Coram Deo Cover Image

Coming soon...

25 October 2019

Die hart van ons probleme

Image result for new heart

Lukas 6:43-45

Saartjie kry gereeld hoofpyne. Hoe moet sy haar probleem oplos? Moet sy hoofpyn pille drink? Dit sou nie verkeerd wees nie, maar ek het nagelaat om vir jou te sê dat sy nét hoofpyne kry as sy op haar rekenaar werk. Wat is fout? Sy het waarskynlik ‘n probleem met haar oë en moet ‘n bril kry. Om hoofpyn pille te drink is net ‘n tydelike oplossing. As sy die oorsaak van haar probleem wil aanspreek, moet sy ‘n bril kry en sal haar hoofpyne weggaan.

Geestelik werk dit ook so. Dit is nie verkeerd as jy Bybelverse memoriseer om jou kort humeur, jaloesie, of wellus te oorkom nie. Maar eintlik is dit net ‘n hoofpyn pil. Vind eerder uit wat die hoofpyne van ‘n kort humeur, jaloesie en wellus veroorsaak. As jy by die hart van die probleem gekom het en dááraan werk, sal jy van jou geestelike hoofpyne ontslae raak. Dit is wat Jesus ons in Luk. 6:43-45 wil leer.

 

  1. Twee bome (v.43-44)

My huisdokter het gerook. Vandag is hy nie meer met ons nie, maar ek wonder wat hy vir iemand sou sê wat longkanker het? Hoe sou hy die persoon help? Geestelik werk dit dieselfde: voordat jy ander kan help, moet jy eers die probleme in jou eie lewe aanspreek (v.41-42).

Hoe kan jy weet of daar probleme in jou hart is? Kyk na die vrugte van jou lewe. Wat jy dink, doen en sê, wys wat in jou hart is (v.43-45). Jou lewe is soos ‘n boom. As jy dit op die regte tyd spuit en snoei en dit nog steeds slegte vrugte dra, is daar fout met die wortels. ‘n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie en ‘n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie (v.43). Hierdie waarheid het praktiese impliksasies.

As iemand slegte dinge sê en doen, kan jy nie sê: ‘Diep binne het hy ‘n goeie hart en is hy ‘n goeie mens’ nie. Dit is nie waar nie. ‘n Slegte boom kan nie goeie vrugte dra, of andersom nie (v.43). Net soos wat slegte vrugte wys dat ‘n boom sleg is, is ‘n sondige lewe die bewys van ‘n slegte hart.

Volgens die Bybel dra almal van nature slegte vrugte (Rom. 3:10-18). Dit beteken dat almal ‘n slegte hart het (Ef. 2:1-3, Rom. 7:18, Ps. 51:7, 58:4). Dus is sielkunde verkeerd om te sê dat die mens basies goed is en dat sy omgewing en invloede hom maak wat hy is. Natuurlik speel jou omgewing en invloede ‘n rol (bv. Spr. 13:20, 1Kor. 15:33), maar dit kan nie máák dat jy sonde doen nie. Wat jy dink, doen en sê, kom uit die hart (Spr. 4:23, Matt. 15:19).

Om te sê: ‘Hou op jok, steel, vloek, pornografie kyk, rondslaap, jaloers wees, bitter wees en dronk word,’ is goed, maar dit is nie voldoende nie. Om net vrot vrugte te pluk, los nie die probleem op nie. Jy moet iets aan die wortels doen; die hart moet verander word. As jy genoeg wilskrag en volharding het, kan enige goeie sielkundige jou help om verslawing, of enige ander gewoonte te oorkom. Net die Heilige Gees kan egter die mens se hart verander, sodat jy selfs die verkeerde begeertes oorkom (Eseg. 36:25-27). Hoe doen Hy dit? Deur gebed en die evangelie. Ek sal later hierop uitbrei.

Volgens Jesus sal jy die boom aan sy vrugte ken (v.44). Selfs ‘n kind weet dit. As ‘n boom appels dra, is dit ‘n appelboom en nie ‘n lemoenboom nie. As dit vol dorings is en nie vye, of druiwe produseer nie, is dit ‘n doringbos en nie ‘n vyeboom, of ‘n wingerd nie (v.44). Dit geld ook vir die mens se lewe: as iemand sleg lewe, is hy nie ‘n Christen nie, al sê hy dit ook op Facebook, deur die doop, of deur kerklidmaatskap.

 

  1. Twee skatkisse (v.45)

Toe ek klaar was met skool, het ek ‘n kis vol items gehad wat vir my belangrik was: medaljes, aandenkings van oorsee, my oupa se verkyker, briewe van my vrou, ens. Wat in ‘n persoon se skatkis is, wys wat vir hom of haar belangrik is. Wat in die skatkis van ‘n persoon se hart is, wys wat vir hom belangrik is. En wat vir ‘n persoon belangrik is, sê vir jou watse soort mens hy is. Eintlik wys dit vir jou wie, of wat vir hom ‘n afgod is. Om te weet wat jou hart vul, kan jy jouself die volgende vrae afvra [Ek het hierdie vrae gekry by Wayne Mack, BIC 110 Class Notes 8 (Pretoria: Grace School of Ministry, 2008)]:

  • Waaroor dink jy as my brein in neutraal is? Waaroor dagdroom jy? Wat oorheers jou gedagtes?
  • Hoekom doen jy wat jy doen: wat is jou motiewe, of intensies?
  • Waarvoor lewe jy: wat is die doel van jou lewe? Watse planne het jy vir jou lewe?
  • Wat begeer jy meer as enigiets anders? Waarvoor sal jy enigiets doen? Waarop sal jy maklik baie geld uitgee?
  • Waaroor sal jy ‘n tantrum gooi, dikbek wees, baklei, depressief voel en jouself bejammer as jy dit nie kry nie?
  • Wat bring die beste in jou uit?
  • Wat bring die slegste in jou uit?

‘n Goeie mens koester goeie dinge in sy hart en wys dit deur sy goeie lewe (v.45). ‘n Slegte mens koester slegte dinge in sy hart en wys dit deur sy slegte lewe (v.45). Prakties beteken dit jy kan nie op jou kinders skreeu, of jou kollega vloek en sê: ‘Ek het dit nie bedoel nie. Dit het net uitgekom a.g.v. werkstres, siekte, honger, te min slaap, ens.’ Jy kan nie sê: ‘Dit is heeltemal buite my aard nie; dit is nie wie ek is nie.’ Volgens Jesus kom ‘n mens se woorde en dade uit die hart. Om op jou kinders te skreeu en jou kollega te vloek, is presies wie jy is (v.45). Miskien het jy dit nie voorheen gesien nie, maar nou het dit sigbaar geword (vgl. Jer. 17:9).

Slegte mense en omstandighede kan nie máák dat jy sonde doen nie. Hulle druk egter die regte knoppies, sodat dit wat in jou hart is, op die oppervlak verskyn (v.45). Dit is bv. wat gebeur as iemand wat te veel gedrink het, dwelms gebruik, of onder narkose is, lelike dinge doen en sê. Dit wat in die hart was, kom uit. Onder normale omstandighede kon die persoon dit onderdruk, maar noudat hy bedwelm is, is dit soos ‘n rioolpyp wat bars en kom alles uit. Dit is dus nie die pille, drank, of dwelms wat slegte dinge in die persoon se hart geplant het nie. Die bedwelming wys maar net wat reeds in die persoon se hart is. Wat die hart van vol is, loop die mond van oor (v.45, Matt. 12:34).

Party mense het die kuns bemeester om hierdie dinge weg te steek en mooi voor ander te lewe. Jesus noem dit skynheiligheid. Hulle kan dit egter nie vir altyd wegsteek nie. Op ‘n dag sal dit uitkom, al is dit ná hulle dood, of op die oordeelsdag. Ek ken ‘n man met wie dit gebeur het. Hy het gesê dat hy ‘n Christen is en het selfs ‘n predikant geword. Nadat hy vir 12 jaar in die bediening was, toe kom dit uit dat hy geld najaag, kinders molesteer, sy vrou slaan en probeer het om haar te vermoor.

Jesus het gesê: “En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word; en wat julle in die oor gepraat het in die binnekamers, sal op die dakke verkondig word.” (Luk. 12:2-3). Geen mens kan sy sonde aanhoudend wegsteek nie, aangesien God alles weet en dit navore sal bring.

Dit hoef jou nie bang te maak as jy ‘n Christen is nie. Jy stry mos in jou hart teen die slegte begeertes, jy bely jou sonde, jy haat dit en jy strewe daarna om heilig te lewe en Jesus te gehoorsaam. Jy hoef nie te vrees dat God jou sonde op die oordeelsdag voor die wêreld gaan noem nie. Hy sal nie, omdat Jesus reeds aan die kruis daarvoor gesterf het en jou met sy geregtigheid bedek (Joh. 5:24, Rom. 8:1, 2Kor. 5:21). Jy sal met blydskap voor God se troon staan wanneer jy jou Verlosser sien (Jud. 24).

Hy sal aan jou gedagtes, motiewe, begeertes, emosies, planne, woorde en dade wys wat in jou hart was. Was die boom van jou lewe vol goeie vrugte, met ‘n paar bruin kolle en steek plekke wat deur die oorblywende sonde in jou hart veroorsaak is? Of was daar ‘n bordjie aan die boom van jou lewe met die inskripsie daarop: ‘Christen-boom’, terwyl die vrug van jou lewe eintlik dié van ‘n ongelowige s’n was?

Wat kan jy doen omtrent die slegte vrugte in jou lewe? Vir die gelowige en die ongelowige is die antwoord eintlik dieselfde. Laat ek dit aan hand van ‘n illustrasie verduidelik.

In 2008-2010 het ek ‘n kursus in Bybelse berading gedoen. Aan die einde van die kursus het die dosent (Wayne Mack) vir ons ‘n video van ‘n regte beradingsessie gewys. In die sessie het die berader (John Street) ‘n boom geteken om te verduidelik dat niemand ons sonde veroorsaak nie, maar dat dit uit die hart kom. Street se diagram het alles vir my bymekaar gebring. As ek dit vir jou verduidelik, sal jy hopelik verstaan wat ek bedoel.

Tree diagram

[A] Die son op die diagram stel die moeilike omstandighede in ons lewens voor. In hierdie diagram sukkel die man en vrou finansieel.

[B] Die boom se vrugte stel voor hoe die man en vrou op hulle negatiewe omstandighede reageer en wat die slegte gevolge is. In húlle geval is die slegte vrugte die volgende: bakleiery, depressie, angs oor geld, ‘n gebrek aan intimiteit in die huwelik, die man drink te veel, die vrou onttrek haarself, hulle praat nie met mekaar nie, beide die man en die vrou kom nie hulle huislike pligte na nie, die man kyk na pornografie, die vrou soek emosionele troos by ander mans, beide van hulle slaap sleg, hulle het nie ‘n eetlus nie, hulle voel jaloers en bitter.

[C] Die boom se wortels stel voor wat die man en vrou onderskeidelik wil hê. Die vrou soek genoeg geld om rustig te lewe en wil hê dat haar man haar moet liefhê. Die man soek genoeg geld om vir sy gesin te sorg. Hy soek ook ‘n vrou wat hom sal respekteer. Hulle begeertes is nie noodwendig verkeerd nie, maar die feit dat hulle bereid is om sonde te doen as hulle begeertes nie vervul word nie, wys dat dit vir hulle ‘n afgod geword het.

Wat is die oplossing? Hulle moenie net die vrot vrugte afpluk nie, maar hulle begeertes moet verander. Hulle kan dit nie self regkry nie. Hulle moet voor Jesus buig en erken dat sy kruisdood voldoende is om hulle te vergewe. Hulle moet uitroep dat Hy hulle help. Hulle moet hulle sonde bely en hulle bekeer. Hulle moet met die regte motiewe wil verander: nie net om vrede te hê nie, maar omdat hulle die Here wil verheerlik.

Om hierdie rede gee ons nie boeke oor die huwelik vir ongelowiges nie, maar deel ons die evangelie met hulle en bid ons vir hulle redding. As hulle tot bekering kom, kan ons hulle leer wat die Bybel sê oor die slegte begeertes en vrugte wat ons vir hulle uitgewys het.

Om hierdie begeertes en vrugte te oorkom, moet die persone baie bid. Hulle moet die Bybel toepas, glo dat die kruis genoeg is en dat die Heilige Gees hulle sal help (1Kor. 6:11). Hulle moet op God se Koninkryk fokus en reg lewe. Dan sal die Here gee wat hulle nodig het (Matt. 6:33). Hulle moet leer om hulle geld reg te gebruik. Hoe is dit? Hulle moet hard en eerlik werk, hulle gesin versorg, mededeelsaam wees, tevrede wees, nie geldgierig wees nie, nie oor geld stres nie, vir die Here se voorsiening bid, hulle skulde betaal en nie verder slegte skuld maak nie, vir die Here se werk bydra (Spr. 22:7, Matt. 6:11, 25-32, Rom. 13:7-8, 2Kor. 9:7, Ef. 4:28, 2Tess. 3:6-15, 1Tim. 5:8, 6:8-10).

Die slegte vrugte in die man en vrou se lewens is dus nie die gevolg van hulle finasiële probleme nie, maar van hulle harte wat sleg is en sonde geproduseer het (v.43-45). Noudat hulle harte goed is, kan hulle goeie vrugte dra (v.43-45).

Ek wil jou uitdaag om ‘n boom diagram van jou eie lewe te teken en opnuut te onthou dat Jesus se kruisdood en jou geloof in Hom, die krag van die Heilige Gees deur gebed, en die lering van God se Woord voldoende is om jou te help om te verander.

William Thomas (Staffordshire Bill) is ‘n goeie voorbeeld hiervan [Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1982), 244-245]. God het hom in vroeë 1900’s gered toe hy byna 70 was. Na sy bekering het hy egter nog met vuil taal gesukkel, aangesien hy dit sy lewe lank gedoen het. Dit het hom gegrief, omdat hy gehoorsaam wou wees. Op ‘n dag het hy uitgeroep en vir die Here gesê: ‘O Lord, cleanse my tongue. O Lord, I can’t ask for a pair of socks without swearing, please have mercy on me and give a clean tongue.’ [Ibid., 245]. Die Here het hom geantwoord. Hy het nooit weer gevloek nie.

Die kruis, die Heilige Gees, die Woord en gebed was genoeg om hom van binne af nuut te maak, sodat hy kon verander. Toe die boom se wortels verander het, het dit goeie vrugte begin dra.

Kategorieë