Die verskil tussen ware en valse gelowiges
In my erf het ek ‘n pruimboom wat nie vrugte dra nie. Die helfte van die boom is so droog soos die Kalahari. My vrou het al meer as eenkeer gesê dat ons die boom moet uithaal.
In Mk.11:13 en Lk.13:6-9 het Jesus gesê dat Israel ‘n vyeboom is wat nie vrugte dra nie. Hy het dit vervloek en gesê Hy gaan dit uitkap. Jud.12 praat van die vals leraars as vrugtelose bome.
In Jes.5 beskryf die profeet vir Israel as ‘n wingerd, en sê hy dat sy suur druiwe voortgebring het. Dit sal help as ons uit haar voorbeeld leer, sodat ons nie in dieselfde strik trap as sy nie.
God se wingerd (v.1-7)
Wanneer Carina se plante vrek, sê sy maklik dat sy nie groen vingers het nie. Die waarheid is egter dat sy nie genoeg tyd, aandag en water vir haar plante gee nie. Maar met die Here is dit nie so nie. Jy sal binnekort sien wat ek bedoel.
Jesaja het ‘n liefdeslied vir sy Beminde gesing (v.1). Sy Beminde het ‘n wingerd uit Egipte gaan haal en dit op ‘n vrugbare heuwel in Kanaän geplant (v.1, Ps.80:9). Hy het die grond omgespit en klippe uitgehaal om ‘n kwaliteit wingerd te plant (v.2, Jer.2:21). Om dit op te pas en goeie wyn te maak, het Hy ‘n wagtoring gebou en ‘n parskuip uitgekap (v.2).
Maar toe die seisoen aanbreek, het Israel suur druiwe voortgebring en nie die soet en sappige vrugte van bekering nie (v.2, Mk.12:1-9). Waar het dinge fout gegaan: wie was verkeerd tussen die Boer en sy wingerd, tussen die Here en Israel (v.3)? Die Here het alles gedoen dat die wingerd kon groei – hoekom het dit dan suur druiwe voortgebring? Duidelik was die probleem by die wingerd en nie by Hom nie.
Wat sou Hy met die wingerd gedoen het? Hy sou die doringheining [Heb. meśûkâh, Sp.15:19] en die klipmuur wat die wilde diere en skelms moes uithou, verwyder het (v.5, Sp.24:31). Almal sou ingekom het om dit af te wei en te vertrap (v.5, 3:14, Eks.22:5, Ps.80:13-14, Jer.5:10).
Die Here sou nie meer die wingerd gesnoei het of omgespit het nie, maar dit in ‘n woestyn verander het (v.6). Soos in Gn.3:18 sou Hy dit vervloek het, sodat dit met dorings en distels oortrek was (v.6, 7:23-25). Hy sou ook vir die wolke gesê het om nie meer daarop te reën nie (v.6, Dt.28:23-24, 1 Kon.17:1).
Israel en Juda is die wingerd wat suur druiwe voortgebring het; die Here van die Leërskare is die Beminde van wie Jesaja in v.1 gepraat het (v.7). In die verlede was die wingerd vir Hom ‘n plesier, maar nou het dinge verander. Israel het nie die soet druiwe van reg en geregtigheid voortgebring nie, maar die suur druiwe van bloedvergieting en geskreeu (v.7).
In die Hebreeus klink die woordspeling só: ‘Hy het mishpâṭ [reg] gesoek maar miśpâch [bloedvergieting] gekry; tsa‛ăqâh [geskreeu] in stede van tsedâqâh [geregtigheid].’
God se wee (v.8-30)
Het jy al ooit gedink dat die hel ‘n oorreaksie van God se kant af is, en gewonder hoekom Hy besluit het om ongelowiges so swaar te straf? Ek het al, wat net wys dat ek nie die erns van sonde verstaan het nie.
‘n Paar jaar gelede het ek iets daarvan verstaan toe die Here my ‘n diep oortuiging van my eie sonde gegee het, en toe ek by Ellis Park gesien het hoe goddeloos mense is. Ek het besef dat die probleem nie by God se verstaan van liefde lê nie, maar by ons verstaan van heiligheid.
En wanneer ons God se heiligheid verstaan, maak sy haat en oordeel oor die sonde in v.8-30 perfek sin. Dié verse is eintlik ‘n kommentaar op v.1-7 waarin Jesaja die betekenis van suur druiwe en die vernietiging van die wingerd verduidelik.
[1] Materialisme
Die Here het sy wee uitgespreek teen dié wat Lv.25:23-31 oortree het, en prokureurs gehuur het om die armes se familieplase by hulle weg te vat (v.8, 3:14-15, 1 Kon.21, Mg.2:2, 9, Am.2:6-7). Soos in die bordspeletjie Monopoly, wou hulle alles vir hulleself gehad het, en het hulle as’t ware die armes van die grond afgedruk.
As gevolg daarvan het die Here van die Leërskare vir Jesaja gesê dat Hy die rykes uit hulle groot en luukse huise uit sou verwyder (v.9, Am.3:15). Hy sou die wingerde en koringlande wat hulle by die armes gesteel het, onvrugbaar gemaak het: ‘n wingerd van vier hektaar (vier rugby velde), sou slegs 22 liter wyn opgelewer het, en ‘n 220 liter drom vol saad sou ‘n skrale 22 liter koring opgelewer het. Die gulsige rykes sou teen ‘n hengse verlies geboer het (Lv.26:26, Hg.1:6, 2:16).
[2] Hedonisme[1]
God het sy wee uitgespreek teen dié wat van vroeg tot laat sterk drank en wyn gedrink het (v.11). Volgens een kommentator het drank hulle soggens laat opstaan, en saans uit die bed uit gehou.[2] Hulle het vir partytjies gelewe; hoe dronker hulle was, hoe lekkerder het hulle gesing (v.12, Am.6:5-6). Hulle het nie daaraan gedink om die Here vir sy groot werke te prys nie; die musiek was vir hulle eie vermaak (v.12).
Hoekom sou hulle buitendien die Here geëer en gehoorsaam het as hulle Hom nie geken het nie (v.13, Hos.4:6)? A.g.v. hulle onkunde en sonde, sou die Here hulle na ‘n vreemde land toe gevat het (v.13). Hulle sou nie meer luukse partytjies gehou het waar daar volop kos en wyn was nie, maar hulle sou honger en dors gewees het (v.11-13).
Die doderyk sou egter sy mond oopgemaak het en homself trommeldik geëet het (v.14). Die rykes se dood was die begraafplaas se brood. So het God hulle hoogmoedige oë afgebring en hulle verneder (v.15, 2:9, 11-12). Hy het hulle leë en bouvallige huise die weiplek van lammers en trekbokke gemaak (v.17). So het God die rykes se neuse in die grond gevee; Hy het Homself en sy heilige geregtigheid verhef (v.16).
[3] Spottery
Die volk het hulle boosheid met die wa-toue van goddeloosheid nadergesleep en dit met hulle saamgedra (v.18). Soos in ‘n net het hulle verstrik geraak, sodat hulle nie kon vrykom nie (v.18, Sp.5:22). Die sonde het hulle verblind en verhard, sodat hulle gesê het: ‘Na baie jare van sonde het die Here nog nie iets aan ons gedoen nie. As Hy regtig ‘n probleem met ons het, wil ons Hom uitdaag om ons te oordeel sodat ons kan weet dat Hy bestaan!’ (v.19, vgl. 2 Pt.3:4).
[4] Amoraliteit
Dit verwys na mernse wat nie morele waardes het nie. Uiteindelik raak dit so erg, dat hulle sê goed is sleg en sleg is goed (v.20). Hulle dink onderstebo (Rm.1:28). Volgens húlle is morele waardes ‘n kwessie van smaak: ‘Dit wat vir jou bitter en donker is, is vir my soet en lig’ (v.20). Maar die mense wat só lewe sal geoordeel word (v.20).
[5] Verwaandheid
Daar was ook wee vir dié wat eiewys was en nie bereid was om vir die Here te luister nie (v.21, 24, Sp.3:7, 12:15, 16:18, 26:12, 16, 28:11, Rm.12:16).
[6] Onreg
Wee het gewag op dié wat dapper helde was wanneer dit by wyn en sterk drank kom (v.22, 11). Hulle het mekaar ‘gedare’ om te kyk wie die sterkste drank kan drink. So het hulle gewys dat hulle ‘regte manne’ is. Maar in hulle besope toestand het hulle die gereg verdraai (v.23). Vir ‘n groot som drankgeld het hulle die skuldige persoon vrygelaat, en die onskuldige van sy regte ontneem (v.23, Eks.23:8, Sp.17:15).
[7] Dood
Omdat hulle die Heilige God se Woord en wet verag het, sou die vlamme van sy oordeel hulle soos droë gras en stoppels verteer het (v.24). Hy sou die wingerd tot aan sy wortels vernietig het, sodat die bloeisels nie vrugte voortgebring het nie (v.24).
God se woede sou soos ‘n vuurhoutjie by petrol teen hulle ontvlam het; dit sou hulle soos ‘n aardbewing geskud het (v.25, Jer.4:24, Nah.1:5). Hy sou hulle met ‘n regter vuishou geslaan het (v.25). Die oortreders se lyke sou soos rommel in die strate gelê het, en selfs ná dit sou Hy nie die uitgestrekte arm van sy toorn teruggetrek het nie (v.25, 9:12, 17, 21, 10:4).
In sy soewereiniteit oor die nasies sou Hy sy banier vir hulle gewaai het en gefluit het, sodat hulle van die eindes van die aarde af teen God se uitverkore volk gekom het (v.26, 7:18, Dt.28:49). Volgens Jesaja was Israel se vyande:
- So vinnig soos ‘n warrelwind (v.26, 28).
- Wakker, dodelik en slaggereed (v.27-28).
- Instaat om sonder rus aan te hou veg (v.28).
- Aggressief soos sterk jong leeus wat brul en grom as hulle iets gevang het (v.29).
- Angswekkend soos reuse branders op die see en donker wolke wat die son uitblok (v.30, 8:22). Daar was nie ‘n enkele straal van hoop nie.
Watse lesse leer ons uit Jesaja 5? Moenie soos Israel dink dat jy aan die Here behoort as jy nie die goeie vrug van bekering dra nie. Dit is tog die vrug van goeie werke wat wys of iemand se geloof eg is, en of hy gered is of nie (Jk.2:14-26). Jesus het ook gesê dat jy die boom aan sy vrugte sal ken, en dat dié wat sy lering uitvoer en die wil van die Vader doen, waarlik gered is (Mt.7:20-27).
Volgens Petrus kan jy weet of God jou gekies en geroep het, as jou geloof die goeie en gesonde vrug van gehoorsaamheid voortbring (2 Pt.1:10, 5-9). As die Wingerd se lewensap deur jou vloei, kan jy nie anders as om die vrug van ware bekering te dra nie (Jh.15:1-8).
Jou eenheid met die Ware Wingerd sal gesien word in die feit dat jy geestelik groei; dit sal gesien word in karaktertrekke soos morele opregtheid, ‘n persoonlike kennis van God, selfbeheersing, volharding, ‘n toegewyde lewe, ‘n toegeneentheid [Eng. ‘affection’] tot ander Christene, liefde vir God en jou naaste, blydskap in die Here en vrede met Hom, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid en sagmoedigheid (2 Pt.1:5-8, Gal.5:22).
Iemand wat die suur druiwe van Jes.5 en ander sulke gedeeltes dra, wys dat hy nie gered is nie. Te veel mense maak hulle uiterlike verbintenis tot die kerk die termometer waarvolgens hulle meet of hulle hemel toe gaan of nie: die doop, lidmaatskap, tiendes, kerkbywoning, verkiesing tot die amp van ouderling of diaken, ens.
Hierdie mense se leefstyle wys egter dat hulle nie die Here ken nie, en dat hulle nie die eerste ding van Christenskap verstaan nie. Vir hulle gaan die lewe oor geld en plesier, en nie oor die Here nie (v.8-12). Hulle is slawe van sonde, en hou nie daarvan dat die Bybel vir hulle sê hoe hulle moet lewe nie – hulle wil self besluit (v.18, 20). Hulle lewe asof daar nie ‘n oordeelsdag gaan wees nie (v.19).
Hulle is eiewys, sodat hulle hulle eie koppe volg (v.21). Hulle aanvaar nie die raad van ander nie, of dit nou hulle ouers, ander gesagsfigure, of mense met meer lewenservaring as hulle is. Jy sal hulle nie by ‘n sosiale geleentheid sien sonder ‘n glas wyn of sterk drank in hulle hande nie; hulle oë is gedurig rooi van al die drank (v.11, 22). Hulle gee en vat omkoopgeskenke (v.23).
Ons kan seker nog baie ander sondes noem, maar die punt is eenvoudig dat hierdie mense nie vrug dra nie, omdat hulle nie deur geloof aan die Wingerd geheg is nie. Hulle mag dalk uiterlik met Hom assosieer, maar innerlik vloei sy lewensap nie deur hulle nie (Jh.15:1-8). Die Heilige Gees woon nie in hulle om die vrug van bekering te produseer nie (Gal.5:16-26).
Christus se woorde het nie diep wortels in hulle harte nie, en daarom kan hulle nie vrug dra nie (Jh.15:7). Die Bybel verveel hulle, en gebed is nie ‘n gereelde deel van hulle lewens nie (Jh.15:7). Wanneer die Boer hulle snoei, val hulle weg – hulle groei nie geestelik nie (Jh.15:2).
Omdat hulle dan vrugtelose ongelowiges is, sal God die takke van hulle lewens afbreek en dit in die vuur gooi (v.24, Jh.15:6). Moet dan nie soos hulle wees nie, maar bekeer jou. Vra dat die Heilige Gees deur wedergeboorte die saad van Christus se lewe in jou hart sal plant. Glo dat Hy aan die kruis die wyn van sy bloed gestort het om jou sonde weg te was. Spandeer dan die res van jou aardse en hemelse bestaan in soete gemeenskap met die Wingerd.
As jy dít doen sal jy nie vrugte dra wat uiterlik mooi lyk, maar van polystyrene gemaak is nie. Die trosse van jou lewe sal so groot en swaar wees soos Num.13 se druiwe wat die spioene aan ‘n paal vasgemaak het om dit op hulle skouers te dra. Die goeie vrugte wat jy dra sal die Vader verheerlik (Jh.15:8).
[1] Hedonisme verwys na mense wat vir plesier lewe.
[2] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, p.71