Coram Deo Cover Image

Coming soon...

29 December 2022

Die Heilige Gees: Die Belofte van die hemel

Efesiërs 1:13-14

In 2004 het ons ’n leiersvergadering op ’n plaas in Hectorspruit gehad. Dit was 40°C. Later die middag het stormwolke saamgepak. Dit was dreigend en daar was weerlig. Almal het in hulle karre gespring en na Nelspruit toe teruggekeer. Die volgende dag toe vra ek die eienaar van die plaas:

‘Hoeveel het dit toe gereën?’

‘Niks!’

“Stapelwolke en wind sonder enige reën, so is ’n man wat spog oor ’n geskenk waaroor hy lieg.” (Spr. 25:14).1

God se beloftes is nie so nie. Hy hou elke een van sy beloftes (Jos. 21:45, Heb. 6:18). Efesiërs 1 leer ons van sy grootste belofte en die voordeel wat dit vir gelowiges inhou.

 

1. Wie word verseël? (v.13a)

God die Vader het ons al sy seëninge in Christus gegee (v.3). Een van hierdie seëninge is die verseëling met die Heilige Gees (v.13). Dit is vir Jode en heidene wat in Christus glo (v.13, 2:12, 19, Gal. 3:14), en is ’n sambreel-seën waaronder die res val. Dit is deur die Gees wat God sy seën na ons harte toe bring (Luk. 11:13). Ons ontvang hierdie verseëling deur geloof in die evangeliewoord (v.13). Die Grieks is dubbelsinnig en kan beteken jy word verseël sodra jy glo, of nadat jy tot geloof gekom het. Na my mening maak dit nie ’n verskil nie. Sommige teoloë en predikers dink egter dit maak ’n verskil. Martyn Lloyd-Jones glo byvoorbeeld jy kan tot geloof kom en jare later met die Heilige Gees verseël word. Hy maak hierdie afleiding, omdat v.13 sê ons word met die Gees verseël ná ons in Christus glo.2

Jy kan inderdaad gered wees sonder dat jy sekerheid het. Maar soos die seëninge in v.3-12 vir elke gelowige bedoel is, is dit met die verseëling van die Heilige Gees (v.13). Tog beteken dit nie verseëling hou op na jy die eerste keer glo nie. By tye vernuwe God sy seël in jou hart en maak die indruk duideliker. Hy gee jou ’n groter sin van sy beloftes; Hy verseker jou van die hemelse titel-akte en sê dit is vir jou persoonlik: “...[julle is] verseël met die Heilige Gees, wat beloof is. Die Gees is die waarborg van ons erfenis...” (v.13-14). “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ‘ja’; daarom sê ons deur Hom ‘amen’ aan God, tot sy eer. Dit is God wat ons saam met julle in Christus ’n vaste fondament gegee het, en ons gesalf het, wat ons ook verseël en die Gees as waarborg in ons harte gegee het.” (2Kor. 1:20-22).

In sommige gelowiges verdiep God die seël van sy Gees voor, gedurende, of na ’n tyd van lyding (Rom. 8:15-27). Dit het al twee keer met my gebeur. In 2007 het ek twee weke van hemel op aarde beleef. Ek kon nie anders nie as om voortdurend te bid en my oor die Here te verwonder. In 2008 het ek deur ’n geweldige beproewing gegaan. Dit is asof die Here my vir die lydingstyd voorberei het deur my van sy liefde te verseker. In Maart 2018 het God die seël van sy Gees in my hart ingeprent. Weereens het ek die Here bewonder en sy Naam geprys. Ek kon tot laat in die nag bid eerder as om te slaap. Van Mei tot Oktober 2018 het ek deur een van die grootste beproewings in my lewe gegaan. Weereens het die Here my vooraf verseker: ‘Wanneer die beproewing kom, moet jy nie dink Ek het jou vergeet nie. Ek is jou God en jy is my kind.’

Deur lyding maak God die hart nederig en sag. Nou is jy gereed vir ’n dieper indruk van God se seël; vir ’n groter ervaring van sy liefde, jou kindskap, God se blydskap en sy beloftes (Rom. 5:5, Gal. 4:6, 1Pet. 1:8, 2Pet. 1:4).3 Martyn Lloyd-Jones het dit in 1949 ervaar. Hy het intense aanslae van die duiwel beleef. Die Woord het hom nie opgetel nie, en sy gebede was hol. Hy was desperaat vir die Here se hulp. Een oggend was hy bewus van ’n bose teenwoordigheid in die kamer. Niks het gehelp om dit te verander nie. Terwyl besig was om aan te trek, toe sien hy ’n preek van Arthur Pink op die bed. Die woord ‘heerlikheid’ het sy oog gevang. Skielik het die Here hom met ’n sin van sy heerlikheid en liefde oorweldig. Dit was hemels en het hom geweldig bemoedig.4

In party gelowiges verdiep God die seël of indruk van sy Gees voor hulle sterf. Sodoende verseker die Here hulle van hulle hemelse erfenis (v.14). Stefanus het dit ervaar. Voor hy gesterf het, was hy vol van die Gees en het hy Christus se heerlikheid gesien (Hand. 7:55-56). ’n Oom in ons gemeente het aangevoel hy gaan binnekort sterf. Dit het hom angstig gemaak. Een oggend toe lees hy Jonathan Edwards se lering oor die hemel. Sy siel was vol van die heerlikheid van die Here. Hy was in ekstase en het die Here bewonder. Sy angs het verdwyn; hy het van alles rondom hom vergeet en die Here aanbid. Hy het ’n onbeskryflike vrede ervaar. Drie maande later het die Here hom kom haal.

Hierdie werk van God is veral nodig in die vervolgde kerk waar Christene vir hulle geloof moet sterf. God verdiep ook die seël as ’n Christen ’n moeilike sterfbed het deur die duiwel wat hom laat twyfel. Die Here verdiep sy seël soos, waar, wanneer en met wie Hy wil. Hy ken elke gelowige se nood en werk verskillend met elkeen. Niemand kan sy hand forseer nie. Maar jy kan jou hart in ’n plek omskep waar die Heilige Gees tuis voel. Hoe doen mens dit? Bely jou sonde, omdat dit sal keer dat God die seël van sy Gees by jou inprent: “En bedroef nie die Heilige Gees van God, deur wie julle met die oog op die dag van bevryding verseël is nie.” (4:30).

Waar die Heilige Gees sy teenwoordigheid onttrek, voel jy geestelik dood. John Bunyan beskryf dit mooi. In sy boek, The Holy War, bou koning Shaddai en sy Seun Emmanuel ’n stad genaamd Mansoul. Die stad het vyf poorte: Oorhek, Ooghek, Mondhek, Voelhek, en Neushek. Op ’n dag toe bedrieg Diabolus die stadsmense om Oorhek vir hom oop te maak. Hy het die stad binnegedring en verwoesting gesaai. Prins Emmanuel het gekom en die stad beleër. Na ’n geweldige stryd het Hy Diabolus verdryf en die stad teruggewen. Hy het die stad se inwoners vergewe en tussen hulle kom woon. Gereeld het mnr. Gewete en sy hoofprediker, Heer Sekretaris (die Heilige Gees), die Prins se wette aan die stad voorgehou. Alles het goed gegaan, totdat mnr. Vleeslike Gemak die stad oortuig het om terug te sit en gemaklik te wees. Hulle het opgehou waak en nie meer by Prins Emmanuel se kasteel gaan kuier nie. Hulle het hulleself begin vertrou. Suutjies en met groot hartseer het Prins Emmanuel die stad verlaat. Mnr. Godvresend het die inwoners vertel wat gebeur het. Hulle was hartseer en jammer oor wat hulle gedoen het. Hulle het Heer Sekretaris gesmeek om die Prins terug te roep. Maar Hy was bedroef en het geweier om hulle te sien. Hy het hulle verskonings geïgnoreer, omdat hulle steeds met Diabolus se navolgers bevriend was.5

Om die Heilige Gees se guns te wen, moet jy jou sonde bely en laat staan. As die bloed van Christus jou reinig, sal die Gees volg (Ps. 51:9-13) net soos Israel se priesters olie gesmeer het waar die bloed reeds was (Lev. 14:14, 17). Vra die Heilige Gees om jou gebede te lei (2:18, Rom. 8:26-27). Toe Mansoul die Heer Sekretaris vra om hulle petisie aan die Prins te onderteken, toe verhoor Hy hulle. Hy sou die brief skryf en onderteken, maar dit moes hulle eie woorde wees, en hulle moes die papier en die ink voorsien.6 Bid in die Heilige Gees. Bid sy Woord en sy beloftes (v.13, Jes. 62:6-7, Joh. 15:7). Begeer Christus en sy teenwoordigheid deur die Heilige Gees bo alles. Begeer Hom eerder as ’n geestelike ervaring. Die Heilige Gees wil Christus in jou verheerlik (Joh. 16:14). Volg Octavius Winslow se raad:

‘...take courage, and go to Jesus. Go to Him simply, go to Him unhesitatingly, go to Him immediately... That secret longing [for Christ] is the work of the Spirit...do you think He will not honour it and welcome you when you come? Try Him. Bring Him to the touch-stone of His own truth... plead it in wrestlings at the mercy-seat, and see if He will not “open the windows of heaven, and pour you out a blessing, that there shall not be room enough to receive it.” Go to Him just as you are. If you cannot take to Him a pure heart, take an impure one; if you cannot take to Him a broken heart, take a whole one; if you cannot take to Him a soft heart, take a hard one—only go to Him.’7

 

2. Wat is die seël? (v.13b)

’n Afrikaanse lied praat van die doop as die seël dat die Gees ons as God se kinders aanneem. Mense wat dit glo, dink die doop is ’n seël dat elke gedoopte baba of volwassene ’n kind van God verseël is. Die gedagte het reeds in die vroeë kerk ontstaan.8 Dalk is dit omdat doop en bekering in die Nuwe Testament op een dag gebeur het, sodat elke dopeling die Heilige Gees ontvang het: “Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.” (Hand. 2:38).

Vandag werk dit nie so nie: nie elke bekeerling word dadelik gedoop nie. Maar selfs al was dit die geval sê die Bybel nie die doop is ’n seël nie. Die Heilige Gees is die seël. Christus verseël ons met of in sy Gees (v.13, 4:30, Gk. en). Iemand sal sê: ‘Wat van Rom. 4:11? Paulus noem Abraham se besnydenis die seël van sy geregtigheid wat hy jare tevore deur die geloof verkry het.’ Die teks sê nie dit is vir almal nie. Buitendien praat Paulus van die besnydenis eerder as van die doop. Die Nuwe Testamentiese eweknie van die besnydenis van die liggaam is die besnydenis van die hart. Hiervan is die Heilige Gees eerder as die doop die seël: “...dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees” (Rom. 2:29, Nuwe Vertaling). Die doop illustreer hierdie besnydenis van die hart: “In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige bestaan weggeneem is. Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het.” (Kol. 2:11-12).

As die seël op ons harte wys die Heilige Gees God het jou uitgekies (v.4-5, 13) en ’n verbond gesluit om jou as sy eie aan te neem (vgl. Hoogl. 8:6). Die seël op jou hart wys jy is eg en ’n ware kind van God (vgl. Est. 3:12, 8:8, 10, Joh. 6:27). Soos ’n seël ’n kontrak bekragtig (Jer. 32:6-15), bekragtig die seël van die Gees die belofte van die hemel aan ons; Hy getuig dit is waar (v.13-14, vgl. Joh. 3:33, 1Kor. 9:2). Soos ’n engel Satan in die gevangenis gewerp en dit oor hom verseël het (Op. 20:3), verseël die Heilige Gees ons om te wys ons is veilig in God se hande. Soos ’n seël die boekrol van Op. 5:1 verseël het, weet net die Here wie Hy met die Heilige Gees verseël het: “Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.” (2Tim. 2:19, Ou Vertaling). God se seël wys ons is syne en dat Hy ons deur die Gees tot in die hemel behou (v.13-14, Op. 7:3).

Omdat die Heilige Gees eerder as die doop die seël is, moet jy nie in jou doop rus nie. Vra jouself liewer of jy die seël van die Heilige Gees het (v.13). Het jy die Gees van die belofte wat deur Jesus en die profete belowe is (v.13, Joël 2:28-29, Joh. 14:16)? Het jy die Heilige Gees wat die hemel aan ons belowe en wat Self ook die belofte van die hemel is (v.13-14, Hand. 1:4, 2:33)? Het jy die Gees van die belofte wat al God se beloftes in en aan ons vervul? Weet jy objektief God se seël is op jou; sien jy die vrug van die Gees in jou lewe (Gal. 5:22-23)? Bevestig die Heilige Gees dit subjektief deurdat jy soms ’n verhoogde sin van Christus se liefde ervaar (3:16-19)?

 

3. Waartoe word ons verseël? (v.14)

Die Heilige Gees is die waarborg van ons hemelse erfenis (v.14). Die Grieks (arrabōn) verwys na ’n deposito of plegtige belofte (Eng. pledge) dat ons die res van die bedrag sal kry.9 Rom. 8:23 praat van die Heilige Gees as die eerste vrug. In ou Israel het die volk hulle eerste oes vir die Here gegee (Lev. 23:10). Daardeur het die Here ’n goeie seisoen en groot oes gewaarborg (Spr. 3:9-10). Net so waarborg die Heilige Gees as eerstevrug dat daar groter dinge op pad is. Hy waarborg God en die hemel as ons erfdeel, omdat Jesus dit aan die kruis vir ons gekoop het (v.14, Rom. 8:17). In hierdie lewe ontvang ons die Gees in mate (Ef. 4:7). Op die nuwe aarde sal ons Hom sonder mate ontvang soos Jesus Hom ontvang het (Joh. 3:34). Hier kry ons druppels, dagbreek en goudstof; op die nuwe aarde ontvang ons ’n stortreën, die middagson en ’n goudrif wat vir tienduisende kilometers strek. Die deposito van die Gees waarborg ons sal die volheid verkry. As jy ’n vis se kop uit die water trek, volg sy stert; as jy die bopunt van ’n ketting uit die mynskag trek, volg die onderpunt; as die deposito van die Gees joune is, sal jy die volheid ontvang.10 In die hemel sal die Heilige Gees jou met God se liefde, blydskap, vrede, goedheid en guns vul soos suurstof jou longe vul. Dit sal jou soos ’n tsunami oorspoel. Jy sal konstant van God bewus wees. Die vrug van die Gees sal volmaak in jou lewe teenwoordig wees: “Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Gal. 5:22-23). Sonde sal nie jou vermoë beperk nie: “Nou ken ek slegs gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken, soos ek ten volle geken is.” (1Kor. 13:12). Jou kennis, wysheid, insig en krag sal bonatuurlik en bo-menselik wees. Sal jy beter as ’n arend sien en as ’n olifant hoor? Die Heilige Gees sal jou verheerlikte liggaam en siel vul, sodat jy altyd gesond, vol vitaliteit, energie en lewe is; jy sal nooit kan sondig of sterf nie (1Kor. 15:42-44). Deur die Gees sal jy so vol van God se heerlikheid wees, jou liggaam sal soos die son skyn (Dan. 12:3, Matt. 13:43).

Hoe weet ek hierdie dinge is so? Die Heilige Gees het dit belowe (v.13). Hy is die waarheid en waarborg van ons erfdeel (v.14, 1Joh. 5:6). Deur sy teenwoordigheid, geestelike gawes en vrug van die Gees het ons reeds ’n voorsmaak van die hemel (Rom. 5:5, 1Kor. 12:11, 2Kor. 13:14, Gal. 5:22-23). Die feit dat ons die deposito het, beteken die res kom (v.14). God wat alles in almal vul, is die hemelse belofte waarvan die Heilige Gees die waarborg is (v.14, 1Kor. 15:28). Deur die Gees as seël gee God ons Homself en alles saam met Hom, sodat ons Hom vir ewig sal prys (v.14, 6, 12). Dit is waarvoor Hy ons gemaak het, naamlik om Hom te prys (Jes. 43:21). Soos die ouderlinge in Op. 4:10, sal ons ons krone aan sy voete neerwerp en Hom aanbid. Alhoewel hierdie vooruitsig nie jou moeilike omstandighede verander nie, help dit jou om te volhard. Dit is soos as jy ’n ultramaraton hardloop en jou bene brand. Die vooruitsig van R20 miljoen se prysgeld vat nie die brand weg nie. Maar dit help jou om te volhard. En wat is R20 miljoen in vergelyking met God en sy ewige koninkryk?


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  D. Martyn Lloyd-Jones, Romans: Exposition of Chapter 8.5-17—The Sons of God (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1974), 309-23

3  Octavius Winslow, The Work of the Holy Spirit (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1961 [1840]), 143-4

4  Iain H. Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The Fight of Faith (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1990), 208-10

5  John Bunyan, The Holy War (New Kensington, PA: Whitaker House, 1985), 211

6  Ibid., 274-7

7  Winslow, ibid., 150-1 (outeur se beklemtoning).

8  H.F. Stander & J.P. Louw, Baptism in the Early Church (Carey Publications, 2004), 151 en Arthur G. Patzia, New International Biblical Commentary: Ephesians, Colossians, Philemon (Peabody, Massachusetts: Hendrickson Publishers & Paternoster Press, 1984, 1990), 159

9  Johannes P. Louw & Eugene A. Nida (Ed.), Greek-English Lexicon of the New Testament Based on Semantic Domains: Vol. 1 (Cape Town: Bible Society of South Africa, 1989 [1988]), 57.170 , p. 577

10  C.R. Vaughan, The Gifts of the Holy Spirit (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1975 [1894]), 308-9

Kategorieë