Coram Deo Cover Image

Coming soon...

1 June 2013

Die goeie nuus van God se oordeel ('n Kort oorsig oor Nahum)

Nineveh destroyed

'n Klomp slawe word gevange geneem deur 'n slegte man.  Hy is genadeloos en wreed.  Op 'n dag kom daar 'n boodskapper met goeie nuus:  “Die wrede slawemeester is vanoggend dood.”  Die slawe het gejuig oor hulle vryheid.

 

Dis die prentjie wat jy moet kry wanneer jy Nahum 1:15 lees:  “Kyk, op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor:  Vier jou feesdae, o Juda, betaal jou geloftes!  Want die snoodaard sal nooit weer deur jou gebied trek nie; hy is heeltemal uitgeroei!”  In dieselfde konteks sê Jesaja 52:7:  “Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê:  Jou God is Koning!”

 

Nahum het 'n 150 jaar ná Jona teen Nineve geprofeteer (653-612 v.C.).  Die nuus dat God vir Nineve sou verwoes en sy volk van onderdrukking sou bevry, was vir hulle goeie nuus (Nahum beteken troos).  Hoofstuk 1 beskryf God se toorn teen Nineve.  Hoofstuk 2 beskryf hoe die stad verwoes gaan word.  In hoofstuk 3 wys Nahum hoekom God hulle gaan verwoes.

 

Enigiemand wat beplan om 'n ander man se vrou te beskadig teken sy eie doodsvonnis.  Israel was God se bruid en enigiemand wat aan haar raak vat aan God se oogappel.  Hy het 'n heilige jaloesie gehad oor sy volk, en daarom sou Hy enigiemand verwoes wat bose planne teen haar beraam (1:2, 11).  Assirië het slawe gemaak van Israel (1:13).  Hulle het hul slagoffers se lyke en koppe opgehoop in piramides (3:3); hulle verskeur soos 'n sterk jong leeu (2:11-12, 3:8-10).  Nou sou God hulle verskeur (2:13).  Ja, God vat lank om kwaad te word (1:3, Jona 4:2).  Maar as sy toorn ontvlam het kan niemand Hom keer nie.  Nahum beskryf dit in grafiese terme:

 

“‘n Jaloerse God en ‘n wreker is die HERE, ‘n wreker is die HERE, en vol grimmigheid; ‘n wreker is die HERE vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn teen sy vyande.  Die HERE is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die HERE ongestraf bly nie. Sy weg is in warrelwind en in storm, en wolke is die stof van sy voete.  Hy dreig die see en maak dit droog en laat al die riviere opdroog; Basan en Karmel kwyn weg, en die groenigheid van die Líbanon verwelk.  Die berge bewe voor Hom, en die heuwels smelt weg; en die aarde rys op voor sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon.  Wie sal standhou voor sy grimmigheid?  En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn?  Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom.  Die HERE is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil.  Maar met ‘n oorstromende vloed maak Hy ‘n einde aan die plek van die stad, en sy vyande vervolg Hy die duisternis in.  Wat wil julle beraam teen die HERE?  Hy maak daar ‘n einde aan; die benoudheid sal nie twee maal opkom nie.  Want al is hulle saamgevleg soos dorings, en soos hulle drank so deur en deur nat—hulle sal soos droë stoppels volkome verteer word.  Van jou, o stad, het een uitgegaan wat kwaad teen die HERE beraam het, wat verderflike planne gemaak het.” (1:2-11).

 

Hier is hoe God die stad verwoes het:  Toe Esarhaddon koning van Assirië was, het hy sy seun Assurbanipal aangewys as die een wat ná hom koning sou wees.  Sy ander seun Samas-sum-ukin is aangestel om oor Babilon te heers.  Vir 'n dekade na Esarhaddon se dood het dinge goed gegaan.  Maar kort daarna het Samas-sum-ukin in opstand gekom teen sy broer Assurbanipal (652 v.C.).  Hy het die stryd verloor, maar Assurbanipal het 'n groot verlies gely.  Die stad Nineve het stadig maar seker begin verswak.  Nabapolesar was die nuwe leier in Babilon.  Vir 'n paar jaar het hy teen Nineve geveg, en in 612 v.C. het hy die stad verower (inligting verkry uit Dilllard & Longman, An Introduction to the Old Testament, Apollos, GRAND RAPIDS, 1995, p.405).  Die Tigrisrivier het oorstroom en 'n gedeelte van Nineve se stadsmure platgevee.  Só het die Babiloniërs ingekom.  Dit is presies wat Nahum voorspel het:  “Maar met ‘n oorstromende vloed maak Hy ‘n einde aan die plek van die stad...” (1:8).

 

Toe die Babiloniërs inval, het die mense van Nineve gevlug en uitmekaar gespat soos water wat in 'n woestyn wegvloei:  “En Ninevé is soos ‘n vywer van waters, al die dae van haar bestaan.  Maar hulle loop weg! Staan tog, staan!  Maar daar is niemand wat omdraai nie...Jou herders sluimer, o koning van Assur, jou edeles lê daar, jou volk is op die berge verstrooi, en niemand versamel hulle nie.” (2:8, 3:18).  Mense het bleek geword van vrees, en die soldate was so bang soos vroue:  “Leegheid, ontlediging, vernieling!  En die hart versmelt, en knieë wankel, en in al die lendene is krampe, en die aangesig van hulle almal word bleek...Kyk, jou volk binne-in jou is soos vroue, die poorte van jou land is wyd oopgemaak vir jou vyande, die vuur het jou grendels verteer.” (2:10, 3:13).  Die Babiloniërs het die stad geplunder (2:9).  Niemand het oor die stad getreur nie, maar almal het hande geklap uit blydskap (3:7, 19).  Daar was geen genesing vir Nineve se dodelike wond nie (3:19).  Die stad het inderdaad verdwyn soos 3:11 sê (English Standard Version), en is eers in 1842 n.C. gevind.

 

Let op drie lesse uit hierdie kort boek:

 

  1. Daar was eens 'n herlewing in Nineve (Jona 3).  Maar die stad het weer gerebelleer en in sonde verval.  Dank God vir tye van geestelike seën.  Wees waaksaam en moenie arrogant raak nie.  God kan 'n kerk of individu uitwis (sien Nahum), selfs al was daar voorheen 'n herlewing (sien Jona).

 

  1. Jesus het die vyand oorwin aan die kruis en sal finaal so doen by sy wederkoms.  Moenie moed verloor as gevolg van die wêreld, jou eie sonde, die dood, die hel en die duiwel nie.  Daar sal 'n dag wees wanneer Jesus sal terugkeer en jy die goeie nuus van God se oordeel sal hoor:  “Jou vyand is vir ewig vernietig.”

 

  1. God het Nahum se profesie vervul.  Jy kan verseker weet dat Hy die profesieë oor Jesus se wederkoms en die laaste oordeel sal vervul.  Moet Hom en sy Woord nie uitlag nie.  Moenie uitstel om jou te bekeer nie.  Moenie met jou lewe en die ewigheid speel nie.  Vrees God en bekeer jou.

Kategorieë