Coram Deo Cover Image

Coming soon...

31 December 2021

Die drie stadiums van geestelike groei

1Johannes 2:12-14

In die winter van 2021 het my 13-jarige seun geweldig gegroei. Vir ’n paar maande het hy tussen 1 en 1.5 cm per maand gegroei. Verledejaar hierdie tyd was hy 165 cm. Hy is op die huidige oomblik 175 cm. Maar van Oktober af groei hy nie meer nie. Dit het gestop. Hopelik sal hy nog ’n bietjie groei. Hy moet darem langer as sy pa wees!

Geestelik moet ons nie so wees en ophou groei nie. Maak 2022 ’n jaar van groei. Maak Jonathan Edwards se voorneme jou eie: Resolved, to strive to my utmost every week to be brought higher in religion, and to a higher exercise of grace, than I was the week before.’1 As jy God se Woord biddend en gelowig lees en toepas, sal jy dit regkry.

 

1. Kinders (v.12, 13c)

Johannes se stadiums van groei is geestelik en nie fisiek nie. Ou mense kan geetelike kinders of jong manne wees, terwyl sommige jong mense vaders kan wees. Met kinders verwys Johannes na nuwe gelowiges wat onder hom tot bekering gekom het (v.1, 3Joh. 4, Matt. 18:1-4, 10, Filem. 10). Hy skryf vir hulle, omdat hulle die melk van die Woord nodig het om te groei (v.12, 13c, Heb. 5:13, 1Pet. 2:2). Die Bybel is nie net vir predikante en teoloë bedoel nie, alhoewel daar sommige is wat so dink. Volgens die Katoliekekerk kan die gewone man in die bank die Bybel nie mooi verstaan nie. ’n Protestantse predikant het vir sy kollega gesê: ‘Die gemiddelde Christen het nie die verstandelike vermoë om die Mad Magazine te verstaan nie en nou wil ons vir hulle ’n Bybel gee.’

Om so te sê, is verkeerd. Die Bybel is vir elke Christen; vir dié wat geestelik volwasse is, maar ook vir geestelike kinders (2Tim. 3:15-17). Net so skryf Johannes vir elke Christen (v.12-14). Sy hoofboodskap vir die geestelike kinders is as volg:

 

[a] Jou sondes is vergewe (v.12)

Dit is belangrik in die konteks van vals leraars wat in die gemeente ingesluip het. Hulle het gesê dat hulle geen sonde het nie (1:8, 10). Dit kon die nuwe gelowiges laat twyfel en dink hulle is nie gered nie, omdat hulle nog sonde doen (3:19-20). Johannes het hulle met die volgende woorde vertroos:

“ maar as ons in die lig leef, soos wat Hy in die lig is, is ons aan mekaar verbonde, en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. As ons sê dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie. As ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie. My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, sodat julle nie moet sondig nie; en wanneer iemand sondig, het ons Jesus Christus, die Regverdige, as Parakleet by die Vader. En Hy is die versoening vir ons sondes—nie net vir óns sondes nie; maar ook vir dié van die hele wêreld.” (1Joh. 1:7-2:2).

Deur Jesus gee die Vader vir ons vergifnis, ’n skoon rekord en ’n rein hart (v.12, 1Kor. 6:11, Kol. 2:14, Heb. 9:14, 10:22). Dit geld ook vir die sonde waarvan ons nie bewus is nie (Ps. 19:13, Luk. 23:34).

 

[b] God is jou Vader (v.13c)

Deur Jesus en die Heilige Gees maak God ons sy kinders (v.13c, Joh. 1:12-13, Rom. 8:15-16, Gal. 4:4-7). Vir geestelike kinders is dit ’n verligting om te dink: ‘Ek staan nie meer as ’n misdadiger voor die Regter nie, maar as ’n kind voor sy Vader. Deur gebed kan ek ’n verhouding met my Vader hê (Matt. 6:9, 7:11).’

Die Vader maak ons ook deel van sy huisgesin, die kerk (1Tim. 3:15). Dit is waar ons in ’n verhouding met Hom groei: nie aanlyn op ons eie nie, maar waar God se gesin in sy Naam bymekaar kom (Matt. 18:19-20, Hand. 2:42, Ef. 4:11-16, Heb. 10:24-25).

 

2. Jong manne (v.13b, 14b)

Toe ek en my vriend 16 was, toe probeer ons teen sy pa stoei. Ons het agtergekom dat ons nie so sterk is soos ons gedink het nie. Jong manne is nie meer kinders nie, maar hulle is ook nog nie vaders nie. Hulle is tussen-in. Hulle is jong leeus wat maanhare kry. Hulle het die Bose oorwin (v.13b, 14b) en gee nie toe aan sy dwaling nie (v.18, 4:1-6). Jy sal nie ’n boek van Joseph Prince langs ’n boek van Charles Spurgeon op die jong man se boekrak kry nie. Hy ken die verskil tussen goeie lering en dwaling. Hoe ken hy dit? Die Woord bly in hom en hy bly in die Woord (v.14b, Ps. 1:2, 119:11). Hy lees verwoed. Ek bedoel nie dat hy soos party mense ure mors om dwaling te ondersoek nie. Nee, maar hy spandeer ure in God se Woord. Hy lees gesonde teologie. Hy memoriseer letterlik hoofstukke van die Bybel. Hy vas, bid en luister na goeie preke. Dit lei tot geestelike stamina, fiksheid en krag (v.14b, 1Kor. 16:13, 1Tim. 4:7-8).

As hy bloedneus kry, hou hy aan om vir die Here arbei en teen die bose te veg (1Kor. 15:58, 1Tim. 6:12, 2Tim. 2:3-6). Hy gee nie op nie. Omdat hy ’n doring in die duiwel se vlees is, val die duiwel hom aan. Die duiwel vang hom nie maklik met dwaling nie en daarom probeer hy ’n ander taktiek. Hy vlei die jong man en sê vir hom hoe baie hy weet. Dit laat die jong man verwaand raak en val (Spr. 16:18). Die Here laat die duiwel toe om hom te skeur en sy bene breek (Luk. 22:31-34, 2Kor. 12:7). Dit leer hom dat hy sonder Jesus niks is en dat die oorwinning deur Hom alleen is (v.13b, 14b, 15-17, 5:4-5, Joh. 15:5). Hy leer om nie op sy teologiese kennis te steun nie, maar op Jesus alleen. Hy leer om aanhoudend vir beskerming te bid en sodoende op Jesus te vertrou (Matt. 6:13, 26:41). Hy leer om nie sy eie vermoëns te oorskat en te dink hy is volleerd, sodat almal by hom moet leer nie. Paulus waarsku ons teen sulkes: “Hulle wil leermeesters van die wet wees, maar hulle verstaan nie wat hulle sê, of dit waarop hulle aandring nie.” (1Tim. 1:7).

Ek weet van twee sulke gevalle. In een geval wou ’n vrou voor elke erediens iets vir die gemeente sê. Sy het haarself as God se boodskapper beskou en subtiel probeer om die kansel oor te neem. In die tweede geval het ’n vrou haar gemeente se leierskap teëgegaan. Sy wou haar nie aan hulle leiding onderwerp nie. Sy het haarself oortuig dat sy die Bybel beter as hulle verstaan. Later het dit aan die lig gekom dat sy in dwaallering verval het.

As jong manne nie versigtig is nie, kan dit met hulle gebeur. Soms is dit nodig dat God die duiwel toestemming gee om hulle met die vuis te slaan. Dit leer hulle om sagmoedig te wees met die kinders wat nog nie kan onderskei nie. In stede daarvan dat hulle ongeduldig en ongenaakbaar is met die kinders, moet hulle hul met sagmoedigheid reghelp (2Tim. 2:24-25). Die jong manne moet leer dat kinders nog melk drink en dat vleis hulle meer skade sal doen as goed (Heb. 5:12). Hulle moet byvoorbeeld nie Romeine 9 (uitverkiesig) in die kinders se kele afdruk en hulle as ketters bestempel as hulle dit nie kan insien nie.

’n Jong man wat deur die duiwel geboks is, werk saggies met kinders. Hy verstaan John Bradford se beginsel: ‘Let a man go to the grammar school of faith and repentance, before he goes to the university of election and predestination.’2 Hy onthou dat hy self op ’n tyd ’n kind was en dat die Here geduldig was met hom.

Is jy ’n jong man? Dit is goed. Moet egter nie daar bly nie. Mik om ’n vader te word. Leef gedurig in gemeenskap met Jesus deur sy Woord en gebed (Joh. 15:7). Moenie net die Bybel bestudeer om meer kennis op te doen nie, maar hou gereeld stiltetyd om God te ken. Bêre die Woord in jou hart en nie net in jou geheue nie (v.14a-b). Peins daaroor, totdat dit in jou hart brand (Ps. 119:97, Luk. 24:32). Heg ’n hoë waarde aan boeke en preke wat jou nie net intellektueel stimuleer nie, maar jou hart roer en jou dryf om te bid. Lees die Puriteine, Jonathan Edwards, Robert Murray McCheyne, Chalres Spurgeon, Martyn Lloyd-Jones, Iain Murray en Maurice Roberts. Hulle boeke is nie maklik nie. Lees dit stadig en biddend.

As God se waarheid nie jou hart roer nie is jou kennis niks anders as Christopher Hitchens s’n nie. Hitchens was ’n ateïs wat die Bybel geken het. Hy het dit in sy verstand gebêre, maar aan sy hart het dit niks gemaak nie. Moenie so wees nie. Kopkennis sonder liefde maak jou hoogmoedig (1Kor. 8:1-2, 13:2). Streef daarna om Jesus intiem en persoonlik te ken (Fil. 3:8-11).

 

3. Vaders (v.13a, 14a)

Die vals leraars in Johannes se tyd het geglo dat hulle oor ’n geheime kennis beskik wat hoër is as die Bybel (2:18-27). In die 1600’s het die Quakers geglo dat God se Gees hulle ’n Inner Light gee wat hoër is as die Bybel. Volgens Johannes is dit onsin. Hy skryf juis vir vaders (v.13a, 14a), omdat hulle die Woord soveel soos die jong manne en kinders benodig. Die vaders los nie die Bybel agter nie, maar hulle groei dieper daarin. Soos Esra en die Psalmdigter eet hulle die vleis van God se Woord (v.13, Esra 7:10, Psalm 119, vgl. 1Kor. 3:2). Nie alleen ken hulle die Bybel nie, maar hulle doen dit (Jak. 1:22). Hulle lewe is ’n wandelende Bybel.

Wie is hierdie geestelike vaders? Jy sal selde vind dat dit ’n jong mens is. Hier en daar kry jy egter ’n jongeling wat ’n vader in die geloof is. David Brainerd en Robert Murray McCheyne is voorbeelde hiervan. Albei van hulle is op 29 jarige ouderdom oorlede en tog was hulle geestelike vaders.

Die feit dat jong mense gewoonlik nie vaders is nie, beteken nie dat elke ou gelowige noodwendig ’n vader is nie. Party ou mense is nuwe bekeerlinge en daarom nog kinders. Party van hulle is al vir 40 of 50 jaar Christene, maar hulle is nog steeds kinders. Hulle vorder nie verder as ’n dagstukkie, versie en gebedjie in die oggend en een preek op ’n Sondag nie. Gevolglik bly hulle geestelike kinders (Heb. 5:11-14). Spurgeon het gesê: ‘One would not like to say of a man of eighty that he had scarcely cut his wisdomteeth, and yet there are such; scarcely out of the nurse’s arms at sixty years of age’.3

Moenie so wees en tevrede bly met waar jy is nie. Groei en gaan vorentoe in 2022 (v.12-14, Fil. 3:12-14, 2Pet. 3:18). Neem jou voor om meer te bid en selfs om te vas. Lees jou Bybel meer. Lees goeie Christelike boeke (beskikbaar by Augustine Bookroom in Pretoria en Good Neigbours Bookshop in Randburg). Luister na goeie preke (gratis verkrygbaar by desiringgod.org, gty.org, truthforlife.org, en soortgelyke webtuistes). Begin om die aanddiens, bidure en Bybelstudies by te woon. Raak betrokke in die gemeente. Gebruik jou gawe om ander te dien. Doen dit alles biddend, sodat jy nie op jouself staatmaak nie, maar op die Here. Moenie opgee as jy binne twee maande nie ’n vader is nie. Wees geduldig. Onthou dat Christene soos eikebome groei en nie soos sampioene nie (John Newton).4

As jy konstant met die Here wandel, sal jy ’n geestelike vader word (v.12-14). Nie alleen sal jy self volwasse word nie, maar jy sal geestelike kinders baar—nuwe bekeerlinge—en hulle tot volwassenheid lei (1Kor. 4:14-17, Ef. 4:11-13, Kol. 1:28, 4:12, 1Tim. 1:2).

Die feit dat jy volwasse is, beteken nie jy moet terugsit nie. Jy is nog nie volmaak nie. Eers wanneer Jesus weer kom, sal jy volmaak wees (3:2). Tog kan jy nou al ’n diep kennis van Jesus hê (v.13a, 14a). Die vaders vir wie Johannes geskryf het, het geweet dat Jesus nie die hoogste en eerste skepsel van God is nie.5 Hulle het geweet dat Hy die ewige God is wat alles gemaak het en dat Hy van die begin af daar was (v.13a, 14a, 1:1, Joh. 1:1-3). Hulle wou hierdie Jesus ken. Vandag se vaders is dieselfde: anders as die jong manne en kinders wil hulle nie ’n honderd dinge weet nie. ’n Geestelike vader soek een ding: hy wil Jesus Christus diep, intiem en persoonlik ken (v.13a, 14a, 1Kor. 2:2). Wat John MacArthur eenkeer ’n preek gesê het, eggo in sy siel: ‘What excites the spiritual father when he wakes up in the morning is not his theology; it’s his Lord.’ Die geestelike vader kan saam met die Psalmdigter sê: “Soos ’n wildsbok wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God. My siel dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek in die tempel ingaan en voor God verskyn?” (Ps. 42:2-3).

Vir die geestelike vader is sy Bybel nie die einddoel, maar ’n middel tot ’n doel, naamlik om God te ken en gemeenskap met Hom te hê (v.13a, 14a, 1:3). Die geestelike vader is nie tevrede om net die Bybel te lees en te bid nie. Hy soek nie God se geskenke nie—hy wil Hóm hê. Hy begeer God se nabyheid; ‘the felt presence of Christ’ soos die ou predikers dit genoem het. Hy smag na ’n ervaringskennis van Jesus Christus (v.13a, 14a, Gk. ginōskō). Soos die bruid in Hooglied raak die geestelike vader onrustig as die Bruidegom se stem stil is (Ps. 13:2, Hoogl. 5:6, 8):

‘Once a believer has tasted this love of God in his soul he can never rest content till he has it again and again.’ (Maurice Roberts).6

‘Those who have had life-changing encounters in the secret place do not stay away from that place for very long.’ (Stuart Olyott).7

Soek die Here. Gryp Hom vas. Sê saam met Jakob: “Ek sal U nie laat gaan nie, tensy U my seën.” (Gen. 32:26). Die Here sal jou gebed verhoor: “Hy het hom toe daar geseën.” (Gen. 32:29, vgl. Hos. 12:3-4). “Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader.” (Jak. 4:9). Wag op die Here; Hy sal na jou toe kom, al vat dit soms lank (Ps. 130:5-6, Jes. 26:8-9, Eks. 24:16). Die probleem is ons wil nie wag nie. Ons wil alles nou hê. Of ons is te besig om te wag. Daarom mis ons ’n sin van die Here se nabyheid en word baie Christene nooit geestelike vaders nie.

Nie dat almal onmiddellik ’n vader moet wees nie. In die kerk benodig ons al drie groepe: kinders, jong manne en vaders (v.12-14). Ons benodig geestelike kinders wat opgewonde is oor God se vergifnis en wil hê almal moet van Jesus weet. Hierdie opgewondenheid is aansteeklik. ‘A tree is most valuable when laden with ripe fruit, but it has a peculiar beauty when in blossom.’ (John Newton).8

Tog kan almal nie kinders wees nie, anders word die kerk ’n crèche eerder as ’n huisgesin. Ons benodig die jong manne se energie, ywer vir die Here en vermoë om hard te werk. Ons kort die vaders se wysheid en leiding om die jong manne te temper, sodat hulle ywer nie meer skade doen as goed nie. Die vaders is nodig om die gemeente teen wolwe te beskerm. Ons benodig hulle, sodat die kinders en jong manne iemand het om mee te praat as hulle twyfel en moedeloos raak. Ek dank die Here vir sulke mense in my lewe. Toe ek in die verlede teen die grond was, het die Here vaders in die gemeente gebruik om my op te tel. Daar is nog van hulle in die gemeente. Leer by hulle terwyl jy die geleentheid het en hulle nog by ons is. Streef om hulle geloof na te volg soos hulle vir Jesus volg (1Kor. 4:16, 11:1).


1  The Works of Jonathan Edwards: Vol. 1 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1974 [1834]), xxi

2  The Journals of George Whitefield (Oswestry, England: Quinta Press, 2009), 627. Verkry by http://quintapress.webmate.me/PDF_Books/Journals_first_edition_v2.pdf

3  C.H. Spurgeon, The Treasury of the Bible: New Testament—Vol. 4 (London: Marshall, Morgan and Scott, 1962), 515

4  Iain H. Murray, Heroes (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2009), 99

5  N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1 (London: Grace Publications Trust, 1997), 65-6, 94-103

6   Maurice Roberts, The Thought of God (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1993), 58

7  Stuart Olyott, Ministering Like the Master (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2003), 82

8  Select Letters of John Newton (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2011 [1960]), 6

Kategorieë