Lukas 16:1-18
Toe ons studente was, het ek en my vriend Jannie Vosloo Lukas 16 probeer uitwerk. Ons kon dit nie verstaan nie. Jannie het intussen deur Lukas gepreek en vandag kom ek by die gedeelte. Ek glo ek verstaan nou die groot prentjie en hoop om dit eenvoudig aan jou te verduidelik. Dit gaan hier oor geld; iets waarsonder ons nie kan klaarkom nie. Tog moet ons dit nie soos die wêreld beskou nie. Moenie soos die ongelowige wees wat vir my gesê het: ‘Money talks. Without money you are nothing. You have simply got to have money.’ Dit is ’n verkeerde manier om na geld te kyk. Jesus leer ons om reg oor geld te dink.
1. Die gelykenis (v.1-8a)
’n Sekere man was so ryk, hy het iemand nodig gehad om sy rykdom te bestuur (v.1, vgl. 12:42). Na ’n gegewe tyd was daar voldoende getuienis dat die ryk man se bestuurder sy geld en besittings gemors het (v.1). Miskien het hy dit sonder toestemming uitgeleen, vir homself gevat, of moontlik nie al die skuld ingevorder nie. Die ryk man het sy bestuurder laat roep en ’n geskrewe verslag vereis. Hy wou sien hoeveel die bestuurder gemors het, sodat hy hom kon afdank (v.2). Die bestuurder het besef hy is in die moeilikheid, omdat hy sy werk en inkomste gaan verloor. “Die bestuurder het by homself gedink: Wat moet ek doen, noudat my eienaar my bestuurderskap van my wegneem? Spit kan ek nie, en ek is te skaam om te bedel. Ek weet wat ek gaan doen, sodat die mense my in hulle huise sal ontvang wanneer ek as bestuurder ontslaan is.” (v.3-4).1
Die bestuurder het die ryk man se skuldenaars nadergeroep (v.5). Die eerste skuldenaar het 100 bat of 3200 liter olyfolie geskuld (v.6). Dit is die opbrengs omtrent 150 olyfbome!2 Die bestuurder het die man gevra om sy IOU vir die helfte uit te skryf (v.6). Die tweede skuldenaar het 100 kor of 37 000 liter koring geskuld (ons opslaan swembad is 3 m x 76 cm en het ’n kapasiteit van 4000 liter).3 ’n Honderd kor koring is die opbrengs van 40.5 hektaar koring—40 hektaar is die oppervlak van 40 rugbyvelde of 1600 tennisbane!4 Die bestuurder het die skuldenaar gevra om ’n IOU vir 80 kor of 29 600 liter koring te skryf.
Toe die ryk man hiervan uitvind, kon hy die bestuurder nie vir sy oneerlikheid prys nie. Hy het hom wel vir sy slim plan geprys (v.8a). Die bestuurder het meer as helfte van die skuld ingevorder. Alhoewel hy oneerlik was om afslag te gee—dit was immers nie sy skuld om af te skryf nie—was hy slim om die skuldenaars se guns te wen, sodat hulle hom sou inneem as hy sy werk verloor. Jesus het nie die man se slinksheid goedgekeur nie, maar wou ’n sekere les leer (net soos hy nie diefstal goedkeur, omdat 1Tess. 5:2 sê Hy kom soos ’n dief in die nag nie).
2. Die lesse (v.8b-13)
In sy boek, Rich Dad, Poor Dad sê Robert Kiyosaki dit is onwys om geld te spaar. Dit lê net daar as dooie kapitaal. Jou geld moet vir jou werk. Jy moet dit êrens belê, aandele koop en verkoop, ’n besigheid begin en wins maak. Soos baie ongelowiges—die kinders van hierdie wêreld—weet Kiyosaki hoe om geld tot sy voordeel te laat werk. Ongelowiges gebruik geld beter tot hulle tydelike voordeel as wat gelowiges—die kinders van die lig (Ef. 5:8)—geld tot hulle ewige voordeel gebruik (v.8b). Hoeveel gelowiges ken jy (jouself ingesluit) wat geld strategies vir die bevordering van die evangelie gebruik? Min. Maak ’n plan om dit te doen: “...Maak vir julle vriende deur middel van die oneerlike Mammon, sodat, wanneer dit tot ’n einde kom, hulle julle in die ewige wonings mag ontvang.” (v.9).
Mammon (Gk. mamōnas) kom van ’n Aramese woord en verwys na ’n skat waarop iemand vertrou. Dit verwys basies na rykdom, of geld en besittings. Geld is ’n wêreldse uitvindsel wat mense tot hulle voordeel gebruik (v.9). Daarom noem Jesus dit oneerlike of onregverdige Mammon. As gelowiges moet ons dit tot ons ewige voordeel gebruik (v.9). Nie dat geld jou in die hemel bring nie (Spr. 11:4). Dit sal faal of tot ’n einde kom (v.9). Wanneer jy sterf, verloor jy alles (1Tim. 6:7). Maar jy kan dit vooruit stuur en skatte in die hemel versamel (v.9). Hoe doen jy dit? Help die armes, dra by vir sending, gebruik jou geld vir ander goeie werke (12:33, Fil. 4:14-18, 1Tim. 6:18-19, 3Joh. 7-8). Deur byvoorbeeld geld vir sending te gee, kom die goeie nuus by mense uit, sodat hulle tot bekering kom. So maak jy ewige vriende wat jou eendag in die hemel sal verwelkom en bly sal wees om jou te sien (v.9).
Die wêreld is nie hieroor gepla nie. Hulle gee nie om vir ewige skatte nie, maar leef vir tydelike rykdom. Geld is hulle grootste skat. Baie mense sal sê familie en vriende is hulle grootste skat, maar hulle ingesteldheid teenoor geld wys iets anders. Hulle druk hulle kinders om te presteer, sodat hulle ’n studiebeurs kan kry. Hulle wil hê hulle kinders moet iets studeer waar hulle baie geld maak (of dit nou die kind se aanleg en passie is, of nie). Volgens Jesus is geld ’n klein skat in vergelyking met die skat van die koninkryk (v.10).
Hoe kry ’n mens hierdie skat? “Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan, en wie in die geringste oneerlik is, is ook oneerlik waar dit om baie gaan. As julle dan nie betroubaar was wat die oneerlike Mammon betref nie, wie sal julle met die ware rykdom vertrou? En as julle nie betroubaar was met ’n ander se goed nie, wie sal vir julle gee wat julle toekom?” (v.10-12). Beteken hierdie verse alle ryk mense gaan hemel toe, omdat hulle hulle geld goed bestuur? Glad nie. Die meeste ryk mense bestuur hulle geld swak, want dit is al waaraan hulle dink. Hulle is soos die ryk jong man in 18:24-25, omdat hulle die ewige skat ignoreer. Hulle bestee die geld wat God hulle gee op hulleself eerder as tot sy eer. Daarom gee die Here hulle nie ewige skatte nie, want hulle kan dit nie reg bestuur nie (v.11-12). Soos met aardse rykdom, sal hulle aan hulleself eerder as die Here se eer dink. Ongelowiges se begroting en ingesteldheid teenoor geld wys wat vir hulle belangrik is; hierdie lewe eerder as die volgende: “Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” (Matt. 6:21). Wat wys jou begroting van waar jou skat is: hier of in die hemel?
Party mense sal sê: ‘Ek kan nie bekostig om vir sending te gee, die armes te help, of vir die Here se werk by te dra nie.’ Eet jy vleis? Besit jy ’n slimfoon, TV of kar? Koop jy hondekos? Dan kan jy bekostig om te gee. Wie die Here en sy saak liefhet, wíl bydra. So iemand sal soos die arm Christene van Macedonië wees: “Ons laat julle ook weet, broers, van die genade van God wat aan die gemeentes in Macedonië gegee is: dat hulle, te midde van swaar beproewing as gevolg van verdrukking, hulle oorvloedige vreugde en hulle diep armoede laat oorvloei het in 'n rykdom aan vrygewigheid van hulle kant af. Ek getuig dat hulle na vermoë, ja, selfs bo vermoë, bereidwillig was. Hulle het pleitend by ons aangedring om deel te kan hê aan die genadewerk van hulpverlening aan die heiliges. Dit was nie slegs soos ons gehoop het nie; trouens, hulle het hulleself eers aan die Here gegee, en toe, deur die wil van God, ook aan ons.” (2Kor. 8:1-5).
Ek bedoel nie dat tiendes jou red nie (sien 11:42, 18:12). Maar as iemand se hart oop is, gaan sy beursie oop. Ongelowiges begroot vir hulleself. Hulle beskou dit as ’n reg: ‘Dit is my geld. Ek het daarvoor gewerk en kan daarmee doen wat ek wil.’ Dalk gee die persoon iets vir die armes, maar hy doen dit nie vir hulle nie. Hy doen dit vir homself. Hy wil goed voel en ander mense beïndruk (Matt. 6:2-4).
Gelowiges is anders. Hulle weet hulle geld behoort aan die Here; hulle bestuur dit net (v.1, 12, Deut. 8:18, 1Sam. 2:7, 1Kron. 29:12, Ps. 24:1, Hag. 2:8). Die toegewyde gelowige se begroting illustreer sy oortuiging. Hy gebruik sy geld volgens God se wil eerder as volgens sy eie voorkeur: hy sorg vir sy gesin, gee iets vir die Here se werk, dra by vir sending, gebruik sy geld vir goeie werke, deel met dié wat niks het nie, betaal belasting en delg sy skuld (1Tim. 5:8, 2Kor. 9:7, 11, 3Joh. 8, 1Tim. 6:17-18, Ef. 4:28, Gal. 6:10, Rom. 13:6-8).
Elke getroue gelowige weet die Here gee aardse skatte as ’n slaaf om vir ons hemelse skatte weg te lê. Die wêreld laat toe dat die slaaf meester word en hulle van die ware Meester af weghou (v.13). Hulle is so besig om geld te maak of dit te geniet, dat hulle nie tyd het vir die Woord, gebed en die kerk nie. Is jy so? Is geld jou god en jy sy slaaf? Vul geld jou dagdrome, beplanning en gesprekke? Beheer dit jou emosies? Raak jy angstig en depressief as jy dit nie het nie, of bly as jy dit het? Baklei jy oor geld en besittings? Indien wel, het jy ’n probleem. Jy gaan moet kies wie jy wil dien: God of geld. Jy kan nie albei dien nie, en die Here gaan nie vir tweede plek setel nie (v.13).
3. Die reaksie (v.14-18)
Neus in die lug het die Fariseërs spottenderwys teen Jesus geblaas (Gk. ekmuktērizō). Hulle het gedink Jesus weet nie waarvan Hy praat nie. Soos die Word of Faith beweging het die Fariseërs geglo rykdom bewys dat die Here jou seën. Dit is onwaar. God is nie beïndruk moet hoeveel geld jy het nie. Hy gee nie om dat Elon Musk byna $200 biljoen sterk is nie. Hy gee nie om dat Bill Gates honger kinders in Afrika help nie. Soos die Fariseërs doen hy dit om af te wys, terwyl sy hart vol gierigheid is (v.15, 20:47-21:2, Matt. 6:1). Sulke mense dra net by as ander kyk. As niemand kyk nie, hou hulle alles vir hulleself en gee niks vir die Here nie. As ’n bordjie of sakkie verbykom, gee hulle iets. As hulle egter anoniem in ’n kerk se rekening moes inbetaal, hou hulle terug. Niemand sien dit is hulle nie en daarom gee hulle niks.
Sulke mense meet hulle waarde aan hoeveel hulle het. Hulle dink God doen dieselfde, maar hy doen nie (sien 12:15). Wat die Here wil weet, is nie hoeveel geld jy het nie, maar of jou hart reg is (v.15, 1Sam. 16:7). Glo jy die wet, die profete en Johannes die Doper se getuienis oor Christus (v.16)? Glo jy die goeie nuus van die koninkryk (v.16)? Streef jy met ’n heilige geweld om die koninkryk in te gaan, sodat jy alles sal prysgee om dit te verkry (v.16b, 13:24, 14:33, 18:22, Matt. 13:44-46). Het jy Christus al as jou persoonlike Verlosser ontvang (Joh. 1:12)? Het jy God se Woord lief en gehoorsaam jy alles (v.17, 2Tim. 3:16)?
Die Fariseërs het nie. Waar ’n lering te moeilik was, het hulle dit verdraai om by hulle te pas. Hulle sou byvoorbeeld vir enige rede skei en weer trou (v.18). Daardeur het hulle God se wet geïgnoreer (v.17, Gen. 2:24, Matt. 19:3-8). Jesus sê: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk, en hy wat met ’n vrou trou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk.” (v.18). Die Bybel gee enkele uitsonderings op die reël (Matt. 19:9, 1Kor. 7:15), maar oor die algemeen is egskeiding en hertrou sonde. Die wêreld ignoreer dit. Soos Fariseërs het hulle lae siening van die huwelik, skei en hertrou. God haat egskeiding; dit is ’n gruwel in sy oë (v.15, 18, Mal. 2:16). Eendag sal elke mens vir sy of haar optrede in die huwelik rekenskap gee, asook vir hoe jy jou geld spandeer en jou lewe geleef het (Matt. 25:19, 1Pet. 4:5).
Het jy in jou huwelik gefaal? Het jy jou geld verkeerd gebruik? Het jy so vir die hede geleef dat jy God en sy koninkryk vergeet het? Soos die Here geldgierige Saggeus vergewe het, kan Hy jou vergewe (19:1-10). Hy het dit onlangs vir mnr. X gedoen. Mnr. X was baie welaf. Hy het sy skatte op die aarde versamel. Toe terminale kanker hom beetpak, het hy my kom sien. Na ek die evangelie met hom gedeel het, het hy tot bekering gekom. Gedurende die laaste jaar van sy lewe, het hy drasties verander. Hy het evangelieboekies aangekoop om vir mense te gee. Hy wou hê almal moet Jesus ken. Teen die einde van sy lewe het hy gesê: ‘Ek besef al hoe meer geld beteken niks. Ek sal dit nie saamvat as ek sterf nie.’ Sy lewe het werklik verander. Drie en ’n half weke gelede is hy hemel toe. Hy het die tydelike agterlaat om sy ewige skat in besit geneem.
Die Here kan dit vir jou ook doen. Erken net jy het gesondig en dat die wêreld se rykdom jou nie versadig nie. Dit vul nie die leemte nie. Bid vir die ewige rykdom wat Christus bied. Sodra jy dit ontvang, sal jy weet die rykdom van die wêreld is ’n teelepel stof in vergelyking met die goudmyn wat Christus gee.
1 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
2 Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Luke (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1974, 1988), 264-5
3 Sien ESV voetnotas vir bogenoemde mates.
4 Morris, 265