Coram Deo Cover Image

Coming soon...

9 October 2022

Die Heilige Gees: Die Gewer van lewe

Verskeie Tekste

Ter voorbereiding vir hierdie boodskap het ek Jer. 33:3 gebid: “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord; Ek wil aan jou groot en onbegryplike dinge bekend maak wat jy nie geweet het nie.”1 Die Here het my gebed verhoor en dinge van die Heilige Gees geleer wat ek nie geweet het nie. Ek loof en bewonder die Heilige Gees. Ek bely dat Hy die Here en Gewer van lewe is.2

 

1. Die eerste skepping

Ons weet die Vader en die Seun het geskep (Spr. 8:22-31, Kol. 1:16, Hand. 4:24), maar wat van die Heilige Gees? Die God wat die heelal in Gen. 1:1 geskep het, is Elohim. Die Hebreeuse Naam is ’n enkelvoudige stam met ’n meervoudige uitgang: die enkelvoudige Skepper is meer as een Persoon. Volgens Gen. 1:2-3 het God, die Gees en die Woord alles geskep (Gen. 1:2-3). In Gen. 1:26, 3:22, 11:7, Jes. 6:8 praat die enkelvoudige God van Homself as ‘ons’.

Hoe het Hy alles geskep? Die Vader het die opdrag gegee (Gen. 1:14, 20); sy Seun of Woord het dit uitgevoer (Gen. 1:16, 21, Ps. 33:6a, 9, Joh. 1:1-3, Heb. 11:3). Wat van die Heilige Gees? Hy het oor die rou vorm van die skepping gebroei en orde uit die wanorde gebring (Gen. 1:2, Jes. 45:18). Deur sy werk het die skepping ordelik geskied. Op dag 1 tot 3 het Hy die habitat geskep en op dag 4 tot 6 het Hy dit ingevul. Soos ’n voël oor haar nes sweef en die kuikens uitbroei, het God se Gees oor die waters gesweef en lewe laat uitbroei (Gen. 1:2, Deut. 32:11, Heb. rachaph, 2Pet. 3:5). God se Gees het die hemelkoepel, land en oseane geskep en dit met lewe en skoonheid gevul (Gen. 1:2, 3-31):

“Deur die woord van die Here is die hemele gemaak en deur die asem (Heb. ruach) van sy mond die hemel se hele leër. Hy hou die water van die see soos in ’n dam bymekaar; Hy gaar die oerwaters op in voorraadkamers.” (Ps. 33:6-7). Die Hebreeuse woord ruach beteken asem, wind of gees.

“Deur sy asem (Heb. ruach) maak Hy die hemel helder” (Job 26:13).

“Wie kan die waters in die holte van sy hand afmeet, die hemel met sy handspan peil, met ’n derde van ’n efa die stof van die aarde opvang, met ’n handskaal die berge weeg, die heuwels met ’n weegskaal? Wie kan die Gees van die Here peil, wie is die mens wat aan Hom sy raadsbesluit bekend maak? Met wie beraadslaag Hy, en wie hou Hom op hoogte, wie onderrig Hom oor die verloop van ’n regsaak? Wie dra aan Hom kennis oor, en die pad van wyse beskikking, wie maak dit aan Hom bekend?” (Jes. 40:12-14). Die Heilige Gees het self besluit hoe Hy die hemelruim, oseane, berge en sand wil skep; niemand het Hom raad gegee nie.

“Wanneer ek na u hemelruim kyk, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U gevestig het” (Ps. 8:4). God se vingers het die maan en die sterre geskep. In Luk. 11:20 en Matt. 12:28 praat Jesus van die Heilige Gees as die vinger van God.

Stel jou voor: een oomblik was die land kaal en die volgende oomblik was dit vol lewe, kleur en groen. Seisoene, bloeisels, reën, spruitjies, sonlig, vrugte, lammers, kuikens, paddavissies, kalfies is alles die werk van God se Gees: “U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.” (Ps. 104:30, Ou Vertaling). Ook die die mens is die werk van die Heilige Gees. Die Gees het lewe in Adam se lewelose vorm geblaas en die mens na sy beeld gemaak (Gen. 2:7, 1:26). In die baarmoeder weef die Heilige Gees ’n baba met sy unieke vingerafdrukke en menslike gees aanmekaar:

“ja, solank as wat my asem nog in my is, die lewensasem (Heb. ruach) wat God gee, nog in my neus is” (Job 27:3).

“Die Gees van God het my gemaak; die asem van die Almagtige hou my lewend.” (Job 33:4).

Waarheen kan ek gaan, weg van u Gees; waarheen kan ek vlug, weg van u teenwoordigheid?... Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het. Ek prys U omdat ek op ’n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed. My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde.” (Ps. 139:7, 13-15).

“Soos wat jy nie weet watter weg die gees volg in die gebeente binne die buik van ’n swanger vrou nie, net so ken jy nie die werk van God wat alles doen nie.” (Pred. 11:5). Die Heilige Gees skep ’n menslike gees vir elke baba.

“Terwyl hy daaroor nagedink het, het daar skielik ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: ‘Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees.” (Matt. 1:20).

“Die engel het haar geantwoord: ‘Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees; Hy sal Seun van God genoem word.” (Luk. 1:35).

Die Heilige Gees se werk eindig nie by geboorte nie. Hy hou jou aan die lewe en gee jou die nodige lewensmiddele om te bestaan: “U goeie Gees het U gegee om aan hulle insig te gee; u manna het U nie van hulle monde weerhou nie; en water het U vir hulle gegee om hulle dors te les. Veertig jaar lank het U hulle onderhou in die woestyn; hulle het geen gebrek gely nie; hulle klere het nie verslyt nie, en hulle voete het nie geswel nie.” (Neh. 9:20-21). “As Hy net aan Homself sou aandag gee, sy Gees en asem by Homself sou hou, sal alles wat leef, saam tot niet gaan, en die mens tot stof terugkeer.” (Job 34:14-15). God gee alles wat ons nodig het deur die Heilige Gees (Hand. 17:25, Luk. 11:11-13). Hy doen dit vir die hele skepping. Jesus onderhou die skepping deur sy magswoord (Heb. 1:3, Kol. 1:17). Hy doen dit deur die Heilige Gees wat die diere bymekaar bring:

In haar vestings sal dorings opkom—brandnetels en sydissels in haar versterkte stad. Dit sal ’n lêplek vir jakkalse wees, ’n blyplek vir steenuile. Woestyndiere sal hiënas daar raakloop, veldgode sal na mekaar roep. Ja, Lilit sal daar draal en vir haar ’n rusplek vind. Daar sal ’n uil nesmaak en eiers lê, daarop broei, en dit in haar skaduwee uitbroei. Ja, daar sal jakkalsvoëls saamkom, elkeen by haar maat. Gaan dit na in die boekrol van die Here, en lees: Nie een van hulle ontbreek nie, nie een sal haar maat mis nie; want die mond van die Here het dit beveel, en sy Gees, Hy maak hulle bymekaar.” (Jes. 34:13-16, eie beklemtoning).

Waar die Heilige Gees onttrek, vrek bome, val voëls op die grond, dryf visse, en sterf mense: “U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof. U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.” (Ps. 104:29-30, Ou Vertaling).

Eer die Heilige Gees as die Gewer van lewe. Heers oor die skepping wat Hy gemaak het (Gen. 1:28). Moet dit nie besoedel nie. Sorg vir jou troeteldiere (Spr. 12:10), maar moet hulle nie verafgod nie (Rom. 1:23). Wys respek vir ander mense se lewe. Moenie vir politieke partye stem wat aborsie voorstaan nie (Eks. 20:13). Sorg vir jou gesien; sien om na die weduwees en weeskinders; moenie jou werknemer se salaris terughou nie (1Tim. 5:8, Jak. 1:27, Jak. 2:15-16, 5:4). Koester die lewe wat God se Gees jou gee; prys Hom met die asem en liggaam wat Hy jou gee, en verheerlik Hom in alles (Ef. 5:18, 29, Ps. 150:6, Dan. 5:23, Rom. 6:13, 12:1, 1Kor. 6:19-20, 10:31). Moenie jou lewe neem nie, maar bewaar jou siel vir die ewige lewe (Matt. 27:5, Luk. 9:24). Wie sy eie en ander mense se lewe vertrap, wys min respek vir die Heilige Gees, die Gewer van lewe.

 

2. Die nuwe skepping

Tydens ’n radio gesprek het ’n predikant gesê: ‘Die nuwe hemel en aarde het reeds begin.’ Hy is reg. Paulus sê: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan—kyk, hulle het nuut geword.” (2Kor. 5:17, eie beklemtoning). “Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef... Ja, trek die nuwe mens as kleed aan, wat in ware geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskep is.” (Ef. 2:10, 4:24, eie beklemtoning). “en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word.” (Kol. 3:10, eie beklemtoning).

Na sy opstanding het Jesus op die dissipels geblaas en gesê: “Ontvang die Heilige Gees!” (Joh. 20:22). Dit herinner my aan Gen. 2:7 waar God sy lewensasem in Adam se neus geblaas het. Johannes se punt is dat Jesus deur sy Gees ’n nuwe skepping en ’n nuwe mens maak. God se Gees is die Gewer van nuwe lewe; die Skepper van ’n nuwe geboorte: 

“Ek sal vir julle ’n nuwe hart gee, ’n nuwe gees sal Ek in julle binneste gee; Ek sal die hart van klip uit julle liggame verwyder en vir julle ’n hart van vlees gee. My Gees sal Ek in julle binneste gee. Ek sal daarvoor sorg dat julle my vaste voorskrifte volg en dat julle my bepalings nakom en uitvoer.” (Eseg. 36:26-27). 

“As iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie binnegaan nie.” (Joh. 3:5).

“Dit is die Gees wat lewend maak; die vlees is van geen nut nie. Die woorde wat Ek tot julle gespreek het, is Gees en is lewe.” (Joh. 6:63).

“Maar as Christus in julle is, is die liggaam, as gevolg van die sonde, wel dood; daarenteen, op grond van die regverdiging, is die Gees lewe.” (Rom. 8:10).

“...die Gees maak lewend... Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.” (2Kor. 3:6, 17).

“Want God wat gesê het, ‘Laat daar uit die duisternis lig skyn,’ dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus.” (2Kor. 4:6). God se Gees het hierdie lig in ons harte kom skyn.

“wat die onvergelykbare grootheid van sy mag is, vir ons wat glo ooreenkomstig die werking van sy groot krag, wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele” (Ef. 1:19-20).

“het Hy ons verlos—nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming—by wyse van die afwassing deur die weergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees” (Tit. 3:5).

Hoe word iemand ’n nuwe skepping; hoe word iemand weergebore? Dit gebeur nie deur die mens se wil of deur die doop nie (Gal. 6:15, Hand. 8:13, 21-23). Jy het so min aandeel aan die nuwe geboorte as aan jou natuurlike konsepsie en geboorte. Die Heilige Gees is jou Maker; Hy het jou ’n nuwe skepping gemaak (Ps. 95:6-7, Heb. 3:7). Weergeboorte is die werk van God alleen:

“Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word—hulle wat in sy Naam glo. Hulle is nie uit bloed nie, ook nie uit liggaamlike drang nie, ook nie uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore.” (Joh. 1:12-13, eie beklemtoning).

“’n Vrou uit die stad Tiatira, ’n purperhandelaar met die naam Lidia, wat God vereer het, het ook geluister, en die Here het haar hart oopgemaak om ag te slaan op wat Paulus gesê het.” (Hand. 16:14, eie beklemtoning).

“Julle was dood deur die oortredings en sondes... Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak—uit genade is julle verlos!” (Ef. 2:1, 5).

Volgens sy wil het Hy ons verwek deur die woord van die waarheid, sodat ons eerstelinge van sy skepsels kan wees.” (Jak. 1:18, eie beklemtoning).

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode” (1Pet. 1:3, eie beklemtoning). 

Die Heilige Gees wederbaar wie, waar, soos en wanneer Hy wil. Sy werk is onsigbaar soos die wind, alhoewel jy die effek daarvan kan sien: “Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Joh. 3:8). Wat is die effek van die Gees se werk in iemand se lewe? Die eerste effek is geloof: “Everyone who believes that Jesus is the Christ has been born of God” (1Joh. 5:1, ESV). Baie mense dink weergeboorte is die gevolg van geloof, maar die Bybel sê dit andersom: jy ontvang eers nuwe lewe (Tit. 3:5-6, Ef. 2:5, Joh. 3:3-8), daarna glo jy in Christus (Tit. 3:7, Ef. 2:8-9, Joh. 3:15-16). Jou geestelike oë gaan eers oop, daarna sien en glo jy die waarheid. ’n Baba huil, omdat hy gebore is; hy word nie gebore, omdat hy huil nie. Jy roep vir verlossing, omdat die Gees jou hart vernuwe het; die Gees vernuwe nie jou hart, omdat jy glo nie.

Glo jy in Jesus Christus? Vertrou jy Hom as jou Verlosser? Lewe jy gehoorsaam? Haat jy sonde en maak jy dit dood? Het jy ander gelowiges lief? Draai jy jou rug op die wêreld? Is jy skoon gewas? Dra jy die vrug van die Gees (Gal. 5:22-23). Dan is jy weergebore (1Joh. 2:29, 3:9, 4:7, 5:4, 18, 1Kor. 6:11).

Maar dit stop nie daar nie. Die Heilige Gees messel jou as ’n lewende steen vas in sy kerk: “In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.” (Ef. 2:22). Deur die water van die Woord en die geestelike gawes laat Hy jou groei en goeie vrugte dra: “So iemand sal wees soos ’n boom geplant langs watervore, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verdor nie. Alles wat hy aanpak, gedy.” (Ps. 1:3). “totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn ’n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir ’n bos gereken.” (Jes. 32:15, vgl. Gal. 5:22-23). “En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop—Jode of Grieke, slawe of vrymense—en ons is almal met een Gees deurdrenk.” (1Kor. 12:13).

By die wederkoms sal die Heilige Gees jou ’n perfekte nuwe liggaam gee (Rom. 8:11); nie ’n stoflik liggaam soos Adam s’n nie (Gen. 2:7, 3:19), maar ’n onsterflike, kragtige, gesonde jong liggaam wat deur die Heilige Gees beheer word:

“So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid; wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid; wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag. Wat gesaai word, is ’n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is ’n geestelike liggaam. As daar ’n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam. So staan daar immers geskryf: ‘Die eerste mens, Adam, het ’n lewende wese geword.’ Die laaste Adam het egter ’n lewendmakende Gees geword. Die geestelike liggaam is egter nie eerste nie, maar wel die natuurlike menslike liggaam; daarna kom die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde, en stoflik; die tweede ’n mens uit die hemel. Soos die aardse mens, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens, so ook die hemelse mense. Soos ons die beeld van die stoflike mens gedra het, so sal ons die beeld van die hemelse mens dra.” (1Kor. 15:42-49).

Die Heilige Gees wederbaar en herskep nie net die mens se liggaam en gees nie, maar Hy sal die aarde wederbaar en herskep (2Pet. 3:13, Op. 21:1). Jesus praat van die nuwe skepping as die wedergeboorte (Matt. 19:28, Gk. paliggenesia). Die nuwe aarde sal beter as die tuin van Eden wees. In watter opsig? Soos reeds gesê, die mens sal ’n verheerlike liggaam hê en nie ’n stoflike een soos Adam nie. Op die nuwe aarde sal daar geen duiwel of versoeking wees soos in die tuin van Eden nie; geen moontlikheid om sonde te doen en te sterf nie (Gen. 2:7, 15-17, 3:1). Die Vader, die Seun en die Heilige Gees sal ons lewe op die nuwe aarde wees (Hand. 17:28, Kol. 3:4, Joh. 17:3, 7:37-39, Gal. 6:8, Op. 22:1-2). God se eie lewe is joune: “sodat julle deel kan kry aan die goddelike natuur” (2Pet. 1:4)!

Wat ’n voorreg om in die Drie-Enige God se Naam gedoop te wees (Matt. 28:19). Wat ’n genade dat Hy deur sy Gees in ons woon (Joh. 14:17, 23, Rom. 8:9, Ef. 3:16-19). Laat ons Hom nie bedroef nie (Ef. 4:30), maar laat ons Hom bewonder en doen wat Hom die meeste behaag, naamlik om Christus te verheerlik (Joh. 16:14). Die nederigheid van God se Gees om die kollig op Jesus te skyn, maak dat ek Hom net meer bewonder. Dit laat my saam met die ou Puritein bid:

O God the Holy Spirit,

Thou who dost proceed from the Father and the Son,

        have mercy on me.
When thou didst first hover over chaos,

        order came to birth,

        beauty robed the world,

        fruitfulness sprang forth.
Move, I pray thee, upon my disordered heart;

Take away the infirmities of unruly desires and hateful lusts;

Lift the mists and darkness of unbelief;

Brighten my soul with the pure light of truth;

Make it fragrant as the garden of paradise,

        rich with every goodly fruit,

        beautiful with heavenly grace,

        radiant with rays of divine light.3


1  Aanhalings is uit die 2020 Vertaling.

2  Belydenis van Nicea (325; hersien in 381 te Konstantinopel en 589 te Toledo). Sien Wayne Grudem, Systematic Theology (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1994, 2007), 1169

3  Arthur Bennett (ed.), The Valley of Vision: A Collection of Puritan Prayers & Devotions (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1975), 30

Kategorieë