Romeine 4:13-25
Postmoderne mense glo dat alle paaie na die hemel toe lei. Maar mense wat die Bybel ernstig opneem glo dat daar net een manier is om in die hemel te kom, en dit is deur Jesus Christus (Joh. 14:6, Hand. 4:12).
Maar hoe ontvang ‘n mens Jesus as jou Verlosser? Deur die geloof. Wat is geloof? Hoe en wat moet jy glo? Is geloof genoeg? Hoe weet ons geloof werk? Rom. 4:13-25 beantwoord hierdie vrae.
1. Hoekom moet jy glo? (v.13-17a)
Baie van die mense met wie ek die evangelie deel is seker dat hulle hemel toe gaan, omdat hulle blykbaar die wet hou. Maar volgens Paulus ontvang ons God se belofte van die hemel deur die geloof en nie deur die wet nie (v.13).
Abraham het nie die belofte van die land en ‘n groot nageslag deur die wet verkry nie (v.13). Die wet het immers eers 430 jaar later gekom (Gal. 4:15-18). Abraham het God se belofte deur die geloof ontvang (v.13, Gen. 12:2-3, 15:1-21, 22:17-18).
Ons sal dieselfde belofte deur die geloof ontvang (v.13). Christus is die erfgenaam van alles (Heb. 1:2), en as ons in Hom glo sal ons ook alles erf (v.13, Matt. 5:5, Gal. 3:14, 16, 29, 4:1-7, Rom. 8:17, 1Kor. 3:21-23, Heb. 11:16).
As geloof dan so belangrik is, moet ons nie soos Marta glo, hoop, rus, vashou en vertrou op dit wat ons vir Jesus doen nie. Ons moet eerder soos Maria in Jesus self en in Hom alleen rus.
Oom Frik belowe dat hy vir Eddie ‘n ou kar sal gee. Nadat Eddie die kar vir ‘n maand gery het, sê oom Frik dat dit R10 000 kos. Eddie moet naweke werk om die kar te verdien. Oom Frik se belofte is leeg en beteken niks.
As jy deur die wet gered word, beteken geloof niks en is die belofte van die hemel leeg (v.14). Ons onvermoë om die wet na te kom keer dat ons in die hemel ingaan. Die belofte van die hemel sal dus nooit vervul word as ons op die wet staatmaak nie. Vertroue in die wet sal ook maak dat ons geloof onnodig is. En as ons geloof niks beteken nie, is selfs die God in wie ons glo onbetroubaar.
Redding deur geloof plus goeie werke, die doop, die gee van tiendes kerkbywoning, ens. is so onmoontlik soos om ‘n kar gratis te kry en om daarvoor te betaal.
Wat kom in jou gedagtes wanneer jy aan die wet dink? ‘n Gawe man met ‘n pens wat geskenke uitdeel vir elkeen wat goed doen? Of ‘n polisieman wat die oortreder straf? Die wet wys ons sonde uit en straf dit (v.15, 3:20, 7:7-9, 2Kor. 3:7, 9, Gal. 3:10). Dit kan ons nie red nie, aangesien ons dit reeds oortree het (3:10-12, 19, 23).
Waar daar geen wet is nie kan ons nie gestraf word nie (v.15b), maar ongelukkig is daar ‘n wet. Beteken dit dat almal gestraf sal word? Nee. Jesus het die wet namens ons gehou en die straf vir ons wetsoortreding ontvang. As jy in Hom glo ontvang jy die voordele van sy verlossingswerk en hoef jy nie meer onder die wet se sweep te kreun nie (6:14, 8:1). Die Heilige Gees wat in jou woon sal jou lei om te lewe soos God dit in sy wet vereis (8:4).
Jy het daarom nie nog reëls nodig nie, maar geloof. Dit is immers deur geloof wat jy die voordele van Jesus se lewe en kruisdood ontvang. Vra die Here om jou hierdie geloof te gee en moenie ophou vra totdat jy dit het nie.
As jy hard werk en $10 biljoen kry, dan prys ons jou. Maar as jy $10 biljoen persent kry, dan prys ons die gewer. As jy deur die wet in die hemel kom, dan prys ons jou. Maar as jy deur die geloof inkom, dan prys ons die Een in wie jy glo. As jy deur die wet in die hemel moes kom het jy nie ‘n kat se kans nie. Daarom berus ons ons op genade alleen (v.16).
En as dit genade is, is jy nie so spesiaal soos wat die samelewing sê nie. Jy is ‘n sondaar gered uit genade alleen. Dink dan minder van jouself en meer van die Here. Dit skakel sondes soos ondankbaarheid, hoogmoed en trots uit, asook die sondes wat daaruit vloei.
Ek het laasweek vir ‘n verpleegster gevra of sy hemel toe gaan. ‘Kan ‘n mens ooit 100% seker wees?’ het sy gevra. As jy deur die wet gered word, sal jy altyd onseker wees. Jy sal nooit weet of jy genoeg gedoen het nie.
Maar as jy in Jesus se lewe en kruisdood glo het jy ‘n waarborg (v.16, Ef. 1:13-14). God aanvaar sy Seun se lewe en dood vir sondaars, en sal Hom nie wegwys nie. In Jesus het jy nie ‘n 25 of 1000 jaar waarborg nie, maar ‘n ewige waarborg. As jy hierdie waarborg het kan jy nie die hemel verloor nie. Indien jy dit wel verloor, het die Here vir jou ‘n swak waarborg gee.
Jare gelede was daar ‘n artikel in die National Geographic wat vertel het hoe die Jode, Moslems en Christene stry oor wie nou eintlik die kinders van Abraham is. Maar die antwoord is maklik. Die kinders van Abraham is dié mense wat in sy voetspore volg en doen wat hy gedoen het.
Wat het hy gedoen? Hy het nie op die wet gefokus nie, omdat hy voor die wet gelewe het. Abraham het geglo. Sy kinders is dus dié wat soos hy in die Messias glo (v.16-17, 11-12, Gal. 3:6-9). Dit beteken dat gelowiges uit alle nasies sy kinders is (Gen. 12:2-3). Abraham se naam beteken immers ‘vader van ‘n menigte’ (v.17, Gen. 17:5).
Prakties beteken dit dat ‘n baba nie outomaties ‘n kind van Abraham is, omdat sy ouers in die Here glo nie. Die kind moet self glo voordat hy ‘n kind van Abraham en erfgenaam van die hemel is (Gal. 3:29). God het nie kleinkinders nie.
2. Hoe moet jy glo? (v.17b-22)
Mense praat soms van iemand as ‘n diep gelowige. Hulle bedoel maar net dat die persoon ‘n sterk geloof het. Maar het jy al ooit gewonder hoekom hierdie persoon se geloof so sterk is? Hoekom was Abraham se geloof sterk? Dit is omdat die God in wie hy geglo het sterk is. Abraham het geglo dat die Here vir hom en Sara (mense wie se liggame so te sê dood was, sodat hulle nie kon kinders hê nie) ‘n kind kon gee (v.17, 19).
Hy het geglo dat God die dooies kan opwek (v.17, 24-25, Heb. 11:12, 19). Hy het geglo dat die Here baie nasies uit ‘n ou man en vrou kan skep. As Hy die skepping uit niks kon maak, kon Hy maklik vir hulle ‘n kind gee (v.17, Heb. 11:3).
Dit was hierdie oortuiging wat gemaak het dat Abraham se geloof hoopvol, sterk en vas was (v.18-21). Abraham het gehoop toe hy geen ander bewyse as die belofte in Gen. 15:5 gehad het nie: ‘Jou nageslag sal soos die sterre wees’ (v.18).
Leer uit sy geloof wanneer jy geen bewyse buiten vir die Here se beloftes het nie. Ek het dit oor die afgelope drie weke moeilik geleer. Hoe glo jy wanneer die Here jou blinddoek terwyl jy bestuur, en vir jou sê waar jy moet ry? Die waarheid is dat Hý bestuur en vir jou sê jy kan rustig slaap. Moenie wakker bly omdat jy bang is Hy verdwaal nie. Glo eerder dat Hy weet wat Hy doen.
Abraham het geglo en daarom nie gedink dat dit onmoontlik is om op 90 en 100 ‘n kind te hê nie (v.19, Gen. 17:1, 5). Toe hy onseker raak (Gen. 15:1-6, 16:1-4, 17:17-18) het die Here sy geloof versterk (v.19).
Bid Luk. 17:5 as jy twyfel: “Gee ons meer geloof.” Die Here sal jou hoor, troos, bemoedig en versterk. Bid die Here se beloftes: ‘Here, maar U sê...’ (sien Jes. 62:6-7). As jy dit doen sal jou geloof nie wankel nie, maar sal dit rotsvas wees soos Abraham s’n (v.20, Ps. 26:1).
Die Here het die belofte gegee toe Abraham 75 was en dit vervul toe hy 100 was (Gen. 12:2-4, 21:5). Hierdie toets het sy geloof versterk (v.20). Sy sterk geloof het die Here verheerlik, omdat dit gewys het Hy is betroubaar (v.20). Abraham was oortuig dat die Here sy belofte kon vervul (v.21, 17, Gen. 18:14). God het sy geloof tot geregtigheid gereken (v.22, 3). Hy het m.a.w. God se geregtigheid deur die geloof ontvang.
Sonder die geregtigheid van God kan jy nie in die hemel kom nie. Maar jy het geloof nodig om God se geregtigheid te ontvang. Hoe lyk hierdie geloof? Dit is ‘n geloof wat nie twyfel in God se vermoë nie. Dit is ‘n geloof wat nie wankel nie.
Om hierdie geloof te kry moet jy diep gedagtes oor God, sy werke en sy karakter dink. Doen ‘n studie van wie God is, sodat jou geloof sterker raak (v.17, 18-22). Maak bv. ‘n studie van Gen. 1, Ps.139 of Jes. 40. As jy dit doen sal dit die fokus van jou sterk geloof na die sterk God in wie jy glo verskuif.
Maar dit geld net vir Christene. Hoe kan jy hierdie geloof ontvang, en wat moet jy in die eerste plek glo?
3. Wat moet jy glo? (v.23-25)
Gestel jy kry ‘n klein voëltjie in jou tuin. Om die diertjie te help gee jy dit pap deur ‘n spuit. Selfs ‘n kind weet dat dit nie die spuit is wat die voëltjie aan die lewe hou nie, maar die pap. Net so is geloof nie die gronde waarvolgens die Here jou red nie. Dit is eerder die kanaal (spuit) waardeur jy, soos Abraham, God se geregtigheid ontvang (v.23-24, 15:4).
Glo in die God wat sy Seun opgewek het uit die dood (v.24, 17, Hand. 2:24, Gal. 1:1). Glo dat Hy jou ook kan opwek (Ef. 2:5). Glo dat Jesus die opgestane Here is (v.24, 10:9). Gee jou sg. lewensregte prys en bely dat Jesus die Here oor elke area van jou lewe is: jou gedagtes, jou emosies, jou liggaam, jou tyd, jou geld, jou verhoudings, ens. (Luk. 6:46, 2Kor. 5:15, Fil. 2:10-11).
Sien die liefde van God wat sy Seun vir jou gegee het (v.25, 5:8, 8:32). Hy het dit vir jou gedoen (v.25). Dit is liefde: jy was verkeerd en Hy reg, maar Hy het sy lewe vir jou gegee. Hy het nie net gesterf om ‘n goeie voorbeeld te stel nie, maar het vir jou sonde en in jou plek gesterf (v.25, Jes. 53:4-6). Hy het jou skuld afgeskryf (Kol. 2:14).
Hoe weet jy dat God sy Seun se offer aanvaar het? Hy het Hom opgewek ter wille van ons regverdigmaking (v.25). Deur sy Seun uit die dood uit op te wek het Hy gesê: ‘Jy het nie vir jou eie sonde gesterf nie, maar is onskuldig. Ek neem die offer aan wat Jy vir ander se sondes gebring het. Ek reken Jou perfekte lewe van geregtigheid toe aan elkeen wat glo.’
Jesus lewe vir ewig en staan vir ons in by die Vader (8:33-34, Heb. 7:25, 1Joh. 2:1). Glo jy in hierdie Jesus? Of aanbid jy ‘n afgod wat nie nodig het om vir jou sondes te sterf nie, omdat hy nie omgee hoe jy lewe nie? Ervaar jy werklik die krag van sy opstanding? Of is jy dood in jou sonde, sodat jy nie die krag het om te verander nie: jy probeer nou en dan om te verander, maar kry dit nie reg nie?
Dalk moet jy ophou om in jouself te probeer en in die opgestane Christus glo. Vra dat Hy deur die Heilige Gees sy lewe en krag vir jou sal gee. Moenie ophou vra as jy dit eers ontvang het nie, maar word gedurig met die Gees vervul en wandel in Hom (Ef. 5:18, Gal. 5:16, 25). Laat Hy jou lei deur die sagte stem wat in jou vra: sal hierdie gedagte, daad, woord, begeerte en emosie Jesus verheerlik en met sy wil strook?
‘n Gehoorsame lewe is nie die hek tot die hemel nie. Geloof is. Maar ‘n gehoorsame lewe is die pad waarop Abraham en elke ander gelowige geloop het toe hulle deur die hek inkom. As jy ongehoorsaam lewe het jy nie deur die hek van geloof gekom nie, maar is jy ‘n rower wat oor die muur gespring het.