Coram Deo Cover Image

Coming soon...

10 May 2019

Die doel van gebed

Related image

Matteus 6:10b

Vir die Prosperity Gospel is gebed ‘n manier om God te se arm te draai. Deur gebed kan ons Hom manipuleer om te doen wat óns wil hê:

Mý besluite.

Mý wil.

Mý keuses.

Dit is byna of jy deur gebed jou geldjie in die reuse vending masjien gooi om te kry wat jy wil hê. Ons dink ook soms soos hierdie mense as ons sê: ‘As die Here buitendien gaan doen wat Hy wil, hoekom moet ek bid?’ Maar dit wys hoe verkeerd ons oor gebed dink. Volgens Jesus is die doel van gebed nie om te maak dat God sy wil by óns s’n aanpas nie, maar om te maak dat óns wil inlyn kom met sýne: “laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (v.10b, vgl. 26:39, 42).

 

  1. Onderwerp jou wil aan Gód s’n

Van die sondeval af wil die mens sy eie wil doen. Ons sien hoe mense van babatyd af selfsugtig is en tantrums gooi as hulle nie hulle sin kry nie. Grootmense gooi ook tantrums. Jy sien dit wanneer dinge nie volgens hulle wil gebeur nie en hulle kwaad raak, vloek, skel, huil, vuisslaan, bitter of jaloers voel, stilstuipe kry, moord pleeg, jou ignoreer, God se heilige Naam laster en disrespekvol praat met hulle ouers. Om te kry wat hulle wil hê, pleeg hulle egbreuk, leef hulle losbandig, kyk hulle pornografie, lieg en steel hulle, is hulle oneerlik, maak hulle ‘n afgod van geld en ontheilig hulle die Here se dag. Vir hulle gaan alles oor die méns se wil, terwyl dit volgens Jesus eintlik oor Gód se wil moet gaan (v.10b).

Voordat dit egter kan gebeur, moet ‘n mens weergebore word. Niemand het immers in homself die vermoë om God se wil te doen nie (Rom. 8:7-8). Dit is juis hoekom ons die Here vra om ons te help om sy wil te doen (v.10b). Iemand wat nie weergebore is nie, sal nie eers die begeerte hê om v.10b te bid nie, aangesien alles in die lewe nog vir hom oor homself gaan. En hoekom moet die Here jou gebede beatwoord as jy vir jousélf lewe en nie daarin belangstel om sý wil te doen nie (Joh. 9:31)? Hoekom moet Hy ’n Vriend wees van iemand wat agter die duiwel aanloop om sý wil te doen (Joh. 8:44, Ef. 2:2-3)? Omdat die Here jou gemaak en gered het, behoort jy nie meer aan jouself of die duiwel nie en moet jy Gód se wil doen (v.10b). Wat is sy wil?

Voor ek daarby kom, wil ek weet of jy jou al aan God se wil onderwerp het? Moenie sommer net ‘ja’ sê omdat jy in die kerk groot geword het, of omdat jy die evangelie uit jou kop uit ken nie (‘Jesus het vir my sondes aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan; ons word nie deur ons goeie werke gered nie, maar uit genade alleen deur geloof alleen’).

Die vraag is eerder of jy God se wil dóén. Het jy ‘n begeerte daarvoor? Beskryf v.10b jou gebede? Of is dit nie eers in jou raamwerk om so te bid nie? Iemand wat nie ten minste begéér om God se wil te doen en berou het as hy dit nié doen nie, is nie ‘n Christen nie, al dink hy ook so. Dit is nie die mense wat Jesus hulle Here nóém wat Christene is nie, maar dié wat die wil van die Vader doen (7:21). En wat is die wil van die Vader? Dit bring my by die volgende punt.

 

  1. Ken God se wil

Baie mense is verward oor wat God se wil vir hulle lewens is. Maar sy wil vir elke mens is dieselfde, naamlik dat jy jou van jou sonde moet bekeer, dat jy in sy Seun Jesus Christus moet glo en dat jy moet lewe soos Hy in die Bybel sê (Joh. 14:15, Hand. 17:30, 1Joh. 3:23). Sy plan vir elke mens se lewe is egter nie dieselfde nie: waar jy moet bly, met wie jy moet trou, watse loopbaan jy moet volg, ens. (Jak. 4:13-15). En tog het Hy nie in die Bybel gesê wat sy plan vir elke mens se lewe is nie. Ek dink ook nie Hy wil noodwendig hê jy moet die detail van jou toekoms ken nie (Deut. 18:10-11, 29:29). Sy begeerte is eerder dat jy sy voorgeskrewe wil in die Bybel moet gehoorsaam.

Dit is dan ook die wil waarvoor jy volgens v.10b moet bid. Jesus het nie bedoel jy moet bid oor watse kleur kar jy moet ry, of dat God die res van sy soewereine plan in die wêreld sal uitwerk nie. Dit gaan Hy doen, of jy nou daarvoor bid of nie (Jes. 46:9-10, Ef. 1:11).

Jesus het eerder bedoel dat jy die Here se hulp moet vra om sy voorgeskrewe wil in die Bybel te gehoorsaam. Voordat jy dit egter kan doen, moet jy eers sy wil ken. Hy het sy wil in die Bybel bekend gemaak. Jou taak is om te bid dat die Heilige Gees jou sal help om die Bybel te verstaan. Bid vir insig voor jy die Bybel lees (Ps. 119:18, 33-34). Bid om die Woord te verstaan as jy kerk toe kom, of as jy die Bybel saam met ander bestudeer. Gebruik gebed en bepeinsing soos ‘n hamer om die neut van die Bybel te kraak, of soos ‘n skopgraaf om sy skatte te ontgin.

Doen moeite om God se wil in die Bybel te verstaan. Dit help nie jy bid om die Here se wil te doen as jy nooit jou Bybel lees, of jouself onder die prediking daarvan plaas nie. Om God se wil te doen, moet jy dit verstaan. As jy dit nie verstaan nie, gaan jy dink jy doen sy wil, terwyl jy eintlik besig is om jou eie wil te doen. Op die oordeelsdag gaan jy ‘n verrassing kry as die Here vir jou sê: ‘Wie het vir jou gesê jy moet dít doen?’

Wat kan jy dan prakties doen om God se wil te ken? Die beste plek om te begin, is by die tekste wat direk vir jou sê wat sy wil is en om dan daarvolgens te bid.

[a] “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery” (1Tess. 4:3). Bid: ‘Here, help my asb. om U wil te doen; om rein te wees in my gedagtes, my woorde en my optrede.’

[b] “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” (1Tess. 5:18). Bid: ‘Here, help my asb. om U wil te doen; om nie só in my probleme vas te kyk dat ek U goedheid miskyk nie.’

[c] “Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry.” (Heb. 10:36). Bid: ‘Here, help my asb. om U wil te doen; om tot die einde toe te volhard.’

[d] “Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring” (1Pet. 2:15). Bid: ‘Here, help my asb. om U wil te doen; om so te lewe dat ongelowiges skaam sal raak as hulle sleg praat van Christene, omdat hulle weet hulle lieg.’

[e] “So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade.” (1Pet. 4:19, vgl. 3:17). Bid: ‘Here, help my asb. om U wil te doen; om Jesus liewer te hê as my lewe, sodat ek bereid sal wees om vir Hom te ly.’

[f] “En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” (1Joh. 2:17). Bid: ‘Here, help my asb. om U wil te doen; beskerm my teen die wêreld se versoekings, sodat ek U wil kan doen.’

Jy het seker agtergekom dat jy besig is om God se wil te bid. En as jy volgens sy wil bid, sal Hy jou gebede beantwoord (1Joh. 5:14). Om seker te maak dat jy volgens sy wil bid, stel ek voor dat jy nie jou Bybelstudie en gebed skei nie, maar dit meng: lees, bid, lees, bid, lees, bid, ens. Vra spesifiek dat die Here jou sal help om te doen wat jy sopas gelees het.

 

  1. Doen God se wil

Toe ek 15 was, het my oom ‘n paar asics tekkies by die vlooimark gekoop. Dit was heelwat goedkoper as in die winkels, maar toe dit losskeur, het hy agtergekom dat dit ‘n Chinese namaaksel is.

Baie mense wat die Bybel lees en gereeld kerk toe kom, lýk soos Christene. Wanneer sonde egter hulle lewens ontrafel, kom jy agter dat hulle die duiwel se namaaksel is. Hulle ken God se wil, maar doen dit nie. Volgens Jesus moet ons nie net God se wil kén nie, maar sy hulp vra om dit te dóén (v.10b).

Moet dan nie net bid om die Bybel te verstaan nie, maar ook dat die Gees jou die krag sal gee om te dóén wat jy in jou stiltetyd gelees het, of in die preek gehoor het (Ef. 5:17-18). Vra Hom om jou aan God se Woord of wil te herinner as jy versoek raak om sonde te doen (Joh. 14:26, Rom. 12:2).

As jy God se wil ken maar nie doen nie, is jy ‘n vals dissipel. Jy bedrieg jouself om te dink jy is ‘n Christen (Jak. 1:21-25). Jou huis is op die sand gebou en sal vou as die storm van God se oordeel dit tref (Matt. 7:21-27). Jy is soos twee mans van wie ek onlangs gehoor het. Toe hulle predikante uit die Bybel vir hulle wys wat die Here wil hê, toe sê hulle: ‘Ek hoor wat jy sê, maar ek gaan dit nie doen nie; ek het nie so groot geword nie.’

Hulle is die tipe mense wat God se wil ignoreer, volgens hulle eie wil lewe en sê: ‘Dit is nou maar net is wie ek is; dit is my persoonlikheid. As jy nie daarvan hou nie is dit jou probleem; ek gaan nie verander nie.’

Jou huis gaan val. Vra die Here om jou te vergewe en bid dat Hy jou sal help om jou wil aan syne te onderwerp en daarvolgens te lewe.

 

  1. Bid vir ’n samelewing wat God se wil doen

Ek was geskok toe ek Vrydag die radio aansit. ‘n Afrikaanse vrou het gesê dat iemand biologies ‘n man kan wees, terwyl hy in sy wese eintlik ‘n vrou is. ‘Ons moet ophou om teen hierdie mense te diskrimineer,’ het sy gesê. Sy het basies bedoel dat elke mens vir hom- of haarself moet besluit wat hulle wil wees. Dit is hierdie tipe denke wat gemaak het dat Charlize Theron onlangs aangekondig het dat haar sewejarige seun vier jaar tevore reeds besluit het dat hy eintlik ‘n dogter is.

Ons samelewing leef in rebellie teen God. Daarom moet ons bid dat die mense op aarde gehoorsaam sal wees soos wat die engele in die hemel dit is (v.10b, Ps. 103:20-21):

  • Met blydskapen nie met lang gesigte, of voete wat sleep nie (Deut. 26:16).
  • Onmiddellik, sonder om uitte stel (Ps. 119:60).
  • Om God te verheerlik en nie sodat jy kan goed voel oor jouself, of jy goed kan lyk voor ander nie (Matt. 6:1-4).
  • Volkomeen nie halfpad soos koning Saul nie (1Sam. 15).
  • Met volharding, sodat jy nie met ‘n spoed wegtrek en na ‘n paar weke opgee nie (Jer. 34).

Jesus het ons kom wys hoe om só gehoorsaam te wees. Dit was die hele doel van sy koms: om op die aarde die wil van die Vader te doen soos dit in die hemel gedoen word (v.10b, Joh. 4:34, 5:30, 6:38, Fil. 2:8, Ps. 40:9, Heb. 10:7).

Maak ‘n punt daarvan om te bid dat jy soos Hy kan wees, sodat jy die Vader se wil op aarde kan doen soos dit in die hemel gedoen word (v.10b). Moet dit nie net vir jouself bid nie, maar vir die samelewing (v.10b). Bid vir ‘n samelewing waar niemand jou handsak sal steel as jy dit op die Gautrein vergeet nie, waar mense eerlik besigheid doen en hard werk, waar mans innerlik sterk is en respekvol optree teenoor vroue, waar vroue vasberade en sag is, waar kinders grootmense respekteer, waar babas nie in die baarmoeder vermoor word nie, waar mense nie drank en dwelms nodig het om goed te voel nie, ens.

My punt is nie bloot dat ons vir ‘n morele samelewing moet bid nie. Die duiwel sal heeltemal tevrede wees met ‘n morele samelewing waar mense bg. dinge doen en daar op elke hoek ‘n morele kerk is wat nie die evangelie preek nie. Die punt is dus eerder dat ons moet bid dat die Koninkryk deur die evangelie versprei, sodat mense gered kan word, sodat hulle God se wil kan ken, sodat hulle dit kan doen (v.10a-b, 28:19-20). Dit is m.a.w. deur die kragtige uitlewing en prediking van die evangelie wat die samelewing in ‘n plek sal verander waar mense God se wil op die aarde doen soos dit in die hemel gedoen word (v.10b).

So het David Rice bv. die effek van die 17de eeuse herlewing in Kentucky beskryf: Dronkaards het nou tot die Here gesing. Vuil taal en lastering is met vurige gebede vervang. Vegters het verander in mense wat vrede liefhet. Leuenaars het die Here gevrees en die waarheid gepraat. Huisgesinne wat voorheen wanordelik was en in sonde geleef het, het nou reg gelewe, elke dag die Bybel gelees, die Here geprys en gebid [Iain Murray, Revival & Revivalism (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1994), 158].

Maar selfs in ‘n herlewing is dinge nie volmaak nie en is daar nog sonde. Om God se wil volmaak op aarde te doen soos dit in die hemel gedoen word, moet die hemel na die aarde toe neerdaal. Jesus moet m.a.w. weer kom: “Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” (2Pet. 3:13). Dit is dan ook die doel van gebed: "laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (v.10b).

Kategorieë