Openbaring 5
Sola is ’n Latynse woord wat ‘slegs’ of ‘alleen’ beteken. In reaksie teen die Katolieke kerk het die Hervormers in die 16de eeu gesê God red ons uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen, volgens die Bybel alleen, tot eer van God alleen. In Latyn is dit sola gratia, sola fide, solus Christus, sola Scriptura en soli Deo gloria.
Met Christus alleen bedoel ek nie ons is Jesus Only of Oneness Pentecostal gemeentes nie. Laasgenoemde verwerp een God in drie Persone (Matt. 28:19). In teenstelling met Matt. 3:16-17 glo hulle Jesus is die Vader en die Heilige Gees. In die Ou Testament was Hy die Vader, in die Nuwe Testament is Hy die Seun, na Jesus se hemelvaart is Hy die Heilige Gees. Om so te sê, is onbybels en verwarrend.
Met Christus alleen bedoel ons daar is redding in niemand nie, behalwe in Christus alleen. Hand. 4:12 sê: “Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie.”1
1. Ons nood vir Christus (v.1-4)
Johannes was ’n gevangene op die eiland Patmos (1:9). Een Sondag het Jesus hom die visioene van Openbaring 1-22 gewys (1:10). In hfst. 4 het Jesus hom hemel toe gevat. Hy het God op die troon gesien met ’n klomp hemelwesens wat Hom omring en aanbid. In God se regterhand was daar ’n boekrol (v.1). Soos die Tien Gebooie en Esegiël se boekrol, was dit voor en agter volgeskryf dat niemand iets kon byvoeg nie (v.1, Eks. 32:15, Eseg. 2:9-10). Die boekrol was nie met een klei- of wasseël verseël nie, maar met sewe seëls (v.1). Sewe is die volmaakte getal wat beteken die boekrol was volmaak verseël. Niemand kon dit oopmaak nie.
’n Sterk engel het hard uitgeroep, sodat die skepping hom kon hoor (v.2). Hy het almal uitgedaag en gevra wie waardig is om die boekrol se seëls te breek. Hy het nie gevra nie wie sterk genoeg is om die seëls te breek nie, maar wie waardig is. Slegs dié persoon kon die boekrol se inhoud uitvoer. Niemand in die hemel, op die aarde of onder die aarde was waardig nie (v.3). Niemand kon die oordele wat in die boekrol staan, voltrek nie (vgl. hfst. 6). Die boekrol was ’n verseëlde titel-akte van die koninkryk en die erfporsie van God se testament (Jer. 32:6-15). Niemand kon dit vir homself toe-eien en die erfporsie uitdeel nie.
Toe Johannes dit hoor, het hy in trane uitgebars (v.4). Hy het geweet as die boekrol verseël bly, sal Satan, die Romeinse keisers en die kerk se vervolgers triomfeer (hfst. 12-13). Dan sou Johannes ’n gevangene op die eiland bly (1:9). Die duiwel sou seëvier en God se kerk sou die koninkryk verbeur. Suid-Afrika en die wêreld sou in duister gehul en in sonde gedompel bly. Niemand sou van die vyand en sonde bevry word nie. Die dood sou die finale sê hê en ons in skaakmat sit.
Dank God die Vader vir Jesus Christus wat waardig is om die boekrol oop te maak en ons te red!
2. Jesus is die antwoord (v.5-7)
As kind het ek ’n sekere predikant se lering geniet. Hy het eenkeer gesê: ‘Everyone is saying: “Jesus is the answer!” But what is the question?’ Die dilemma word in v.1-4 beskryf: wie is waardig om die seëls te breek en boekrol oop te maak?
Jesus is die antwoord. “Toe sê een van die ouderlinge vir my: ‘Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid, het oorwin, sodat Hy die boekrol en die sewe seëls daarvan kan oopmaak.’ ” (v.5).
Jesus is die Leeu en regmatige koning uit die stam van Juda; die leeu wat sy vyande verskeur (v.5, Gen. 49:9-10, Ps. 50:22, Hos. 13:7-8). Hy is meer as ’n menslike Messias uit die nageslag van Dawid—Hy is die wortel of oorsprong van Dawid (v.5, 22:16). Hy is die Seun van Dawid, sowel as sy Here (Matt. 22:41-45, Rom. 9:5). Jesus is God en mens. Hy alleen is waardig om die seëls te breek. As God triomfeer Hy oor sy vyande en oorwin Hy die dood (v.5, 1:18, Heb. 2:14-15). As mens sterf Hy om dit reg te kry (v.6, Kol. 2:14-15).
Watter ander god het mens geword om vir ons sondes te sterf? Kon Allah, Vishnu, Krishna, ’n engel of die Jehovas Getuies se god dit doen? In watter mens is die volheid van God beliggaam (Kol. 2:9), sodat Hy vir miljoene mense se sonde kan sterf? Kon Moses, Maria, Mohammed, Boeddha of die Katoliekekerk se saints dit doen? Watter wese is God en mens en kan as Middelaar sy hand op albei partye lê (Job 9:32-33)? Jesus alleen voldoen aan die vereistes: “Want daar is een God,
en een Middelaar tussen God en die mense: die mens Christus Jesus” (1Tim. 2:5). Jesus is die testamentmaker of testateur van die Nuwe Testament. Hy het gesterf en weer opgestaan. Hy is die ekseketeur en erfgenaam van sy eie testament, sodat Hy die koninkryk vir sy kerk kan gee (v.10, Dan. 7:13-14, 18, 22, 27, Luk. 1:32-33, 12:32, Heb. 1:2).
Wat van mense wat nooit die evangelie hoor nie? Deur die skepping en hulle gewete weet hulle God bestaan (Rom. 1:19-21, 32, 2:14-15). Nogtans kies hulle om teen Hom te sondig. As hulle die Here wou ken, sou Hy iemand stuur om die evangelie met hulle te deel (Handelinge 10). Warrasa Wanga van die Gedeo bevolkingsgroep in Etiopië is ’n voorbeeld hiervan. Toe hy in 1940 die Here soek, toe kry hy ’n antwoord. Die Gedeo stam het geglo daar is ’n Opperwese wat alles gemaak het. Hulle het Hom egter nie aanbid nie, maar vir ’n bose gees geoffer dat hy hulle moes uitlos. Op ’n dag toe sê Warrasa Wanga vir homself: ‘Ons moet die ware God aanbid.’ Hy het God gevra om homself aan die Gedeo mense te openbaar. Daardie nag toe droom hy die Here stuur mense na hulle toe. Die mense het hulle tente oorkant die vallei opgeslaan. Na ’n ruk, toe bou hulle huise met blink dakke. Dit was anders as die Gedeo mense se grasdak huise. Agt jaar later, in 1948, is Warrasa Wanga se droom vervul. Twee sendelinge het van Kanada af gekom. Hulle is aangesê om nie onder die Gedeo mense te woon nie, omdat die land se politieke situasie onstabiel was. Hulle het toe hulle tente oorkant die vallei opgeslaan. Na drie jaar toe bou hulle huise met sink dakke wat in die son blink. Die Here het Warrasa Wanga se gebed beantwoord. Hy het tot bekering gekom en is later vir sy nuutgevonde geloof in die tronk gesit.2
Voor iemand gered kan word, moet hy die goeie nuus van Jesus hoor (Rom. 10:13-15). Jy het dit gehoor. Glo jy dit? Glo jy in Jesus as die enigste weg na die Vader (Joh. 14:6)? Of probeer jy soos baie mense jou eie weg baan? Steun jy op jou ouers se geloof of jou doop en lidmaatskap om in die hemel te kom? Dink jy God sal jou raaksien as jy jouself kasty of goed genoeg in Jesus se spore volg? Dit gaan nie help nie. Vergeet van jouself. Verloën jouself. Verwerp jou eie geregtigheid en ontvang Christus se geregtigheid deur geloof (Fil. 3:4-9). Glo in die sterk Leeu van Juda wat sy vyande verslaan het toe Hy as ’n Lam vir ons sondes geoffer is (v.5-6, 17:14, Eksodus 12, Jes. 53:7, Joh. 1:29, 1Kor. 5:7, 1Joh. 3:8).
Niemand is soos Hy nie. Die hemelwesens beskerm God se troon om te keer dat iemand naby kom (4:6b). Jesus loop verby hulle almal (v.6-7). Watter mens, demoon of heilige engel sal dit uit homself waag: “...‘Ek sal hom laat nader kom, en hy sal tot My nader. Ja, wie is die een wat dit sal waag om tot My te nader?’ is die uitspraak van die Here.” (Jer. 30:21)? Jesus het die reg om die troon te nader, want Hy is die geliefde en ewige Seun van God (Joh. 1:1, Matt. 3:17). As mens het Hy God se hart gewen en die hemel deur sy perfekte lewe en kruisdood gewen: “Om hierdie rede het die Vader My lief—omdat Ek my lewe aflê, sodat Ek dit weer kan opneem.” (Joh. 10:17).
Johannes sê Jesus is soos ’n Lam wat geslag is (v.6). Die letsels van Jesus se kruiswonde is nog aan Hom (1:7, Joh. 20:27). Die Vader aanvaar ons as Hy dit sien (Heb. 7:25, Rom. 5:1-2, 1Pet. 3:18). Buite Jesus is jy in gevaar. Hy is die Lam met sewe oë en sewe horings (v.6). Sy sewe horings spreek van volmaakte krag om sy teenstaanders mee te verpletter (sien 1Kon. 22:11). Sewe oë beteken Hy sien alles (2Kron. 16:9, Spr. 15:3, Heb. 4:13, Sag. 4:10b). Die sewe oë is die sewe geeste van God (v.6). Dit beteken nie daar is meer as een Heilige Gees nie, maar dit verwys na die sewevoudige of volmaakte Gees van God: “Die Gees van die Here sal op Hom rus—die Gees van wysheid en insig, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en ontsag vir die Here.” (Jes. 11:2, eie beklemtoning).
Baie godsdienste sê hulle god sien alles. Wat sê hy as hy mense se sonde sien? Sien hy dit oor? Dan is hy onheilig. Vergewe hy sonder om te straf? Dan is hy onregverdig. Wis hy mense summier uit? Dan is hy ongenaakbaar; sonder liefde of genade.
Party mense ontken enige god en soek die oplossing by goeie mense. Watter mens is goed en sonder sonde? Selfs al sou jy ’n goeie mens vind, moet jy vra: kan hy jou sonde wegvat en jou gewete reinig?
Weereens is Jesus alleen die antwoord. Net Hy is God en mens. Net Hy het vir ons sonde gesterf en lewe weer (1Kor. 15:3-4). Net Hy kan die boekrol vat en sy seëls breek (v.7). Net Hy kan die koninkryk vir Homself toe-eien (Dan. 7:13-14).
3. Lof aan Jesus alleen (v.8-14)
Toe Jesus by sy hemelvaart in die hemel kom en die boekrol vat, toe breek die hemelwesens en die hele skepping spontaan uit in lofgesange. Verse 8-14 lui:
“Toe Hy die boekrol neem, het die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neergeval. Elkeen het ’n lier en ’n goue bak vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is, vasgehou. Toe sing hulle ’n nuwe lied:
‘U is waardig om die boekrol te neem,
en die seëls daarvan oop te breek,
omdat U geslag is,
en met u bloed
mense vir God gekoop het,
uit elke geslag en taal en volk en nasie.
U het hulle ’n koninkryk
en priesters vir ons God gemaak,
en hulle sal as konings oor die aarde heers.’
Toe ek weer kyk, hoor ek die sang van baie engele rondom die troon, en van die lewende wesens en die ouderlinge. Daar was tienduisend maal tienduisende, duisend maal duisende, wat met harde stemme uitroep:
‘Waardig is die Lam wat geslag is,
om die krag en rykdom en wysheid en sterkte
en eer en heerlikheid en lof te ontvang.’
En ek het die hele skepping—in die hemel, op die aarde en onder die aarde, op die see, en alles wat daarin bestaan—hoor uitroep:
‘Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam,
kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die sterkte,
vir ewig en ewig.’
Die vier lewende wesens het ook uitgeroep:
‘Amen!’
En die ouderlinge het neergeval in aanbidding.”
Ps. 24:7-10 eggo:
“Lig op julle koppe, poorte,
ja, lig julleself op, ewige ingange,
sodat die roemryke Koning
kan ingaan.
Wie is hierdie roemryke Koning?
Die Here, magtig en heldhaftig,
die Here, heldhaftig in die stryd.
Lig op julle koppe, poorte,
ja, lig op, ewige ingange,
sodat die roemryke Koning
kan ingaan.
Wie is Hy,
hierdie roemryke Koning?
Die Here, Heerser oor alle magte,
Hý is die roemryke Koning.”
Sela
In Openbaring 4 het die hemel die Vader vir die ou skepping geprys. In Openbaring 5 het hulle die Seun vir die nuwe skepping van verlossing geprys: ’n nuwe lied vir ’n nuwe werk (v.9, Joh. 5:23). Hulle het Hom met goue harpe geprys (v.8). Van die begin af was die hemel vol musiek. Daar was agtergrondmusiek toe God die wêreld in Genesis 1 gemaak het (Job 38:4, 7). Die Vader en die Seun sing ook (Sef. 3:17, Heb. 2:12).
Waarna verwys die goue bakke vol geurige gebede en hoekom hou die hemelwesens die heiliges se gebede vas (v.8, 8:3-5, Ps. 141:2)? Ons bid nie deur engele nie, aangesien Jesus die enigste Middelaar is (1Tim. 2:5). Soms stuur God egter sy engele met die antwoord op ons gebede (Heb. 1:14). In 6:9-10 het die martelare gevra dat God Hom oor hulle moordenaars moet wreek. In antwoord op hulle gebede het God die goue bakke vol gebede met sy oordele gevul. Die hemelwesens het sy oordele oor die kerk se vyande uitgegiet (16:1 e.v.). Moet dus nie uit v.8 aflei ons moet soos die Katolieke tot engele bid nie. Geen hemelwese sal ’n Christen se gebede aanvaar nie. Ons moet God alleen aanbid (19:10, 22:8-9, Kol. 2:18).
Die hemelwesens prys Hom dat Hy aan die kruis gesterf het om sondaars met sy bloed los te koop (v.9, Matt. 20:28, 1Pet. 1:18-19). Jesus se dood gee Hom die reg om die boekrol te vat en sy seëls te breek; om die testament se inhoud sy eie te maak (v.9, Heb. 9:16-17). Toe Jesus die koninkryk ontvang, toe deel Hy dit met sy kerk (v.10). Die koninkryk is nie meer tot Israel beperk nie. In die Ou Testament was Israel die koninklike priesterdom (Eks. 19:6). In die Nuwe Testament is elke gelowige ’n priester en koning wat geestelike offers bring en saam met Jesus op die nuwe aarde sal regeer (v.10, 1:6, 2:26-27, Heb. 13:15-16, 1Pet. 2:5, 9).
Watter ander god het gesterf om sy vyande so te verhef en sy koninkryk met hulle te deel? Nie een nie. Ons moet Jesus alleen prys. Dit geld vir gelowiges uit alle nasies; hulle is die nuwe volk van God (v.9, Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10). Jesus is nie ’n streeksgod vir party groepe nie, maar die God van alle nasies (Joh. 3:16, Kol. 3:11). Moenie onderlangs kla as die Here mense uit ander bevolkingsgroepe red en by die gemeente voeg nie: ‘Dit is ons kerk; nou vat hulle dit weg.’ Aan wie behoort die kerk? Aan blanke Afrikaners? Aan jou bevolkingsgroep? Of behoort dit aan Jesus wat gesterf en die kerk met sy bloed gekoop het (Hand. 20:28)?
Christus is die God van alle nasies. Buig jou voor Hom neer en aanbid Hom saam met die nasies (v.9). Aanbid Hom saam met die engele (v.11). Al het Christus nie vir hulle gesterf nie (Heb. 2:16), prys hulle Hom (v.11). Hulle staan verwonderd dat Hy mens geword en vir sy vyande gesterf het (Joh. 1:14, Rom. 5:10). Hulle aanbid Hom met ’n sewevoudige of volmaakte lofprysing (v.12).
Die hele skepping prys Hom (v.13). Die koor begin met vier hemelwesens en vier-en-twintig ouderlinge, en eindig met die hele skepping. Waarvoor prys die skepping Hom? Vir sy kruisdood vir sondaars. Soos ’n mens se sonde die skepping laat val het, sal God die skepping herstel wanneer Hy die mens finaal verlos (Rom. 8:19-23). Daarom prys die skepping hom vir die mens se redding (v.13).
Watter profeet of god het gesterf om die mens te red en die skepping te herstel (21:1, 4, Kol. 1:20, 2Pet. 3:13)? Christus alleen het, want net Hy het gesterf om dit reg te kry. ’n Godsdiens sonder ’n kruis is nie goeie nuus nie. Prys die Vader wat die inisiatief geneem het om ons te red, die Seun wat vir ons gesterf het en die Gees wat ons die voordele van Jesus se kruisdood gee (v.13, Ef. 1:3-14, 1Joh. 4:9-10, 13). Eggo die hemel se lof soos hulle mekaar se lof eggo (v.14, Jes. 6:3). Maak Christus die senter van jou lewe (1Kor. 2:2), jou huwelik (Ef. 5:22-33), jou geldelike offers (2Kor. 8:9), jou verhoudings (Fil. 2:3-8), jou swaarkry (1Pet. 2:21), jou versorging van God se kudde (Hand. 20:28).
Moet nooit soos ’n sekere lidmaat moeg raak vir Christus nie. Na een erediens toe sê hy vir sy leraar: ‘I am sick of hearing about Christ! Always Christ, Christ, Christ! Christ this, Christ that!’
Jesus is waardig van die hoogste lof. Daar is niemand soos Hy nie. Prys Hom alleen!
1 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
2 John Piper, Let the Nations Be Glad: Second Edition (Grand Rapids, Michigan: Baker Academic, 2003, 1993), 138-9.