Coram Deo Cover Image

Coming soon...

5 June 2014

Die evangelie is vir almal

Megaphone preacher

Hiper-Calviniste preek nie die evangelie vrylik nie.  Hulle deel dit net met mense wat onder sonde-oortuiging is.  In húlle denke is die evangelie nie vir almal nie.  Handelinge 8 dink anders.

 

Filippus en die Samaritane (v.1-25)

 

1 En Saulus het ook sy vermoording goedgekeur.  En daar het in dié tyd ‘n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaría, behalwe die apostels. 2 En godvresende manne het Stéfanus begrawe en ‘n groot rou oor hom bedrywe. 3 Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer. 4 En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.

 

5 En Filippus het afgekom in ‘n stad van Samaría en Christus aan hulle verkondig. 6 En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen. 7 Want uit baie van die wat onreine geeste gehad het, het die geeste uitgegaan terwyl hulle met ‘n groot stem skreeu; en baie wat lam en kreupel was, het gesond geword. 8 En daar was groot blydskap in daardie stad. 9 En ‘n sekere man met die naam van Simon het vantevore in die stad met towery omgegaan en die bevolking van Samaría verbyster deur te sê dat hy iets besonders was. 10 En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê:  Hy is die groot krag van God. 11 En hulle het hom aangehang, omdat hy hulle ‘n geruime tyd deur sy towerye verbyster het. 12 Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue. 13 En Simon het ook self gelowig geword, en nadat hy gedoop was, gedurig by Filippus gebly; en hy was verbaas toe hy die tekens en groot kragte sien gebeur.

 

14 En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur. 15 Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, 16 want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. 17 Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang. 18 En toe Simon sien dat deur die handoplegging van die apostels die Heilige Gees gegee word, het hy hulle geld aangebied 19 en gesê:  Gee aan my ook hierdie mag, sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang. 20 Maar Petrus sê vir hom:  Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry. 21 Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg voor God nie. 22 Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word. 23 Want ek sien dat jy in ‘n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is. 24 Maar Simon het geantwoord en gesê:  Bid julle tot die Here vir my, sodat niks van wat julle gesê het, oor my mag kom nie. 25 Nadat hulle dan kragtig getuig en die woord van die Here gespreek het, het hulle na Jerusalem teruggegaan en die evangelie aan baie dorpe van die Samaritane verkondig.”

 

Saulus het die moord op Stefanus goedgekeur (v.1).  Soos ‘n wilde dier het hy die kerk uitmekaar geskeur en vervolg (v.1, 3).  Hy het gelowiges in die tronk gestop en gesorg dat hulle die doodstraf kry (v.3, 26:10).  Die gelowiges het vir Stefanus begrawe (v.2).  Onder die vervolging het hulle uitmekaar gespat.  Die verstrooide kerk die evangelie in Judea en Samaria gepreek en só die volgende been van haar opdrag uitgevoer (v.1, 4, cf. 1:8).  Die apostels het in Jerusalem agtergebly om die Christene in die tronk te bemoedig (v.1).

 

Tot op hede het die Jode en Samaritane mekaar gehaat.  ‘n Hele geskiedenis van vyandskap het agter hulle gelê.  Alles het begin toe die Samaritane met ander nasies ondertrou het (2 Konings 17).  Hulle is as baster Jode beskou.  Die Jode wou geen gemeenskap met hulle hê nie (Johannes 4:9).  Nou het Filippus die evangelie in Samaria gepreek.  Die hele stad het aandag gegee en bly geraak toe God sy boodskap met kragtige wonders bevestig het (v.5-8).

 

Voorheen het Simon die towenaar die skare met sy toorkunste getrek.  Hy het gesê dat hy byna so belangrik soos God is.  Maar toe hulle Filippus se boodskap hoor was Simon se toorkunste ou nuus.  Hulle het die evangelie geglo en is gedoop.  Simon het ook geglo, hom laat doop en naby Filippus gebly (v.9-13).  Hy wou ook hierdie krag hê, sodat die mense weer aan sy lippe kon hang.  Simon se geloof was vals.  Johannes 2:23-25 beskryf sy soort geloof:  “En toe [Jesus] in Jerusalem was op die pasga gedurende die fees, het baie in sy Naam geglo, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen.  Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is.”

 

Die apostels het gehoor van die Samaritane se bekering.  Hulle het vir Petrus en Johannes Samaria toe gestuur om te bid dat die Samaritaanse gelowiges die Gees kon ontvang (v.14-17).  Voorheen wou Johannes die Samaritane verwoes, maar nou was hy bly oor hulle redding (Lukas 9:52-54).  Hoekom het die Samaritane die Gees ná bekering, en deur die oplegging van die apostels se hande ontvang?  Dit het gebeur, omdat daar vyandskap tussen hulle en die Jode was.  Die leiers van die kerk moes teenwoordig wees, sodat die Jode kon sien dat die Samaritane nie tweede-klas burgers van die Koninkryk is nie, maar volkome lede van Christus se liggaam.

 

Simon het die krag van die Gees gesien (dalk het hulle in tale gepraat?).  Hy wou óók deur handoplegging die Gees vir mense gee en het aangebied om hierdie gawe by Petrus te koop (v.18-19).  Hy het geweet dat hy op hierdie manier skatryk kon word.  Petrus het hom bestraf:  ‘Mag jy en jou geld hel toe gaan.  Jy het geen aandeel in die Heilige Gees of die evangelie nie.  Jou hart is nie reg voor God nie.  Jy is ‘n vals bekeerling en jou belydenis in die doopwater was vals.  Jy is onbekeerd en boos.  Jou sondes is nie vergewe nie.  Jou hart en die vrug in jou lewe is bitter (cf. Deuteronomium 29:18-19).  Jy is ‘n slaaf van sonde’ (v.20-23).  Die waarheid van Petrus se woorde is gou bewys toe Simon alles wou doen om die straf vry te spring, maar nie self wou bid of wegdraai van sy sonde nie (v.24).  Toe die apostels weg is het hulle die evangelie verder in Samaritaanse dorpies verkondig (v.25).

 

Die evangelie kan enige hindernis oorkom:

 

  • Die bitter haat van vyande kan nie die evangelie weerstaan nie – Saulus het in die volgende hoofstuk tot bekering gekom.
  • ‘n Vreemde kultuur en ander godsdienstige oortuigings staan nie in die pad nie (v.5).
  • Ouderdom skep nie ‘n probleem nie: kinders, tieners, volwassenes en ou mense kan tot bekering kom.
  • God kan ryk en arm mense red.
  • Moenie sê dat mense wat ‘n lae IK het eenvoudig nie die vermoë het om die evangelie te kán begryp nie.

 

Toets jouself om te sien of jy in die geloof is.  Is jy gedoop, maar ‘n slaaf van sonde?  Het jy ‘n slegte hart vol bose gedagtes?  Is jy bang vir die hel maar draai nie weg van jou sonde nie?  Dra jy bitter vrugte?  Bekeer jou.  Glo in Jesus.  Glo dat Hy volkome God en volkome mens is.  Glo dat Hy heilig is en jou sonde haat.  Glo dat Hy die wet volmaak onderhou het namens ons.  Glo dat Hy in die plek van sondaars gestraf is aan die kruis.  Glo dat Hy gesterf het, begrawe is, en liggaamlik opgestaan het uit die dood.  Vertrou met jou hele hart op Hom.  Beeld jou nuwe lewe en rein hart uit deur gedoop te word.  Gehoorsaam sy Woord, die Bybel.

 

Filippus en die Etiopiër (v.26-40)

 

26 En ‘n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê:  Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa.  Dit is ‘n eensame pad. 27 Toe het hy opgestaan en gegaan.  En daar was ‘n man van Ethiópië, ‘n hofdienaar, ‘n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiópiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid. 28 En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees. 29 Toe sê die Gees vir Filippus:  Gaan daarheen en bly by daardie wa. 30 En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê:  Verstaan u wel wat u lees? 31 En hy antwoord:  Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie?  Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit. 32 En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít:  Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos ‘n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie. 33 In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe?  Want sy lewe word van die aarde weggeneem. 34 En die hofdienaar antwoord en sê vir Filippus:  Ek bid u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders?

 

35 En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig. 36 En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom:  Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? 37 Toe sê Filippus:  As u glo met u hele hart, is dit geoorloof.  En hy antwoord en sê:  Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. 38 En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop. 39 En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis. 40 Maar Filippus is in Asdod gevind.  En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het.”

 

‘n Engel het vir Filippus gesê wat om te doen.  Hy was dadelik gehoorsaam.  Hy het die herlewing in Samaria gelos en suid gereis tot by die pad tussen Jerusalem en Gasa – vir een sondaar (v.26).  Die sondaar was ‘n ontmande Etiopiër, die minister van finansies vir die Kandace[i], die koningin-moeder wat namens haar seun regeer het (v.27).  Omdat hy ontman was kon die hofdienaar nie die tempel binnegaan nie (Deuteronomium 23:1).  Hy kon ook nie volwaardig deel word van die Joodse godsdiens nie (‘n proseliet).  Hy het dus nie-amptelik die Joodse geloof aangehang (‘n Godvresende).

 

Oppad huistoe het hy hardop uit Jesaja gelees (v.28).  Die Gees het vir Filippus beveel om na die wa toe te hardloop.  Hy het vir die Etiopiër verduidelik dat Jesaja 53 oor Jesus gaan:

 

  • Jesus het stilgebly by sy verhoor en is onskuldig gestraf.
  • Hy het ons sonde op Homself geneem en weer uit die graf opgestaan na sy dood.
  • Almal wat dit glo, op Hom vertrou en hulle bekeer, sal gered word (v.29-35).

 

Die Etiopiër het sy geloof in die doopwater bely (v.36-38).  Nadat hy die Etiopiër gedoop het is Filippus, soos Esegiël, deur die Gees weggevoer (v.39, cf. Esegiël 3:14).  Hy het homself naby die suidkus van Isarel in Asdod bevind.  Vandaar het hy teen die kus op gereis en die evangelie gepreek.  Hy het in Cesarea gestop en hom daar gevestig (v.40, 21:8).  Die Etiopiër het sy reis met blydskap voortgesit (v.39, cf. Psalm 68:32).  Hy het die boodskap van vrede saamgebring Afrika toe.

 

Die Etiopiër het geen toekoms gehad nie.  Hy was kinderloos.  So is daar in ons tyd mense wat geen hoop vir die toekoms het nie:  boemelaars, drank- en dwelmslawe, mense wat hulle werk, gesin en alles verloor het.  In Jesus is daar ‘n toekoms vir die ontmande hofdienaar:  “En laat die uitlander wat hom by die HERE aangesluit het, nie spreek en sê:  Die HERE sal my gewis afskei van sy volk nie; en laat die ontmande nie sê:  Kyk, ek is ‘n droë boom nie.  Want so sê die HERE aan die ontmandes wat my sabbatte hou en verkies wat My behaag en vashou aan my verbond:  Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure ‘n gedenkteken en ‘n naam gee wat beter is as seuns en dogters; ‘n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie.” (Jesaja 56:3-5).  In Jesus is daar hoop en ‘n toekoms vir jou.

 

Christen:  deel jy gereeld die evangelie met ander?  Nee?  Hoekom nie?  Is jy bang?  Die Here is met jou en sy Gees in jou is sterker as die vyand (Matteus 28:20, 1 Johannes 4:4). Weet jy nie hóé om die evangelie te deel nie?  Die evangelie-boodskap klink só:

 

[1] Jesus het vir ons sondes gesterf aan die kruis.  Die Skrif het dit voorspel nog voordat dit gebeur het.

 

[2] Hy is begrawe en het op die derde dag liggaamlik opgestaan uit die dood soos wat die Skrif voorspel het (1 Korintiërs 15:3-4).

 

[3] Bekeer jou van jou sonde, glo die evangelie en vertrou met jou hele hart op Jesus (Markus 1:15).

 

Is jy ongehoorsaam?  Evangelisasie is nie ‘n opsie nie, maar ‘n opdrag (Matteus 28:19).  As jy die Here liefhet sal jy Hom gehoorsaam (Johannes 14:15).  Kom jy gereeld kerk toe en lees jou Bybel, maar jy is ongered want jy verstaan nie wat jy lees nie (v.30-31)?  Ek is bereid om jou te help.  Kom sien my ná Sondag se erediens of stuur vir my ‘n e-pos ([email protected]).

 

Is jy gered maar nog nie gedoop nie?  Wat keer dat jy gedoop word (v.36)?  Wat sê die Bybel oor die doop?  Doop volg ná geloof; slegs dissipels moet gedoop word (v.35-38, 2:37-38, Matteus 28:19).  Doop moet geskied deur onderdompeling.  Die doop beeld immers ons begrafnis en opstanding saam met Jesus uit (Romeine 6:3-4).  As besprinkeling die Bybelse metode van doop was, kon Filippus sy watersak gebruik het, of hy kon water uit die poel gaan skep het.  Maar hy het nie.  Hy het saam met die Etiopiër in die water ingeloop en hom onderdompel (v.38).  Dit is tog wat die Griekse woord vir doop beteken [Gk. baptizo, Strong’s G907].

 

In ‘n preek het Charles Kingsley gesê:  ‘The Black People of Australia, exactly the same race as the African Negro, cannot take in the Gospel... All attempts to bring them to a knowledge of the true God have as yet failed utterly... Poor brutes in human shape... they must perish off the face of the earth like brute beasts.’ (John G. Paton:  Missionary to the New Hebrides, pp.263-264).  John Paton het vir Kingsley verkeed bewys.  Vandag is daar mense wat glo dat geen swart mens gered kan word nie.  Handelinge 8 wys hulle is verkeerd.  Enigiemand kan gered word.  Die evangelie is vir almal.

 

 

[i] Kandace is nie ‘n naam nie, maar ‘n titel soos Caesar of Farao

Kategorieë