Image result for best counselor

Johannes 14:15-17

Iemand wat terminaal siek is, soek die beste spesialis. Iemand wat ernstige kar probleme het, soek die beste werktuigkundige. Iemand wat ‘n huis bou, soek die beste bouer. ‘n Gelukkige huwelikspaar wat vir 50 jaar getroud is, soek die beste restaurant.

Op elke gebied soek ons die beste. Dit is jammer dat dit nie altyd op geestelike gebied so is nie. In party gevalle is ons geestelik onverskillig. Wanneer ons geestelike probleme het, soek ons enige berader. Maar eintlik is dit onnodig vir ‘n Christen, want volgens die Bybel het God ons die beste Berader gegee. Joh. 14:15-17 leer ons van Hom.

 

  1. Waarmee help Hy ons? (v.15)

J.I. Packer het ‘n boek geskryf met die titel Knowing God. Hy was verbaas dat dit so goed verkoop het. R.C. Sproul se boek The Holiness of God, het net so goed verkoop. Die slotsom is dat Christene die Here wíl ken. Hulle wíl Hom ook meer liefhê en sy gebooie gehoorsaam (v.15). Dit is hoekom die Here ons gemaak het (Deut. 6:5). Ons kan Hom egter nie uit onsself liefhê en gehoorsaam nie en daarom benodig ons die beste Berader (v.16-17, 26, 15:26-27, 16:5-15) en gebed (v.13-14, 15:7, 16, 16:24).

As jy die Here liefhet, sal jy sy opdragte uitvoer (v.15, 1Joh. 5:3). Sy gebod is dat jy Hom met alles in jou moet liefhê, dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself, dat jy jou naaste geen skade moet aandoen nie, maar dat jy sy beswil moet soek (Matt. 22:37-39, 28:19-20, Joh. 13:34-35, 15:12, Rom. 13:9-10).

Hoe lyk jou liefde as jy dit hieraan meet? Is Jesus jou grootste Skat (Matt. 13:44-46, Fil. 1:21, 3:8)? Waaroor jy dagdroom; hoe jy jou tyd en geld gebruik; die dinge waarin jy jou geluk stel; jou planne; jou gesprekke dui aan of Hy jou eerste liefde is, en of jy ander dinge bo Hom liefhet.

Indien Hy nie vir jou alles is nie, sal jy moeilik gehoorsaam wees. Jy sal maklik ‘nee’ sê as iets lekkerder oor jou pad kom (v.15). Jy sal byvoorbeeld maklik jou vriende, familie, ontspanning, of stokperdjies bo sy Woord, gebed, die kerk, goeie werke en diensbaarheid kies.

Hoe kan Jesus vir jou alles wees, sodat jy Hom liefhet en aan Hom gehoorsaam is (v.15)? Ondersoek sy Woord. Peins oor Hom, bestudeer Hom en praat met Hom, totdat alles om jou swart en wit word en jy Hom alleen in kleur sien.

Turn your eyes upon Jesus

Look full in his wonderful face

And the things of earth will grow strangely dim

In the light of his glory and grace.

–Helen H. Lemmel (1863-1961)–

 

  1. Wie is Hy? (v.16-17a)

Wanneer jy ‘n berader nodig het, moet jy een kontak, ‘n weeklikse afspraak reël en ‘n paar Rand uithaal om jou probleme op te los. Met die beste Berader is dit egter anders. Hy is altyd by jou, kan jou enige tyd help en sy hulp is gratis. Wie is Hy? Hy is die Drie-Enige God: die Vader, die Seun en die Heilige Gees (v.16). Jesus bid vir ons dat die Vader die Heilige Gees sal stuur om ons te help (v.16, 26, 15:26, 16:7, Hand. 2:33, Rom. 8:34, Heb. 7:25).

Die Vader stuur die Gees, omdat Hy ‘n Vader is wat sy kinders liefhet (v.16, Luk. 11:13). Hy stuur die Heilige Gees om ons te troos. Die ou Engelse woord ‘Comforter’ kom van die Latynse woord confortare [D.A. Carson, The Gospel According to John (Leicester: Inter-Varsity Press, 1991), 499]. Dit beteken nie dat die Heilige Gees ons troos as die beproewing verby is nie, maar dat Hy ons vóór en týdens die beproewing versterk, sodat ons dit kan verduur.

Die Griekse vir Trooster [paraklētos] beteken ook Helper, Berader, of Advokaat. Dit verwys letterlik na iemand wat langs jou inkom. Dus is die Heilige Gees die Trooster wat langs jou inkom om jou moed in te praat as jy mismoedig, of neerslagtig voel (v.1, 16). Hy is die Helper wat jou bystaan deur moeilike tye. Hy die Berader wat jou raad gee hoe om Jesus lief te hê en te gehoorsaam (v.15-16). Hy is die Advokaat aan jou sy wat jou teen die duiwel verdedig.

Jesus praat van die Gees as ‘n ander Trooster. Daardeur impliseer Hy dat Hy self ook ‘n Trooster, Helper, Berader, of Advokaat is (1Joh. 2:1, paraklētos). Jesus is ons Wonderbare Raadsman (Jes. 9:5). Hy woon deur sy Gees in ons om ons te beraad (Matt. 28:20, Ef. 3:16-17). Dit is beter so, want toe Jesus op die aarde was, kon Hy net op een plek op ‘n slag wees (Joh. 16:17). Deur die Gees is Hy egter by elkeen van sy kinders gelyk.

Die Heilige Gees is die Gees van waarheid (v.17). Hy is die waarheid (1Joh. 5:6), getuig van Jesus wat die Waarheid is (v.6, 17), inspireer die waarheid van die Woord en lei ons daarin (v.26, 16:13-15, 2Pet. 1:20-21, 1Joh. 2:27). Dit is dan hoe die beste Berader ons help: deur die Woord (Ps. 119:24, 2Tim. 3:15-17). Om hierdie raad ten volle te benut, moet jy die Bybel bestudeer. Hoe moet jy dit doen?

Kry vir jou ‘n Bybelkonkordans, of gebruik dit gratis op die internet. ‘n Kondordans sal jou help om ‘n studie van ‘n spesifieke onderwerp te maak. Gestel jy het ‘n probleem met jou humeur. Jy kan die woord ‘kwaad, woede, woedend, humeur’ en soortgelyke terme opsoek. So kan jy al die Bybelverse oor woede opspoor en dit nagaan. Skryf jou bevindinge neer en stel vir jou ‘n aksieplan op van hoe, waar en wanneer jy die verse kan toepas. Jy kan ook op CCEF (Christian Counseling & Education Foundation) en Grace to You se webtuistes kyk vir Bybelse hulpmiddels oor hierdie, of ander praktiese sake.

Om die Gees se hulp in die waarheid te hê, benodig jy ook gereelde Bybelse prediking. Kry dit in ‘n goeie Bybelse gemeente, asook deur die preke van mense soos Martyn Lloyd-Jones, Voddie Baucham, Paul Tripp en ander. Vra die Gees daagliks om jou te help om hierdie waarhede te onthou, om dit toe te pas en om daarmee vol te hou.

 

  1. Wie help Hy? (v.17b)

‘n Vrou het eendag aan my deur kom klop toe haar huwelik uitmekaar val. Toe ek haar klaar gehelp het, het sy verdwyn. Ek het al baie sulke mense ontmoet: hulle soek net die Here wanneer hulle in die moeilikheid is. Om hierdie rede woon die Heilige Gees nie in ongelowiges nie (v.17b). Hulle soek Hom ook nie, aangesien hulle Hom nie kan sien nie en dink dat Hy nie bestaan nie (v.17b). Hulle glo net in wat hulle kan sien en verstaan nie geestelike dinge nie (1Kor. 2:14).

Verder soek hulle nie die Gees nie, omdat hulle nie sy lieflike teenwoordigheid ken nie (v.17b). Ons ken Hom persoonlik, omdat Hy in ons woon. Voor Pinksterdag het Hy by gelowiges gewoon (v.16-17), maar na Pinksterag het die oneindige God in die gelowige se liggaam en gees kom woon (v.17, 23, Jes. 57:15, Rom. 8:9, 1Kor. 6:17, 19-20, Ef. 3:19)! Hy is nader aan jou as jou vel, as die suurstof rondom jou, as die bloed in jou are, as jou gedagtes.

Dit beteken egter nie dat jy een wese met God is nie. Jy wórd nie God, sodat jy die oplossing in jouself het nie (soos wat die New Age Beweging en Buddhiste glo). Die oplossing lê eerder in die ewige God wat deur sy Gees in jou kom woon. Sy inwoning is permanent en vir ewig (v.16). Dit sal dus ook in die hemel en op die nuwe aarde so wees. Dit is wat 1Kor. 15:44 met ‘n ‘geestelike liggaam’ bedoel. Paulus bedoel nie dat jou verheerlikte liggaam nie-materieel sal wees nie. Die Griekse woord dui eerder aan dat jou liggaam altyd en vir ewig deur die Heilige Gees beheer sal word (vgl. Gal. 6:1, Gk.).

As die Heilige Gees dan vir ewig in jou woon, beteken dit dat ‘n Christen nie demoon-besete kan wees nie. Die Heilige Gees is jaloers oor jou soos wat ‘n man jaloers is oor sy vrou: hy deel haar met niemand nie (Jak. 4:5).

Dalk maak iemand beswaar: ‘Maar wat van koning Saul: ‘n demoon het hóm dan geteister (1Sam. 16:14, 18:10)?’ Saul was deurgaans ongehoorsaam en het die Woord van God verwerp. Sy lewe getuig daarvan dat hy nie ‘n gelowige was nie.

Die Gees se ewige inwoning (v.16) beteken ook dat Hy jou nooit sal verlaat nie (Matt. 28:20, Heb. 13:5b). Maar wat van ‘n Christen wat sonde doen? Wanneer jy sonde doen, bedroef dit die Heilige Gees (Ef. 4:30) en verloor jy die wonderlike sin van sy teenwoordigheid. Die Gees self sal jou egter nie verlaat nie, maar Hy bly in jou om jou van sonde te oortuig, jou te tugtig en jou reg te help.

‘Maar wat van toe die Gees Simson en koning Saul verlaat het (Rigt. 16:20, 1Sam. 16:14)? En wat van Ps. 51:13 waar Dawid gepleit het dat die Gees hom nie moes verlaat nie?’ vra iemand. In die Ou Testament het die Heilige Gees konings, profete, priesters, Rigters, ouderlinge en enkele ander individue bekragtig. Nie almal van hulle was noodwendig gered nie. Die Gees het bv. oor ‘n vals profeet soos Bileam gekom (sien Num. 22-24, vgl. Matt. 7:22-23).

Toe die Gees hulle dus verlaat het, was dit nie ‘n gelowige wat die Heilige Gees verloor het nie, maar iemand wat die Gees se teenwoordigheid verloor het, sodat hy nie meer geskik was vir die amp waartoe die Here hom geroep het nie. Dawid se gebed dat die Gees hom nie moes verlaat nie beteken dus: ‘Moet my asseblief nie as koning verwerp soos U dit met Saul gedoen het nie.’

Die waarheid bly dus staan: die Heilige Gees sal nie permanent in ‘n ongelowige woon nie (v.17) en ‘n Christen kan nie ‘n demoon hê nie.

Wat is die implikasie hiervan? Jy moet gered wees voordat die Gees in jou sal woon (v.17, Joh. 3:5, Tit. 3:5-6). ‘n Verdere implikasie is: as jy ongered is en probleme het, benodig jy nie berading nie, maar die evangelie. Slegs deur die beste Berader kan jy jou probleme agter jou sit, vry wees van sonde en reg lewe (Joh. 8:36, 1Kor. 6:9-11, 2Kor. 5:17, Gal. 5:16-26). ‘n Ongelowige kan een of twee sondes los, maar hy vervang dit net met ‘n ander sonde. Sonder Jesus bly jy ‘n slaaf van sonde en is jy op pad hel toe; selfs al het jy opgehou drink, of enige ander sonde prysgegee (Joh. 8:34, Ef 2:1-3).

Let verder op dat Jesus nie net die Gees na individue stuur nie, maar vir ‘julle’ (v.16-17). Jesus gee die Heilige Gees vir die gemeente (1Kor. 3:16). Om dus die beste raad te kry, moet jy deel wees van ‘n Bybelse gemeente. Die Gees het vir ons broers en susters gegee om ons te beraad, te leer, te bemoedig, te vermaan en aan te spoor (Spr. 15:22, Rom. 15:14, 1Tess. 4:18, 5:11, 14, Heb. 10:24-25). Hy het ook spesifieke gawes gegee. Sommige het die gawe van kennis, wysheid, bemoediging, lering, of vermaning (Rom. 12:7-8, 1Kor. 12:8, 28). Die Gees het hulle spesiaal toegerus om ander te beraad. Die Gees het ook herders gegee om die gelowiges te beraad, te leer en toe te rus om hulle probleme op te los (Jer. 3:15, Joh. 21:15-17, Ef. 4:11-13, 2Tim. 4:2, 1Pet. 5:1-3).

***

Deur die Woord, die kerk en gebed gee die Heilige Gees aan ons alles wat nodig is om geestelik te groei en te verander. Jy hoef nie die wêreld te vra om jou met jou probleme te help nie (Ps. 1:1). Eintlik kán hulle jou nie ordentlik help nie, omdat hulle nie die Heilige Gees het nie (v.17). Die beste Berader woon nie in hulle nie. Hy woon in jóú as jy aan Jesus behoort. Hy is altyd tot jou beskikking. Hy is beter as die beste ma. Alhoewel ‘n goeie ma altyd aan diens is, raak sy ook maar moeg en uitgeput. Die Heilige Gees is nie so nie. Hy is 24 uur per dag, 7 dae per week, 365 dae per jaar, altyd en vir ewig daar om jou te help.