“17 Hy wat die waarheid spreek, vertel wat reg is; maar ‘n valse getuie bedrog. 18 Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing. 19 ‘n Betroubare lip bestaan vir altyd, maar ‘n valse tong vir ‘n oomblik. 20 Bedrog is in die hart van die wat onheil bewerk; maar die wat vrede aanraai, het vreugde. 21 Geen enkele onheil tref die regverdige nie, maar die goddelose is vol ongeluk. 22 Valse lippe is vir die HERE ‘n gruwel, maar Hy het ‘n welbehae in die wat getrou handel.” (Spreuke 12:17-22).
Praat die waarheid (v.17-19, 22)
Iemand het gesê dat mense nou twee-twee begrawe word. “Hoekom?”, het iemand gevra. “Want ek het 'n grafsteen gesien waarop staan: Hier lê 'n prokureur en 'n eerlike man.” 'n Prokureur of getuie wat vals getuig in die hof wys daardeur dat hy ‘n hart vol bedrog het. Dit is nie ongewoon dat so iemand ook in gewone gesprekke sal lieg nie (v.17b). Iemand wat valslik getuig beskadig homself, ander, en die samelewing.
Toe ek op hoërskool was het ek eenkeer gesien hoe twee seuns vuisslaan in die badkamer. Toe die geveg klaar is, het die verloorder die wenner se hand geskud. Die wonde en letsels wat woorde los is erger en gaan nie sommer gou weg nie. Die genesing na 'n vuisgeveg is gouer as die genesing nadat iemand jou met woorde beskadig het: “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke” (v.18a). “Ék moet onder leeus lê, wraakgieriges, mensekinders wie se tande spiese en pyle is, en wie se tong ‘n skerp swaard is.” (Psalm 57:5). Dink voor jy praat. Praat net woorde wat opbou en genees (v.18b). Sulke woorde sou onder meer insluit die evangelie, die Bybel, die waarheid, eb woorde van bemoediging. Paulus sê: “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.” (Efesiërs 4:29). Jesus se woorde het genesing vir die liggaam en die siel gebring: “Die Here HERE het My ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge.” (Jesaja 50:4). “En die hoofman oor honderd antwoord en sê: Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net ‘n woord, en my kneg sal gesond word.” (Matteus 8:8).
Ananias en Saffira het gelieg en gedink hulle kon daarmee wegkom. Maar hulle leuen is uitgevang en God het hulle doodgemaak (Handelinge 5:3-5). Praat die waarheid, want dit hou vir ewig. Jesus self is die waarheid en kan nie vergaan nie. Ook sy woorde sal vir ewig vasstaan (Jesaja 40:8, Matteus 24:35). As jy die waarheid praat hoef jy nooit jou storie te verander nie – dit bly altyd dieselfde (v.19a). Die leuenaar sal uitgevang word en die waarheid sal uitkom (v.19b). “Jou tong beraam onheil, soos ‘n geslypte skeermes, o werker van bedrog! Jy hou meer van kwaad as van goed, van die leuen meer as om geregtigheid te spreek. Jy hou net van woorde wat verslind, o bedrieglike tong! So sal God jou dan ook vir ewig omverwerp, jou wegruk en jou uit die tent uitsleep; ja, Hy sal jou ontwortel uit die land van die lewendes.” (Psalm 52:4-7). As jou tong die waarheid gaan praat, moet jy eers die waarheid van Jesus, die Heilige Gees, en die Skrif in jou hart kry. Want onthou, wat die hart van vol is loop die mond van oor.
As 'n seun rebels is, kan mense maklik sê: “Hy leer dit by sy pa.” Ons is na God se beeld gemaak. As ons lieg kan mense tot die gevolgtrekking kom dat God 'n leuenaar is. Juis daarom haat God leuens en straf Hy leuenaars (v.22a, 6:17, Openbaring 22:15). 'n Leuenaar kan in niks vertrou word nie. As jy hom nie eers in sy woorde kan vertrou nie, hoe kan jy hom in groter dinge vertrou? God is bly oor mense wat die waarheid praat (v.22b). Die Hebreeus sê letterlik dat jy die waarheid moet uitasem (v.17a). Met ander woorde, jy moet nooit jou asem mors om leuens te vertel nie.
Maak vrede (v.20-21)
Martin Luther het vrede bewerk tussen twee mense die dag voordat hy dood is. John Bunyan ook. Vrede is wat God wil hê. Moenie kwaad of bedrog teen ander bedink en beplan nie (v.20a). Bely jou eie sonde wat jy teen ander gepleeg het, en vergewe dié wat teen jou gesondig het. So sal jy vrede hê en blydskap in jou verhouding met God en jou naaste (v.20b). “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” (Matteus 5:9). Jesus vervul v.20 op 'n besondere wyse deurdat Hy die groot vredemaker is: “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus” (Romeine 5:1). “Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het. En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was” (Efesiërs 2:14-17). “en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis—ek sê deur Hom—die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.” (Kolossense 1:20).
'n Man wat oppad is om 'n ewige koninkryk in besit te neem, sal nie kla as sy kar probleme gee terwyl hy daarheen reis nie (aangepas uit John Newton se bekende illustrasie). 'n Ou kar wat breek is nie groot skade as hy die koninkryk gaan erf nie. God beskerm die regverdige vredemaker, sodat geen onheil of straf hom tref nie: “Geen enkele onheil tref die regverdige nie...” (v.21a). “Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie” (Psalm 91:10). “Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar.” (Psalm 121:7). Dit is nie dat daar nooit negatiewe dinge met 'n gelowige gebeur nie. Dit is eerder dat die slegte wat hom tref 'n goeie effek het – net soos wat Romeine 8:28 sê. Die Christen moet 'n Genesis 50:20‘mindset’ hê: “Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is”. Vir die ongelowige werk alles (ook goeie dinge) teen hom: “...maar die goddelose is vol ongeluk.” (v.21b). Verhoudings is één so area. Vir die gelowige is waarheid en vrede die kern vir goeie verhoudings: eers teenoor God en dán sy naaste.