Coram Deo Cover Image

Coming soon...

14 April 2023

Die 5 solas: Geloof alleen

Efesiërs 2:8-10

In teenstelling met die Katolieke kerk het die hervormers gesê God red ons uit genade alleen (Latyn: sola gratia), deur geloof alleen (sola fide), in Christus alleen (solus Christus), volgens die Bybel alleen (sola Scriptura), tot eer van God alleen (soli Deo gloria).

God se genade is die bron van ons redding.

Geloof is die kanaal van ons redding.

Christus is die objek van ons redding.

Die Bybel bevat die inhoud van ons redding.

God se eer is die einddoel van ons redding.

Vandag kyk ons na geloof alleen. As jy dit eers gesmaak het, sal jy dit altyd wil hê. Hopelik is jy soos die vrou in wyle Martin Holdt se gemeente. Toe sy die eerste keer van regverdigmaking deur geloof alleen hoor, toe sê sy: ‘Ek is al vir jare in die kerk. Hoekom het ek nog nooit hierdie leerstelling gehoor nie?’ Daarna het sy vir verskeie predikante gevra: ‘Verkondig jy regverdigmaking deur geloof alleen?’ Die waarheid hiervan het haar so vertroos sy wou dit altyd hoor.

Ek hoop jy sê dieselfde as jy vandag hierdie leerstelling hoor.

 

1. Genade en geloof (v.8a)

Ons was geestelik dood; slawe van die duiwel en die wêreld, en onder die toorn van God (v.1-3). Slegs God se genade of onverdiende guns kon ons daarvan red: “Want uit genade is julle verlos” (v.8). Die perfektum beteken God het ons verlossing in die verlede afgehandel (Joh. 19:30), maar dit het ’n effek in die hede (Tit. 2:12). Hoe verkry ons hierdie verlossende genade? Deur geloof: “Want uit genade is julle verlos, deur geloof.” (v.8). God se genade is ons lewensbloed. Geloof is die are wat die bloed deur ons liggaam versprei. Jou bloed en nie jou are nie, laat jou lewe. Maar sonder are kan die bloed nie by jou brein, longe en die res van jou liggaam uitkom nie.

Net so laat God se genade jou geestelik lewe. Deur geloof kry jy voordele van God se genade: regverdigmaking, vergifnis, aanneming, verseëling en meer (v.8). Geloof is die leë hand wat niks bydra nie, maar die goud van Christus se rykdom ontvang (vgl. Luk. 18:11-13). Geloof kyk na Christus wat vir ons sondes gekruisig is, begrawe is en op die derde dag opgestaan het (1Kor. 15:3-4). Geloof is nie ’n sprong in die donker wat maar net hoop die evangelie is waar nie. Geloof aanvaar die historiese feite van die evangelie. Sonder die historiese feite is daar geen geloof, en daarom geen verlossing nie (1Kor. 15:12-19). Geloof glo meer as die historiese feite oor die algemeen. Dit glo, volg en ontvang Christus persoonlik (Luk. 9:23, Joh. 1:12, Gal. 2:20). Ware geloof glo meer as die feite (vgl. Jak. 2:19). Een wat glo verplaas sy vertroue van self, sy opregtheid, sy navolging van sekere reëls, kerkbywoning, ’n belangrike amp, sy ouers se geloof, goeie werke, die doop, die nagmaal, tiendes en stiltetyd na Christus alleen (Fil. 3:4-9). Reddende geloof vertrou Christus soos jy die aarde vertrou om jou gewig te dra. Natuurlik kan die aarde as gevolg van ’n sinkgat of ’n aardbewing meegee, maar Christus sal jou nooit teleurstel nie (Rom. 9:33). As jy in Hom glo, sal Hy jou red (Rom. 10:13).

Het jy hierdie geloof? Indien nie, wat keer dat jy so glo? Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word (Hand. 16:31). Moenie sê: ‘Ek benodig nog tyd’ nie. Solank jy ongelowig bly, is jy teen Christus en rus God se toorn op jou (Luk. 11:23, Joh. 3:36). Daar is ’n hartklop tussen jou en die hel (v.3).

Sê jou geliefdes hulle ken die Here? Het hulle hulle hart by ’n kerkkamp vir Hom gegee, terwyl reddende geloof ontbreek en hulle soos die wêreld in sonde lewe (v.1-3)? Moenie aanhou sê hulle ken die Here nie, anders sal jy nie vir hulle redding bid nie. Moet hulle ook nie tromp op loop en sê hulle is so ongered soos ’n klip nie. Bid liewer vir hulle redding en deel die evangelie sagmoedig en met respek (Rom. 10:1, 13-17, 1Pet. 3:15). Los die saak by die Here as jy ’n negatiewe of geen reaksie kry nie.

 

2. Geloof en werke (v.8b-10)

Voor sy bekering het my swaer die Here gevra om hom te red. Daar was geen antwoord nie. Hy het eers ’n paar jaar later tot bekering gekom. Ek weet nie hoekom die Here getalm het nie. Wat ek weet, is dat talle mense voel so. Hulle bid vir verlossing, maar die hemel is stil. Wat moet jy in so ’n geval doen? Vra die Here vir geloof. Geloof is immers ’n gawe van God (v.8, Hand. 18:27, Gk. tois pepisteukosin dia tēs charitos, Fil. 1:29). God maak ons gewillig en bekwaam om te glo; Hy gee ons Jesus deur geloof (v.8, Joh. 6:44, 65, Hand. 16:14, Fil. 2:12-13).

Geloof is die kanaal eerder as die fondasie van ons redding. Party mense verander geloof in ’n werk wat jy tot jou redding bydra. Sulke mense wonder: ‘Is my geloof voldoende?’ Hulle kyk na hulle geloof eerder as na Christus deur geloof. Hulle het ’n verkeerde definisie van geloof. Volgens Rom. 4:4-5 is geloof en werke teenoorgesteldes: “Iemand wat werk, se loon word nie as ’n guns gereken nie, maar as iets wat hom toekom. Iemand wat egter nie werk nie, maar glo in die Een wat die goddelose regverdig verklaar—vir hom word sy geloof as regverdiging toegereken.” Geloof vergeet van sy eie pogings en kyk na Christus alleen. Dit vat Hom op sy Woord en ontvang Hom as Verlosser. God reken so een se geloof as geregtigheid (Rom. 4:3, 5, 22-24). Paulus bedoel nie God skryf ‘geloof’ in die verdienste kolom nie. Hy skryf Christus se meriete en vergifnis deur geloof in die verdienste kolom (Rom. 5:1, Fil. 3:9). God gee jou Christus geregtigheid deur geloof soos Hy op Golgota jou sonde aan Christus toegereken het (2Kor. 5:21, Kol. 2:14). God sien jou nie meer nie, maar Christus in jou plek (Spr. 18:10, Jes. 61:10, Sag. 3:3-5, Rom. 8:1, 1Kor. 1:30). Daarom kan jy in niks behalwe in Christus alleen roem nie (v.9, Gal. 6:14).

Die vals gelowige haat dit. Hy soek erkenning vir sy werke. Hy wil in homself roem. ’n Jehovas Getuie buite my huis het dit gedoen. Hy het oor sy jare diens as ’n straatwerker geroem. Hy was trots dat die Getuies passifiste is, en dat hulle tronk toe is, omdat hulle geweier het om diensplig te doen. Hy het geroem dat alle Getuies wêreldwyd elke Sondag presies dieselfde lering ontvang.

By ’n ander geleentheid wou ’n Word of Faith groep ons kerk se geboue huur. Die man het oor hulle kerk se bedieninge en uitmuntende diens geroem. Volgens die Bybel red God ons deur geloof alleen, sodat niemand kan roem nie (v.8-9, Rom. 3:20, 27-28, 4:3, 2Tim. 1:9, Tit. 3:5). Selfregverdige mense aanvaar dit nie. Hulle wil agter Jak. 2:14-26 skuil. Hulle fokus veral op v.24: “Julle sien dus dat ’n mens op grond van dade regverdig verklaar word, en nie deur geloof alleen nie.” Jakobus bedoel eenvoudig ’n mens se werke wys ware geloof uit soos appels ’n appelboom uitwys (Luk. 6:43-45). Redding kom deur geloof alleen (v.8-9), maar reddende geloof bly nooit alleen nie—dit lei altyd tot goeie werke (v.10, Gal. 5:6). Dit kan nie anders nie, want die gelowige is ’n nuwe skepping in Christus (v.10, 2Kor. 5:17). Voor jou bekering het jy in sonde gelewe; dit het jou lewenswandel opgesom (v.1-3). Na jou bekering som goeie werke jou lewenswandel op (v.10). Jy doen dit nie per spesiale geleentheid soos die vals gelowige nie. Jy wag nie vir ’n straatuitreik, motorfietsrit vir liefdadigheid, of sop-en-kombers aand nie. Jy wag nie vir Kerstyd om speelgoed vir die kinderhuis te gee nie. Goeie werke is deel van jou daaglikse lewe of lewenswandel (v.10). Jy doen nie goed, sodat mense jou moet sien nie. Jy doen goed al sien net die Here jou (Matt. 6:1-18).

Jy doen nie goed om jouself op die skouer te klop nie. Jy doen nie goed, omdat jy bang is nie. Die Jehovas Getuies is so. Hulle doen goed, nie omdat hulle ywerig is nie, maar omdat hulle vrees hulle mis die ewige lewe. ’n Getuie in Phalaborwa het dit gesê. Hy het die ouderling van die Baptisekerk besoek. Die ouderling het hom gevra: ‘Ek wil hê jy moet my eerlik antwoord. Besoek jy my, omdat jy oor my ewige saligheid besorg is, of omdat jy oor jouself besorg is?’ Die man het gesê: ‘Ek doen dit vir my eie geestelike welstand.’

As gelowiges doen ons goeie werke uit liefde vir God en ons naaste, en omdat ons dankbaar is die Here het ons gered (v.10, Matt. 22:37-39). Ons doen ons goeie werke deur Christus se krag (v.10). Sonder geloof in Jesus kan niemand goed doen nie: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” (Rom. 3:10-12). Sonder geloof in Jesus doen mense hulle goeie werke met verkeerde motiewe.

Uiterlik lyk hulle mooi.

Innerlik is hulle vrot.

Is jy bang hierdie lering van geloof alleen lei tot losbandigheid? Dit kan nie gebeur nie. Wie voortdurend na Christus kyk, sal soos Hy word en vol goeie werke wees (v.10, 2Kor. 3:18). Maar sal hy in homself roem as meer soos Jesus word nie? Nie as hy v.10 onthou nie: “Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.” Selfs jou goeie werke kom van God af; Hy het dit vir jou voorberei (v.10). Jy moet dit net raaksien en uitvoer. Bid elke dag vir oop oë om die goeie werke wat God vir jou voorberei het, raak te sien en te doen.

Geloof alleen is meer as ’n teorie agter Goeie Vrydag. Dit is praktiese teologie wat jou lewe verander. Deur geloof alleen het ons vrede met God. John Bunyan het dit eerstehands beleef. Sy sonde het hom angstig gemaak en sy gewete gepla. Op ’n dag toe openbaar God sy Seun as Bunyan se geregtigheid (1Kor. 1:30). Daarop het Bunyan Christus as sy goud in die hemel gesien. Dit het vir hom gevoel of sy kettings afval.1 Toe die twyfel later terugkeer, het die Here hom weer gewys dat hy uit genade deur geloof geregverdig word (Rom. 3:24). Met ’n onhaarbare stem het die Here in sy hart gefluister: ‘Sinner, you think that because of your sins and infirmities I cannot save your soul; but behold, my Son is by Me, and upon Him I look, and not on you, and shall deal with you according to My pleasure with Him.’2

Dit help as jy op jou sterfbed is. Koning Louis XIV van Frankryk het dit gemis. Op sy sterfbed het hy vir sy priester gesê: ‘Bid dat my sondes vergewe word.’ ‘Hoekom? Worstel jy?’ het die priester gevra. ‘Nee, dit is juis wat my pla. Ek wil meer worstel, sodat ek vergewe kan word.’ Die koning het gedink sy sondes sal vergewe word as hy meer ly.

Kontrasteer dit met ’n arm vrou op haar sterfbed. Toe ’n priester genaamd Martin Boos haar besoek het, toe sê hy: ‘Jy het so goed gelewe, jy gaan reguit hemel toe.’ ‘Nee,’ het sy geantwoord. ‘As ek op my goeie werke staatmaak, gaan ek hel toe. Hoe kan ’n vuil sondaar soos ek voor ’n heilige God staan? My enigste hoop is Christus se bloed en sy volmaakte geregtigheid wat ek deur geloof ontvang. Sonder Hom het ek geen hoop nie.’3

Vraag 1 van die Heidelbergse Kategismus sê: ‘Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?’ Die antwoord kom: ‘Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.’4
Ken jy hierdie troos? Het jy dit al ervaar? Jy kan dit net ken as jy God se genade in Christus deur geloof ontvang het. As jy op jou eie werke staatmaak, is jy verdoem. Uiteindelik is dit die enigste
twee godsdienste ter wêreld: ’n godsdiens wat op Christus alleen staatmaak en een wat op self staatmaak; ’n godsdiens wat binne homself kyk vir die oplossing en een wat buite homself na Christus kyk; ’n godsdiens wat bely dat God ons deur geloof alleen red en een wat menslike meriete byvoeg. Watter een is jy?


1  John Bunyan, Grace Abounding to the Chief of Sinners (Springdale, PA: Whitaker House, 1993), 133-5.

2  Ibid., 148-9.

3  Iain H. Murray, The Old Evangelicalism (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2005), 95-6, 99.

4  https://www.gkoosmoot.co.za/index.php/dokumente/belydenisskrifte/heidelbergse-kategismus

Kategorieë