Romeine 14:1-12
In Engels is daar ‘n spreekwoord wat sê: ‘In essentials unity; in non-essentials liberty; in all things charity.’ Wat beteken dit? Dit beteken dat ons saamstem oor die basiese waarhede van die Bybel: God se karakter en wese, die Persoon van Jesus Christus, sy kruisdood vir ons sonde, sy liggaamlike opstanding uit die dood, sy redding deur geloof alleen, ens. Iemand wat op hierdie punte van ons verskil, is nie ‘n Christen in die Bybelse sin van die woord nie.
Waar die Bybel egter stil is oor ‘n saak, is Christene vry om hulle eie opinies te vorm. Op hierdie punte kan ons, soos die Engelse spreekwoord sê, ‘Agree to disagree.’ Wanneer dit m.a.w. by grys areas kom, moet ons die regte gesindheid hê teenoor ons broers en susters. Dit is die punt wat Paulus in Rom. 14:1-12 probeer oordra. Hoe presies moet ons optree wanneer ander Christene in die grys gebiede van ons verskil?
- Verwelkom mekaar (v.1)
Grys areas is daardie dinge wat die Bybel ons nie beveel, of verbied nie. Ons praat hier van dinge soos:
- Moet jy ‘n baadjie en ‘n das, of ‘n rok en sykouse kerk toe dra?
- Is dit sonde as ‘n Christen nie stemnie?
- Is dit sonde om ‘n TV te hê?
- Is dit sonde om Halaal kos te eet?
- Is tatoeëermerkesonde? [Ek is nie ten gunste van tatoeëermerke nie. Lev. 19:28 praat daarteen in die konteks van heidense rougebruike. Ek dink egter nie dat tatoeëermerke per se sonde is nie.].
- Mag ‘n Christen-man ‘n oorbel dra?
- Mag ‘n Christen alkohol gebruik?
- Is dit sonde om te rook?
- Is dit sonde om veras te word? [Ek verkies begrafnis bo verassing. Ek dink dat dit meer waardigheid aan die mens se liggaam bewys. Daar is baie tekste in die Ou Testament wat wys dat die heidene hulle dooies verbrand het. Daar is egter nie ‘n teks wat ons beveel om mense te begrawe, of wat verassing verbied nie. Dalk is jy van mening dat verassing die opstanding van die dooies sal beïnvloed. Dit is nie so nie. Wat moet ons dan maak van mense wat in die see verdrink, of in ‘n motorongeluk verkool? God se krag om die dooies op te wek word nie beperk, omdat iemand veras is nie. Nogtans moet ek sê dat ek sterk aan die kant van begrafnis staan. Ek sal egter nie iemand as ‘n sondaar bestempel, omdat hy veras is nie.].
- Is God ontevrede met jou as jy jou kinders in ‘n gewone skool sit?
- Is Hy meer tevrede met jou as jy jou kinders tuisskool?
- Moet Christene Kersfees, Paasfees, Hemelvaart, Pinkster en Geloftedag vier?
Party mense het ‘n swak of sensitiewe gewete wat hulle nie toelaat om sekere dinge te doen wat nie in die Bybel beveel, of verbied word nie—dinge wat ander gelowiges met ‘n rein gewete kan doen (v.1, 23). M.b.t. hierdie mense sê Paulus dat ons hulle met oop arms as broers moet verwelkom. Moenie geheime motiewe hê as jy hulle in jou vriendekring verwelkom, omdat jy eintlik vir hulle wys dat húlle verkeerd is en jý reg nie (v.1). Verwelkom hulle eerder soos Christus jou verwelkom het (v.1, 15:7).
Hoekom is dit vir jou so belangrik dat mense op elke punt met jou moet saamstem (van popmusiek tot politiek)? Wys dit nie dalk iets van die hoogmoed wat nog in jou hart is nie—so asof jý die standaard van ortodoksie en waarheid is?
- Moenie op ander neerkyk nie (v.2-3a)
Jare gelede was daar ‘n man in ons kerk wat geglo het dit is sonde om die onrein kosse van Lev. 11 te eet (bv. vark). Persoonlik geniet ek ‘n paar repies spek en varkrib.
Christene verskil hieroor (v.2). In die eerste eeu het party Joodse Christene nog aan Lev.11 se voedselwette vasgehou. Sommige Christene wat uit die heidendom bekeer is, het net groente geëet, omdat die vleis wat hulle in die slaghuis kon koop aan afgode geoffer is. Die gelowiges met ‘n sterker gewete het geglo hulle kan enigiets eet, omdat God die voedselwette opgesê het toe Hy die heidene as sy kinders aangeneem het (v.2, 14, 20, Mark. 7:15-20, Hand. 10, 1Tim. 4:3-5). Hulle het ook geglo dat God alles gemaak het, dat ‘n afgod niks is nie, en dat vleis wat aan die afgode geoffer is nie jou verhouding met die Here benadeel nie (1Kor. 8).
Christene met ‘n sterk gewete moenie dié wat ‘n swak gewete het, uitkryt as geestelik onvolwasse, of wetties nie. (v.3). Moet hom nie teen sy sin dwing om Halaal kos te eet, ‘n TV te koop, of ‘n glas wyn te drink nie. Moet ook nie jou vryheid misbruik om te dink jy kan maar tipsy raak, of lelike programme op TV kyk nie.
- Moenie mekaar oordeel nie (v.3b-4)
Twee mans het een keer vir my gesê: ‘Iemand wat rook is nie ‘n Christen nie. Dit is onmoontlik. Kyk dan hoe openlik sondig hulle.’ ‘n Christen in Rome wat nie vleis geëet het nie, sou maklik van ‘n ander een gesê het: ‘Jy eet vleis wat aan afgode geoffer is… Jy oortree Lev. 11 se voedselwette; jy is nie ‘n Christen nie.’ ‘Moet dit nie doen nie,’ sê Paulus. ‘Hou op om jou broer te oordeel (v.3b). Wie is jý om die egtheid van sy redding te bevraagteken, as die Here hom aangeneem het en verwelkom het (v.3b)?’
Dalk verkwalik jy my, omdat ek rook as ‘n voorbeeld gebruik. Ek dink rook is ‘n slegte gewoonte. Dit is sleg vir jou gesondheid. Maar dan is cholestrol, te veel rooivleis of suiker, die Ultra Violet strale van die son en karre ook sleg vir jou, omdat dit jou kan doodmaak. Ek gaan dus nie sê dat ‘n Christen wat rook (soos Charles Spurgeon) ongered is, dat hy nie ‘n lidmaat van ons gemeente kan wees, of dat ons hom uit die gemeente moet verwyder nie. Wat my betref is rook ‘n grys area waarvoor jy nie ‘n vers in die Bybel sal kry nie.
‘Maar wat van dagga?’ wil iemand weet. Waar dit in mate deur ‘n apteker of ‘n dokter as ‘n olie voorgeskryf word, is dit nie sonde nie. Om dit egter te rook is sonde, omdat jy, soos die dronkaard, nie nugter is of selfbeheerd optree nie (Ef. 5:18, 1Tess. 5:6). Om dus dagga te rook is nie ‘n grys area nie, maar swart en wit. Soos met enige swart en wit area, gee God ons die reg om dit as sonde te beoordeel en kerkdissipine toe te pas (1Kor. 5:12-13).
Waar dit egter by grys areas kom, het jy nie die reg om te sê dat iemand gered is of nie, net omdat julle oor ‘n grys area verskil nie. Jy is nie die meester wie se reëls hy moet volg, of aan wie hy moet rapporteer nie (v.4). Jesus is die Meester voor wie hy moet staan, of val (v.4). En as hy aan die Here behoort, sal Hy keer dat die persoon finaal wegval en maak dat hy staan (v.4, 10, 1Tess. 5:23-24, Jud. 1, 24). Moet daarom nie angstig raak as jou broer anders as jy dink oor ‘n grys area nie. Jy is nie die Here wat hom veilig in hemel hoef te bring nie. Die Here sal dit sonder jou hulp doen.
- Wees oortuig van jou standpunt (v.5)
Ek ken ‘n gelowige wat op Sondae kerk toe gaan, maar wat glo dat hy nog die Saterdag as ‘n Sabbat moet onderhou. Party van die Joodse Christene in Rome het dit geglo, terwyl ander nie ‘n spesiale dag wou uitsonder nie, omdat hulle elke dag aan die Here wou wy (v.5).
Wat was Paulus se oplossing vir hierdie mense? Hy het hulle nie beveel om twee kerke te begin, sodat almal dieselfde siening kon hê nie. Hulle moes nog steeds deel wees van dieselfde kerk. Hulle moes mekaar verdra (v.3), maar moes elkeen in sy eie gewete oortuig wees van hoekom hy spesiale dae vier, of nie (v.5, 23).
Net so moet jý oortuig wees van hoekom jy spesiale dae soos Kersfees, Paasfees, Hemelvaart, Pinkster en Geloftedag vier, of nié vier nie. As jy dit vier of vermy omdat jy daardeur gered wil word, glo jy ‘n vals evangelie (Gal. 4:10, Kol. 2:16-17). Maar as jy dit doen omdat jy die Here wil verheerlik, is dit vir Hom aanneemlik. Wees dan oortuig van wat jy glo, maar laat ruimte vir gelowiges wat van jou verskil.
- Verheerlik die Here (v.6-8)
John Wesley het geglo dit is sonde om tee te drink, terwyl dit nie verkeerd is om alkohol te gebruik nie [Arnold Dallimore, Spurgeon: A New Biography (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1985), 182]. Spurgeon het met sy hele hart geglo dat hy sy sigare tot eer van die Here rook [Ibid., 179-181. Om eerlik te wees, moet ek byvoeg dat Spurgeon gedink het sigare is goed vir sy gesondheid. Toe hy uitvind dat dit sy gesondheid benadeel, het hy dit gelos.]. John Paton was sterk gekant teen alkohol en tabak [John G. Paton, Missionary to the New Hebrides (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965 [1889]), 38-39].
Die punt wat ek probeer maak, is dat jy alles in jou lewe moet doen of vermy, omdat jy die Here wil verheerlik (v.6). Jy kan nie hierdie reël as ‘n dekmantel vir sonde gebruik nie, want as jy iets doen waarteen die Bybel hom eksplisiet uitspreek, is dit sonde en verheerlik dit nie die Here nie. Jy kan egter in grys areas die Here verheerlik. ‘n Christen wat bv. Kersfees vier, of Halaal kos eet, dink hy nie aan ander gode terwyl hy dit doen nie. Hy dank die Here en doen dit om Hóm te verheerlik (v.6). Die een wat ‘onrein’ diere soos vark vermy, dank die Here vir sy Stokvis voordat hy dit eet (v.6, 1Tim. 4:4-5). Dit verheerlik die Here (v.6).
Vir die ware gelowige gaan dit nie oor homself nie, maar oor die Here (v.7-8, 2Kor. 5:9, 15). Lewe dan om Hóm te verheerlik (1Kor. 10:31). Wy jouself aan Hóm (Rom. 12:1). Streef daarna om soos Jesus te wees (1Joh. 2:6). Onthou dat jy in lewe en in dood, in die hemel en op aarde, in hart en siel, van kop tot tone aan die Here behoort (v.8, 1Kor. 6:19-20).
As jy dít doen, sal geen grys area vir jou ‘n afgod of verslawing wees nie. Die Here sal vir jou alles wees; selfs wanneer jy sterf (v.7-8). Dit sal nie vir jou gaan oor hoeveel mense jou onthou, of watse goeie dinge hulle op jou begrafnis sê nie. Jy sal nie die aandag op jouself wil vestig nie, maar op die Here (v.7-8). Jy sal van jouself dink wat William Carey van hómself gedink het. Op sy grafsteen staan daar:
A wretched, poor and helpless worm,
on Thy kind arms I fall.
Jy sal saam met Paulus sê: “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” (Fil. 1:21).
- Onthou dat Jesus die Here is (v.9-12)
Wat is ‘n boelie? ‘n Boelie is iemand wat homself oor ander verhef en oor hulle wil heers. In essensie is dit iemand wat Jesus se plek as Here probeer inneem. Hý of sý wil die here van ander mense se lewens wees om vir hulle te sê wat hulle mág en nié mag doen nie.
Kultusse is boelies. Hulle pas nie God se gesag in die Bybel op mense se gewetens toe nie, maar stel hulle eie reëls op waardeur hulle mense probeer beheer. Hulle wil jou laat skuldig voel as jy nie húlle reëls hou nie (Matt. 15:1-9, 23:4). So speel hulle God oor mense se gewetens.
Ons moenie soos hulle wees nie. Volgens v.9 het Jesus gesterf en opgestaan om die Here van die lewendes en die dooies te wees. Daardie voorreg behoort aan Hom alleen, sodat net Hý die reg het om deur die Bybel vir ons te sê wat ons mág doen en nié mag doen nie. Jy het nie die reg om iemand se gewete te bind met dinge wat nie deur die Bybel beveel, of verbied word nie.
Omdat Jesus die Here is, is Hy ook die Regter wat ons sal oordeel (v.10). Daarom het jy nie die reg om jou broer as ongered of wêrelds te veroordeel, net omdat hy nie dieselfde as jy glo oor tatoeëermerke of verassing nie. Dit is ook nie jou plek om ‘n ander gelowige as wetties te bestempel, omdat hy glo dat TV of die gebruik van alkohol sonde is nie. Jy is nie die persoon se Here, of Regter aan wie hy homself hoef te verduidelik nie. Hy sal voor die Here staan en nie voor Ivor Jefferies, of wat jou naam ook al mag wees nie (v.10).
Die Here het in Jes. 45:23 gesweer dat alle mense voor Hom sal buig en sal erken dat Hy God is (v.11, vgl. Fil. 2:10-11). Niemand sal voor jou en my hoef te buig om te erken dat hulle verkeerd was en jy reg nie. Los daarom die oordeel vir die Here (Jak. 4:12). Elkeen sal van homself rekenskap moet gee en moet verduidelik hoekom hy m.b.t. grys areas dit of dat gedoen het, of nie gedoen het nie (v.12, Matt. 12:36, 1Pet. 4:5). Het jy dit gedoen omdat jy oortuig was dat dit die regte ding is, omdat jy voor Jesus as jou Here wou buig, en omdat jy Hóm wou verheerlik? Of het dit vir jou oor jouself, jou eie plesiere en mense se guns gegaan? In daardie geval is dit nie meer ‘n grys area nie, maar ‘n swart en wit area. Jy was selfsugtig en het ‘n afgod van mense se opinies en jou eie voorkeure gemaak. Jy het m.a.w. jouself bo die Here gestel en daarvoor sal Hy jou oordeel.
Maar dit is nog nie die oordeelsdag nie. Daar is nog tyd. Erken eenvoudig dat jy ‘n hopelose skepsel is wat selfs die grys areas misbruik om sonde te doen. Verloën jouself. Sê vir die Here dat jy nie meer geassosieer wil wees met die lelike persoon in die spieël nie. Roep om genade en glo in die liefdevolle Verlosser wat 2000 jaar gelede soos ‘n karkas aan ‘n kruis gehang het om die straf vir sondaars te dra.
As jy op Hóm vertrou, sal die Vader in hierdie oomblik sy perfekte geregtigheid aan jou toereken en jou sonde van die verlede, die hede en die toekoms afskryf om nooit weer daaraan te dink nie. Hy sal jou deur sy Gees verander, sodat die grys areas nie vir jou ‘n struikelblok is, of ‘n verskoning om sonde te doen nie. Jy sal selfs in die grys areas die Here wil verheerlik en nét wil doen wat sy Naam verheerlik. Wat Thomas Watson gesê het, sal waar wees van jou: ‘A godly man will not go as far as he may, lest he should go further than he should.’ [Jeff Pollard & Scott T. Brown (Ed.), A Theology of the Family (Wake Forest, North Carolina: The National Center for Family-Integrated Churches, 2014), 119]. Jy sal m.a.w. nie iets doen, net omdat jy vry is om dit te doen nie. Jy sal eerder vra hoe hierdie of daardie aksie Jesus se Naam sal groot maak voor die wêreld.