Coram Deo Cover Image

Coming soon...

29 January 2022

Die gevaar van geestelike sukses

Lukas 10:17-20

J.C. Ryle skryf: ‘Few men are like Samson, and can kill a lion without telling others of it... There are few Christians who can carry a full cup with a steady hand.’1 Sukses kan gevaarlik wees. Ussia was ’n goeie koning, totdat hy sukses bereik het. Daarna het hy hoogmoedig geword en geval (2Kron. 26:15). Laat ons ekstra versigtig wees as die Here ons gebede verhoor en ons suksesvol maak.

 

1. Die dissipels se blydskap (v.17-18)

’n Baie bekende en goeie prediker het oor die gawe van tale gesê: ‘Lord, some of my friends have this toy. Why can’t I have this toy too?’ Wat hy gesê het, is verkeerd. En wat die 70 of 72 dissipels in v.17 gesê het, is verkeerd. Dit is asof hulle hulle mag oor demone as ’n spesiale wapen of ‘super power’ beskou het, sodat hulle bly was (v.17). Omdat die demone God vrees, moes hulle pad gee toe die 72 hulle in Jesus se Naam beveel om uit te gaan. Die Naam van Jesus is nie ’n towerformule nie (vgl. Hand. 19:13-16), maar demone vrees wanneer iemand wat weergebore is deur die gesag van Jesus na hulle toe kom (v.17, 8:28, Jak. 2:19). Waar mense in dwaling of sonde vasgevang is (2Kor. 4:4, Ef. 2:2-3), moet ons in Jesus se Naam die evangelie met hulle deel en teen die bose bid (v.17).

Dit lyk nie juis of dit in ons woonbuurt werk nie. Mense is in dwelms, aborsie, misdaad, drank, seksuele losbandigheid, vals lering en ander sondes vasgevang. Hoekom raak hulle nie vry nie? Want ons glo nie v.17 en 19 nie, naamlik dat Jesus ons mag oor die bose gegee het. Ons glo nie in die krag van die evangelie en gebed deur die Naam van Jesus nie. Ons bid vir ons onmiddellike probleme meer as vir bekerings en ons deel die evangelie min. Ek probeer nie sê dat almal in die strate moet preek nie. Almal is nie ’n evangelis nie (Ef. 4:11). ’n Liggaam bestaan nie uit een lid nie (1Kor. 12:17, 19). Daar is meer as een gawe. Maar selfs al is almal nie evangeliste nie, kan almal van ons ’n traktaatjie vir iemand gee en die evangelie met hulle deel (Matt. 28:19, Hand. 8:4, 11:19-20). Almal kan bid dat die Heilige Gees ons gesprekke effektief sal maak, sodat mense tot bekering kom (Hand. 16:14, Rom. 1:16).

Sonder gebed is ons magteloos teen die duiwel. Deur gebed kan ons hom oorwin en gebruik die Here ons om mense uit die duiwel se mag te red (2Kor. 10:4-5, Ef. 6:14-20). Soms wyk ’n demoon nie na die eerste gebed nie (9:40). In sulke gevalle moet jy met volharding en geloof bid (1Kon. 18:42-44, 2Kon. 4:32-35, Matt. 17:19-20, Mark. 9:28-29, Rom. 12:12, Ef. 6:18, Kol. 4:2, 1Tess. 5:17).

Wees versigtig as die Here jou gebed beantwoord. Die duiwel sal uit ’n ander hoek kom en jou versoek om hoogmoedig te wees. Hy ken Spr. 16:18: “Voor ineenstorting is daar trots, en voor die val is daar ’n hooghartige gees.”2

Volgens party mense gaan v.18 oor die duiwel se val deur Jesus se bediening op aarde. Dit is moontlik, aangesien die 72 in die vorige vers demone uitgedryf het. In 11:20-22, Kol. 2:14-15, Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8, Op. 12:9-11 sien ons hoe Jesus die duiwel deur sy aardse bediening, kruisdood en opstanding oorwin het. Maar op grond van die onmiddellike konteks beskryf Lukas meer waarskynlik die duiwel se val in die begin. Dit asof Jesus sê: ‘In die begin het die duiwel geval toe hy hoogmoedig geword het. Ek was daar en het dit gesien (v.18, Jes. 14:12-15, Eseg. 28:12b-17).3 Waak teen hoogmoed (v.17), want anders sal julle soos die duiwel tot ’n val kom (v.18, vgl. 1Tim. 3:7).’

Gebruik die Here jou? Beleef jy geestelike sukses? Mismoediges vind hoop wanneer jy hulle bemoedig. Jy nooi baie mense kerk toe, sodat die gemeente groei. Die Here antwoord jou gebede; siek mense word gesond wanneer jy bid. Jy help mense uit verkeerde lering en lei hulle na goeie lering toe. Jy help mense deur jou wyse raad; hulle groei deur jou kennis van die Woord. As gevolg van jou goeie organisasie vermoë bereik die evangelie baie mense. Jou kennis van die Woord groei. Jy oorkom sekere sondes waarteen jy vir jare gestry het. Jou groot bydraes vir die Here se werk maak dat dit uitbrei.

Wees versigtig. Dank die Here en moet jouself nie op die skouer klop nie. Ons vertel maklik vir mense wat ons alles bereik het en wat die Here deur ons doen. Ons sê: ‘Aan God alleen die eer,’ maar in die geheim wens ons onsself geluk. Ons soek mense se lof. Ek sien dit met myself en ander predikante. Wanneer ons mekaar vra hoe dit by ons gemeentes gaan, lig ons die goeie uit. Ons praat nie juis oor die slegte nie. Ons laat dinge beter klink as wat dit werklik is. Getalle word byna eerste in ons gesprekke genoem.

Hoe gaan dinge by die gemeente?

Die opkomste lyk goed.

Die kerk is vol.

Die gemeente groei.

Wat van die Here se eer? Ek weet dit is fyn lyn, want aan die een kant moet ons van die Here se werke getuig. Maar aan die ander kant deel God sy eer met niemand nie (Jes. 42:8, 48:11). Hoe en waar vind ’n mens die balans? Jy vertel mense van jou swakheid; van hoe dinge was. Vertel hulle van hoe jy alles probeer het, maar onsuksesvol was. Sê vir hulle hoe jy die Here vir sy bonatuurlike ingrype gesmeek het. Sê hoe Hy jou gebede beantwoord het en die uitkoms wonderlik was. Sê vir mense dat dit niks met jou te doen het nie, maar dat jou eie pogings misluk het. Sê dat dit die Here is. Weier om mense se lof te aanvaar en gee aan God alleen die eer. Waak teen die duiwel wat jou in die geheim geluk wil wens. Sê nee vir die versoeking en sing ’n loflied vir die Here. Sê gereeld vir Hom dankie. Sodoende fokus jy op Hom en nie op jouself nie.

 

2. Die dissipels se gesag (v.19)

Stel jou voor dat jou braaitang in homself roem oor hoe goed hy die vleis gebraai het. Wat as Novak Djokovic se tennisraket roem oor hy Wimbledon gewen het? Volgens v.19 het Jesus die 72 gesag oor demone gegee. Daarom moes hulle nie in hulleself roem nie, maar in Jesus.

So is dit met ons. As ek ’n goeie boodskap preek kan ek nie in myself roem nie. God het my die gawe van prediking gegee (1Kor. 12:11). Die gemeente behoort aan Jesus en nie aan my nie; Hy het dit met sy eie bloed verkry (Hand. 20:28). Die Heilige Gees help my om die Bybel te verstaan (Joh. 16:12-13). Ek verkondig Gód se Woord en nie my eie nie (1Tess. 2:13). Ek preek met die lewe en asem wat God my gee (Hand. 17:25). Ek verkondig nie myself nie, maar Jesus (2Kor. 4:5). Wat het ek om in te roem? Niks. Die Bybel sê:

“Wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan, ‘Ons is nikswerd slawe. Ons het net gedoen wat ons moes doen.’” (17:10).

“’n Mens kan niks ontvang as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie... Hy moet meer word, en ek minder.” (Joh. 3:27, 30).

“Want wie ag jou belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom beroem jy jou daarop asof jy dit nie ontvang het nie?” (1Kor. 4:7).

Selfs hier moet jy waak om nie goed te voel oor hoe nederig jy is nie! In C.S. Lewis se Screwtape Letters skryf ’n senior duiwel briewe aan ’n junior duiwel. Hy leer hom om mense te versoek. In brief 14 sê hy: ‘Your patient [die mens wat hy moet versoek] has become humble; have you drawn his attention to the fact?’4

Die oplossing vir hoogmoed is nie om ’n lae opinie van jouself te hê nie, want daardeur fokus jy nog steeds op jouself. Die oplossing is om van jouself te vergeet en op God en jou naaste te fokus (Matt. 22:37-39). Die Here sal jou krag gee om dit te doen; om aan mense goed te doen en hulle deur die evangelie en gebed uit die duiwel se mag te red (v.19, Matt. 6:10, 13, Hand. 26:18, Ef. 6:12, 18-20).

In die 1800’s het ene pastor Hsi van China dit ervaar. Na sy bekering was sy vrou rusteloos, sodat sy nie kon eet of slaap nie. As hy die Bybel opgetel het om vir hulle te lees, het sy woedend geraak. Sy was geweldadig en aggressief, het stuiptrekkings gekry en kru taal gebruik. Hsi het agtergekom dat dit die werk van demone is. Hy het vir drie dae gevas en gebid. Die demone het gevlug, sy vrou het tot bekering gekom en nooit weer hierdie dinge ervaar nie. Mense in die omgewing het daarvan gehoor en gesê: ‘Wie is hierdie Jesus?’ Party het tot bekering gekom.5

Demone wil die evangelie keer, maar hulle kan nie wen nie (Matt. 16:18, Hand. 13:6-12, 16:16-18, 19:11-20). Jesus het die 72 mag gegee om op slange en skerpioene te trap. Hy bedoel dit nie letterlik soos in Hand. 28:3-6 toe ’n giftige slang vir Paulus gepik het en hy niks oorgekom het nie. Jesus gebruik beeldspraak om sy oorwinning oor die bose te beskryf (v.17, 19). Baie tekste praat van hoe Jesus en sy dissipels slange en skerpioene oorwin (Gen. 3:15, Ps. 90:13, Eseg. 2:6, Rom. 16:20, 2Kor. 11:3, Op. 12:9, 20:2, 9:1-3, 5, 10). As jy laag aan die Here se voete bly, kan die duiwel jou nie seermaak nie (v.19).

Hoe weet ’n mens of jy op die Here se krag staatmaak en nie jou eie nie? As jy dinge doen wat nie in die Bybel staan nie, vertrou jy op jouself. Mense doen dit gereeld. Party van hulle loop sewe keer om ’n gebou om dit van demone te reinig. Ander salf hulle deurkosyne of die hoofingange van ’n dorp met olie. Party spreek Christelike formules oor elke kamer uit. Of hulle probeer om die duiwel te bind. Voddie Baucham spot met hulle: ‘Het hulle nie gehoor dat iemand laasweek die duiwel gebind het nie? Hoe het hy weer losgekom?’ Party mense blaas ’n ramshoring in die hoop dat daar ’n geestelike deurbraak in die hemel sal wees. Of hulle speel Hillsong en Bethel se musiek om demone weg te dryf. Party sit op die hoogste plek in ’n dorp waar hulle kamtig die gebiedsgeeste bind en vloeke breek.

Waar sê die Bybel jy moet hierdie dinge doen? Moenie verder gaan as wat daar geskryf staan nie (1Kor. 4:6). As jy dinge doen wat nie in die Bybel staan nie, sal die duiwel jou maklik uitvang. Later weet jy nie meer wanneer dit die Here is en wanneer die duiwel hom voordoen as ’n engel van die lig nie (2Kor. 11:14). Doen eenvoudig wat die Bybel sê: vas (Dan. 10:2-3, 12-14, Matt. 4:1-11), bid baie (Mark. 9:29), gebruik God se Woord (Joh. 8:32) en beklee jou met die volle wapenrusting van God (Ef. 6:10-20). Doen dit in die Naam van Jesus deur die geloof (v.17).

As ’n gemeente haar eie idees volg, kry mense seer (v.19). Die leeu sal hulle byt, skeur en amok maak (1Pet. 5:8). In so ’n gemeente veroorsaak hy verdeeldheid, versprei hy vals lering en sonde, en bring hy demoon-verwante siektes en probleme. Deur sy bose werke val die gemeente se leiers in seksuele sonde of steel hulle geld.

 

3. Die dissipels se redding (v.20)

’n Meisie het eenkeer vir my gesê: ‘My pa kan in vyf hemelse tale praat.’ Blykbaar het haar pa in homself geroem. Jesus het vir die 72 gesê om nie in hulle gawes te roem nie (v.17, 20, vgl. 1Korintiërs 12, 14). Ongelowiges kan ook gawes hê (Matt. 7:22-23), maar dit help nie as jy ongered is nie. Moenie in jou geestelike sukses roem nie, maar roem in jou redding waarmee jy absoluut niks te doen het nie (v.20).

Enige Christen weet hy word nie deur goeie werke gered nie. Party gelowiges dink egter dat hulle op grond van hulle vrye wil gered is. Maar volgens Hand. 5:31, 11:18, 18:27, Ef. 2:8-9, Fil. 1:29, 2Tim. 2:25 is selfs bekering en geloof ’n gawe van God. Verlossing hang nie af van die mens se wil nie, maar van God wat barmhartig is (Rom. 9:16). Jy het niks om in te roem nie. Die rede hoekom jy God ken, is omdat Hy besluit het om Homself aan jou bekend te maak:

“Op daardie oomblik het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel en gesê: ‘Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak.’” (v.21-22).

Jy is gered en gaan hemel toe omdat God jou naam in die boek van die lewe geskryf het nog voor Hy die wêreld gemaak het (v.20, Op. 13:8, 17:8, 20:15, 21:27). Hoe weet jy of God jou naam in die boek van die lewe geskryf het en kan jy verseker weet? Jy kan weet; die Bybel sê dit (v.20, Fil. 4:3, Heb. 12:23). Geloof in Jesus en ’n heilige lewe bewys dat God jou uitverkies het en jou naam in sy boek geskryf het (Hand. 13:48, Rom. 8:29-30, 1Tess. 1:4-5, 2Pet. 1:10, 5-8).

Bekeer jou en verplaas jou vertroue van jouself na Jesus toe as jy onseker is of jou naam in sy boek staan. Verbly jou indien jy verseker weet dat jou naam in God se boek is (v.20).

Maar hoe kan ek bly wees as Eks. 32:32 en Ps. 69:29 sê dat God mense se name uit sy boek vee? Hierdie twee verse gaan nie oor die boek van die lewe nie, maar oor die boek van die lewendes. Daar is ’n verskil. Die boek van die lewendes is ’n rekordboek van mense wat nog op die aarde lewe en nie dood is nie. Sodra iemand sterf, word sy naam uit hierdie boek verwyder.

Wat van Op. 22:19 in die Ou Vertaling: “En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.”? Laat ek die vraag so antwoord:

In die vroeë kerk het Hieronymus of Jerome (345-420 n.C.) die Bybel uit die oorspronklike tale in Latyn vertaal. Omdat daar nie kopieermasjiene was nie, moes mense sy vertaling met die hand oorskryf. Êrens het iemand ’n kopieerfout gemaak en die Latynse woord ligno (boom) met libro (boek) vervang. Dit kon maklik gebeur het, omdat libri (boek) ook in Op. 22:18 voorkom.

In die 1500’s het Disederius Erasmus (1466-1536) ’n klomp Griekse manuskripte bymekaar gesit. Toe hy by Openbaring 22 kom, toe ontbreek die laaste ses verse daarvan. Om sy Griekse Bybel volledig te maak, het hy die Latyn terug in die Grieks in vertaal! Ons Ou Vertaling maak van hierdie manuskripte gebruik en sê in Op. 22:19 dat God mense se name uit die boek van die lewe sal verwyder.

Toe mense later beter manuskripte ontdek, toe staan daar dat die mense wat aan God se Woord peuter nie toegang tot die boom van die lewe sal hê nie (sien Op. 22:19, 14, 2:7, Gen. 3:22-24).6 Die vers gaan nie oor ’n Christen wat sy redding verloor nie, maar oor ’n vals leraar wat God se Woord verdraai en nie in die hemel sal kom nie.

Wees bly as jou naam in die hemel geskryf is (v.20). God sal jou naam nooit uit sy boek vee nie (Op. 3:5); niemand kan jou uit sy hand ruk nie (Joh. 10:28-29). Op die oordeelsdag beteken hierdie waarheid soveel meer as hoeveel gawes jy gehad het of as die geestelike sukses wat jy bereik het. Dit mag jou miskien net verbaas as ’n bejaarde weduwee wat die Here getrou gedien het ’n groter beloning as ’n wêreldberoemde prediker ontvang. “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.” (Matt. 19:30).


1  J.C. Ryle, Luke: Vol. 1—Expository Thoughts on the Gospels (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2012, 1986 [1858]), 273-4

2  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

3  Jesaja 14 en Esegiël 28 beskryf die val van die konings van Babilon en Tirus. Onthou egter dat daar volgens Dan. 10:13-14, 20-21 bose geeste agter hierdie wêreldmagte is. Jesaja 14 en Esegiël 28 se bose mag is die duiwel. Derhalwe beskryf die profete nie alleen die konings se val nie, maar die duiwel s’n.

4  C.S. Lewis, The Screwtape Letters (Glasgow: Collins, Fount Paperbacks, 1942, 1985), 71

5  Frederick S. Leahy, Satan Cast Out: A Study in Biblical Demonology (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1975), 126-7

6  Sien http://www.reltech.org/TC/v16/Krans2011.pdf vir ’n tegniese verduideliking.

Kategorieë