Coram Deo Cover Image

Coming soon...

11 April 2023

Die 5 solas: Genade alleen

Efesiërs 2:1-7

Tydens die hervorming het die Katoliekekerk gesê die doop en die nagmaal gee reddende genade. Die mens is nie geestelik dood nie, maar geestelik siek. Sy toestand is nie hopeloos nie. Die hervormers het gesê God red ons uit genade alleen—sola gratia in Latyn.

Die Katoliekekerk het gesê God red ons deur geloof in Christus plus ons eie werke. Die hervormers het gesê God red ons deur geloof alleen—sola fide in Latyn.

Die Katoliekekerk het gesê daar is ander middelaars buiten Christus: Maria, die engele en die heiliges. Die hervormers het gesê Christus is die enigste Middelaar—deur Hom alleen kan ons na die Vader toe kom. Die Latyn vir Christus alleen is solus Christus.

Die Katoliekekerk het gesê die Bybel, die Pous, die lering van die kerk en kerklike tradisie is ons gesag. Die hervormers het gesê ons lewe volgens die Skrif alleen—sola Scriptura in Latyn.

Die Katoliekekerk het Maria en die heiliges vereer. Die hervormers het gesê ons moet God alleen eer—soli Deo gloria in Latyn.

Die Katoliekekerk het nie God se genade, geloof, Christus, die Skrif en die eer van God ontken nie. Maar hulle het gesê dit is nie genoeg nie. Hulle het sola of alleen-stellings ontken. Watter een van hulle of die hervormers was reg?

 

1. Die noodsaaklikheid van genade alleen (v.1-3)

Almal van ons ken mense wat Christus bely, maar soos ongelowiges lewe. Die feit is hulle is geestelik dood in hulle oortredings en sondes (v.1). Die Grieks vir oortredings (paraptōma) beteken jy val weg van iemand aan wie jy naby was. Ek glo dit verwys na die sondeval in Genesis 3. God het die mens gemaak om naby Hom te wees, maar toe hy sonde doen toe val hy weg. Adam se sonde en dood het ons almal beïnvloed (Rom. 5:12, 1Kor. 15:22). Die Grieks vir sondes (Gk. hamartia) beteken jy mis die teiken of doel. Party mense sê dit is nie so nie, maar dit is presies wat die woord beteken: weens ons sonde mis ons die doel waarvoor God ons gemaak het, naamlik om Hom te verheerlik en sy lof te verkondig (Jes. 43:7, 21, Rom. 3:23). Die ongelowige is geestelik dood (v.1). Hy het geen geestelike hartklop vir die Here of ’n begeerte na heilige dinge nie. Sy sonde maak hom geestelik doof, blind, afgestomp en ongevoelig soos ’n brandletsel. Hy soek God nie (Rom. 3:10-12). Hy sien geen lieflikheid in Christus nie. Geestelik is hy so hard soos ’n vuurklip (Eseg. 3:7).

Wat van goeie ongelowiges? Hulle is geestelik dood; ’n lyk vol grimmering met ’n kispak aan (v.1, Kol. 2:13). Die morele ongelowige is gister begrawe. Die immorele ongelowige is al 50 jaar in die graf. Die een se liggaam lyk erger as die ander een, maar albei is ewe dood. As ’n ongelowige God soek, is dit omdat God hom nader trek en eerste gesoek het (Luk. 19:10, Joh. 6:44, 65). Tot dan is hy lewendig dood: liggaamlik lewe hy (v.2a), maar geestelik is hy dood (v.1, 1Tim. 5:6). Die wêreld is ’n geestelike lykshuis. Sonde beskryf die ongelowige se daaglikse lewenswandel (v.2). Hy lewe onkundig, asof God nie bestaan nie (4:17-18). Hy lewe volgens die onheilige drie-eenheid: sy sondige natuur, die wêreld en die duiwel (v.1-3). Die wêreld verwys na die bose sisteem onder die mag van Satan (v.2, 1Joh. 5:19). Die wêreld se leuse is: almal doen dit. Die massas besluit watter musiek jy oor die radio hoor, watter klere mode is, wat in die politiek aangaan, wat in skole geleer word, hoe jy vermaak moet word, wat jou morele waardes en lewensuitkyk is. Min weet hulle dat Satan die meesterbrein agter alles us (v.2). Hy is die bose hoof of prins oor die donker magte (v.2, 6:12). Paulus noem hom ’n gees (v.2). Hy is onsigbaar. As jy egter ’n geestelik bril kon opsit, sou jy goeie en bose geestelike magte rondom jou sien (2Kon. 6:17). Hulle voer ’n magtige stryd vir die mens se siel.

Die duiwel se onsigbaarheid en heimlikheid (Eng. stealth) maak hom gevaarlik. Thomas Watson sê: ‘He hurts more as a fox than a lion’.1 Satan het sy sukses grootliks te danke aan die feit dat daar ’n verraaier in die stad is: jou sondige natuur werk saam met hom (v.1-2). Hy hits die sonde in jou hart aan (Jak. 1:14-15). Elke ongelowige lewe vir sy eie luste en drange (v.3): seksuele wellus, gierigheid, hoogmoed, wraak en meer. Die ongelowige dink, doen, sê en begeer wat hy wil, wanneer hy wil (v.3). Satan en die advertensiebedryf weet dit. Hulle adverteer hulle produkte met ’n belofte van kits rykdom, roem en plesier. Hoekom anders adverteer Angelina Jolie hulle juwele? Of hoekom sal hulle ’n hamburger met ’n halfnaakte vrou adverteer—wat het hamburgers en sexy vroue met mekaar te doen? Die wêreld dink met hulle sintuie eerder as met rasionele denke oor God, sonde, die mens se gewete, die dood en die ewigheid (v.2, 4:19).

Die mens se natuur dryf hom om agter sy sintuie aan te loop net soos ’n leeu se natuur hom dryf om vleis eerder as blare te kies. Dit is van die moederskoot af so—elke mens word as ’n sondaar gebore (v.1, Gen. 8:21, Ps. 51:7, 58:4). Sonde is meer as iets wat ons doen; dit is wat ons is. Dit besoedel elke deel van ons menswees soos ’n bril met oranje lense aan alles ’n oranje gloed gee. Sonde besoedel ons wil, gedagtes, emosies, begeertes, woorde, dade, gewoontes, persoonlikheid, karakter—alles (v.1-3, Gen. 6:5). Dit is nie net waar van C-max gevangenes nie, maar van alle mense in alle plekke deur alle tye: “Ons almal het vantevore soos hulle opgetree...” (v.3, eie beklemtoning).2 Om hierdie rede verdien almal God se straf: “Ook ons, soos al die ander, was van nature kinders bestem vir die oordeel” (v.3, eie beklemtoning). God se straf is ons ma (v.3), want sonde is ons pa (v.2). Die kinders van ongehoorsaamheid (v.2) is kinders van die toorn (v.3). Sonde is ’n vonk op die biskruit van God se toorn. Hy hou sy toorn terug soos ’n vloed. As Hy sy hand moes los, verdrink sy toorn ons in ’n oomblik.

 

2. Die bron van genade alleen (v.4)

’n Groep seuntjies het ’n Britste evangelis se kweekhuis met klippe gegooi. Hulle het die glas gebreek en probeer om weg te hardloop. Hy het hulle gevang en in huis sy ingebring. ‘I’m not going to tell your parents what you did,’ het hy gesê. ‘That’s mercy.’ Daarna het hy vir hulle skons met arbei konfyt en room voorgesit. ‘That’s grace,’ het hy gesê. Barmhartigheid of mercy is om nie te kry wat jy verdien nie, naamlik die hel. Genade of grace is om te kry wat jy nie verdien nie, naamlik die hemel.

As gevolg van ons sonde, verdien ons God se straf (v.1-3). As die Here wou, kon Hy ons in ’n oomblik uitwis en in die hel werp (2Pet. 2:4-6). Dit is nie sy hart nie. Hy geniet dit nie om mense te straf nie, maar wil hê hulle moet hulle bekeer en lewe (Eseg. 18:32). God is ryk aan barmhartigheid en straf ons nie volgens verdienste nie (v.4, 7, 1:7, 3:8, Eks. 34:6-7, Rom. 5:20, Ps. 103:10). Hy smoor ons eerder met sy liefde (Luk. 15:20). Nie dat ons dit verdien of dat iets binne ons Hom aantrek nie. Inteendeel, daar is alles in ons om Hom af te sit (v.1-3). God se liefde spruit uit Homself (v.4). Die grootheid van sy liefde het sigbaar geword toe Hy sy Seun aarde toe stuur om vir ons te sterf (Rom. 5:8, 1Joh. 3:16, 4:10). As Hy jou liefdgehad het toe jy sy vyand was, hoeveel te meer het Hy jou lief noudat jy sy vriend is (Rom. 5:10)? As Hy jou in jou sonde liefgehad het (v.1-3), het Hy jou nog steeds lief. Sy liefde vir jou verander nie, want God is liefde (1Joh. 4:8). Prys Hom vir sy liefde en genade (1:6). As jy dit nie doen nie maar met v.1-3 aanhou, wag daar ’n geweldige straf: “Want as die boodskap wat deur engele verkondig is, inderdaad bindend was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regmatige straf ontvang het, hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot verlossing verontagsaam?... Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het, en die Gees van genade uitgedaag het?” (Heb. 2:2-3, 10:29).

 

3. Die gevolg van genade alleen (v.5-6)

Baie Christene sê die mens se vrye wil bepaal sy redding. Inderwaarheid is jy ’n slaaf van sonde en die duiwel (v.1-3, Hand. 8:23). Daar is niks goed in jou nie (Rom. 7:18). Uit jouself kan jy die Here nie behaag of reg doen nie (Rom. 8:7-8). So min soos ’n luiperd sy kolle kan verander of ’n Etiopiër sy vel, so min kan ’n sondaar sy natuur verander (Jer. 13:23). Jou wil is nie vry nie, maar gebonde. Enige sondaar is hopeloos tot die Here hom geestelik opwek en vrymaak (v.5, Joh. 8:36, Rom. 7:24-25). Dane Ortlund sê: ‘Christ was sent not to mend wounded people or wake sleepy people or advise confused people or inspire bored people or spur on lazy people or educate ignorant people, but to raise dead people.’3 Die Here wek ons nie op as gevolg van ons verdienste of geloof nie. Ons is geestelik dood (v.1). Hoe verdien ’n dooie iets? Hoe kan ’n dooie mens homself opwek of glo? Daar is vir ons geen hoop tensy redding uit genade alleen is nie. Selfs die geloof waardeur ons redding verkry, is ’n gawe van God (v.8-9, Fil. 1:29). Van begin tot einde is verlossing uit genade alleen.

Nadat die Here ons van sonde, die duiwel, die wêreld en sy ewige straf verlos, laat Hy ons saam met Christus opvaar en in hemelse plekke sit (v.6). Christus is die Hoof en ons sy liggaam (1:22-23). As Hoof vaar Hy namens sy liggaam op en regeer tot ons voordeel aan die Vader se regterhand (v.6, Kol. 3:3). Die Heilige Gees woon tergelykertyd in Christus en ons. Hy vat die dinge van Christus en wys dit vir ons (Joh. 16:14). Hy plaas die hemel in ons voor ons in die hemel is. Omdat ons in ’n sekere sin reeds in die hemele is (v.6), kan geen gelowige sy redding verloor nie. Ons het saam met Christus opgestaan en opgevaar. Hy kan nie een van sy liggaamsdele verloor nie. Dane Ortlund sê: ‘For God to de-resurrect you...Jesus Christ himself would have to be sucked down out of heaven and put back in the tomb of Jospeh of Arimathea.’4

 

4. Die toekoms van genade alleen (v.7)

’n Paar weke gelede toe vra iemand my: ‘Word ons regtig uit genade alleen gered? Hoekom hoor predikers sê ons moet volhard, gedurig bid, die Bybel lees, en goeie werke doen? Word ons nie deur werke gered nie?’ Dit kan nie wees nie, want genade en werke is teenoorgesteldes: “Maar as dit uit genade is, is dit nie meer op grond van dade nie; want anders sou die genade nie meer genade wees nie.” (Rom. 11:6). God se genade stel ons in staat om gehoorsaam te wees. Ons goeie werke is nog steeds uit genade alleen (v.10). Selfs in die hemel lewe ons uit genade alleen. God sal ons die oneindige rykdom van sy genade wys (v.7). Soos ’n diamant wat in die son glinster, sal die Here ons elke faset van sy genade wys (v.7).

Die Grieks (endeiknumi) beteken letterlik Hy wys ons sy genade in die oortreffende trap—Hy gee die onteenseglike bewyse daarvan en maak dit so duidelik dat niemand dit mis nie. Die Griekse medium beteken Hy is persoonlik betrokke en stel intens belang om aan ons sy genade te wys. Hy sal ons sy genade in die drie-Eenheid wys. Hy sal vir jou wys hoe onbekende mense op aarde vir jou redding gebid het; hoe Hy elke tree van die pad by jou was en jou teen gevare beskerm het. Jy sal sy wysheid in al jou beproewings sien, sodat jy sê: ‘As ek my lewe kon oor hê, sou ek weer deur dieselfde beproewings gaan. Ek het dit nie op die oomblik besef nie, maar sien nou dit was die perfekte plan.’ Die Here sal jou nuwe wonders van Christus se Persoon wys; dinge wat jy nie in jou wildste drome nie kon raai nie. Die rykdom van God se genade is waarlik sonder einde (v.7, ESV). Niemand het Hom verplig om soveel genade te wys nie. Dit kom deur sy eie goedheid (v.7). Om sy genade te kry, moet jy Christus vind, want al God se genade is in Hom (v.7, 1:4-6). Bid Ps. 119:176 as jy nie weet waar om Hom te vind nie: “Ek dwaal rond soos ’n verlore skaap; soek tog u dienskneg. U gebooie vergeet ek immers nie.” Die Here sal kom as jy Hom aanroep. Hy geniet dit om genade te wys: “wat vreugde vind in troue liefde... He delights in mercy.” (Miga 7:18, 2020, NASB).

Daar is hele wêrelde in die klein woordjie ‘genade’ opgesluit. Na miljoene jare in die hemel sal niemand sê: ‘Nou het ek die limiet van God se genade ontdek’ nie. In Christus is God se genade soos die lied wat ons as kinders in die Metodiste Sondagskool gesing het:

The love of Jesus is so wonderful!

It’s so high you can’t get over it;

It’s so low you can’t get under it;

It’s so wide you can’t get around it—

O, wonderful love!

In Christus is God se genade en liefde sonder maat of perk (3:16-19, Joh. 1:16). Dit maak nie saak hoe ver jy die grensdraad van God se genade probeer aanskuif nie: Jesus gooi verby dit (v.7, Gk. huperballō).


1  Thomas Watson, The Lord’s Prayer (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1960, 1965 [1692, 1890]), 269.

2  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

3  Dane Ortlund, Gentle and Lowly: The Heart of Christ for Sinners and Sufferers (Wheaton, Illinois: Crossway, 2020), 175.

4  Ortlund, ibid., 178.

Kategorieë