Coram Deo Cover Image

Coming soon...

16 March 2019

Die aanbidding wat God soek

Image result for image of true worship

Jesaja 66

Sommige mense het die idee dat enige aanbidding vir die Here aanneemlik is, solank dit opreg is. Dit is eenvoudig nie waar nie. Wat het gebeur toe Ussa die Here opreg aanbid het, maar nie volgens sy Woord gehandel het nie? Hy het gesterf (2Sam. 6:7).

Ander dink weer dat die Here tevrede is met ons aanbidding, solank ons by die Bybel se reëls hou. Maar dit is ook nie waar nie, want volgens die Bybel is dit moontlik om die Here met jou lippe te aanbid, terwyl jou hart ver van Hom af is (29:13).

Die Here wil hê dat ons Hom in gees en waarheid moet aanbid (Joh. 4:24). Dit is nie een óf die ander nie, maar beide. Hy wil hê dat ons Hom in hierdie lewe en in die volgende een so moet aanbid. Dit is waaroor Jes. 66 gaan.

 

  1. Die hart van aanbidding (v.1-6)

‘n Paar jaar voor my tyd was daar ‘n vurige debat in ons kerk. Dit het gegaan oor of mense hulle hande moet ophef as hulle sing, of nie. Die feit dat daar ooit so ‘n debat was, is skandelik. Hoekom moet iemand gedwing word om sy of haar hande op te hef as hulle sing? En hoekom moet ons iemand verbied as hy in sy hart voel hy wil dit doen? Dit is tog nie teen die Bybel nie. Eintlik gaan dit glad nie daaroor of jy jou hande moet ophef of nie. Die Here kyk na die hart.

Omdat Israel se harte sleg was, het Hy nie omgegee dat hulle in die tempel roem en sê: ‘God se troon is daar; die tempel is die rusplek van sy voete’ nie (Ps. 99:1, 5, 1Kron. 28:2). God het nie ‘n tempel nodig nie, aangesien die hemel sy troon is en die aarde die rusplek van sy voete (v.1). God is groter as enige tempel en sy teenwoordigheid is nie daartoe beperk nie (Hand. 17:24). Hy is oral en het alles in die hemel en op aarde geskep (v.1-2, 1Kon. 8:27, Ps. 139:7-8, Kol. 1:16-17). Maar alhoewel Hy nie in ‘n tempel woon nie (v.1), woon Hy in die nederige en gehoorsame mens se hart (v.2, 57:15, Joh. 14:23, 1Kor. 6:19).

Ons kan Hom nie met uiterlike godsdiens beïndruk nie. Wat saakmaak is of jou hart opreg en nederig is, en of jy voor sy Woord bewe. Vrees jy sy Woord, sodat jy jou sonde los en God se wil uitvoer (v.2, 6:5, 2Kron. 16:9, Ps. 51:19, 119:120)? Die Here soek gehoorsaamheid eerder as offers; v.2 eerder as v.3 (vgl. 1:15, 1Sam. 15:22-23, Spr. 21:3, Hos. 6:6). Sonder gehoorsaamheid is offers vir die Here afskuwelik. Dit is asof jy ‘n moord pleeg, ‘n hond se nek breek, ‘n vark se bloed offer, of ‘n afgod prys (v.3).

Die goddelose aanbid soos dit vir hulle lekker voel, maar vir die Here is dit afstootlik (v.3). Daarom bring Hy die straf waarteen hulle gewetens hulle gewaarsku het: ‘Dit is op pad!’ (v.4). Maar hulle het hulle gewetens, die wet en die profete geïgnoreer en aangehou met dinge wat die Here nie behaag nie (v.4, 65:12, Spr. 1:24-25).

Hulle het gespot en dié gehaat wat God uit ‘n rein hart aanbid en nie saam met hulle wil sondig nie (v.5). Hulle het die regverdige uit die tempel verban (v.5, Joh. 9:34) en gesê: ‘Ons aanbid lankal nie meer die Here nie. Ons het aanbeweeg. As die Here God is, laat sy Naam dan verheerlik word dat ons julle blydskap kan sien’ (v.5).

Maar op die einde sal húlle beskaamd staan wanneer die afgode hulle nie teen die Here kan help nie, as Hy die tempel waarop hulle vertrou het verwoes, en as Hy hulle boosheid vergeld (v.5-6, 1).

Hoe moet ons v.1-6 toepas?

[a] God se teenwoordigheid is nie tot ‘n sekere plek beperk nie (v.1-2, Hand. 7:47-50). Hy is oral. Dan maak dit nie saak of ons die Here in ‘n kerkgebou, sitkamer, skoolsaal, of onder ‘n boom aanbid nie.

[b] Ons moet voor God se Woord bewe, dit in ons lewens gehoorsaam, dit as ons riglyn gebruik in aanbidding, met ons vinger op die teks preek, hoofstuk en vers aanhaal om te wys hoekom ons glo wat ons glo en doen wat ons doen (v.2). As jy só lewe, sal mense jou uitlag en spot (v.5). Hulle sal sê jy loop met die Bybel onder die arm, sit die Heilige Gees in ‘n boks, of glo in die Vader, die Seun, en die heilige Skrif.

Volgens v.1, 5 sal die lastering kom van mense wat godsdienstig is. Dit sal kom van dié wat meer maak van hulle tradisie as van God se Woord (bv. die Fariseërs wat Jesus vervolg het en die Katolieke wat die Protestante vervolg het). Die vervolging sal kom deur dié wat nie voor God se Woord bewe nie. Dit sal kom van gays wat nie die Here se uitsprake teen hulle sonde vrees nie, maar wat ware gelowiges voor die hof daag en dink dat God hulle sonde goedkeur.

[c] God soek gehoorsaamheid voor offers (v.2-4). Voor Jesus se offer aanneemlik kon wees, moes Hy die Vader gehoorsaam (Heb. 10:5-7). Net so moet jy gehoorsaam wees voor jy die Here op ‘n Sondag aanbid. Beteken dit jy moet by die huis bly as jy sonde gedoen het, of dat jy die nagmaal moet oorslaan? Nee. Dit beteken eerder dat jy deur belydenis en bekering gereed moet kry om die Here te aanbid (vgl. Matt. 5:23-24).

 

  1. Die begin van aanbidding (v.7-14c)

Ek het al dikwels gesê dat dit nie Bybels is om te sing: ‘Come, now is the time to worship... come, just as you are to worship’ nie. Jes. 66 bevestig dit. Om God in die hemel en op aarde reg te aanbid (v.1-6, 15-24), moet jy weergebore wees (v.7-14). Jy kan dus nie kom soos jy is om die Here te aanbid nie.

Volgens v.7-14 moet die hemelse Jerusalem ons ma wees (Ps. 87:5-6, Gal. 4:26). Ons moet geestelik uit haar ‘gebore’ word (v.7, Joh. 3:3, 5, Tit. 3:5). Dit is ‘n pynlose geboorte, wat aandui dat die vloek gebreek is (v.7, vgl. Gen. 3:16). Dit is m.a.w. vir die Here geen moeite om iemand te wederbaar nie.

Wie het al van so ‘n geboorte gehoor of dit gesien; ‘n geboorte waarin iemand geestelike lewe ontvang en ‘n nuwe mens word (v.8, 64:4, 1Kor. 2:9)? By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik (Matt. 19:26). Kan ‘n land of nasie in ‘n oomblik gebore word (v.8)? Toe Sion se kraampyne begin, is haar kinders dadelik gebore (v.8). Wat beteken dit?

  • Jesus het op een dag ons sonde verwyder (Sag. 3:9).
  • Die Nuwe Testament kerk is op een dag gebore toe God sy Gees oor haar uitgestorthet (Hand. 2).
  • Die Gees wederbaar iemand in ‘n enkele oomblik (Hand. 16:14).
  • God sal in een oomblik miljoene Jode red en ‘n herlewing onder die nasies bring (Rom. 11:12, 15, 23, 26).Toe die 18de eeu herlewing in Skotland uitbreek, het een prediker binne sewe dae meer vrug op sy arbeid gesien as in sy hele bediening van 24 jaar.
  • Jesus sal in een oomblik terugkeer, die dooies opwek en die hele skepping nuut maak (1Kor. 15:52, Op. 21).

Dalk kyk jy na die slegte wêreld rondom jou en dink jy daar is nie hoop vir die kerk nie. Maar sal God sy kinders tot op die punt van geboorte bring, en dan die baarmoeder sluit om te keer dat hulle gebore word (v.9)? Moet jou nie vaskyk in die godeloosheid wat toeneem en sê: ‘Die kerk is hopeloos; God se heerlikheid sal nie weer skyn’ nie (v.5). Het die Here dan nie die mag om die kerk te herleef en sy beloftes te vervul nie (v.9)?

Is jy lief vir die kerk? Treur jy oor die sonde wat nog in haar is? Verlang jy na ‘n volmaakte kerk in die hemel? Die Here sal jou trane afvee en dit in blydskap verander (v.10). Hy sal jou siel versadig soos wat ‘n ma haar baba met melk versadig (v.11-12).

Jy kan dit nou reeds deur die melk van die Woord geniet (1Pet. 2:2). Hoe meer jy daarvan kry, hoe meer wil jy hê. Dit is hoekom dit goed is om nie net ‘n dagstukkie te lees nie. Lees eerder ‘n paar hoofstukke, doen ‘n deeglike Bybelstudie, of peins daaroor. Luister na die audio Bybel en preke in die kar as jy min tyd het om te lees.

Geniet God se vrede wat deur Jesus en die Gees soos ‘n rivier na jou vloei (v.12, 48:18, Ps. 46:5, Rom. 5:1, 15:13, Fil. 4:7, 9, 2Tess. 3:16). In die hemel sal jy hierdie vrede ten volle geniet. Jy sal so veilig voel soos ‘n kind wat aan sy ma drink, op haar heup gedra word, op haar knieë aan die slaap gesus word, en deur haar getroos word (v.12-13, 40:1, Op. 21:4).

Daar sal ook ‘n opgewondheid wees oor die nasies wat in die kerk en die hemel inkom soos ‘n rivier wat sy walle oorstroom (v.12, 2:2-3, 60:3-11, Ps. 67, 72, Luk. 13:29, Op. 7:9, Op. 21:24, 26). Dalk twyfel jy dat hierdie profesieë waar sal word, maar jy sal dit met jou eie oë sien en bly wees (v.14). As Jesus weer kom sal jy sy kragtige hand sien wat die dooies opwek en hulle liggame verheerlik, sodat hulle bene altyd jonk bly en nie pyn nie (v.14). Hulle sal soos nuwe gras wees (v.14).

 

  1. Die einde van aanbidding (v.14d-24)

Die woord ‘einde’ het meer as een betekenis. As ons praat van die einde van die vakansie, bedoel ons dat dit verby is. As ek egter vra: ‘Wat is die einde waartoe die Here ons geskep het?’ verwys ek na die einddoel.

Met ‘die einde van aanbidding’ bedoel ek beide. Die Here sal sy vyande se verkeerde aanbidding tot ‘n einde bring. Maar Hy sal ook die nasies red om die einddoel te vervul waartoe Hy hulle gemaak het, naamlik om Hom vir ewig op die nuwe aarde te aanbid.

Kom ons begin by die vyand. God sal sy toorn oor hulle openbaar, in vuur en vlam teen hulle kom, sy strydwaens soos ‘n stormwind teen hulle stuur, hulle met sy swaard en die vuur van die hel vergeld (v.14d-16, 27:1, Gen. 3:24, Matt. 24:51, 2Tess. 1:7-9, Op. 14:10-11).

Hy sal o.a. dié tref wat in ‘heilige tuine’ ingegaan het om varke en muise vir die afgode te offer (v.17, 1:29, 65:3-4). Hy sal hulle vir hulle geheime denke en dade oordeel (v.18, Pred. 12:14, Rom. 2:16). Hulle het met sy heerlike krag gespot (v.5), maar op die laaste dag sal hulle dit sien en vrees (v.18, Fil. 2:9-11).

Ander sal sy heerlikheid bewonder wanneer hulle die teken daarvan in die opgestane Christus sien (v.18-19, Matt. 16:1-4, 12:38-42). Hulle sal dit sien wanneer sendelinge die goeie nuus tot aan die eindes van die aarde verkondig, selfs in plekke waar mense wapens het en dit gevaarlik is om te preek (v.19, Matt. 28:19, Hand. 1:8).

Die nasies móét van die roemryke God hoor, sy heerlikheid sien en Hom aanbid (v.19, Ps. 86:9). Zoeloes, Xhosas, Afrikaners, Indiërs, Vendas, Sothos, en ander Suid-Afrikaanse stamme móét en sál voor Koning Jesus buig. Dit geld vir elke nasie op aarde: hulle sal van oral af kom, soos ‘n rein graanoffer vir die Here wees, soos die Leviete in die Ou Testament priesters wees, en geestelike offers bring (v.20-21, 2:2-3, Ps. 22:28, Rom. 15:16, 1Pet. 2:5, 9, Heb. 13:15-16, Op. 1:6, 5:9-10).

Soos die nuwe hemel en die nuwe aarde, sal Abraham se nageslag vir ewig bestaan (v.22, 65:17, Op. 21:1). Die kerk kan m.a.w. nie uitgewis word nie, en geen gelowige kan ooit uit die hemel geskop word nie. Volgens Jesaja sal ons die Here van een nuwe maan tot die volgende, van een Sabbat tot die volgende aanbid (v.23). Die nuwe mane verwys na Israel se feeste, terwyl die Sabbat hulle weeklikse rusdag was. Die punt is dat ons op die nuwe aarde altyd fees sal vier en die ewige rus sal geniet (v.23, 25:6, Matt. 8:11, Op. 14:13, 19:9).

As jy dit nie nou geniet om die Here te aanbid en vir Hom te lewe nie, sal jy dit nie in die hemel geniet nie. Maar jy sal ook nie van die hel hou nie. Jesaja beskryf dit as ‘n plek waar mense uitgewerp is en sterf, waar die vuur vir ewig brand, die wurm altyd knaag en mense afgryslik is (v.24, Dan. 12:2, Mark. 9:48, Op. 21:8).

Wil jy dit vryspring en nié voor die oordeel van die hel bewe nie? Bewe dan voor God se Woord (v.2). Buig die knie, bekeer jou van jou sonde, glo in Jesus wat in jou plek voor God se Woord en voor sy straf gebewe het (Mark. 14:33-36, 2Kor. 5:21). Hy het in ons plek die wet gehoorsaam en die straf vir ons sonde gedra aan die kruis.

Glo jy in Hom? Volg jy Hom? Het jy Hom lief? Dien jy Hom? Aanbid jy Hom? Vervul jy die hoogste doel waarvoor Hy jou gemaak het? Of lewe jy vir jouself, vir die wêreld, vir jou sonde, of vir iets anders? Dan is jou lewe so doelloos soos ‘n resiesperd sonder bene, ‘n arend sonder vlerke, of ‘n vis in die woestyn.

Kategorieë