle geroep is, waardig is” (v.1). Dit is asof hy sê: ‘Omdat God ons—Jode en heidene—uit genade deur geloof in Christus red, moet ons nou as geredde mense lewe’ (v.1).
Prakties beteken dit ons is nie een met individue en godsdienste wat Paulus se evangelie in Efesiërs 1-3 verwerp nie. Vir hierdie evangelie sou Paulus in die tronk sit en sy lewe gee (v.1, Hand. 20:23-24). Terwyl hy in die tronk was, het hy homself nie bejammer nie, maar vir die Efesiërs geskryf om so te lewe dat hulle Christus verheerlik (v.1).
Hoe lyk ’n lewe wat Jesus verheerlik? Dit begin by nederige denke oor jouself (v.2). Jy onthou wie jy was en is nie trots op jou verlede nie. Jy weet daar is nog sonde in jou en dat jy Jesus elke dag nodig het. Hierdie wete maak jou sagmoedig teenoor mense wat teen jou sondig (v.2, Gal. 6:1, Heb. 5:2). Jy is geduldig met hulle en verdra hulle uit liefde, want jy onthou hoe die Here jou verduur (v.2).
Die ongeestelike persoon doen dit nie. Die afwesigheid van die Gees in hom beteken hy ander se sonde meer as sy eie. Dit maak hom ongenaakbaar, hoogmoedig, ongeduldig, onverdraagsaam en liefdeloos, wat op sy beurt weer tot verdeeldheid lei (Gal. 5:22-23, Fil. 2:3-4, Judas 19). En wie verdeeldheid saai, lewe nie soos ’n Christen nie, maar soos ’n ongelowige (v.1, 1Kor. 3:3). Volgens Rom. 16:17 en Tit. 3:10-11 moet ons sulke mense vermy.
In ’n vriend en kollega se gemeente hanteer hulle op die oomblik so ’n saak. ’n Klein groepie staan die gemeente se leiers teë en beïnvloed ander om dieselfde te doen. Die leiers het die mense se besware aangehoor. Dit is ongeldig en kleinlik. Omdat die mense verdeeldheid saai, het die leiers besluit om hulle streng aan te spreek. Indien hulle geen berou toon nie, sal hulle uit die gemeente verwyder word.
Waarom die drastiese optrede? Want waar daar eenheid is, sien die wêreld Jesus as die Messias en die Seun van God, en ons as sy dissipels (Joh. 13:34-35, 17:23). As ons verdeeld is, sit dit mense van Jesus af.
Is jy verdeeld met ’n ander Christen? Gaan maak reg (Matt. 5:23-24). Praat mooi met die persoon wat teen jou gesondig het (Matt. 18:15-17). Moenie bitter wees nie, maar vergewe hom soos die Here jou vergewe (Mark. 11:25, Ef. 4:32). Doen alles moontlik om dinge reg te maak; oorwin die kwaad met die goeie (Rom. 12:18-21). Soek vrede en bewaar die eenheid waarvoor Jesus gesterf en die Gees in ons bewerk (v.3, 2:14-18, 22). Onderlinge vrede is die ligamente wat die liggaam bymekaar hou en dit aanmekaar heg (v.3, Gk. sundesmos, Kol. 2:19). Wie vrede soek, soek die Gees se guns, salwing, lewe en seën (Psalm 133). Iemand wat met ander baklei, skeur die ligamente en benadeel die hele liggaam.
2. Die basis vir geestelike eenheid (v.4-6)
In Christus is ons reeds een liggaam met Hom as ons Hoof (5:23). Wie die liggaam verdeel, benadeel homself en gee homself ’n blou oog of ’n bloedneus. ’n Liggaam wat homself aanval, is siek; dit het ’n outo-immuunsiekte. Paulus rig ’n ernstige waarskuwing aan dié wat die liggaam van Christus verdeel: “Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skade aandoen, sal God hom skade aandoen; want die tempel van God is heilig, en dié tempel is julle.” (1Kor. 3:16-17).
’n Gemeente wat teen homself verdeeld is, is abnormaal. Ons is immers een liggaam met dieselfde Gees van die Vader en Seun in ons (v.4, Rom. 8:9, Gal. 4:6). Soos die Vader, die Seun en die Heilige Gees een is (Matt. 28:19), word ons deur geloof een met Hom en met mekaar (v.4-6, 3:16-17, 19, Joh. 17:21-22). Soos reeds gesien is dit die Gees wat hierdie eenheid skep (v.3-4). Ons eenheid met die een Gees, beteken ons is nie een met mense wat die selfgerigte gees van die wêreld of ’n demoniese gees in hulle het nie (1Kor. 2:12, 2Kor. 6:14-16).
Ons nie een met dié wat vir die hier en nou lewe nie. Ons is met dié wat dieselfde hoop as ons het; die hoop van ’n nuwe hemel en aarde waar geregtigheid heers; die hoop van ’n opstandingsliggaam soos Jesus s’n (v.4, Rom. 8:23, 1Joh. 3:2, 2Pet. 3:13).
Ons is een met dié wat dieselfde Here as ons aanroep (v.5, 1Kor. 1:2). Dit is nie genoeg dat hulle Hom Here noem nie—hulle moet doen wat Hy sê (Luk. 6:46, Joh. 14:15). Anders is ons nie een met hulle nie: “...watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter verbondenheid kan daar wees tussen lig en duisternis? En watter ooreenstemming is daar tussen Christus en Belial, of wat het 'n gelowige gemeen met ’n ongelowige?” (2Kor. 6:14-15).
Ons is een met almal wat dieselfde reddende en Christelike geloof as ons deel (v.5, 2:8-9, Rom. 3:28, 1Tim. 3:9, Judas 3). Ons is nie een met mense van ander gelowe nie. Op Mandela se begrafnis het ’n Moslem, ’n Hindoe, ’n Christen en ’n Jood saam gebid. Hierop het twee mense in ons gemeente gesê: ‘Wonderlik! Dit is goed dat mense van verskillende gelowe in gebed saamkom.’ My reaksie was: ‘Nee tannie, dit is nie wonderlik nie. Dit is sleg, want ons aanbid nie dieselfde God as hulle nie.’ Jesus is die enigste Weg na die Vader (Joh 14:6). As iemand die Seun ontken, ontken hy ook die Vader (1Joh. 2:23).
Is ons een met Christene wat babas doop? Iemand het vir my gesê: ‘As jy nie onderdompel is nie, weet ek nie of jy hemel toe gaan nie.’ Was hy reg? Wat beteken Paulus se ‘een doop’ (v.5)? Wat my betref, verwys hy na doping met die Heilige Gees waarvan die waterdoop ’n illustrasie is (Hand. 10:47). Ons eenheid lê in die innerlike realiteit en nie in die uiterlike ritueel nie. Paulus sê in 1Kor. 1:17 en 12:13: “Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig… En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop—Jode of Grieke, slawe of vrymense—en ons is almal met een Gees deurdrenk.” Ek sê nie die doop is onbelangrik nie, maar die Gees, nie die water nie, is wat ons saambind (v.3-5). Anders moet ons sê ons is een met Simon die Towenaar, omdat hy onderdompel is (Hand. 8:13, 18-23), maar nie met ’n Gees-gedoopte Christen in die NG Kerk nie.
Die waarheid is God se Gees en die bloed van Jesus maak ons een, nie ons denominasie nie (v.4-6, Op. 5:9). Deur Jesus en die Heilige Gees het ons dieselfde Vader (v.6). As die Skepper is God ons Vader en die bloudruk vir elke familie in die hemel en op aarde (3:14-15). Daarom noem die Bybel engele en selfs ongelowiges seuns van God en sy nageslag (Deut. 32:8, Job 1:6, Hand. 17:28b). Soos Adam is hulle deur skepping die seuns van God (Luk. 3:38).
In ’n reddende sin egter is God net die Vader van dié wat in Jesus glo en deur Hom aangeneem is (Rom. 8:15, Gal. 3:26). Dit is wat Paulus in v.6 bedoel: “een God en Vader van almal”. Dit gaan nie oor ’n ekumensie eenheid of ‘universal Fatherhood of God and universal brotherhood of man’ nie. Laasgenoemde dink almal aanbid dieselfde God. Volgens hierdie mense gaan Moslems, Hindoes en selfs ateïste hemel toe, solank hulle opreg is. Paulus sê God is net ons Vader in Christus (1:5). Hy regeer oor alles en almal (v.6), maar deur die Heilige Gees woon Hy in dié wat Jesus as hulle Here bely en Hom gehoorsaam (v.4-6, Joh. 14:23).
As God in elke gelowige bly, kan ons nie soos party mense sê Christene hoef nie deel van ’n gemeente te wees nie. Hoe kan jy van die Hoof deel wees, as jy nie deel is van die liggaam nie (1:22-23)? Hoekom wil jy in die hemel van die kerk deel wees as jy dit nie op aarde is nie (Heb. 12:22-23)? As God jou Vader is, is die hemelse Jerusalem of kerk jou moeder: “Maar die Jerusalem daarbo is vry; sy is ons moeder!” (Gal. 4:26). Vandaar Cyprianus (200-58 n.C.) se stelling: ‘He cannot have God for his Father, who has not the church for his mother.’1
Moet Jesus asseblief nie as Here bely as jy kerkloos of kerklos is nie. Hy het sy lewe vir die kerk gegee (5:25, Hand. 20:28). Dit is jammer baie wat bely hulle is Christene, doen nie dieselfde nie. Mark Jones sê: ‘...Jesus went to the cross more willingly than his people go to church.’2
Wy jou lewe aan die kerk vir wie Jesus sy bloed gestort het. Bely dan saam met John MacArthur: ‘The church is your nation. The church is your country. The church is your state. The church is your city. The church is your tribe. The church is your ethnicity. The church is your family. The church is the realm of your most essential and all-satisfying relationships. That was made clear when you were delivered from this present world, when you were transferred from the kingdom of darkness into the kingdom of God’s dear Son. The church is your life. You don’t love the world, you love the church; that’s who you are as a Christian. The church is not something you do on Sunday, the church is where you live your entire life, and where all your essential needs, and purest desires, and holy aspirations and longings are met.’3
1 Cyprian of Carthage, Treatises, 1.6
2 Mark Jones, Knowing Christ (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2015), 160.
3 https://www.gty.org/library/sermons-library/81-8/your-responsibility-to-the-church-part-1