Lukas 15:1-10
‘Jesus is ’n gentleman wat sy wil op niemand sal afdwing nie. Hy wag dat mense Hom moet aanneem.’ So dink party Christene oor Jesus. Maar hulle tref ’n vals onderskeid. Asof ’n gentleman nie ook vreesloos, dapper en sterk is nie; asof hy ’n noodle is wat sy bruid nie teen rowers en ander gevare kan beskerm nie. In Lukas 15 lees ons van ’n sagmoedige en dapper Jesus wat aktief na verlorenes soek.
1. Die verlore skaap (v.1-7)
Een van my vriende laat nie ’n geleentheid verbygaan sonder om die evangelie met mense te deel nie. Hy praat met elke verkoopsman, karwag, buurman en petroljoggie met wie hy skouer skuur. Hy het Christus se hart vir verlorenes. Mense weet dit en het hom al gevra om vir hulle redding te bid. So het die tollenaars en sondaars na Jesus toe gekom om hulle te red. Hulle het ore gehad om sy boodskap te hoor en wou sy dissipels wees (v.1, 14:35b). Vers 1 se sondaars verwys waarskynlik na prostitute soos in 7:37, 39, Matt. 21:31. Die tollenaars het by tolhuise gewerk (Gk. telōnēs) en teen hulle eie volksgenote belasting vir die Romeine ingevorder. Hieroor het die Jode hulle gehaat, asook omdat hulle meer gevra het as wat hulle moes (3:12-13, 19:8b).
Onder Jesus se prediking het die tollenaars en sondaars besef hulle is sleg en het God se vergifnis nodig (18:13). Hulle het geweet Jesus is die vriend van tollenaars en sondaars en kan verlorenes red (4:18-19, 7:34). Baie mense glo dit nie, maar dink God het sy mes in vir ons. Hulle dink Hy wil net straf en glo nie 2Pet. 3:9 nie: “Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”1
Ander is soos die Joodse leiers: hulle dink hulle geestelike CV maak hulle reg met God. Hulle kyk teen hulle neuse af op slegte sondaars en kan nie glo Jesus meng met sulke mense nie (v.2, 5:30, 18:9-12). Die wetgeleerdes en Fariseërs was so, en het intens en aanhoudend teen Jesus gemurmureer (v.2, Gk. diagogguzō). Vir hulle was dit ’n yslike probleem dat Jesus sulke mense verwelkom het (v.2). Die Grieks (prosdechomai) verwys na ’n warm verwelkoming en openhartige ontvangs. Jesus het hulle toegang tot Homself gegee en vriende met hulle gemaak. Sy hart is regtig oop vir sondaars. Dit beteken nie Hy keur hulle sonde goed nie, maar Hy verwelkom almal om hulle te red: “God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.” (Joh. 3:17).
Het jy ’n slegte verlede, omdat jy dinge gedoen het waaroor jy nou skaam voel (Rom. 6:21)? Al verwerp mense jou, Jesus sal jou ontvang. Kom na Hom toe. Hy wil jou vriend wees en nooi jou om saam met Hom te eet (v.2, Op. 3:20, 1Kor. 11:24-25, Matt. 26:29). En as Hy mense so verwelkom, moet ons dit nie vir mekaar doen nie? Moenie soos die Fariseërs murmureer, omdat Jesus almal verwelkom nie (v.1-2). Moenie toelaat dat anderskleuriges of armes wat julle kerk besoek, uitgesluit voel nie. Verwelkom hulle. “Daarom, aanvaar mekaar, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.” (Rom. 15:7). Hiervoor sal party mense jou kritiseer (v.2). My leraar in Louis Trichardt het dit ervaar. Hy het ’n advertensie in die koerant geplaas en almal by ons gemeente verwelkom. Iemand het ’n brief geskryf en dit by die kerk se deur gelos. Die persoon het ons leraar rassistiese name toegesnou, omdat ons gemeente anderskleuriges verwelkom het. Maar dit is wat die Here wil hê, nie waar nie, naamlik dat ons sy liefde aan almal betoon? Moet niemand uitsluit wanneer jy die evangelie deel nie. Moet dit nie van ryk mense, arm mense, bruin mense, wit mense, swart mense, enigiemand anders weerhou nie. Soms het ons die geneigdheid om die evangelie makliker met sekere groepe te deel, en dit van ander te weerhou. Moet dit nie doen nie, maar vertel almal van Jesus se hart vir sondaars.
Ons sien Jesus se hart in v.3-4: “Toe het Hy vir hulle hierdie gelykenis vertel: ‘Wie van julle wat honderd skape het en hy verloor een van hulle, laat nie die nege-en-negentig in die woestyn agter, en gaan agter die verlore een aan totdat hy hom kry nie?’” Die herder weet die verlore skaap is weerloos. ’n Skaap het nie tande, kloue, spoed, of vlerke om hom teen wilde diere te beskerm nie. Hy het ook nie ’n ingeboude GPS soos ’n resiesduif of swaeltjie, sodat hy die Herder kan soek nie. Die Herder soek die skaap (v.4). Ons is soos verlore skape (Jes. 53:6); weerloos teen die mag van sonde en die duiwel (Ef. 2:1-3). Deur sy menswording, kruisdood, evangelisasie en kerkdissipline soek die Herder ons (19:10, Gen. 3:9, Joh. 11:51-52, 10:3-4, Rom. 10:14-15, Hand. 16:14, Matt. 18:10-35).
Is jy ’n verlore skaap wat nog nie gevind is nie, of ’n skaap wat afgedwaal het (Ps. 119:176)? Jesus sal jou soek tot Hy jou vind en jy veilig in die kraal is (v.4, Joh. 10:16). Reageer op sy roepstem. Hy sal jou met sy staf red. Hy weet jy is bang, en dat sonde en die duiwel jou geestelik uitput. Hy sal jou optel en tot by die kraal dra (v.5, Jes. 40:11). Hy doen dit nie teen sy sin nie, maar is bly as Hy ’n verlore skaap vind (v.5). Hy sal jou styf vashou en nie verloor nie (Joh. 6:39, 10:28-29, 17:12). Hy deel sy blydskap met ander, met die engele en gelowiges in die hemel (v.6-7). Die hemel juig, sing en gee elke dag applous dat nog ’n skaap gevind is; dat nog iemand tot bekering gekom het (v.7). Hulle prys die Lam wat geslag is om mense van hulle sonde te red (Op. 5:9-14). Hulle blyskap is teenoorgestelde van die Fariseërs wat gemurmureer het dat Jesus sondaars red (v.2). Die Fariseërs was selfgeregverdig en het gedink hulle benodig nie redding nie (v.7, 2, 5:32). As hulle eerlik was, sou hulle erken hulle gedagtes en privaatlewe lyk erger as onder ’n kleuter se bed. As hulle hulleself teen God eerder as teen ander gemeet het, sou hulle moes erken hulle harte is so sleg soos ’n prostituut se lewe van skande (Ef. 5:12). Die verskil is ’n prostituut sondig openlik, terwyl die Fariseërs in die geheim gesondig het.
2. Die verlore muntstuk (v.8-10)
Ek het my beursie verloor. Dit is nie ’n reuse verlies nie, omdat daar ’n paar vervangbare kaarte in was. Dit sou anders wees as daar R15 000 in was. Die vrou se muntstuk was nie soveel werd nie, maar het genoeg waarde gehad om haar gesin van ’n paar etes te voorsien. ’n Griekse drachma (v.8) het die waarde van ’n Romeinse denarius gehad: ’n dagloon vir ’n arbeider. Dit was geen klein saak om ’n drachma te verloor nie. Daarom het die vrou oral gesoek. Omdat die huise in Israel geen of klein vensters gehad het, moes die vrou ’n lamp opsteek om beter te sien (v.8). Sy het geweet die muntstuk kan haar nie soek nie. Sy het onder elke bed, kas en stoel gekyk. Sy het almal in die huis gevra of hulle dit gesien het. Sy het haarself gevra waar sy dit laaste gesien het, waar sy oral was, waar sy haar munte laas gehad het. Sy het aangehou soek tot sy die muntstuk gekry het (v.8, Gk. zēteō).
Soos ’n drachma of denarius die keiser se beeld dra, is God se beeld op ons (20:24-25, Gen. 1:26-27). Sonde het sy beeld geskend, maar Christus het aarde toe gekom om God se beeld in ons te herstel (Rom. 8:29, 2Kor. 3:18, Kol. 3:10, 1Joh. 3:2). Sodra Christus ons vind en God se beeld in ons herstel, juig die engele en God wat voor hulle op die troon sit (v.9-10, 7, 24, 32). Jy het ’n verkeerde beeld van God as jy dink Hy is ’n suur ou man op sy hemelse troon wat almal met weerlig wil tref. Dit is so dat Hy kwaad is oor mense se sonde (Ps. 7:12). Maar sy woede is nie ’n bitter sweer vol haat in sy hart nie. Uit liefde vir sondaars en om sy skape te red, het die Herder onder God se toorn gely (Sag. 13:7, Joh. 10:11, 15, Gal. 3:13, Matt. 27:46). God se hart is nie om sondaars te straf nie (Eseg. 18:32), maar om hulle te red (v.7, 10, 1Tim. 2:4). Eers as mense Hom aanhoudend verwerp en daar geen ander uitweg is nie, gee Hy hulle oor aan hulle sonde en straf hulle in die hel (13:34, Rom. 1:28, 2Kron. 26:15-16, Matt. 10:28, 2Tess. 1:8-9). Maar dit is nie sy hart nie. Hy het gekom om sondaars red (12:47b).
Bid vir ’n hart soos syne. Bid dat Hy sy verlore skape vind en soek saam met Hom deur evangelisasie: “Onthou altyd dat Jesus Christus, uit die nageslag van Dawid, opgewek is uit die dood volgens my evangelie, waarvoor ek verdrukking ly—selfs in boeie, soos ’n misdadiger. Maar die woord van God is nie geboei nie! Daarom verduur ek dit alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing in Christus Jesus met ewige heerlikheid kan verkry.” (2Tim. 2:8-10). Wees saam met die hemel bly as Christus verlorenes vind (v.7, 10). Dalk kan jy dit nie doen nie, want jy self is ’n verlore muntstuk of -skaap; jy self is nie gered nie en ken nie die pad terug na die Herder nie. Bid dat die Herder jou kom haal, dan wag jy vir Hom. Wyle Martin Holdt het dit gedoen. Voor sy bekering het hy gedroom hy staan by ’n verlate huis in die veld. Hy was angstig en verward. Hy het rondgekyk en nie geweet watter kant toe nie. ’n Man op ’n perd het tot naby hom gekom en gesê: ‘Wag net hier; Ek kom!’ Twee weke later het Martin tot bekering gekom. En sal die Here dit nie vir jou doen nie? Sodra Jesus jou vind, sal Hy jou op sy skouers tel en jou verseker: “Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!” (Jes. 43:1, Ou Vertaling).
1 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.