Coram Deo Cover Image

Coming soon...

22 June 2017

Die goue era van postmillennialisme

Golden sunset

Ek het oor die afgelope paar weke teen Op.20:1-3 geboks.  Ek het ‘n paar outeurs en kollegas saam met my in die bokskryt gehad.  Die teks het my oog blou geslaan en my neus laat bloei.  Nie almal het met my of met mekaar saamgestem nie.  Hierdie is by verre die moeilikste teks wat ek nog ooit voorberei het, en dalk is dit nie die uitklop hou waarvoor jy gehoop het nie.

Maar van die opsies wat ek oorweeg het, het hierdie een die meeste sin gemaak.  Ek glo wat ek preek, maar wil nie maak asof ek alles verstaan nie.  Ek kom met groot versigtigheid, en al lyk die bome in my skildery nie fantasties nie, hoop ek ten minte dat die landskap vir jou duidelik sal wees.

Die Engel

Adolf Hitler het gehoop om ‘n Duitse Ryk te vestig wat vir ‘n duisend jaar sou duur.  In Engels ken ons dit as die ‘Third Reich’.  Die Ryk het maar vir twaalf jaar aangehou.  Hitler het nie sy doel bereik nie, omdat net Jesus Christus die duisendjarige vrederyk of die millennium tot stand kan bring.

Soos in 10:1, 18:1 en Eks.3:2, is Hý die Engel van wie ons in v.1 lees.  Hy het uit die hemel uit neergedaal; Hy het ‘n groot ketting en die sleutel tot die bodemlose put gehad (v.1).  Die sleutel bevestig sy identiteit, want in 1:18 het Jesus die sleutels van die dood en die doderyk; in 9:1 word dit vir ‘n kort tydjie aan die duiwel geleen.

Die feit dat die Engel vir Satan bind, wys óók dat Hy Jesus is.  In die res van die Nuwe Testament is dit Hý wat die duiwel bind.  Ek sal later vir jou die verse gee.

Die duiwel

Sit vyftig geharde misdadigers in ‘n tronksel:  moordenaars en verkragters wat wat mense op die gruwelikse maniere doodgemaak het.  Vermenigvuldig dit met ‘n honderd, en nogsteeds het jy nie die duiwel nie.

Hy is die afskuwelikste wese in die heelal, boser as enigiets of iemand wat jy al in jou lewe teëgekom het.  As Robert Mugabe, Hitler, Stalin en Saddam Hussein ‘n eetlepel vol mamba gif is, is die duiwel ‘n hele dam vol.

Die Engel het hom gegryp en vir ‘n duisend jaar lank vasgebind (v.2).  Soos in 12:9 het hy verskillende name:

[1] Die draak.  Hy is ‘n vyand wat die mag het om groot verwoesting te saai.  Hy kan egter nie teen die Here kompeteer nie (v.1-3, 7-10).

[2] Die ou slang.  Hy is slinks en het in Gn.3 ‘n slang se liggaam gebruik om vir Eva te versoek (2 Kor.11:3).

[3] Die duiwel.  Hierdie naam beteken ‘aanklaer’.  Voor Jesus se kruisdood het hy voor die troon gekom om God se kinders by Hom aan te kla (Job 1:6-12, 2:1-6, Sg.3:1-5).  Deur Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart is hy egter uitgeskop, en kan hy ons nie meer aankla nie (12:9-10, Rm.8:33-34).

[4] Satan.  Hierdie naam beteken teenstander, omdat hy die Here, sy werk en sy kinders teenstaan.  Hy is teen alles wat goed, heilig en reg is.

Die binding

Wat beteken dit dat die duiwel vir ‘n duisend jaar lank vasgebind is?  Dwarsdeur die kerk se geskiedenis het gelowiges hieroor verskil.  Dit is een van die moeilikste verse in die Bybel.  Hoe moet ons dit verstaan?

Volgens premils sal Satan by Jesus se tweede koms gebind word en vir ‘n duisend jaar lank onaktief wees.  Die volgende tekste wys egter dat Jesus hom deur die uitdrywing van demone uit die hemel uit verban het, en dat Hy hom aan die kruis en deur sy opstanding en hemelvaart gebind het.  Soos wat die evangelie verkondig word, word die nasies wat eens in sy mag was by hom weggevat.

Dit is asof die Here hom in drie stadiums gebind het.  In die begin het hy beweeg ruimte gehad, maar nou is hy heeltemal gebind.  Die drie toue se name is:

Tou #1: Die uitdrywing van demone (Lk.11:20-22, 10:17-18, Op.12:7-12).

Tou #2: Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart (3:15, Jes.53:12, Jh.12:31-32, Ef.4:8, Kol.2:14-15, Heb.2:14-15, 1 Jh.3:8, Op.20:1-2).

Tou #3: Evangelisasie (49:24-25, Mt.28:18-19 en Lk.4:5-7, Hd.26:18, Kol.1:13, 2 Tm.2:25-26, Op.20:3).

Satan is gebind, maar nie in die absolute sin van die engele wat in Noag se tyd gesondig het nie (v.2-3, hfst.9, 1 Pt.3:19-20, 2 Pt.2:4, Jud.6, kontr. Lk.8:31).  In sy gebonde toestand versoek hy en sy demone ons nogsteeds (2 Kor.4:4, 11:14, Ef.2:2, 6:12, 1 Pt.5:8, 1 Jh.5:19).

Hy kan egter nie soos in die Ou Testament keer dat die evangelie die nasies suksesvol bereik, en dat hulle tot bekering kom nie (v.3, Hd.13:4-12, 16:16-18, 19:11-20, kontr. Ps.147:19-20, Am.3:1-2, Hd.14:16, 17:30).  Hy is soos ‘n hond aan ‘n ketting.  Jy hoef hom dus nie te vrees nie, maar moet ook nie te naby kom nie, want hy kan nog byt.

Die millennium

Ons kan nie net self besluit wanneer ons ‘n vers simbolies moet verstaan en wanneer nie.  Die konteks van die boek en die res van die Bybel moet dit bepaal.  Hoe weet ons of die duisend jaar in Op.20 letterlik of simbolies verstaan moet word?

Die ketting waarmee die duiwel gebind word is waarskynlik simbolies, omdat hy ‘n gees is.  Verder is Openbaring ‘n baie simboliese boek.  Die duisend jaar in Op.20 is moontlik simbolies soos die vee op ‘n duisend heuwels in Ps.50:10, en 2 Pt.3:8 se duisend jaar wat vir die Here soos een dag is en andersom.  Ek glo dat die duisend jaar in Op.20 simbolies is van die tydperk tussen Jesus se eerste koms en sy tweede een.

Die loslating

Wat sê Sannie se ma as sy stout is?  ‘Nou is die duiwel los!’  Ons weet dat sy dit spreekwoordelik bedoel (gelukkig!).  Die waarheid is dat die duiwel tot aan die einde van die duisend jaar gebind sal wees, en dat hy dan vir ‘n kort tydjie losgelaat sal word (v.3, 7-8).  Ek sal in die volgende preek meer hieroor sê.

Die sisteem

Voor ek by die toepassing kom, wil ek hê dat jy postmillennialisme as ‘n sisteem moet verstaan.  Moet dit asb. nie afskiet, net omdat jy nie met elke detail saamstem nie.  Laat my asb. toe om in vyf paragrawe die sisteem vir jou te verduidelik.  Daarna kan jy self besluit of dit Bybels is of nie.  As jy besluit dat dit wél Bybels is, sal ek vir jou sê hoe om dit toe te pas.

Volgens postmillennialisme sal daar in die toekoms ‘n goue era van ongekende voorspoed en vrede wees.  Dit sal nie deur die politieke of sosiale ingrype van ‘n land se regering plaasvind nie, maar deur die kragtige werking van God in evangelisasie en herlewing.

Die Jode sal in massa tot bekering kom.  Hulle bekering sal ‘n wêreldwye herlewing ontketen (Rm.11:12, 15, 25-27, Esg.37:1-14).  Elke individu sal nie tot bekering kom nie, maar nasies in hulle geheel sal die Here dien (Gn.12:3, Ps. 22:28-29, 67:6, 8, 72:8-11, 17, 19, 86:9, Jes.2:2-3, 11:9b, 60:6-7, 66:18, 22-23, Mal.1:11, Mt.28:19).

Soos wat Jesus tot nou toe gedoen het, sal Hy gedurende die goue era vanuit die hemel oor sy vyande regeer (Ps.110:1, 1 Kor.15:25-26).  Hy sal daarvoor sorg dat geregtigheid op die aarde geskied, dat die armes gehelp word, dat daar vrede is, dat misdaad minimaal is, dat sy kinders vooruit gaan, en dat die aarde voorspoedig is (Ps.72:2-7, 12-16, Jes.65:21-23, Mg.4:4).

Daar sal nie oorlog wees nie (Jes.2:4, Sg.9:9). Al die diere sal plante eet en sal mekaar nie meer doodmaak nie; geen mens sal deur hulle beskadig word nie (Jes.11:6-9a, 65:25).  Dit sal wees soos voor die vloed.

En tog sal die wêreld nog nie volmaak wees nie; daar sal nog sonde en dood wees (Jes.65:20).  Gelowiges sal egter so oud word soos bome; so oud soos Adam se nageslag in Gn.5 (Jes.65:20, 22).  Trane sal nie algemeen wees nie; dit sal ‘n tyd van groot blydskap wees (Jes.65:18-19).

Ek weet dat daar besware teen hierdie lering is:

[1] ‘Hoe weet jy dat hierdie verse nie oor die hemel gaan nie?’  Dit kan nie oor die hemel gaan nie, omdat dit van sonde en dood praat.  ‘Ja, maar in Jes.65:17 sê die profeet dan dat hy die nuwe hemel en die nuwe aarde beskryf.’

Ek weet, maar hy sê ook drie verse later dat daar sonde en dood is, en daarom kan dit nie van die hemel praat nie.  Die nuwe skepping het by wedergeboorte al in ons harte begin (2 Kor.5:17).  Dit sal progressief groei totdat dit by die wederkoms vervul word (Jes.9:5-6, Dn.2:35, Mt.13:31-33, Op.21:1).

[2] ‘Wie sê dat die “postmil” verse wat jy hierbo aangehaal het nie dalk van ‘n millennium ná die wederkoms praat nie?’

Volgens 1 Kor.15:23-28, 54-55 sal Jesus die dood by sy wederkoms vernietig.  Volgens Op.20:14 sal Hy dit ná die millennium (v.1-7) by die finale oordeel vernietig.  Die wederkoms kan dus nie voor die millennium wees nie; dit moet daarná wees.

Volgens Mt.25:31-46 sal daar nie ‘n millennium na die wederkoms wees nie, maar ‘n finale oordeel van die nasies, en ‘n ewige bestaan met of sonder die Here.  Volgens Jh.6:39-40, 44 is dit die laaste dag wanneer Jesus weer kom en die dooies opwek.  Hoe kan die huidige aarde dan nog ná sy koms vir ‘n duisend jaar lank aanhou?

Een van die grootste probleme wat ek met hierdie siening het, is dat volmaakte gelowiges uit die hemel uit na ‘n sondige aarde toe moet terugkeer.

[3] ‘Hoe kan ‘n wêreld wat so boos is voor die wederkoms verander word?’  Die ywer van die Almagtige God sal daarvoor sorg (Jes.9:6).  Die feit dat dit vir ons regering ontmoontlik is, beteken nie dat dit vir die Here onmoontlik is nie (Sg.8:6, Lk.18:27).

‘Ja, maar dit lyk nie vir my of dinge besig is om te verander nie.’  Moenie soos Sara wees en lag omdat dit vir jou onmoontlik lyk nie.  Vertrou eerder soos Abraham, al is daar ook vir jou geen aanduiding dat die Here sy beloftes sal vervul nie.

[4] ‘Volgens Mt.7:13-14, 22:14, Lk.13:23-24 is daar min wat gered sal word, nie baie nie.’  In die laaste twee tekste bedoel Jesus dat die meeste Jode in sy tyd Hom verwerp het.  In dieselfde tekste sê Hy dat massas heidene van oral af na God se Koninkryk toe sal kom.  Ek glo dat Mt.7:13-14 ook van Jesus se tyd praat.  Op.7:9 en die tekste wat ek hierbo genoem dui aan dat ‘n ontelbare menigte tot bekering sal kom.

[5] ‘Op.6-19, Mt.24 en ander sulke tekste wys dat die wêreld slegter sal word, nie beter nie.’  Ek het vroeër in die reeks gewys dat hierdie gedeeltes in die eerste eeu vervul is.

[6] ‘Jesus het in Mt.13:24-30, 36-43 gesê dat die koring en die onkruid (gelowiges en ongelowiges) saam sal groei tot by die wederkoms.’  Ja, maar Hy het nie gesê dat daar meer onkruid sal wees as koring nie.  Eintlik het Hy aangedui dat die koring meer sal wees, omdat dit ‘n koringland is, en nie ‘n onkruidland nie.

Die toepassing

Laat hierdie waarhede jou gebedslewe verander.  Bid dat Jesus se Koninkryk deur die evangelie na die nasies toe sal versprei; bid dat sy wil op die aarde sal geskied (Mt.6:10).  Bid vir die redding van die Jode en vir herlewing.  Kry goeie boeke oor die onderwerp en lees dit.  Iain Murray se Puritan Hope is uitstekend, en Keith Mathison se boek oor Postmillennialisme is ook baie goed.

Dink ook daaraan dat die grootste predikers, teoloë, musikante en sendelinge in die kerk se geskiedenis optimisties was oor die eindtyd (nie almal van hulle was postmil nie):  Augustinus, Athanasius, Calvyn, John Owen, Jonathan Edwards, George Whitefield, David Brainerd, Isaac Watts, William Carey, Charles Spurgeon, David Livingstone en meer.

As postmillennialisme jou nie oortuig nie, wil ek ten minste vra of jy nie optimisties wil wees soos Spurgeon (‘n premil) en Calvyn (‘n amil) nie?  As jy nogsteeds nie oortuig is nie, respekteer ek jou besluit.  Ons kan in vrede lewe en hoef nie paaie te skei soos ‘n gemeente in Potch wat oor die eindtyd geskeur het nie.

Kategorieë