Coram Deo Cover Image

Coming soon...

19 May 2013

Christene se invloed in die wêreld

salt and light

13 Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word?  Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.  14 Julle is die lig van die wêreld.  ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15 en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. 16 Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matteus 5:13-16).

 

Wie is ons? (v.13-15)

As jy rou vleis in jou garage ophang, sal dit na 'n paar dae vrot word.  Maar as jy genoeg growwe sout invryf, sal dit smaaklike biltong wees.  Die sout dien as 'n perserveermiddel.  Dieselfde kan gesê word van bokkems (vis ‘biltong’).  En dit is presies wat Jesus van ons sê:  [a] Julle is die sout van die aarde (v.13).  Mense in Jesus se tyd het nie vrieskaste gehad om vleis in te hou nie.  Hulle het sout gebruik om hulle goedere te perseveer.  Sout is ook as medisyne gebruik (ek kry gereeld koorsblare en weet dat sout goeie medisyne is).  Die wêreld is 'n verrotte plek, maar dit sou veel erger gewees het sonder Christene.  Dink maar aan iemand wat wil skinder of 'n vuil grap wil vertel, en dadelik stilbly wanneer jy daar aankom.

 

Christene het 'n groot invloed in die wêreld (onderstaande inligting verkry uit Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World, Zondervan, GRAND RAPIDS, 2001, 2004):

 

  • Dit was deur die Christelike invloed van Basil (369 n.C.) wat hospitale tot stand gekom het.
  • Die Hindu’s het weduwees saam met hulle mans verbrand.  Maar deur die Christelike invloed van William Bentinck (1829) is dit gestaak.
  • Weeshuise en oue tehuise het ontstaan as gevolg van Christenskap.
  • Publieke skole ook (deur Martin Luther).
  • Friedrich Froebel wou sien dat kinders van kleins af die evangelie moes leer, en het kindergartens (kleuterskole) begin.
  • Epee se begeerte was dat dowe mense die evangelie moes ‘hoor’, en het vingertaal vir dowes ontwikkel (1775).  So het Louis Braille vir blindes gedoen deur braille-skrif (1834).
  • Die Grieke het baie dinge in die natuur as gode beskou, en wou dit nie navors nie.  Christene het geweet dat daar net een God is en dat die res geskep is.  Deur húlle invloed het wetenskaplike navorsing gevorder.
  • Slawerny en slawehandel is deur William Wilberforce (en sy Christelike wêreldbeskouing) stopgesit.
  • Guido van Arezzo (995 n.C.) wou graag musiek op papier kon neerskryf, sodat die geslagte wat kom God kon aanbid.  Hy het bladmusiek ontwikkel.
  • Christene het onthou dat God wil hê ons moet die tyd uitkoop.  Op 'n bewolkte dag kon hulle sonhorlosies nie die tyd aandui nie.  Gevolglik het hulle meganiese horlosies ontwerp (ja, dis te danke aan Christenskap dat ons duur Swiss horlosies het!).
  • Vandag geniet die wêreld publieke feesdae soos Kersfees en Paasfees as gevolg van Christenskap.  Agt dae ná sy geboorte is Jesus besny.  Daarom vier ons 1 Januarie as óns nuwe jaar.
  • Ons hele kalender wentel rondom Jesus se geboorte (v.C. en n.C. – selfs al was daar 'n berekeningsfout met Jesus se geboortejaar, is die fokus steeds op Christus as die middelpunt van die geskiedenis).

 

'n Bietjie sout maak 'n groot verskil vir perservering en smaak.  En daarom moet ons nie toelaat dat die sout laf en nutteloos word nie (v.13).  John MacArthur skryf:  “Pure salt cannot lose its flavor or effectiveness, but the salt that is common in the Dead Sea area is contaminated with gypsum and other minerals and may have a flat taste or be ineffective as a preservative.  Such mineral salts were useful for little more than keeping footpaths free of vegetation.” (MacArthur Study Bible, kommentaar op Matteus 5:13).  So is 'n Christen sonder invloed:  nutteloos (v.13).  En dit is nie te moeilik om jou invloed te verloor nie:  wees onheilig, kla soos die res, lewer slegte werk, staak, steel tyd by die werk deur vroeg huistoe te gaan, en moenie getuig van Jesus en sy evangelie nie.  “The purpose of salt is to fight deterioration, and therefore it must not itself deteriorate.” (D.A. Carson, Sermon on the Mount, Paternoster, CARLISLE, 1978, 1998, 2002, p.34).

 

Dit is nie net sendelinge of predikante wat 'n verskil kan maak in die wêreld nie.  God gebruik oor en oor die Christen in die bank om 'n verskil te maak.  Fanny Crosby het tien duisend gesange geskryf.  Susannah Wesley was 'n godvresende ma wat vir John en Charles Wesley grootgemaak het.  Charles het duisende gesange geskryf en onder John se prediking het skares tot bekering gekom.  William Wilberforce was 'n Christen in die parlement (ek het reeds na hom verwys).  C.S. Lewis was 'n dosent in Engels.  Sy invloed strek wyd (al het hy party vreemde idees gehad).  Ek ken 'n kerk in Gauteng wat 'n groot impak maak in die wêreld – nóg 'n voorbeeld van ‘gewone’ Christene wat 'n verskil maak.

 

[b] Julle is die lig van die wêreld (v.14-15).  Openbaring 1:20 beskryf die kerk as sewe goue kandelare.  En wat anders doen kandelare as om lig te gee?  Natuurlik is ons maar net die maan wat die son reflekteer.  Ons is nie die bron van hierdie lig nie.  Jesus is.  Hý is die Lig van die wêreld (Johannes 8:12) en ons die spieël wat sy lig weerkaats (v.14).  Paulus sê:  “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here – wandel soos kinders van die lig.” (Efesiërs 5:8, eie beklemtoning).  Die wêreld is duisternis as gevolg van sonde.  Ongelowiges hou nie daarvan om in die lig te lewe nie, omdat dit hulle sonde uitwys (Johannes 3:20, 2 Korintiërs 6:14).  En daarom sal hulle jou ook haat en vervolg soos wat Jesus in die konteks van v.10-12 sê:  “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.  Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.  Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.”

 

'n Man het saam met Billy Graham, Jack Niklaus en die President van die V.S.A. gholf gespeel.  Ná die rondte was hy woedend.  “Ek het nie nodig gehad dat Billy Graham vir 18 putjies godsdiens in my keel hoef af te gedruk het nie!” het hy vir sy vriend gesê.  “Sjoe, Billy was 'n bietjie hard op jou, né?” het sy vriend gereageer.  “Nee, eintlik het Billy niks gesê nie,” het hy in skaamte erken, “ek het net 'n slegte dag gehad.”  Jy sien, net die feit dat hy geweet het Billy Graham is 'n prediker, het hom skaam laat voel oor sy sondige lewe.

 

Christene is 'n stad op 'n berg (v.14).  In die era van elektrisiteit verstaan ons dit nie heeltemal nie.  In Gauteng kan ons nie die sterre ordentlik sien nie – die stad se lig verhinder dit.  My broer bly in Secunda.  SASOL se ligte weerkaats teen die wolke en maak dat dit 'n oranje skynsel afgee.  Sy haan kraai in die middel van die nag omdat hy dink dat die son opkom.  In ons dag kan jy tot 200 kilometer van 'n stad af wees, en die lig van daardie stad kan nogsteeds jou visie verhinder (of help – afhangend van wat jy wil doen).  Dit is nie so donker soos wat dit sóú wees sonder die gereflekteerde lig van die stad nie.  In Jesus se tyd was 'n stad van myle af sigbaar (en het dit die reisiger gehelp) in die duisternis van die woestyn.

 

Wat is die les?  Geen heilige persoon kan onopgemerk bly en soos 'n lamp onder 'n maatemmer wees nie.  Die Christen is soos 'n stad op 'n berg of soos 'n olielamp op 'n staander in die huis.  Onthou dat die huise nie groot glas vensters gehad het wat lig deurgelaat het nie.  Daar was klein openinge in die muur, en gevolglik was 'n huis selfs in die dag redelik donker binne.  Wanneer 'n mens dan 'n olielamp opgesteek het, sou dit die ganse een-vertrek huis verlig het (v.14-15).  Soos hierdie lig kan ons goeie werke eenvoudig nie weggesteek word nie:  “Net so is ook die goeie werke baie duidelik, en ook die wat anders is, kan nie weggesteek word nie.” (1 Timoteus 5:25).  Jy hoef nie uit jou pad uit te gaan voordat mense jou opmerk nie.  Wees net ‘n lojale Christen, en mense sal nie anders kan as om jou op te merk nie.  Jy hoef byvoorbeeld nie ‘n Christelike koffiewinkel of werkswinkel oop te maak nie.  Wees net ‘n goeie Christen by jou werk, en mense sal dit agterkom.  Ek het vir ‘n prediker by ‘n konferensie gevra:  “Hoe kan ek in my woonbuurt ‘n Christelike wêreldbeskouing uitleef, sodat mense dit opmerk?  Wat moet ek doen?”  Sy antwoord het my getref:  “Jy hoef niks spesiaal te doen nie.  Wees net ‘n Christen en mense sal dit raaksien.”  Wees heilig waar jy leef en beweeg.  Wanneer mense dit sien sal hulle die Vader wat in die hemel is verheerlik (v.16).

 

Wat moet ons doen? (v.16)

Gideon het God in die nag gehoorsaam, omdat hy bang was vir die gevolge (Rigters 6:27).  Nikodemus ook (Johannes 3).  Ons moenie bang wees om in die openbaar gehoorsaam te wees nie.  Ons moet ons lig voor die mense skyn (v.16).  Ons doen dit deur die evangelie te deel by die werk, ‘n openlike stand in te neem teen aborsie en ‘ja’ te sê vir lewe.  Jy doen dit deur ‘n etiese stand in te neem by die werk:  moenie oneerlike besigheid doen of vir kliënte lieg nie.  Skyn jou lig voor mense deur nie skaam te wees om vir die kos te dank in ‘n restaurant nie (moet net nie skynheilig wees nie).  Skyn jou lig voor die mense deur ‘n godvresende huwelik- en gesinslewe, deur te werk wanneer ander staak, en deur jouself te verskoon wanneer ander dronk word by die werksbraai.

 

Jou goeie werke is werke van die lig:  reinheid, tevredenheid, eensgesindheid, nugterheid, selfbeheersing, en waarheid.  Die Skrif sê:  “Die nag het ver gevorder en dit is amper dag.  Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.  Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie.  Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.” (Romeine 13:12-14).  “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig.  Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.” (Efesiërs 5:8-9).  “Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.  Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.  Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk.  Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.” (1 Tessalonisense 5:5-8).

 

As gelowiges moet ons altyd afstand doen van sonde, omdat dít die lig probeer uitdoof.  Johannes sê:  “As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde... As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:6-7, 9).

 

Hoekom moet ons goed doen?  Ons moenie goed doen om die guns van mense te probeer kry nie, maar eerder sodat hulle God sal eer en erken as die ware lig (v.16, 6:1-18, 1 Johannes 1:5).  Die vrug wat ons dra moet die Vader verheerlik (sien Johannes 15:8, Filippense 1:11, 2:10-11).  Toe die Indiane tot bekering kom, het hulle God verheerlik oor die boodskap en goeie werke van David Brainerd.  Petrus sê:  “en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.” (1 Petrus 2:12).

 

Net Christene kan ware goeie werke doen.  Die ongelowige doen goed om raakgesien te word, sy gewete te sus of selfregverdig te wees.  Net die gelowige kan dit doen omdat hy God wil verheerlik.  Ons roem dan nie in onsself wanneer ons goed doen nie, maar ons verheerlik God (v.16).  Ons goeie werke kom immers van Hóm af (Galasiërs 5:22-23, Efesiërs 2:10).  Jesus het gesê:  “So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan:  Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Lukas 17:10).

Kategorieë