Coram Deo Cover Image

Coming soon...

4 May 2019

Christene en die regering

Image result for south african elections

Romeine 13:1-7

Woensdag 8 Mei 2019 is dit ons land se nasionale verkiesing. Wie sal die volgende regerende party en die president van Suid-Afrika wees? Soos die res van die mense in ons land, wag Christene in spanning om te sien wat gaan gebeur. Sommige voorspel dat die ANC tot 61% steun sal kry, terwyl die DA maar 19% van die stemme sal wen, en die EFF 11%. Maar op die einde weet net Here, omdat dit Hý is wat konings aanstel en hulle weer afsit (Dan. 2:21). Paulus leer dieselfde in Rom. 13:1-7 en sê ook wat ons verantwoordelikheid is teenoor die owerhede wat die Here oor ons aangestel het.

 

  1. Die regering se gesag (v.1-3)

Ek ken ‘n leraar wie se gemeente hom afgedank het toe hy vir die huidige regering bid. Maar volgens 1Tim. 2:1-2 was hy reg: ons móét vir die regering bid. Volgens v.1 en Tit. 3:1 moet ons ook aan hulle onderdanig wees.

‘Ja, maar Paulus se woorde geld nie as jy ‘n slegte en korrupte regering het soos ons s’n nie,’ sê iemand. Is dit waar? Wie was die keiser toe Paulus Rom. 13 geskryf het, of toe hy in 1Tim. 2 gesê het ons moet vir die regering bid? En wie was op die troon toe Petrus die gelowiges beveel het om die keiser te eer (1Pet. 2:13-17)? Dit was die immorele, bloeddorstige, brutale, moordlustige en wrede keiser Nero. En tog sê Paulus dat ons ons aan die keiser en elke ander menslike owerheid moet onderwerp (v.1).

Dit beteken dat jy jou aan die huidige regering van Suid-Afrika moet onderwerp. Dit beteken ook dat jy jou aan die befaamde Julius Malema sal moet onderwerp as hy dalk in die toekoms Suid-Afrika se president word. As Paulus gelowiges beveel het om hulle aan keiser Nero te onderwerp, moet jy jou aan ons land se president onderwerp, wie hy ook al mag wees (v.1).

Daarmee bedoel ek nie dat jy die president vir sy persoonlikheid moet respekteer, of dat jy respek moet hê vir die verkeerde wette wat hy instel nie. Wees eerder soos ‘n vrou wat haar ongehoorsame man respekteer vir die posisie wat God hom gegee het; of soos gelowige kinders wat hulle ongelowige ouers respekteer, omdat hulle daardeur die Here wil eer (Ef. 6:1, Kol. 3:20, 1Pet. 3:1-6).

Onderwerp jou aan die owerhede, omdat jy die Here respekteer wat hulle oor jou aangestel het (v.1). As jy weier om jou aan die regering te onderwerp, weerstand bied en die land se wette breek, erken jy nie God se gesag nie (v.2). Hy is immers die soewereine Koning wat konings, presidente, ministers, die polisie, weermaghoofde, burgemeesters en ander leiers aanstel (v.1-2, Ps. 2:1-12, 103:19, Spr. 8:15-16, Dan. 2:21, 4:17, 25, 32, 35, Joh. 19:11, Op. 19:16).

Om dan bedrog te pleeg, te steel, oor ‘n rooi lig te ry, die spoedgrens te oorskry, ‘n onwettige immigrant in diens te neem, op jou belastingvorms te kul, te bestuur sonder dat jy lisense het, is nie net ‘n oortreding van die wet nie, maar sonde teen God (v.2). Omdat die Here alles sien, sal Hy sorg dat die lang arm van die gereg jou bykom, al dink jy ook jy kan wegkom (v.2, Spr. 15:3).

Maar beteken onderdanigheid aan die regering jy moet alles doen wat hulle sê? Nee. Iets is nie outomaties reg, net omdat die regering dit wettig nie. Daarom ondersteun ons nie gay huwelike, saambly, aborsie, prostitusie, dagga, apartheid, BEE, en grondgrype, net omdat die regering dink dis reg nie. Om te sien wat reg en verkeerd is, volg ons die Bybel en nie die grondwet van Suid-Afrika nie. Waar die grondwet met die Bybel ooreenstem, gehoorsaam ons dit. Waar dit egter met die Bybel bots, weerstaan ons dit en mág ons dit nie gehoorsaam nie.

Die regering is nie hulle eie gesag nie. Hulle staan nie bo die wet nie, maar is onder die wet en die gesag van God (v.1-2). Waar regeringsamptenare dus die wet oortree, moet hulle gestraf word. Dit is ook reg om die regering te weerstaan as hulle van jou vereis om die Woord van God te oortree.

Wat beteken dit prakties? ‘n Christen dokter moet weier om aborsies te doen, al beteken dit dat hy sy werk verloor (Eks. 1:15-17). ‘n Huweliksbevestiger wat die Here ken, moet weier om gays te trou, al word hy daarvoor beboet en verloor hy sy huwelikslisensie. Christen gemeentes en eienaars van trou ‘venues’ of gastehuise, moet weier om hulle plekke beskikbaar te stel vir gay verlowingspartytjies en troues, al kom hulle in die moeilikheid. Christen ouers moet hulle stoute kinders pak gee, al is dit ‘n oortreding van die land se wet. Christene in vervolgde lande moet die Here aanbid en die evangelie met ander deel, al word hulle verbied om dit te doen (Dan. 3, 6, Hand. 4:19-20, 5:29).

Daar is egter ‘n Christelike manier om die regering op hierdie punte teen te staan. In die eerste plek moet ons nie gedurig teen die regering kla nie, maar vir hulle bid. John MacArthur sê: ‘When our leaders do something we don’t like, our first response should be to pray, not protest.’ [John MacArthur, Right Thinking in a World Gone Wrong (Eugene, Oregon: Harvest House Publishers, 2009), 127]. Wat sal met ons land gebeur as elke Christen dit doen?

Hoe moet ons vir die regering bid? Bid dat hulle besluite sal neem wat die land sal bevoordeel en dank die Here dat ons ‘n regering het wat nog tot ‘n sekere mate wet en orde handhaaf (1Tim. 2:1-2). Bid ook dat die Here die regering sal red (1Tim. 2:3-4). Hy het dit in die verlede gedoen en kan dit weer doen (2Kron. 33, Dan. 4). As die Here wil, kan Hy selfs ongelowige konings beïnvloed om gunstig te wees oor sy kinders (Esra 1:1, 6:22, 7:27, Spr. 21:1, Jes. 45).

Verder moet ons nie arrogant wees en aggressief raak as ons onsself teen die land se sondige wette uitspreek nie. Wees eerder sagmoedig en vol respek (1Pet. 3:15). Sê vir die owerhede dat jy ‘n Christen is en dat jy ongelukkig nie wette kan volg wat met die Bybel bots nie.

Mag ons ooit wapens teen die regering opneem? John Knox het geglo ons mag. Maar wat sê die Bybel? Christene moenie deel wees van partye en groepe wat sluipmoordenaars huur om slegte leiers ‘uit te haal’ nie (1Sam. 24, 26, 2Sam. 1:14-16). Jy mag egter teen ‘n slegte leier stem, hom by die hof aankla, ander lande se hulp vra, of deel wees van ‘n weermag wat ‘n diktator soos Idi Amin of Saddam Hussein omverwerp. Weerstand moet egter die uitsondering wees en nie die reël nie. As ‘n reël moet Christene nie in wêreldse politiek betrokke raak nie, maar hulle aan die Koninkryk van God wy (Matt. 6:33, Joh. 18:36).

Jou enigste plig teenoor die regering is om hulle te gehoorsaam, vir hulle te bid, en so te lewe dat die land deur jou goeie optrede bevoordeel word (Esra 6:10, Jer. 29:7, 1Tim. 2:1-2). As jy dít doen, sal jy God en die regering se goedkeuring wegdra en hoef jy nie bang te wees nie (v.3, Spr. 24:21-22). As jy egter die wet oortree, sal die Here toesien dat die regering jou straf (v.2-3).

 

  1. Die regering se plig (v.4-7)

Verlede jaar het ‘n vriend my gevra wat ek vir Christen politici sou sê as ‘n paar van hulle tot bekering moes kom en in ons gemeente beland. Wat verwag die Here van hulle? Hoe sou jy die vraag antwoord?

Volgens Paulus is die regering God se dienaar om die land se burgers te beskerm en te bevoordeel (v.4). Hulle moet die oortreders straf, sodat wetsgehoorsame burgers veilig kan wees, in vrede kan slaap, en nie aanvalle van die buiteland hoef te vrees nie (v.4). Soos jy weet, gebeur dit nie altyd so in ons land nie. Dit beteken dat die Here teen die regering sal optree.

Ons moet onsself egter nie so teen die negatiewe blindstaar, dat ons die voordele miskyk nie. Ons kan die Here nog vrylik saam aanbid. Ons kan nog die Bybel lees. Almal van ons lewe nog. Oortreders word nog gevang. Daar is nog paaie om op te ry. Ons het nog elektristeit en lopende water. Die lys is lank. Moenie vergeet om die Here vir jou vryheid en voordele te dank nie.

Moet ook nie nalaat om reg te doen en die regering te gehoorsaam nie. Die regering dra nie verniet die swaard nie; hy voer God se wraak uit (v.4, 12:19, 1Pet. 2:14). Dit impliseer die volgende:

[a] Dit is reg vir ‘n regering om die doodstraf toe te pas (v.4, Matt. 26:52, Hand. 25:11). Sommige sal sê dis onmenslik, maar eintlik het die moordenaar onmenslik opgetree toe hy iemand vermoor het wat na God se beeld gemaak is (Gen. 9:6). Daarom moet die regering hóm doodmaak.

[b] Ons moenie ‘trigger happy’ wees en sommer net op mense wil skiet nie. Maar die Bybel verwag ook nie van ons om pasifiste te wees nie. Om dus by die polisie of weermag aan te sluit om die land se burgers teen misdadigers en terroriste te beskerm, is ‘n eerbare taak (v.4, Luk. 22:36, 38, 49-51). Die regering dra nie verniet die swaard nie (v.4).

Wees daarom gehoorsaam (v.5). Maar wees ook gehoorsaam, sodat jou gewete jou nie pla nie (v.5). Jy wil tog nie elke nou en dan oor jou skouer moet kyk, omdat jy die wet oortree het en bang is hulle gaan jou vang nie. Miskien kom jy weg en word jy nié uitgevang nie. In daardie geval sal jy weer die wet oortree, totdat jou gewete hard raak en jy nie meer skuldig voel nie. Op die einde sal jy vreeslike dinge doen, omdat jy nie meer ‘n gewete het nie. En as jy die dag sterf en in die hel beland, sal jou gewete jou vir ewig aankla. Min dinge is erger as wanneer die Here iemand aan sy gewete oorgee.

Gehoorsaam dan die wet vir die onthalwe van jou gewete (v.5). Moenie net by die spoedgrens hou omdat jy ‘n wit, blou en geel kar langs die pad gesien staan het nie. Doen dit omdat jy die Here wil behaag en ‘n skoon gewete wil hê. Om dieselfde rede moet jy nie oneerlik wees met jou belasting, of ‘loopholes’ soek om dit te ontwyk nie. Betaal wat jy skuld, of dit nou jou persoonlike belasting of jou besigheid s’n is, en of jy ‘n agterstallige water en ligte rekening het (v.6-7, Matt. 17:27, 22:17-21).

Jy weet hoe dit voel as iemand wat jou geld skuld ewe skielik van die aardbol af verdwyn. Christene moenie so wees nie. Betaal wat jy skuld. Belasting is nodig om die tronke in stand te hou; wapens aan te koop; polisiemanne, tronkwagte, soldate, staatsamptenare, howe, en die verkeerspolisie te betaal; paaie te bou en in stand te hou; die armes te help; water en elektristeit te verskaf; ander dinge te doen wat die land sal bevoordeel (v.6). Ek weet dat ons regering die geld misbruik om hulleself te verryk en om sonde te befonds (bv. kondome wat uitgedeel word vir kinders en klinieke wat aborsies beoefen). God sal op die oordeelsdag met hulle afreken.

Dalk skuld jy nie geld nie, maar volgens v.1, 7 moet jy die owerhede respekteer vir die magsposisie wat God hulle gegee het. Dit geld nie net vir politieke leiers nie, maar vir enigiemand wat in ‘n magsposisie is: jou man, jou ouers, die skoolhoof en onderwysers, jou geestelike leiers, jou baas, ens. (v.1-7, Ef. 5:21-6:9, 1Tess. 5:12-13, Heb. 13:17, 1Pet. 2:17). Respekteer hulle in die manier waarop jy met hulle praat, asook deur te doen wat hulle van jou vra (as dit nie sonde is nie). Moenie jou eie kop volg, opstandig wees en teëpraat nie. As jy dit doen, eer jy nie die Here nie en verset jy jou teen Hom. Jy wys indirek dat jy Hom nie vrees, of respek het vir sy gesag nie.

Soos ons eerste ouers in die tuin van Eden, wil jy onafhanklik wees en nie ‘n God hê wat vir jou sê wat jy moet doen nie. Hoekom noem jy jouself dan ‘n Christen as jy die here van jou eie lewe wil wees? “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46). As jy Jesus jou Here noem, móét jy sy gesag deur die regering en ander menslike leiers gehoorsaam. Jy kán en hóéf dit egter nie deur jou eie krag te probeer doen nie. Jesus sal jou help.

Toe Hy aan die kruis gesterf het, het Hy God se wraak wat die regering óns moes toedien, gedra: slae oor sy rug, spykers deur sy hande en voete, ‘n doringkroon op sy kop, ‘n spies in sy sy. God se toorn en wraak het ook direk soos kokende water op Hom geval. Niemand het Hom gedwing om dit te doen nie. Hy wóú dit verduur, om ons van ‘n soortgelyke oordeel in die hel te red. Die Vader se pyn om sy Seun so te laat ly (Jes. 53:10), was seker net so verskriklik soos die pyn wat die Seun ervaar het (Matt. 27:46).

En sal jy nie hierdie God liefhê en vergifnis vra dat jy Hom uit jou lewe geskuif het, of omdat jy die kaptein van jou eie skip wou wees nie? Erken dat jou disrespek vir jou ouers, jou man, jou baas, jou geestelike leiers, en die regering, eintlik maar ‘n manier was om vir die Here te sê: ‘Ek sal nie vir U luister nie.’

Die Here is bereid om jou te vergewe, jou as sy kind aan te neem, en jou belangriker te maak as enige koning of president in hierdie wêreld. Hoe kan jy nié met jou hele hart in Hom glo, Hom met jou hele wese liefhê, en alles doen wat Hy van jou vra nie (al is dit om jou aan die regering te onderwerp)?

As jy Jesus se liefde soos heuning in jou siel gesmaak het, sal Rom. 13 nie vir jou ‘n doring in die vlees wees nie. Jy sal eerder soos die dosent wees wat die Here wou eer toe ‘n groep studente oor e-tol wou kla: ‘Ek betaal dit met glimlag. Dit is soos ‘n droom om op die nuwe snelweg te ry.’

Kategorieë