Coram Deo Cover Image

Coming soon...

26 July 2012

Wat is weergeboorte en hoe gebeur dit?

[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]

“...Hy [het] ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (Titus 3:5).

'n Bekende Britse prediker se broer het vir hom vertel hoe die Heilige Gees in die laaste dae weggeneem sal word, en hoe baie Jode daarna tot bekering sal kom.  Die prediker se vraag aan sy broer was:  “Sal hulle sónder die Heilige Gees tot bekering kom?”  Sy broer het dadelik die dwaasheid van sy eie stelling ingesien en besef dat mense nie sonder die Heilige Gees tot bekering kan kom nie.  Ons het reeds in die vorige preek gesien hoekom dit so nodig is dat ons gered moet word:  ons is verlore sondaars (sien v.3).  Ons het ook gesien wíé dit is wat ons gered het:  die Vader, die Seun, en die Heilige Gees (sien v.4-7).  Verder het ons gesien wat die basis vir ons redding is – God se goedheid en genade en nie ons eie werke nie (sien v.4-5, 7).  Vandag beantwoord ons dan die vraag:  [iv] Hoe red God ons?  Paulus leer vir ons dat die Vader sy Gees uitstort deur Christus (v.6), dat de Heilige Gees ons wederbaar en vernuwe (v.5), en dat God ons regverdig deur geloof in Jesus (v.7).

Wat presies is hierdie wedergeboorte?  Wedergeboorte is 'n geestelike geboorte wat deur die Heilige Gees in mense se harte bewerk word.  Net soos wat 'n mens nie self kies om fisies gebore te word nie, net so kies niemand uit sy eie wil om weergebore te word nie.  In v.5 sê Paulus duidelik dat weergeboorte deur die Heilige Gees plaasvind.  Verskeie ander verse in die Nuwe Testament leer hierdie waarheid vir ons.

“Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.” (Johannes 1:12-13).  Ons het wel die Here as ons God aangeneem, maar dit is omdat Hy ons eerste sy kinders gemaak het.  Ons is nie gered uit ons eie of iemand anders se wil nie, maar uit God.

“Jesus antwoord:  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie...Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Johannes 3:5, 8).  Die Gees werk waar en wanneer Hy wil wanneer dit kom by weergeboorte.  Hy werk volgens sy eie wil en nie volgens enigiets of iemand wat vir Hom sê wat Hy moet doen nie.  Jou weergeboorte is totaal en al sý besluit gewees.

“Volgens sy wil het Hy ons voortgebring...” (Jakobus 1:18).  Jakobus leer duidelik dat jy nie weergebore is volgens jou eie wil nie, maar volgens God se wil.

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het...” (1 Petrus 1:3).  Jy kan nie weergebore word as God nie besluit om dit aan jou te skenk nie.

Die Heilige Gees reinig die vuil sondaar innerlik deur die bad van weergeboorte.  Die lelike prentjie van 'n vuil sondaar in v.3 verander nou in 'n skoon beeld van 'n gewaste sondaar in v.5.  Hoe laat die Heilige Gees hierdie weergeboorte in 'n mens se lewe plaasvind?  Hy doen dit deur die Woord.  Hy doen dit deurdat Hy 'n blinde sondaar se oë verlig om die waarheid van die Skrif te verstaan.  Wanneer hy die waarheid sien en verstaan plaas hy sy volkome vertroue in Christus vir verlossing.  Let op hoedat die onderstaande verse dit beskryf.

“Maar hulle sinne is verhard.  Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word.  Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem.  Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.  En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is...Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.  Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil.  Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn – dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.” (2 Korintiërs 3:14-18, 4:3-6).  Ons is blind as gevolg van ons eie sonde en as gevolg van die duiwel wat ons oë verblind.  Die Heilige Gees verlig ons oë sodat ons die evangelie kan verstaan, glo, en gered word.

“om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord” (Efesiërs 5:26).  Christus heilig en reinig ons met die waterbad deur die woord.  Volgens Titus 3:5 reinig die Heilige Gees ons deur die waterbad van wedergeboorte.  Sien dan die duidelike parallel tussen hierdie twee verse.  Ons gevolgtrekking is dan dat die Heilige Gees wedergeboorte en reiniging in ons harte bewerk deur die Woord.

“Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid...” (Jakobus 1:18).  Ons het reeds vroeër uit hierdie vers gesien dat dit God is wat wedergeboorte skenk, maar hier sien ons hóé Hy dit doen, naamlik deur die Woord van waarheid.

“want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.  Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras.  Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid.  En dit is die woord wat aan julle verkondig is.” (1 Petrus 1:23-25).  Die verse spreek vir hulleself.

Wanneer die Heilige Gees weergeboorte in iemand se lewe bewerk, verander Hy ook daardie persoon se hart.  Hy vernuwe en reinig die persoon soos wat v.5 sê.  Hierdie persoon word 'n nuwe persoon met nuwe begeertes, gedagtes, en dade.  Hy is nie meer die goddelose persoon waarvan ons in v.3 lees nie.  Hierdie hele beeld van verandering deur weergeboorte kom uit die Ou Testament.  In Esegiël 36:25-27 sê die Here:  “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.  En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.  En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.”  In die konteks praat Esegiël van Israel wat weggevoer is in ballingskap omdat hulle afgode gedien het.  Nou sal die Here hulle terugbring uit slawerny uit en hulle harte verander.  Hulle sal innerlik gereinig word en 'n nuwe hart ontvang.  Hulle sal nie bloot 'n eksterne wet hê wat hulle moet onderhou nie, maar hulle harte sal verander word sodat hulle instaat kan wees om die wet te gehoorsaam.  God sal hulle koue en gevoellose hart van klip verwyder en aan hulle 'n sensitiewe hart van vlees gee.  Hulle gees sal nie meer teen die Here rebelleer nie, maar sal aan sy Heilige Gees onderdanig en gehorsaam wees.  Hulle sal wil luister en doen wat God sê.

Die beeld van reiniging en sprinkeling met skoon water kom uit die Pentateug (eerste vyf boeke van die Ou Testament).  Ook die beeld van 'n waterbad wat Paulus in Titus 3:5 gebruik kom hieruit.  Wanneer melaatses genees is moes hulle met skoon water gesprinkel word voordat hulle seremonieel rein kon wees.  Moses skryf:  “Die priester moet ook bevel gee dat hulle die een voël in ‘n erdepot oor vars water slag.  Die lewendige voël moet hy neem, sowel as die sederhout en die skarlakendraad en die hisop, en dié en die lewendige voël insteek in die bloed van die voël wat oor die vars water geslag is.  En hy moet op hom wat van die melaatsheid gereinig moet word, sewe maal sprinkel en hom reinig, en die lewendige voël moet hy oor die oop veld laat wegvlieg.” (Levitikus 14:5-7).  Ook toe die Leviete hulself vir diens gereinig het moes hulle gebad het en hulself met skoon water gesprinkel het (sien Numeri 8:7).  Dieselfde het gegeld vir iemand wat aan 'n lyk of 'n graf geraak het (sien Numeri 19:18-19).  Hierdie seremoniële sprinkeling en wassing is maar 'n skadu van die innerlike reiniging wat die Heilige Gees deur wedergeboorte in ons harte bewerk.  Dít is die agtergrond van Esegiël 36:25-27 en Titus 3:5.

Hoe moet ons oor al die voorgenoemde waarhede dink met betrekking tot ons daaglikse lewens?  Wat wil God hê moet jy doen as jy nie die teenwoordigheid en werking van die Heilige Gees in jou lewe sien nie?  Dit mag wees dat jy deur een of ander sonde die Heilige Gees bedroef het (sien Efesiërs 4:30).  Of dit mag wees dat jy wel geestelik groei sonder dat jy op hierdie oomblik daarvan bewus is.  In John Bunyan se bekende Pilgrim’s Progress gebeur dit op een stadium dat Christen voor 'n kaggelvuur staan.  Daar is iemand wat water op die vuur gooi, maar ten spyte daarvan brand die vuur steeds hoër.  Wanneer Christen agter die muur kyk sien hy hoe iemand anders olie op die vuur gooi.  Die les is dat 'n Christen dikwels tydens versoeking en beproewing meer groei as wat hy besef.  Die duiwel gooi wel water op die vuur van sy hart, maar Christus gooi olie op die vuur.  Ons sien dikwels net die duiwel wat ons versoek en moet soms diep kyk (agter die ‘muur’) om te sien hoe Jesus besig is om groei in ons harte te bewerk.  In Markus 4:26-29 vertel Jesus 'n gelykenis wat handel oor hoe mense by God se koninkryk bygevoeg word.  Ons sien nie eers altyd die effek van ons prediking nie, en tog red God mense sonder dat ons dit agterkom.  Markus skryf:  “En Hy het gesê:  So is die koninkryk van God, soos wanneer ‘n mens die saad in die grond gooi; en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot – hoe, weet hy self nie.  Want vanself bring die aarde vrug voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die volle koring in die aar.  En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is.”  Hierdie selfde prinsiep kan toegepas word op ons geestelike groei.  Ons besef partykeer nie eers dat daar groei plaasvind nie.  Ons opdrag is eenvoudig om getrou te bly en in Christus en sy Woord te bly.  God sal self die groei laat plaasvind – al voel jy ook niks.

Maar die moontlikheid bestaan ook dat jy nog nie weergebore is nie.  Jesus sê jy móét weergebore word om die Koninkryk in te gaan (Johannes 3:3, 5).  Jy moet pleit vir die Gees se verligtende werk in jou hart.  Jy moet smeek om die evangelie te verstaan.  Bestudeer boeke soos Johannes en Romeine en vra dat die Heilige Gees jou oë sal oopmaak om te verstaan.  As gevolg van die feit en waarheid van weergeboorte is daar hoop vir die ergste van sondaars.  Daar is hoop vir prostitute, immorele persone, afgodsdienaars, ontrou huweliksmaats, homoseksuele geliefdes, geldgieriges, drank en dwelmslawe, vloekers en Godslasteraars, rowers en diewe deur weergeboorte.  Die Skrif sê:  “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?  Moenie dwaal nie!  Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.  En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” (1 Korintiërs 6:9-11).  “En dit was sommige van julle...”!  Ons is dit nie meer nie.  Ons is nuutgemaak.  Ons is gewas.  Ons is geheilig.  Ons is geregverdig.  In sy tweede brief aan die Korintiërs sê Paulus:  “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”  (2 Korintiërs 5:17).

Ek ken iemand wat aan heroïne verslaaf was en ook 'n prostituut was.  Sy vertel hoe sy vir 'n jaar in die tronk was en die dae op haar kalender afgemerk het vir wanneer sy haar volgende ‘fix’ sou kry.  Sy het R1000 per dag op dwelms spandeer.  Die sielkundiges het vir haar gesê:  “Jy sal 'n heroïne verslaafde doodgaan.”  Hulle was verkeerd.  Toe die Here haar gered het, het alles verander.  Die Seun het haar verlos.  Die waarheid het haar vrygemaak.  Die Heilige Gees het haar gereinig en vernuwe.  Daar is 'n soortgelyke getuienis in die film Ordinary People.  'n Rower beland by 'n byeenkoms van Angus Buchan (ongeag van sy teologiese foute en die verskille wat baie van my hoorders en lesers met hom sou hê).  Die rower het iemand geword wat die evangelie met ander in die township begin deel het.  'n Dronkaard se lewe het verander toe hy die evangelie van verlossing gehoor en geglo het.

Wat is jou taak dan?  Hoe moet jy reageer op hierdie Bybelse waarheid van wedergeboorte?  Jy moet ernstig bid vir die redding van sondaars.  Jy moet die Here smeek en letterlik in 'n geestelike barensnood wees vir die verlossing van verlore mense.  En omdat mense deur die Skrif weergebore word, moet jy nie nalaat om die lewende en kragtige Woord van God met hulle te deel nie.  Daarsonder kan hulle nie weergebore word en in mense verander wat goeie werke liefhet nie.

[/column]

Kategorieë