Coram Deo Cover Image

Coming soon...

24 February 2024

Die gawes van die Gees: Genesing

Verskeie Tekste

Met die draai van die eeu het Benny Hinn die 9-jarige William Vandenkolk van blindheid genees. Op 17-jarige ouderdom was die seun nog steeds blind. Syne was ’n vals genesing.1

In die Word of Faith beweging is vals wonderwerke algemeen. Soos die Fariseërs in Matt. 16:1, 4 lus hierdie mense na wonderwerke sonder dat hulle dit vind: “Die Fariseërs en Sadduseërs het toe nader gekom om Hom te toets, en Hom gevra om vir hulle ’n teken uit die hemel te wys... ’n Bose en owerspelige geslag vra ’n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van Jona.”

Wat my betref is John MacArthur nie te hard as die Word of Faith beweging aanvat nie. Nogtans bereik ek nie dieselfde slotsom as hy nie. Ons moenie die baba met die badwater uitgooi en sê die gawe van genesing bestaan nie meer nie.

Een van my kollegas was ’n asma-lyer. Toe ’n sekere leraar by ’n erediens vir hom bid, het hy gesond geword. Toe een van my vriende dit hoor, toe sê hy: ‘Hy is nie genees nie, maar kry elke winter brongitis.’ Sy reaksie herinner my aan die mense van Nasaret. Toe Jesus hulle besoek, het hulle ongeloof Hom verhinder om hulle gesond te maak. Nie dat hulle ongeloof Hom beperk het nie. Maar hulle ongeloof het gemaak dat hulle nie eers hulle siekes na Hom toe bring nie (Mark. 6:5-6). Sal jy vir bonatuurlike genesing bid as jy nie glo dit kan gebeur nie? Sal jy sien hoe die Here mense bonatuurlik genees as jy nie daarvoor bid nie (Jak. 4:2)?

 

1. Genesing is vir die kerk

’n Sekere leraar glo die gawes in 1Korintiërs 12 is nie vir die plaaslike kerk bedoel nie, maar vir die universele kerk deur die eeue. Volgens hom het die bonatuurlike gawes in 1Kor. 12:8-10 saam met die apostels uitgesterf. Hierdie teorie werk nie as jy in gedagte hou dat Paulus die kerk met ’n menslike liggaam vergelyk nie (1Kor. 12:12-31). Dit beteken as die bonatuurlike gawes met die apostels uitgesterf het, het ’n groot deel van die liggaam uitgesterf. En hoe sal ’n liggaam sonder hande, oë, voete, bene, longe, niere en meer funksioneer? Dit kan nie.

Die waarheid is dat 1Korintiërs 12 se gawes vir die plaaslike gemeente bedoel is; vir die kerk van Jesus Christus deur alle eeue: “aan die gemeente van God in Korinthe, wat in Christus Jesus geheilig is deur God—geroepe heiliges, saam met almal wat op elke plek die Naam van ons Here Jesus Christus aanroep, hulle Here en ons Here... sodat julle, terwyl julle wag op die openbaarmaking van ons Here Jesus Christus, nie in enige genadegawe tekort skiet nie.” (1Kor. 1:2, 7, eie beklemtoning).

 

2. God gebruik mediyne

Ek het al mense ontmoet wat glo Christene moenie medisyne gebruik. Een van hulle het gesê medisyne kom van die duiwel af. In die vroeë kerk het towenaars inderdaad hulle eie medisyne gemaak, daarom het Christene dit vermy. Dit is die idee agter die towery in Gal. 5:20 en Op. 21:8 (Gk. pharmakeia).2 In dieselfde konteks het Tatianus in die 2de eeu n.C. gesê Christene moet vir die siekes bid eerder as wat hulle medisyne gebruik. ‘Indien iemand wel medisyne gebruik en gesond word,’ het hy gesê, ‘moet die persoon God eerder as die medisyne prys.’3

Ek stem saam: medisyne is ’n gawe van God. Daardeur het God vir koning Hiskia genees (2Kon. 20:1-7). In die Bybel is olie en wyn as medisyne gebruik (Luk. 10:34, 1Tim. 5:23). Paulus verdoem nie dat Lukas ’n mediese dokter was nie (Kol. 4:14). Tog moet ons nie so op medici steun dat ons nalaat om te bid nie: “In die nege-en-dertigste jaar van sy regering het Asa ’n voetkwaal ontwikkel. Sy siekte het later ernstig geword. Selfs in sy siekte het hy nie die Here geraadpleeg nie, maar by genesers raad gesoek.” (2Kron. 16:12).

Om te keer dat mense in medisyne en dokters roem, genees die Here hulle soms bonatuurlik deur die gawe van genesing (1Kor. 12:9).

 

3. God werk deur ouderlinge

’n Klompie jare gelede het ’n vrou in ons gemeente baie siek geword. Sy was naderhand moedeloos. Sy het die ouderlinge ontbied om Jak. 5:14-16 op haar toe te pas: “As iemand van julle siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente roep, sodat hulle vir hom kan bid, nadat hulle hom in die Naam van die Here met olyfolie gesalf het. Die gelowige gebed sal die sieke gesond laat word, en die Here sal hom weer oprig. En as hy sonde gedoen het, sal hy vergewe word. Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n regverdige is baie kragtig in sy uitwerking.”

Twee dae later het die vrou opgestaan en niks makeer nie! ’n Britse prediker genaamd Peter Masters sê dit is norm, terwyl 1Kor. 12:9 se gawe van genesing saam met die apostels uitgesterf het. ‘As Jakobus wou hê ons moet die gawe van genesing gebruik, sou hy nie sê die sieke moet die ouderlinge roep nie,’ het hy gesê.4

Wat my betref sit Peter Masters die pot mis. Jakobus is tog voor 1Korintiërs geskryf. Duidelik was die gawe van genesing werksaam toe Jakobus sy brief neergepen het. Hoekom moet ons 1Kor. 12:9 se gawe van genesing weggooi en slegs aan Jakobus se woorde wat vroeër geskryf is, vashou?

Die feit is dat Jakobus nie enige siekte beskryf nie. Die sieke in hierdie gedeelte is fisies ongesteld en geestelik moedeloos. Hy kan nie by die gemeente uitkom nie, daarom moet hy die ouderlinge roep. Hy lê plat op sy rug, daarom moet die ouderlinge oor hom bid en sal die Here hom weer oprig. Hier is iemand wat meer as die gawe van genesing benodig. Hy het pastorale sorg nodig, daarom laat hy die ouderlinge roep eerder as iemand met die gawe van genesing.

Ons moenie soos party gemeentes in die gewoonte verval waar ons Jakobus 5 afskeep nie. Maar laat ons ook nie die gawe van genesing uitskakel nie.

 

4. God genees bonatuurlik

Gestel jy kry kanker, gaan vir chemo en word genees. Dit is die Here se werk, maar dit is nie die gawe van genesing nie.

Voordat ek laerskool toe is, het ek epileptiese aanvalle begin kry. Ek het medikasie gebruik, maar het nog steeds aanvalle gekry. Toe ek 13 jaar oud was, het ek dit heeltemal ontgroei en die medikasie gestaak. Dit was die Here werk, maar dit is nie die gawe van genesing nie.

Die gawe van genesing is as die Here iemand onmiddellik, volkome en permanent deur gebed genees. Die kerkvader Irenaeus som die Bybelse lering mooi op: ‘...the name of our Lord Jesus Christ even now...cures thoroughly and effectively all who anywhere believe on Him’ (eie beklemtoning).5 Deur die Heilige Gees gee Jesus die gawe van genesing aan wie Hy wil (1Kor. 12:11). Die Grieks van 1Kor. 12:9 gebruik ’n dubbele meervoud en praat van gawes van genesings. Dit is asof Paulus sê daar is verskillende gawes van genesing vir verskillende situasies.

Toe ’n sekere Innocentius in Augustinus se tyd pynlike anale fistels of pypswere ontwikkel, het hy die Here met trane gesmeek dat hy nie die opvolg operasie wou ondergaan nie. Toe die dokters hom die volgende dag ondersoek, was hy volkome genees.6 Sulke genesings het gereeld in die tydperk na die apostels plaasgevind.7

Ook in die 1500’s het Robert Bruce by verskeie geleenthede vir ongeneeslike epilepsie-lyers gebid en is hulle genees.8 Dwarsdeur William Duma se bediening het hy vir siek mense gebid en het hulle gesond geword.9

Partykeer gebeur dit dat die duiwel mense siek maak (Luk. 13:11, 16), maar nie altyd nie. Matt. 4:24 onderskei tussen demoonbesetenes en siekes. In Eks. 9:8-11 het God die Egiptenare met pynlike swere getref. Indien ’n demoon iemand siek maak, moet ons vas en bid dat God die bose gees sal uitdryf (Mark. 9:29). Die bevryde persoon moet homself bekeer, sodat die bose gees nie terugkom nie (Matt. 12:43-45). Die persoon moet in Jesus glo, sodat Hy hom uit die mag van die bose kan verlos (Kol. 1:13-14).

Soms laat die Here ’n gelowige siek bly selfs as iemand met die gawe van genesing naby is: “Hy was werklik tot die dood toe siek, maar God het Hom ontferm, nie net oor hom nie, maar ook oor my, sodat ek nie een verdriet ná die ander sou ervaar nie.” (Fil. 2:27). “Trofimus het ek siek in Milete agtergelaat.” (2Tim. 4:20).

Hoekom doen die Here dit? Hy wil ’n spesifieke doel bereik. In Paulus se geval het Hy die doring in sy vlees gelos om hom nederigheid te leer. Hy wou sy genade aan hom wys, sodat Paulus kon leer God se krag kom tot volle werking as ons swak is. Dan roem ons nie in onsself nie, maar in Hom alleen (2Kor. 12:7-10).

’n Sekere denominasie glo genesing is altyd God se wil vir sy kinders, maar bogenoemde verse wys anders. Hierdie mense haal graag Jes. 53:5 aan: “deur sy wonde is daar vir ons genesing.” Vergeet hulle van Job siekte (Job 2:7-10), of dat Elisa terminaal siek geword en gesterf het (2Kon. 13:14, 20)? Of moet ons glo Jesus se dood is nie terugwerkend nie? Het sy dood nie Ou Testamentiese gelowiges bevoordeel nie?

Die waarheid is Jes. 53:5 gaan nie oor genesing by die nagmaal nie, maar beskryf in die eerste plek geestelike genesing. Met verwysing na geestelike genesing sê 1Pet. 2:24-25 Christus het “self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra...sodat ons, noudat ons ons sondes afgesterf het, vir geregtigheid kan leef—Hy deur wie se verwonding julle genees is. Julle was immers verdwaal soos skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Bewaker van julle siele.” (eie beklemtoning).

Toe een van my vriende dit sê, het sy denominasie hom uitgeskop. Natuurlik kan die Here mense by die nagmaal genees, maar dan is dit omdat hulle siekte deur sonde veroorsaak is (1Kor. 11:30-31, Spr. 14:30, 17:22). Sodra hulle hulle sonde bely en hulle bekeer, sal die Here hulle genees—of hulle dit by die nagmaaltafel doen of by die huis. David Murray vertel van so ’n geval waar ’n sekere leraar siek geword het. Na vele besoeke aan die dokter het hy siek gebly. Toe hy uiteindelik sy jaloesie teenoor ’n ander leraar bely en hom daarvan bekeer, het hy gesond geraak.10

Maar verwys Matt. 8:16-17 nie na liggaamlike siekte wanneer dit Jes. 53:5 aanhaal nie? Dit doen inderdaad: “Teen die aand het hulle baie mense wat deur demone besete was, na Hom gebring. Hy het die geeste met ’n woord uitgedryf, en almal wat siek was, gesond gemaak, sodat vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gesê is: ‘Hy het ons krankhede weggeneem, en ons siektes het Hy gedra.’ ”

So het dit gebeur toe Jesus die eerste keer op aarde was. Wanneer Hy weer kom, sal daar geen meer siekte of sonde wees nie (Jes. 33:24, Op. 22:2). Sodra Hy ons liggame opwek, sal die dood self verbygaan (1Kor. 15:42-55, Op. 21:3-4). Die gawe van genesing sal nie meer nodig wees nie (1Kor. 13:8-10).

Ongelukkig is ons nog nie daar nie. Selfs met die gawe van genesing sal ons nog steeds sterf (Gen. 3:19, Heb. 9:27). Toe Jesus blinde mense genees het, het hulle nooit weer verkoue gekry nie? Toe Jesus Lasarus uit die dood uit opwek, het hy later weer gesterf? Wat ons eerste benodig, is nie die gawe van genesing nie, maar geestelike genesing vir die kanker van ons siel: “Jesus het hulle geantwoord: ‘Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.’ ” (Luk. 5:31-32).

John Owen sê: ‘Men may have their bodies cured by miracles, when their souls are not cured by grace.’11 Wie sonder Jesus sterf, sal vir ewig ’n siek liggaam en siel hê: “Die vyfde engel het sy bak oor die troon van die dier uitgegooi. Sy koninkryk is in duisternis gehul, en die mense het op hulle tonge gebyt van die pyn. Hulle het ook die God van die hemel gelaster, as gevolg van hulle pyne en hulle swere. Nogtans het hulle nie tot bekering van hulle dade gekom nie.” (Op. 16:10-11).

Vra Jesus vir genesing van die sonde wat jou siel siek maak. By Hom is daar nie ’n waglys soos by ’n spesialis nie, maar deur Hom kan jy enige tyd na die Vader toe kom (Rom. 5:2, Ef. 3:12).


1  John MacArthur, Strange Fire (Nashville, Tennessee: Nelson Books, 2013), 168.

2  Alvin J. Schmidt, How Christianity Changed the World (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 2001, 2004), 57; Eusebius of Caesarea (260-339), Demonstratio Evangelica, 3.6, par. 147 (toegang verkry op 30 Januarie 2024, https://www.tertullian.org/fathers/eusebius_de_05_book3.htm).

3  Tatian, Address to the Greeks, 18 & 20 (toegang verkry op 30 Januarie 2024, https://www.earlychristianwritings.com/text/tatian-address.html).

4  Peter Masters, The Healing Epidemic (London: The Wakeman Trust, 1988), 136-161.

5  Irenaeus of Lyon (130-202), Against Heresies, 2.32.5 (toegang verkry op 31 Januarie 2024, https://www.earlychristianwritings.com/text/irenaeus-book2.html). In die konteks gaan dit oor die geestelike gawes en liggaamlike genesing eerder as oor geestelike genesing.

6  Augustine of Hippo (354-430), The City of God, 22.8 (toegang verkry op 31 Januarie 2024, https://www.newadvent.org/fathers/120122.htm).

7  H.F. Stander, Die Besondere Gawes van die Heilige Gees in die Eerste Vier Eeue n.C. (Pretoria: Didaskalia Uitgewers, 1986), 31, 35, 38, 40, 48, 51-3, 65, 69-70, 78, 84-5.

8  John Howie, The Scots Worthies (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1995 [1870]), 148.

9  Mary Garnett, Take Your Glory Lord: William Duma—His Life Story (Self-published, 1979). Daar is baie in Duma se lewensverhaal waarmee ek nie saamstem nie. Dit beteken egter nie alles is vals nie. Toegewyde gelowiges soos A.W. Tozer en Martin Holdt het met hoë agting van Duma gepraat.

10  David Murray, Reset: Living a Grace-Paced Life in a Burnout Culture (Wheaton, Illinois: Crossway, 2017), 42.

11  The Works of John Owen: Vol. 4 (London: Richard Baynes, Paternoster Row, 1826), 293. Toegang verkry op 1 Februarie 2024, http://www.digitalpuritan.net/Digital%20Puritan%20Resources/Owen,%20John/The%20Works%20of%20John%20Owen%20(vol.4).pdf

Kategorieë