Romeine 16:17-20
In die wêreld se oë is diskriminasie ‘n taboe en is dit verkeerd om teen enigiemand te diskrimineer. As jy bv. sê dat homoseksualiteit verkeerd is, kryt hulle jou uit as homofobies. As jy sê dat plaasmoorde en grondgrype verkeerd is, vervolg hulle jou as ‘n rassis. As jy manlike leierskap in die huis en in die kerk voorstaan, of as jy teen die transgender beweging is, sê hulle jy is seksisties.
Selfs in die kerk is mense gou om Matt. 7:1 en Joh. 8:7 buite konteks aan te haal as jy sê dat iemand ‘n vals leraar is: ‘Jy mag nie oordeel nie... Laat dié een wat sonder sonde is die eerste klip gooi.’ Maar volgens die Bybel móét jy diskrimineer. Jy moenie ‘n kritiese gesindheid hê wat mense veroordeel, omdat hulle uiterlik anders as jy lyk nie. Jy móét egter die vermoë hê om tussen goed en kwaad te onderskei; tussen vals lering en die waarheid. Rom. 16:17-20 help ons hiermee.
- Waak (v.17)
‘Dit sal nooit met my gebeur nie.’ Te veel mense het dit al gesê, voordat een of ander slegte ding met hulle gebeur het. Dit geld ook vir vals lering in die kerk. Moenie dink dat jy of jou gemeente daarteen bestand is nie. Dit kan met jóú ook gebeur (Hand. 20:29-30).
Dit is die punt van v.17. Paulus prys die Here dat die Romeine ‘n liefdevolle gesin is (v.1-16) en dat hulle volwasse genoeg is om mekaar uit die Bybel te vermaan (15:14). Juis om hierdie rede wil hy nie hê hulle moet dink dat niemand hierdie eenheid en liefde kan bedreig nie. Hulle moet besef dat selfs ‘n volwasse gemeente verdeeld kan raak en vir vals lering kan val. Daarom waarsku hy hulle teen die vals leraars wat verdeeldheid wil bring (v.17). As die gelowiges nie paraat is nie, sal die vals leraars die eenheid van die gemeente verbreek (v.17). Hoe doen hulle dit?
Hulle verkondig dinge wat nie met die Bybel strook nie (v.17). Omdat party mense hulle lering glo en ander nie, veroorsaak dit verdeeldheid in gemeentes, families, huisgesinne en huwelike (v.17). Dit bring individue en groepe tot ‘n val; dit stuur hulle oor die afgrond van die hel (v.17).
Vals lering veroorsaak skeuring, omdat dit nie kan maak dat mense heilig lewe en mekaar opreg liefhet nie. Net die ware evangelie (deur die krag van die Heilige Gees, natuurlik) kan dit doen. Dit is dan nie waar om te sê: ‘doctrine divides’ nie. Ons moet eerder sê dat die gesonde leer eenheid bring. Ons is een, omdat ons dieselfde waarheid glo. Wat is hierdie waarheid wat ons een maak? Wat maak Christene anders as ander godsdienste?
[1] Ons glo in die ewige Vader, Seun en Heilige Gees: drie Persone wat in elke opsig gelyk is, terwyl daar net een God is (Gen. 1:26, Deut. 6:4, Matt. 3:16-17, 28:19, Joh. 1:1-3, Hand. 5:3-4, Ef. 4:4-6, 1Kor. 8:6). Ons glo dat Hy alles in heelal gemaak het en dat niks sonder Hom ontstaan het nie (Gen. 1-2).
[2] Ons glo dat die Seun van God mens geword het (Joh. 1:1-3, 14). Hy is deur die Heilige Gees in die maagd Maria se baarmoeder verwek (Matt. 1:18-20, Luk. 1:35). Jesus is waarlik God en waarlik mens; twee nature in een Persoon (Jes. 9:5, Matt. 1:23, Gal. 4:4, Fil. 2:6-8, Kol. 1:19, 2:9, 1Joh. 4:2). Hy het nie ‘n sondige natuur gehad nie en het ook geen sonde gedoen nie (Heb. 4:15, 7:26).
Hy het aan die kruis gesterf in die plek van sondaars (Jes. 53:4-6, 1Pet. 3:18). Hy het die straf gedra wat ons moes kry (2Kor. 5:21, Gal. 3:13). Hy is begrawe en het op die derde dag liggaamlik opgestaan uit die dood (Joh. 20, Hand. 2:24-32, 1Kor. 15:4-5). Hy het opgevaar na die hemel en aan die regterhand van die Vader gaan sit om vir ons in te tree (Ps. 110:1, Hand. 1:9, Rom. 8:34, Heb. 1:3, 7:25). Hy sal persoonlik en sigbaar terugkeer om die dooies op te wek en hulle saam met die lewendes te oordeel (Matt. 25:31-33, 1Kor. 15, 1Tess. 4:13-18, Op. 20:11-15). Hy sal sy kinders vir hulle dienswerk beloon (1Kor. 3:12-15). Hulle sal vir ewig saam met Hom op die nuwe aarde woon (Op. 21:1-7). Hy sal die goddelose vir hulle sonde oordeel en hulle vir ewig saam met die duiwel en sy gevalle engele in die hel straf (Matt. 25:41, Rom. 2:6, 8-9, 2Tess. 1:7-9, Op. 21:8).
[3] Ons glo dat Jesus die Heilige Gees gestuur het om ons te wederbaar, om in ons te woon, om ons te troos, om ons heilig te maak, om ons in die waarheid te lei en om ons as God se ewige eiendom te verseël (Joh. 14:16-17, 26, 16:13, Rom. 8:13, 1Kor. 2:10-16, 2Kor. 1:22, 5:5, Ef. 1:13-14, Tit. 3:5-6).
[4] Ons glo dat die 66 boeke van die Ou- en die Nuwe Testament die geïnspireerde, onfeilbare, foutlose, gesaghebbende en algenoegsame Woord van God is (Ps. 19, 119, Joh. 2:22, 1Tess. 2:13, 4:8, 15, 1Tim. 5:18, 2Tim. 3:16-17, 2Pet. 1:3, 19-21, 3:15-16).
[5] Ons glo dat geen mens deur sy goeie werke, of deur enige poging van sy eie gered kan word nie (Rom. 3:28, Ef. 2:8-9). Om gered te word moet jy jou van jou sonde bekeer en op Christus vertrou (Mark. 1:15, Luk. 24:46-47, Hand. 2:38, 16:31, 20:21, Rom. 10:9-10, 13). Niemand kan sonder Hom gered word nie (Joh. 14:6, Hand. 4:12). Alhoewel jou goeie werke jou nie red nie, lei ware geloof altyd tot goeie werke (Ef. 2:10, Jak. 2:14-26).
[6] Ons glo dat Christus die Hoof van die kerk is en dat ons sy liggaam is (Ef. 1:22-23, Kol. 1:18). Die kerk bestaan uit mense wat weer gebore is (1Kor. 1:2, 12:13).
[7] Ons glo dat Jesus twee sakramente of ordinansies ingestel het: die doop en die nagmaal (Matt. 28:19, Matt. 26:26-29). Deur die doop bely ons dat ons saam met Christus begrawe is en dat ons saam met Hom opgewek is in ‘n nuwe lewe (Rom. 6:3-4). Deur die nagmaal bely ons dat Hy vir ons sondes gesterf het (1Kor. 11:23-26).
Ons is een met almal wat hierdie waarhede glo, al verskil ons van mekaar oor die fyner besonderhede van die eindtyd, die gawe van tale, of ander leerstellings wat nie die waarheid van God en die evangelie aantas nie.
Om die eenheid te bevorder, moet ons alles in ons vermoë doen om die waarhede van die Bybel onder die knie te kry en alles te vermy wat nie daarmee ooreenstem nie (v.17, Hand. 2:42, 1Tim. 1:3, 10-11, 6:3). Om dit reg te kry, moet jy ‘n oop Bybel voor jou hê wanneer die prediker daaruit voorlees en preek. Is dít wat hy sê in die teks, of preek hy sy eie idees (Hand. 17:11)?
Om die waarhede van die Bybel te ken, moet jy dit ook gereeld lees, bestudeer, memoriseer, oordink en gehoorsaam. Laai goeie preke van die internet af en luister daarna terwyl jy die skottelgoed was, of in die kar ry. Steve Lawson, R.C. Sproul, Voddie Baucham, John MacArthur, Stuart Olyott, John Piper, D.A. Carson, Martyn Lloyd-Jones en nóg ‘n paar predikers in hulle kringe gee goeie en betroubare lering. Leer by hulle. Moenie dink jy weet alles nie. Die Heilige Gees praat nie net met jóú nie. Wees nederig genoeg om by ander te leer.
As jy nie vas staan in die waarheid nie, sal die vals leraars jou mislei (Ef. 4:11-14). Hulle sal jou van die gemeente wegrokkel. As hulle dit met genoeg mense doen, sal hulle die gemeente skeur (v.17). Moet dan nie hulle boeke lees, of na hulle preke luister nie, maar vermy hulle (v.17, 2Joh. 10).
Ken jy ‘n gelowige wat deel is van ‘n gemeente wat vals lering verkondig: ‘n liberale kerk, ‘n gemeente wat die Prosperity Gospel aanhang, of ‘n kultus? Sê vir hulle om daar uit te kom en moedig hulle aan om by ‘n gemeente in te skakel wat Bybelse lering verkondig (v.17). Dit is jammer dat baie gelowiges nie ‘n aptyt hiervoor het nie. Hulle soek nie lerende prediking nie. Hulle sien nie hoe belangrik dit vir hulle lewens is nie. Wat bedoel ek?
‘n Amerikaner genaamd George Barna het ‘n meningspeiling geneem onder mense wat hulleself as evangeliese Christene beskou, maar nie waarde heg aan goeie Bybelse lering nie. Onder hierdie mense was die skeisyfer dieselfde as onder die res van die nasie. Slegs 9% van hulle dra by vir die Here se werk; 26% van hulle glo dat seks voor die huwelik nie verkeerd is nie. Uit ‘n groep van 12 000 ‘evangeliese’ tieners, het 80% seks gehad voordat hulle getroud is. Christene wat egter sterk gegrond is in Bybelse lering is nege keer meer geneig as ander ‘evangeliese’ groepe om pornografie te vermy. Hulle is twee keer meer geneig om films met ‘n slegte inhoud te vermy. Hulle is drie keer meer geneig om tabak te vermy en twee keer meer geneig om vrywillige werk onder die armes te doen [John Piper, Taste and See (Sisters, Oregon: Multnomah Publishers, 1999, 2005), 356-357].
Christene wat nie gegrond is in gesonde leerstelling nie is arm wanneer dit kom by hulle liefde vir God, hulle aanbidding, hulle vreugde, hulle gehoorsaamheid, hulle persoonlike getuienis, hulle groei, hulle betrokkenheid in die kerk en hulle gebedslewe [Sien Stuart Olyott, Preaching—Pure and Simple (Bridgend, Wales: Bryntirion Press, 2005), 55-74].
Kan jy sien hoekom dit belangrik is om gegrond te wees in gesonde Bybelse lering; hoekom dit belangrik is om seker te maak dat jy die Bybel ken?
- Kyk (v.18)
Almal het al ‘n prentjie gesien met die subtitel: ‘Daar is tien verskille tussen die twee prente; kyk of jy hulle kan sien.’ As dit ‘n prent vir kinders is, sien jy maklik die verskille raak. Maar as die prent baie detail het en jy 25 of meer verskille moet raaksien, is dit moeilik.
Om die verskil tussen ‘n ware leraar en ‘n vals een te sien, is nie ewe maklik vir almal nie. In sommige gevalle moet jy mooi kyk om die verskille raak te sien. Wat is die verskille? Boeke soos 2Petrus of Judas gee vir ons ‘n klomp kenmerke van vals leraars. In Rom. 16:18 fokus Paulus op twee punte om sy lesers te help om nie vir vals lering val nie.
In die eerste plek moet jy na hulle lewens kyk. Vir die vals leraar gaan sy lewe nie oor Christus nie, maar oor sy selfsugtige begeertes (v.18, Fil. 3:19). Hy onderwerp hom nie aan Christus die Here nie, maar hy lewe vir homself (v.18). Om sy beursie met goud te vul, spreek hy gladde woorde waardeur hy mense vlei (v.18). Hy preek met oortuiging (v.18, Kol. 2:4, 1Tim. 1:7). Hy sê niks negatief nie, maar preek altyd positief om mense se ore te streel (2Tim. 4:3-4). Sodoende verseker hy ‘n groot gevolg en steel hy mense se geld (2Pet. 2:3).
Wie val vir hom? Mense wat geestelik onkundig of naïef is (v.18). Weereens sien ons hoekom dit belangrik is om jou Bybel te ken. Leer ook uit v.18 om nie ‘n prediker op grond van sy elegante preekstyl as goed te bestempel nie. Luister eerder na sy inhoud om te sien of hy Bybels is, of nie (v.17).
- Onderskei (v.19)
Dit is goed as ‘n kind altyd gehoorsaam is, maar as ‘n ontvoerder dit weet, sal hy dit misbruik. Paulus was bly dat die Romeine sy lering gehoorsaam het (v.19). Hulle was bekend vir hulle gehoorsaamheid (v.19, 1:7, vgl. 1Tess. 1:8). Die vals leraars het dit geweet. Daarom het Paulus hulle gewaarsku om nie naïef te wees en die vals leraars te gehoorsaam nie (v.19, 17-18). Hulle moes eerder wys wees teenoor wat goed is en onskuldig teenoor wat sleg is (v.19, Jer. 4:22, Matt. 10:16, 1Kor. 14:20).
Eintlik moedig Paulus hulle aan om onderskeidingsvermoë toe te pas. Volgens John MacArthur is dit die grootste probleem in die kerk vandag: mense weet nie hoe om te onderskei nie. Vir hulle is ‘n boek van Charles Spurgeon en The Shack ewe goed. Hulle hou ook meer van ‘n boek waarin die outeur sy 90 minute in die hemel beskryf, as van ‘n boek wat die Bybelse lering oor die hemel verduidelik.
Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie: as ons die waarheid en valsheid van mekaar wil onderskei, moet ons ons Bybels ken. Sit ‘n bietjie die storieboeke eenkant, sodat jy jou Bybel en goeie Christelike boeke (bv. van die predikers na wie ek vroeër verwys het) kan lees. ‘[Wees wys] teenoor wat goed is, maar onskuldig teenoor wat sleg is.’ (v.19).
- Vertrou (v.20)
Jy kan jou 5-jarige leer om ‘n jaggeweer te hanteer, maar sonder jou hulp gaan hy dit nie regkry nie. Om Satan se aanvalle wat deur die vals leraars kom, af te weer, het jy die Here se genade nodig (v.20). Deur sy kruisdood het Jesus die duiwel onder sy voete vertrap (Gen. 3:15, Heb. 2:14, 1Joh. 3:8). As ons in die waarheid groei en daaraan vashou, sal die God van vrede hom ook onder óns voete verbrysel (v.20, Ps. 91:13, Matt. 16:18, Luk. 10:18-19, Op. 12:11). Dit sal finaal gebeur wanneer Jesus weer kom.
Die toepassing is duidelik: as jy na die vals leraars luister, sal die Here jou saam met hulle en die duiwel vermorsel (v.20). Maak dan seker dat jy hulle deur die Here se instaatstelling uitken en vermy (v.20, 17-19).
***
Ek hoop jy kan sien dat Bybelse diskriminasie niks te doen het met Adolf Hitler wat die Jode, swart mense en gestremde mense doodmaak nie. Dit is eerder iets wat jy nodig het om veilig in die hemel te kom.