Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 December 2021

Die enigma van God se liefde

Johannes 3:16a

Voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Duitsers ’n Enigma kodemasjien gebruik om geheime boodskappe vir mekaar te stuur.1 ’n Pool genaamd Marian Rejewski het ’n masjien ontwikkel om die Duitse kodes te breek. Toe hulle dit meer ingewikkeld maak, het ’n Brit genaamd Alan Turner dit reggekry om die kodes te ontsyfer.2

God se liefde is ’n enigma of raaisel waarvan ons nie die dieptes ken nie. Alhoewel ons iets daarvan kan beleef, kan niemand dit ten volle verstaan of die mates daarvan peil nie. Ons kan dit nie ontsyfer nie. Dit is ’n oseaan sonder ’n bodem of strand, ’n berg sonder ’n piek, ’n heelal sonder ’n omtrek.

 

1. Hoe groot is sy liefde?

D.L. Moody (1837-1899) vertel van ’n ervaring wat hy in New York gehad het. Uit die bloute het hy ’n begeerte gekry om tot God te bid. Terwyl hy besig was om te bid, het hy ’n geweldige ervaring van God se liefde gehad. ‘Hou asseblief u hand terug of gee my die kapasiteit om dit te hanteer,’ het hy gesê.3

Ons kapisiteit om God se liefde te begryp, is klein. Ons is soos iemand wat die oseaan in ’n Jojo tenk probeer pas. Ons benodig die krag van God se Gees om iets van sy liefde te verstaan (Ef. 3:16). God se liefde vir die wêreld is bo ons begrip. Sy liefde vir gelowiges is oneindig (Jer. 31:3).

Wat is die enjin wat God se liefde vir ons dryf? God het ons nie lief, omdat genoeg mense ’n petisie teen Hom opgetrek het nie. Hy voel nie onder druk of verplig om ons lief te hê nie. Hy het ons nie lief, omdat ons die inisiatief geneem het nie. God se liefde is vry. Hy het ons lief, omdat Hy ons wil liefhê. Roem dus in Hom alleen en nie in jouself (1Kor. 1:31, Ef. 2:8-9). Iemand wat God se liefde miskyk, sal Hom nie prys en dank soos hy moet nie. Hy sien sy redding as iets wat hy vir God doen: ‘Ek het my hart vir Hom gegee.’ Hy sien dit nie as iets wat God uit sy groot genade en liefde vir ons doen nie. So iemand is mensgesentreerd eerder as God-gesentreerd. Hy sal sy bors uitstoot en sê: ‘God het my lief!’ Dit sou beter wees as hy in nederigheid sy kop hang en vol verwondering en verbasing sê: ‘Het God my lief?’ Maar nou roem hy en sê dat hy God gekies het en dat hy die finale sê in sy redding het. Moet hy homself nie liewer as ’n arme sondaar beskou en bely dat God hom gekies het nie (Luk. 18:10-14, Joh. 15:16)?

Moenie in jou onvoldoende liefde vir God roem nie. Roem eerder in sy volmaakte liefde vir jou: “Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes.” (1Joh. 4:10).4 Ons roem te maklik in ons liefde vir God, terwyl ons eintlik moet erken dat ons liefde vir Hom ver kortskiet.5 Die Bybel beklemtoon God se liefde vir ons eerder as ons liefde vir Hom. As jy jou liefde vooropstel, sal jy nie nederig aan sy voete buig en Hom aanbid nie (Ef. 1:6, 12, 14). Jy sal hoogmoedig wees en nalaat om Hom te prys. Fokus daarom op God se liefde en verlustig jou daarin.

In v.16 verwys Johannes spesifiek na die Vader se liefde. Dit is belangrik om dit te onthou, omdat liberales en ateïste die Vader haat. Hulle gee voor dat Jesus sag en liefdevol is, terwyl die Vader bloeddorstig en haatlik is. ’n Man in Parys het gesê dat Hy die God van die Ou Testament haat. Die befaamde ateïs, Richard Dawkins, het dieselfde gesê. Liberale teoloë maak geen geheim daarvan dat hulle die God van die Ou- en die Nuwe Testamente as verskillende Gode beskou nie. Dit is ’n vals onderskeid. Uit God se handelinge met Israel sien ons dat Hy oor en oor geduldig met hulle is. In die Nuwe Testament sien ons God se toorn toe Hy sy Seun vir ons sondes aan die kruis verbrysel het. Ons sien Jesus se toorn wanneer Hy sy vyande in ’n parskuip verbrysel en hulle in die hel werp (2Tess. 1, Op. 14). Jesus maak nie dat die Vader ons liefhet nie, maar Hy sterf omdat die Vader ons liefhet (v.16, Rom. 5:8).

Ateïste sal sê: ‘Dit is maklik om jou Seun te stuur. Hoekom het God nie self gekom om vir ons te sterf nie?’ Die waarheid is dat die Vader en die Seun een is en dat die Vader Homself in Christus gegee het (10:30, Hand. 20:28). Jy het ’n verdraaide beeld van die Vader as jy dink dat Hy die net wil straf of dat Hy net liefde is en niemand hel toe stuur nie. Joh. 3:16 gee vir ons die balans: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Die teks leer duidelik dat God sondaars liefhet, maar dat Hy mense verdoem as hulle sy Seun verwerp. ’n God wat net straf of net liefde is, is ’n afgod. Die Bybel leer dat God sondaars liefhet en ook dat Hy hulle straf. Hoe kan Hy nié straf as mense sy groot liefde verwerp en sy goedheid met boosheid vergeld nie (Spr. 17:13)? “Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die unieke Seun van God geglo het nie.” (v.18).

Waardeer God se liefde. Waardeer Hom wat liefde is (1Joh. 4:8). As God liefde is, moet ons vra wie Hy liefgehad voordat Hy die wêreld geskep het? Natuurlik het Hy sy uitverkorenes liefgehad (Ef. 1:4-5). Maar selfs as Hy besluit het om ons nie te skep en te red nie, sou Hy nog steeds liefde wees. Voor die skepping het die Vader en die Seun mekaar volmaak liefgehad, terwyl die Gees die liefde tussen hulle oorgedra het (vgl. Matt. 3:17, Joh. 3:35, 5:20, 14:31, 15:10, 17:24, 26, Rom. 5:5, Spr. 8:30, ESV).6 Hierdie liefde het oorgeloop, sodat God Hom in die mens en die skepping verheug het (v.16, Gen. 1:31, Ps. 104:31, Spr. 8:31, Matt. 5:45, Op. 4:11, KJV). Sy liefde het uitdrukking gevind deur sang. Sef. 3:17 (ESV) wys hoe God oor sy volk sing en Heb. 2:12 hoe die Seun vir die Vader sing. In C.S. Lewis se Naria-stories kom die skepping tot stand deur ’n groot goue leeu wat sing.7 Ek is seker dat God van vreugde gesing het toe Hy die wêreld skep. Die skepping eggo die lofgesange van God dat dit soos beurtsang klink (Job 38:7, 4-6, Psalms, Ef. 5:18-19, Op. 5:9-10, 14:3, 15:3-4). Dit is asof God se liefde die skepping vul wat dan oorloop in lofprysing (Ps. 148). God se liefde en die skepping se lofprysing werk soos die watersiklus. Water verdamp uit die see, vorm wolke, reën oor die land en loop weer terug in die see in. Net so stort God sy liefde oor ons uit en eindig dit in lofprysing wat na Hom toe terugkeer.

 

2. Hoe diep is sy liefde?

Oor die diepte van God se liefde skryf Stuart Townend:

How deep the Father’s love for us
How vast beyond all measure
That He should give His only Son
To make a wretch His treasure

God se liefde vir die wêreld vind sy hoogste uitdrukking in die kruis. Tereg dat Augustinus gesê het: ‘The cross was a pulpit in which Christ preached his love to the world.’8 Die kruis is God se Hooglied; sy liefdeslied wat Hy vir die wêreld sing. Volgens Johannes het God ons so liefgehad (v.16, 1Joh. 4:11). Hy het sy Seun in ruil gegee vir mense wat Hom haat en nie in Hom belanggestel het nie. Is daar ’n groter liefde as dit?

“Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende.” (Joh. 15:13). 

“Toe ons nog magteloos was, het Christus immers op die regte tyd vir goddeloses gesterf. ’n Mens sal nie maklik vir ’n regverdige persoon sterf nie, al sou ’n mens dalk nog die moed hê om vir so ’n goeie persoon te sterf. God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was... As ons, toe ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, hoeveel te meer sal ons deur sy lewe verlos word noudat ons met Hom versoen is!” (Rom. 5:6-8, 10).

Dink lank en diep oor God se liefde tot jy die beste beskrywing daarvoor kan gee. Sê dan vir jouself: ‘Dit is nie God se liefde nie. Sy liefde is oneindig keer groter as dit.’ Die onverklaarbaarste van alles is dat Hy ons so liefhet soos Hy sy eie Seun liefhet (Joh. 17:23)! Eintlik het Hy vir ’n oomblik op Golgota meer liefde aan ons bewys as aan sy eie Seun!

Charles Spurgeon vertel die storie van ’n ouerpaar met vier seuns. Toe daar ’n hongersnood oor die land kom, het dit die ouers se harte gebreek om te sien dat hulle seuns honger ly. Hulle het gewonder of hulle een van die seuns moet verkoop, sodat die gesin kon oorleef.

Sal ons die oudste een verkoop?

Hoe kan ons, hy is die eersgeborene.

Wat van die tweede oudste?

Hoe kan ons dit doen; hy aard dan so baie na sy pa.

Wat van die derde seun?

Nooit! Hy aard sy lieflike ma.

Die jongste een is nie ’n opsie nie—hy is ons Benjamin.

Die gesin het besluit om liewer saam te vergaan as wat hulle een van hulle geliefde seuns verkoop. Spurgeon sê: ‘Yet God so loved us that, to put it very strongly, He seemed to love us better than His only Son, and did not spare Him that He might spare us.’9

Onthou dit as jy ooit aan God se liefde twyfel. Wend jou na die kruis om te sien dat God se liefde nie ’n abstrakte idee of filosofie is nie. Op Golgota het die Vader sy liefde sigaar en tasbaar gemaak. Die verledetyd (liefgehad) beteken dat God sy liefde op ’n beslissende oomblik bekend gemaak het (v.16). Keer dan terug na die kruis as jy wonder of die Vader jou liefhet. Dink aan God se liefde wanneer jy die nagmaal gebruik, jou sonde bely, na preke oor die kruis luister en lofgesange daaroor sing.

Wat het die Vader gedryf om ons so lief te hê? Niemand het ’n geweer teen sy kop gehou of Hom gedwing om ons lief te hê nie. Niks of niemand in die skepping kan God se emosies laat fluktueer nie. God het ons liefgehad, omdat Hy ons liefgehad het (Deut. 7:7-8). God se liefde ontspring uit sy eie liefdevolle wese. Daar is niks binne ons om Hom te trek nie. Alles roep uit dat Hy my moet verwerp. Hierdie gedagte moet ons nederig maak. Ons het niks om in te roem nie. In geen opsig is dié wat gered word beter as die ongereddes nie. Die feit dat God ons gered het, is pure genade. God het ons liefgehad toe ons ellendig in ons eie bloed gespartel het (Eseg. 16:6).

Laat ons mekaar soos God liefhê, al is die ander persoon nie lieflik nie. Party sal sê dit is maklik om so lief te hê as jy onthou dat liefde ’n werkwoord en opoffering is eerder as ’n emosie. Derhalwe hoef jy nie vir die persoon lief te voel nie—jy moet dit net wys.

Dit is nie waar nie. Iemand wat waarlik liefhet, sal ’n sterk emosie voel (Hoogl. 8:6-7). God voel ’n sterk emosie oor ons: “My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My.” (Hos. 11:8). God koester ’n diep gevoel van liefde vir ons. Die kruis was nie ’n koud en kliniese goeie daad waarin God afsydig was nie. Sy hart het oorgeloop van liefde. Indien die kruis net ’n goeie daad van opoffering was, is dit nie ware liefde nie. “Al deel ek al my besittings uit, en gee ek my liggaam oor, sodat ek my daarop kan beroem, maar ek het nie liefde nie, baat dit my niks.” (1Kor. 13:3). Moslems wat selfmoord pleeg offer hulle lewens op, maar hulle het nie liefde nie.

God se liefde is groter as dit. Dit is so groot soos Hy self (1Joh. 4:16). Hoe kan enige mens of engel dit verstaan? Tog moet ons bid om meer daarvan te begryp, asook dat Hy ons harte met sy liefde sal vul (Joh. 17:26, Rom. 5:5, Ef. 3:16-19). Waar dit gebeur, sal ons van sy liefde sing (Ps. 89:2), Hom terug liefhê (1Joh. 4:19), ander gelowiges in die gemeente liefhê (1Joh. 5:1, 3:16-18, Ef. 4:16), mekaar in die huwelik liefhê (Ef. 5:25, Tit. 2:4), mekaar vergewe (1Pet. 4:8), Jesus gehoorsaam (Joh. 14:15), ons vyande liefhê (Luk. 6:27), alle mense liefhê (Luk. 10:27), die evangelie met mense deel (2Kor. 5:14) en vir die Here se werk bydra (2Kor. 8:7-8). Wie baie liefhet, is die meeste soos God; wie min liefhet, is die minste soos Hy (Ef. 5:1-2).

 

3. Hoe breed is sy liefde?

Toe ek in die Metodiste Sondagskool was, het ons as volg van Jesus se liefde gesing:

The love of Jesus is so wonderful,

O wonderful love!

It’s so high you can’t get over it.

It’s so low you can’t get under it.

It’s so wide you can’t get around it.

O wonderful love!

Watter groot liefde het God nie aan ons bewys nie (Ef. 2:4)! Sy liefde omarm die hele wêreld (v.16). Ek bedoel nie dat Hy ons liefhet soos ons is nie. ‘As dit waar was,’ het R.C. Sproul in ’n preek gesê het, ‘hoef jy jou nie te bekeer nie.’ Johannes se gebruik van die woord ‘wêreld’ wys wat hy bedoel:

[a] ‘Wêreld’ verwys na die aarde (1:9-10, 17:24, Op. 13:8, 17:5, 8). Nie alleen het Jesus vir die mens se sonde gesterf nie, maar om die gebroke skepping te herstel (Rom. 8:19-22, Ef. 1:10, Kol. 1:20).

[b] ‘Wêreld’ verwys na die mensdom onder die mag van Satan; na ’n mensdom wat die duisternis liefhet en die lig haat (3:19-20, 12:31, 1Joh. 2:15-16, 5:19). Jesus het nie vir goeie mense gesterf nie, maar vir dié wat die duiwel liefhet en vir Jesus haat (7:7). Teen die wêreld se haat vir Jesus staan sy liefde uit soos sterre in ’n stikdonker nag.

[c] ‘Wêreld’ verwys na alle nasies (4:42). Jesus het nie net vir die Jode gesterf nie, maar vir mense uit elke stam en taal en volk en nasie (10:15-16, 11:51-52, 1Joh. 2:2, Op. 5:9). Daar is mense wat weier om dit te aanvaar. Ek het eenkeer by ’n troue langs iemand van die Israelvisie gesit. Die vrou het geglo dat Afrikaners die verlore stamme van Israel is en het gesê dat swart mense nie hemel toe gaan nie. Toe ek verse soos Matt. 28:19, Hand. 17:26 en Op. 5:9 aanhaal, kon sy my nie antwoord nie.

[d] ‘Wêreld’ verwys na ’n groot skare (12:19). Nêrens sê die Bybel dat almal gered word nie. Maar eendag sal die oorgrote meerderheid van die mense op aarde in Jesus glo. As jy my nie glo, lees die volgende verse: Gen. 12:3, Ps. 2:8, 22:28, 67:4, 72:11, 86:9, 102:16, 23, Jes. 2:2-4, 11:9-10, 45:22-23, 60:3, 66:18, Mal. 1:11, Matt. 13:32-32. Jesus het nie net vir ’n handjievol gesterf nie, maar vir die wêreld (v.16-17, 1:29, 1Joh. 4:14, Op. 7:9).

Laat dit jou met hoop vervul. Bid dat die wêreld God se liefde sal ken en vertel hulle daarvan. Toe ek onlangs ’n ouer leraar in die Kaap vir raad gevra het, toe sê hy dat hy elke dag vir ten minste ’n halfuur evangelisasie doen. ‘Ek probeer om meer buite die kansel te preek as binne die kansel,’ het hy gesê. Sit herlewing en bekerings op jou gebedslys. Bid vir geleenthede om vir mense van Jesus te vertel. Hou ’n voorraad van traktaatjies in jou kar.

Om God se liefde vir jouself te hou, wys dat jy dit nie regtig ervaar, verstaan of waardeer nie. Ek bedoel nie dat almal van ons in die strate moet preek nie. Mar as God se liefde in jou hart borrel, moet dit êrens ’n uitlaat vind, sodat jy vir mense daarvan vertel. Dit beteken nie dat ons sy liefde ooit ten volle sal begryp nie. In ’n sekere sin sal dit vir ons ’n enigma bly.

The love of God is greater far

Than tongue or pen can ever tell;

It goes beyond the highest star,

And reaches to the lowest hell;

The guilty pair, bowed down with care,

God gave His Son to win;

His erring child He reconciled,

And pardoned from his sin.

 

Could we with ink the ocean fill,

And were the skies of parchment made,

Were every stalk on earth a quill,

And every man a scribe by trade,

To write the love of God above,

Would drain the ocean dry.

Nor could the scroll contain the whole,

Though stretched from sky to sky.

 

O love of God, how rich and pure!

How measureless and strong!

It shall forevermore endure

The saints’ and angels’ song.10


1  https://www.nms.ac.uk/explore-our-collections/stories/science-and-technology/enigma-encoding-machine/

2  https://www.britannica.com/topic/Enigma-German-code-device

3   Iain Murray, Pentecost—Today? (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1998), 98

4  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

5  Maurice Roberts, The Thought of God (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1993), 61-2

6  Die Afrikaans van Spr. 8:30 praat van ‘speel’. Die Hebreeuse woord sachaq het dieselfde sin as in 1Kron. 15:29 waar Dawid vol vreugde voor die ark dans. Net so het die Seun Hom voor die skepping in die Vader verheug. Die Hebreeus gebruik ’n intensiewe vorm om die grootheid van hierdie vreugde te beklemtoon.

7  C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Magician’s Nephew (New York: HarperCollins Publishers, 1955), 61-70

8  Aangehaal in Iain Murray, The Old Evangelicalism (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2005), 101

9  C.H. Spurgeon, The Treasury of the Bible: New Testament—Vol. 2 (London: Marshall, Morgan and Scott, 1962), 283

10  Frederick Martin Lehman (1868-1953). Die tweede vers hierbo is deur ’n Joodse Rabbi (Meir ben Isaac Nehorai) geskryf wat in die 11de eeu in Duitsland gelewe het. Verkry by https://hymnstudiesblog.wordpress.com/2017/11/20/the-love-of-god-is-greater-far/comment-page-1/

Kategorieë