Coram Deo Cover Image

Coming soon...

28 September 2018

Die Evangelie volgens Jesaja

Isaiah 53

Nêrens in die Ou Testament is die evangelie so duidelik soos in Jes. 52:13-53:12 nie. Dit is so helder dat ‘n Jood genaamd Rich Ganz aanstoot geneem het toe hy dit hoor, omdat hy gedink het dit is die Nuwe Testament.

Die detail van Jesus se lewe in hierdie verse is verstommend. Wie buiten die Here kon dit so akkuraat voorspel, 700 jaar voordat Jesus gebore is? En wie behalwe die ware Messias kon dit tot op die letter vervul? Blaai asseblief na die Evangelie volgens Jesaja.

 

  1. Vernedering en verhoging (52:13-15)

‘n Boom se wortels moet eers af groei, voordat die boom op groei. Net so moes Jesus Hom as ‘n Dienskneg neerbuig, voordat die Vader Hom verhoog het (52:13, Matt. 20:28, Fil. 2:6-11). Hy moes eers aan die kruis verhoog word (52:14, Joh. 12:32), voordat Hy op die troon verhoog is (52:15, Ps. 110:1, Ef. 1:20-21).

Mense was verstom oor hoe Hy aan die kruis vermink is en dat Hy nie soos ‘n mens gelyk het nie (52:14, 50:6, Ps. 22:15, 17, Luk. 23:48, Matt. 26:67, 27:26-31, Mark. 14:65, Joh. 18:22, 19:3, 34). Toe die nasies en konings na die kruis hoor en verstaan wie Hy is, was hulle verstom oor sy rykdom, wysheid, heerlikheid, skoonheid en majesteit (52:15, 49:7, Ps. 2:10-12, 86:9, Op. 5:9, vgl. 1Kon. 4:34, 10:5, Matt. 12:42).

Ons moet Jesus vir sy vernedering aan die kruis en sy verhoging op die troon bewonder. Aanbid Hom as die Leeu en die Lam. Leer ook uit sy voorbeeld dat die ware weg tot heerlikheid deur vernedering kom (Spr. 15:33, 18:12, Luk. 9:24, 18:9-14, Matt. 20:16).

Hoe moet jy jouself verneder? Verloën jouself, bid, onderwerp jou aan God se Woord, bely jou sonde en bekeer jou, wag op die Here in beproewing, wees diensbaar en stel ander bo jouself (66:2, 2Kron. 7:14, Matt. 20:25-27, Luk. 9:23, Fil. 2:3-4, 1Pet. 5:6). As jy dit doen, sal die Here jou genadig wees en jou verhoog (Jak. 4:6, 10).

 

  1. Veragting en verwerping (53:1-3)

Mark Dever het gesê dat Jesus nie ‘n stralekrans gehad het nie, maar dat Hy soos ons gelyk het. ‘Jy sou Hom nie uitken tussen die dissipels nie,’ het Dever gesê. ‘Dalk sou jy geweet het wie Hy is as jy die lelikste een gesoek het.’ Dever was nie Godslasterend nie, maar het na Jes. 53 verwys.

Omdat Jesus onaantreklik was, het Israel nie geglo Hy is die Messias nie (53:1). ‘Hoe kan ‘n gewone, swak en verminkte mens die Messias wees?’ het hulle gewonder. Maar hulle was blind en kon nie sien nie; die Here moes hulle oë oopmaak en Homself aan hulle openbaar (53:1, 6:9-10, Luk. 10:21-22, Joh. 6:44, 65, 12:37-38, Rom. 10:16, 2Kor. 4:4-6).

God het die Messias voor sy aangsig laat opgroei (53:2, Luk. 2:40, 52). Uiterlik het Hy soos ‘n swak jong plant en onaantreklike wortel uit droë grond gelyk (53:2, 11:1, 10). Hy was nie goed gebou en aantreklik soos Saul of Dawid nie. Eers nadat Hy opgestaan het en verheerlik is, was Hy die skoonste van almal (Ps. 45:3).

Toe Hy egter op die aarde was, het die mense Hom verag, verwerp en gehaat (53:3, 49:7). Israel het Hom geïgnoreer, hulle gesigte van Hom af weggedraai en Hom nie waardig geag nie, maar hulle Koning en Messias gekruisig (53:3, Luk. 2:7, Joh. 1:11, 19:15). Dit het baie hartseer, trane en pyn vir Hom gebring (53:3, Luk. 19:41).

Ag jy Hom waardig? Het jy Hom lief, aanbid jy Hom en volg jy Hom? Of verag jy Hom, omdat jy die sonde liefhet waarvoor Hy gesterf het? Verag jy Hom, omdat jy sê Hy is nie betroubaar nie: ‘Hy kan ander red, maar Hy kan my nie red nie’?

Dink jy Hy verstaan nie jou hartseer en pyn nie, en dat Hy jou nie kan help nie? Hy was ‘n man van smarte en verstaan hoe jy voel (53:3, Heb. 4:15). Jy is dom as jy ander mense se hulp vra en jouself wil help, maar nie sy hulp vra deur die Woord en gebed nie.

 

  1. Verlorenheid en verlossing (53:4-6)

In Griekse mitologie dra Atlas die wêreld op sy skouers. Dit is ‘n mite. Maar die Messias wat die wêreld se sonde in sy liggaam en op sy skouers gedra het, is nie ‘n mite nie (53:4, 1Pet. 2:24). Al haat en verag ons Hom (53:3), het Hy nogtans ons droefheid, pyn, ongeregtigheid en sonde aan die kruis gedra (53:4-5).

Hy het nie net as ‘n goeie voorbeeld gesterf nie, maar as ons plaasvervanger (sien ‘ons... ons... ons... ons...’ in 53:4-6). Die volk het gedink dat God Hom vir sy sonde gestraf het (53:4), maar sy hande, voete, gesig, hoof, rug en sy is vir ons gewond en deurboor (53:5). God se toorn het Hom onder die gewig van die kruis vir ons sonde verbrysel (v.10, Luk. 23:26).

God het Hom met die roede geslaan, sodat Hy óns nie hoef te slaan nie (53:5, 2 Sam. 7:14). Die Messias het ons straf gedra, sodat ons vrede met God kan hê (53:5). Sy wonde aan die kruis en die strepe oor sy rug, het genesing gebring vir die siekte van ons siele, nl. sonde (53:5, 1Pet. 2:24). Eendag sal ons ook perfekte nuwe liggame kry wat nie meer kan siek word nie (53:5, 33:24, Matt. 8:17, 1Kor. 15:42-43).

Hy het ook die straf gedra om ons te herstel, nadat ons weggedwaal het van ons Skepper en die Herder van ons siele (53:6, 1Pet. 2:25).

Die les van hierdie verse is dat jy jouself aan die kruis moet sien, omdat dit vir jou was. Sien hoe die bloed uit jou wonde stroom: vermink, vol pyn en verlate onder God se toorn. Voel die pyn van die spies in jou sy, die spykers deur jou hande en voete, die dorings in jou skedel. Voel die pyn en smart in jou siel.

Die gevaar bestaan dat ons familiêr raak met die evangelie, sodat dit ons nie meer raak nie. Dit is moontlik om koud te raak teenoor die kruis, of om onaangeraak te wees wanneer jy die nagmaal gebruik, oor die kruis sing, ‘n preek daaroor hoor, jou sonde bely of iemand evangeliseer. Vra God se vergifnis as dit so is. Dink en bid oor die kruis, totdat jou hart brand en jy die Here Jesus dank en aanbid.

As jy ongered is, moet jy weet dat jy die straf verdien wat Jesaja beskryf. As jy hard is en nie omgee nie, sal jy vir ewig hierdie straf in die hel beleef. As jy hopeloos voel en wil weet hoe jy vergewe kan word, sê die Here vir jou: ‘Ek het jou lief en het my lewe vir jou gegee. Ek wil die siekte van jou siel genees, jou sonde vergewe en vrede met jou hê. Hoekom is jy agterdogtig oor my gewilligheid om jou te red? Sal ek my eie Seun uit liefde vir jou verbrysel en jou nié vergewe as jy na My toe kom nie? Kom asseblief; my arms is oop! Hoekom vat jy so lank?’

 

  1. Verdrukking en onskuld (53:7-9)

Wat is die eerste ding wat jy doen wanneer iemand jou beskuldig? Jy verdedig jouself. Wat doen jy as hulle jou valslik beskuldig. Jy verdedig jouself nog meer.

Jesus was nie so nie. Toe hulle Hom in die hof verhoor, valslik beskuldig en mishandel, was Hy so stil soos ‘n lam wat na die slagpale gelei word, soos ‘n skaap wat geskeer word (53:7). Die Lam van God het Homself nie in die hof verdedig nie, maar was stil, sagmoedig en nederig toe hulle Hom slag (Matt. 26:63, 27:14). As Hy Homself moes verdedig en sy onskuld bewys, het Hy nie gesterf nie en was die hel ons voorland.

Jesaja wys verder hoe die vyand Jesus weggeneem het na die kruis en sy lewe afgesny het (53:8). Sy tydgenote het nie besef dat God Hom vir hulle sonde straf nie (53:8). Hulle wou Hom saam met die twee misdadigers langs Hom begrawe, maar God het gemaak dat ‘n ryk man Hom begrawe om te wys dat Hy onskuldig is en dat Hy niks verkeerd gedoen of gesê het nie (53:9, Joh. 19:31, Matt. 27:57-60, Luk. 23:14-15, 41, 47, Joh. 8:46, 2Kor. 5:21, Heb. 4:15, 1Pet. 2:22). Die Onskuldige het vir die skuldiges gesterf.

Wie gee om wat mense dink as die Vader sy Seun se onskuld bewys het? En as God jou deur die Woord en jou gewete onskuldig bewys, kan mense se leuens jou nie seermaak nie. Dit kan jou reputasie beskadig, maar God sal die leuens uitwys. Op die oordeelsdag sal hulle skaam kry. Moet jou daarom nie te veel kwel nie. Doen jý net wat reg is en laat die Here met jou vyande afreken (Ps. 37:1-11, Rom. 12:19). Bid dat God jou vyande genadig sal wees soos wat Hy jou genadig was.

Moet ook nie wil wys jy is reg, poog om die argument te wen, of jouself verdedig nie. Wees soos Jesus “wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel” (1Pet. 2:23).

 

  1. Voorspoed en voorbidding (53:10-12)

‘n Gewilde liedjie sê: ‘Blessed be the Name of the Lord... You give and take away.’ In reaksie op hierdie liedjie, het iemand vir my vriend gesê dat dit nie Bybels is nie en dat dit nie die Here se wil is dat sy kinders ly nie. Maar volgens Jes. 53:10 was die Messias se lyding in God se wil. Hy het Hom verbrysel en gebreek vir ons sonde (53:10, Matt. 27:46, Gal. 3:13). Dit is nie asof die Seun dit anders wou hê nie. Hy het sy lewe gewilliglik en uit liefde vir ons gegee (Joh. 10:18, Gal. 2:20).

Nadat die Messias die skuldoffer aan die kruis gebring het, het Hy opgestaan, die sukses van sy groot nageslag gesien en lewe Hy vir ewig (53:10, Rom. 6:9, Heb. 1:12, 2:13b, 7:16, 24-25). In Getsemane en op Golgota het Hy angs in sy siel beleef soos ‘n ma wat ‘n kind baar. Toe Hy al sy kinders sien, was Hy so tevrede, versadig en vreugdevol soos ‘n ma wie se baba gebore is (53:11).

Deur sy volmaakte kennis het die Messias geweet hoe om ons te red, hoe om ons sondeskuld te betaal en hoe om sy regverdige rekord aan ons toe te reken (53:11, 2Kor. 5:21, Kol. 2:14). A.g.v. sy selflose liefde en opoffering, het die Vader Hom verhoog (53:12). Soos iemand wat ‘n oorlog wen, het Hy die buit met sy kinders verdeel (53:12). Dit was sy loon, want om ons te red:

  • Het die Messias sy lewe, bloeden siel aan die kruis uitgestort (53:12).
  • Het Hy die straf tussen misdadigers gevat, asof Hy self een van hulle was (53:12).
  • Het Hy miljoene mense se sonde gedra (53:12, Matt. 20:28, Op. 7:9).
  • Het Hy vir die oortreders gebid (53:12).

Wat beteken die einde van 53:12 en hoe help dit ons prakties? Jesus het ons nie net gered as die Lam wat Homself geoffer het nie, maar as die Hoëpriester wat vir ons intree. Die Vader red ons o.a. deur Jesus se gebed in Joh. 17. Jesus het gebid dat die Vader ons tot die einde toe sal bewaar, dat Hy ons teen die bose bewaar, dat Hy ons een maak, dat Hy ons heilig maak en dat Hy ons hemel toe vat om Christus se heerlikheid te sien. In Luk. 23:34 het Jesus gebid dat die Vader ons vergewe.

Jy gaan dus hemel toe, omdat Jesus vir jou gesterf en gebid het. Jy bly gered vir dieselfde rede. Jesus bid vir jou as jy sonde doen. Hy bid dat die Vader jou teen die duiwel en die wêreld sal beskerm. Hy bid dat jy veilig deur jou beproewing sal kom. Hy bid dat jy volmaak heilig sal word. Hy bid dat jy sal glo die Here het jou lief en werk alles uit tot jou voordeel. Hy bid dat jy nie jou redding sal verloor nie, maar sal volhard tot aan die einde. Die konteks van Rom. 8:34 wys hierdie dinge, terwyl Heb. 7:25 dit bevestig.

Laastens moet Jesus se voorbidding jou aanmoedig om meer te bid. Volg sy voorbeeld. Ry op die rug van sy gebede. Herinner die Vader dat Jesus vir jou bid en dat Hy asb. sy Seun se gebede vir jou moet aanvaar (Heb. 4:15-16).

Herinner Hom aan wat Jesus gesê het, en bid op hierdie manier in Jesus se Naam. As jy in sy Naam bid, sal die Vader jou nie wegwys nie, omdat Hy nooit sy Seun sal wegwys nie. Jy sal m.a.w. kry waarvoor jy vra (Joh. 14:13-14, 15:7, 16, 16:23-24). Natuurlik moet jy nie sonde koester of selfsugtig bid nie, maar as jy volgens Jesus se Woord bid, sal die Vader dit vir jou gee.

Maak daarom ‘n gewoonte daarvan om Bybelverse vir jouself en ander te bid. Een van die Puriteine het gesê: ‘Show God his own handwriting [m.a.w. die Bybel]; He is tender toward it.’

Dit is dan die Evangelie volgens Jesaja. Vir die eerste lesers wat voor die kruis geleef het, was dit dalk so dof en onduidelik soos woorde vir iemand wat nie kan lees nie. Maar vir ons wat ná die kruis leef en gered is, is dit so helder soos die Suid-Afrikaanse son op ‘n somersdag in Messina.

Kategorieë