Coram Deo Cover Image

Coming soon...

8 January 2013

Die beste manier om te veg teen versoeking

Apple with teeth

“en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.  Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.  Amen.” (Matteus 6:13).

 

In sy autobiografie, Grace Abounding, sê John Bunyan dat hy vir ‘n lang tyd in sy lewe sonde bely het, maar nooit gebid het vir God se beskerming nie.  Hy het Matteus 6:12 gebid, maar nie aangegaan tot by v.13 nie.  Maar hoekom is dit nodig om v.13 te bid as die Bybel duidelik sê God versoek niemand nie (sien Jakobus 1:13)?  Erken die Onse Vader nie eintlik dat God tóg mense versoek nie?  Nie as jy die klem op die regte plek plaas nie.  “Lei ons – nie in die versoeking nie – maar verlos ons van die bose.”  Of, “Lei ons nie IN die versoeking nie, maar verlos ons [weg] VAN die bose.”  Hierdie vers word ook deur teoloë soos D.A. Carson beskou as 'n litotes.  'n Litotes is wanneer 'n skrywer 'n negatiewe vorm gebruik om 'n positief sterker te beklemtoon.  Ons sê byvoorbeeld:  “Dis nie 'n bietjie warm nie”, en bedoel eintlik dat dit vrek warm is.  Die Bybel gebruik sulke vorme.  Handelinge 19:23 sê:  “En omtrent hierdie tyd het daar geen klein opskudding met betrekking tot die Weg ontstaan nie.”  Lukas wil eintlik sê dat daar 'n baie groot opstand was.  En weer in Handelinge 20:12:  “And they took the youth away alive, and were not a little comforted.” (ESV).  Die punt is duidelik.  Matteus 6:13 kan dan só geparafraseer word:  “Lei ons nie in die versoeking nie, maar lei ons asseblief weg daarvan af.  Lei ons asseblief in die spore van geregtigheid.”

 

Ons gevolgtrekking is dan dat Jakobus 1:13 waar is:  God versoek niemand nie.  Maar dit is tog so dat God ons in omstandighede inlei waar ons deur die bose versoek sal word (sien Matteus 4:1).  Moenie wag om die Here aan te roep wanneer jy in die hitte van die stryd is nie.  Bid vooraf dat die Here sal verhoed dat jy in die versoeking kom.  Waak en bid dat jy nie in die versoeking kom nie (Matteus 26:41).  En indien jy versoek word:  “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” (1 Korintiërs 10:13).

 

Ken jou vyand.  Weet dat versoeking van binne en van buite kom (Jakobus 1:14-15, Matteus 4:1, 3).  Die wêreld en die duiwel sal jou versoek, maar die vlees is 'n listiger vyand as beide.  Bid teen die wêreld, die vlees, en die duiwel (v.12).  So beskryf die Bybel hoe God ons van die bose verlos:

 

“Ek, ellendige mens!  Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?  Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Romeine 7:24-25).

 

“[bid] dat ek verlos mag word van die ongehoorsame mense in Judéa...” (Romeine 15:31).

 

“wat ons verlos het uit so ‘n groot doodsgevaar en nog verlos; op wie ons hoop dat Hy ook nog sal verlos” (2 Korintiërs 1:10).

 

“Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kolossense 1:13).

 

“en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele” (2 Tessalonisense 1:7).

 

“[bid] dat ons verlos mag word van die verkeerde en slegte mense, want die geloof is nie die deel van almal nie.” (2 Tessalonisense 3:2).

 

“...Watter vervolginge het ek nie al verdra nie!  En die Here het my uit almal verlos.” (2 Timoteus 3:11).

 

“Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking heeltemal volbring kan word en al die heidene dit kan hoor; en ek is uit die bek van die leeu verlos.  En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan.  Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid!  Amen.” (2 Timoteus 4:17-18).

 

“en die regverdige Lot gered het, wat hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense; want deur wat hy gesien en gehoor het, het dié regverdige man, wat onder hulle gewoon het, dag vir dag sy regverdige siel gepynig oor hulle wettelose werke – die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word” (2 Petrus 2:7-9).

 

Bid dit ook vir jou broers en susters in die Here en veral vir die vervolgde kerk.  Die teks sê immers:  “lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die bose.” (v.13).

 

Hier is sestien leuens waarmee die vlees, die duiwel, en die wêreld ons versoek.  [1] Betwyfel God se Woord.  “Het God regtig gesê...?” (Genesis 3:1).  “Waar sê die Bybel 'n mens moet trou en mag nie saambly nie?”  [2] Ontken God se Woord.  “Verse soos Levitkus 18:22 en Romeine 1:26-27 sê nie homoseksualiteit is verkeerd nie.  Mense wat dít sê verstaan nie die konteks nie.” (sien Genesis 3:4).  “Verse oor die hel of oor Jesus as die enigste Weg is eng.  God is vol van genade en aanvaar almal.  [3] Ontken God se goedheid.  “Hoekom kan jy nie saam dronk word by die partytjie nie?  Hoekom moet jy tevrede wees met 'n klein salaris?  Jy wag al so lank vir huweliksmaat.  God is nie goed nie en wil net jou plesier wegvat.” (Genesis 3:5).  [4] Meng die waarheid met 'n leuen (Genesis 3:1, 5).  “Wie sê jy kan nie sonde uittoets nie?  Die Bybel sê mos, Toets alle dinge en behou die goeie...Jy hoef nie vrede te maak met jou skoonma nie.  Die Skrif sê, Sover dit van julle afhang, indien moontlik leef in vrede met alle mense.  Dit is onmoontlik in my geval.

 

[5] Belowe dat jy beloon sal word.  “Ja, miskien is dit oneerlike wins, maar op die einde is die voordele veel meer as die nadele.  Ek sal buitendien 'n tiende vir die kerk gee.” (Genesis 3:1-5).  [6] Belowe plesier.  “As jy geweet het hoe lekker dit is sal jy nie nee sê nie.  Probeer net een keer en as jy nie daarvan hou nie kan jy dadelik weer ophou.” (Genesis 3:6, 1 Johannes 2:16).  [7] Belowe dat jy verhef sal word.  “Dink net hoeveel mense sal jou erken en jou lof besing as jy dít kan hê – jy sal soos God wees.” (Genesis 3:5, 1 Joh.2:16).  [8] Belowe selfvervulling.  “Vergeet 'n bietjie van ander mense.  Wat sal jóú vervul en jou selfbeeld goed doen?” (1 Johannes 2:16).  [9] Belowe dat die sonde nie bekend sal word nie.  “Hou op stres.  Niemand sal weet as jy afskryf, die belastingman kul, of in die donker agter 'n toe deur sondig nie.” (Spreuke 7:19, Numeri 32:23, Psalm 139:12, Lukas 12:2-3, 1 Timoteus 6:24).

 

[10] Sê vir jou dat die sonde klein is.  “Hoekom maak jy so 'n bohaai van klein sonde?  Jy gaan dit net een keer doen.  Jy wil net 'n bietjie daarvan hê.  Hulle gebruik net twee keer die Here se Naam ydelik in hierdie film.  Daar is 'n sekstoneel in die fliek, maar jy sien niks.”  [11]  Misbruik genade.  “Het jy vergeet die Here is genadig?  Hy weet jy is maar net 'n mens.  Buitendien kan jy altyd weer vergifnis vra.”  [12] Gebruik die voorbeelde van ander heiliges.  “Dis nie asof jy die eerste persoon is wat dit gedoen het nie – ander volwasse Christene het al dieselfde gedoen, selfs dominees.”  [13] Appeleer tot jou vleeslike begeertes.  “Is dit regtig nodig dat jy vroeg opstaan om te bid?  Vandag is 'n groot dag en jy’t die ekstra rus nodig.” (Matteus 26:41).  [14] Probeer jou besig jou.  “Jy kan nie nou bid nie.  Jou familie het jou nodig, mense wag vir jou, daar is baie werk om gedoen te word.”  [15] Verskoon jou.  “Jy het genoeg gebid by die kerk en saam met jou gesin.  Jy hoef nie nog op jou eie te bid nie...Jy het genoeg gebid by die huis en hoef nie biduur toe te gaan nie.”  [16] Sê jy kan uitstel of iets later doen.  “As ek net hierdie eksamen of besige tyd agter die rug kan kry sal ek weer getrou stiltetyd hou en kerk toe gaan.”

 

Bid dat die Here jou sal beskerm teen versoeking.  Daar is baie mense in die hel omdat hulle vir een versoeking geval het.  Van daar af was alles afdraende.  Pasop vir versoeking.  Jy is nie sterker as jou vyand nie.  Maar God is.  Bid dan en smeek v.13.

 

Die slotwoorde van v.13 kom nie voor in die beste manuskripte nie.  Maar dit maak nie veel saak nie, want die waarheid van hierdie woorde kom oral voor in die Skrif.  Loof die God wat sy ewige planne vervul en sy kinders versorg en vergewe en beskerm.  Syne is die Koninkryk, die krag, en die heerlikheid tot in ewigheid.  Amen.

 

 

Kategorieë