Coram Deo Cover Image

Coming soon...

3 March 2023

Bid met geloof

Lukas 17:5-6

’n Sestienjarige seun het baie siek geword. Sy ouers het vir sy genesing gebid, maar hy het gesterf. Baie mense sal sê die seun of sy ouers het nie genoeg geloof gehad nie. Soos die dissipels verstaan hierdie mense geloof verkeerd. Hulle weet nie wat dit beteken om met geloof te bid nie.

 

1.Is my geloof genoeg?

Jesus se opdrag in v.1-4 is nie maklik nie: ‘Waak teen versoeking... As jy ander versoek, sal die Here jou straf... Bestraf jou broer as hy sondig... Vergewe hom as hy hom bekeer... Vergewe hom al sondig en bekeer hy hom sewe keer in een dag.’ Die dissipels het besef dit is moeilik en het wonder hoe hulle dit sal regkry. Daarom het hulle in v.5 gevra: “Gee ons meer geloof!”1

Wonder jy hoe jy v.1-4 in jou konteks kan toepas? Dalk sê jy: ‘Ek het nie eers geloof vir die basiese Christelike lewe nie. Hoe sal ek dan vir iemand met graad 4 kanker of ernstige depressie bid? Hoe bid ek vir die bekering van ’n harde ongelowige en herlewing in ons slegte land en samelewing?’ Jesus bied die oplossing: “As julle geloof soos ’n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie wildevyeboom gesê het, ‘Trek jou wortels uit die grond en gaan plant jouself in die see,’ en hy sou na julle geluister het.” (v.6). ’n Mosterdsaad was die kleinste in ou Israel (Matt. 13:31-32). Jesus bedoel jy kan met ’n bietjie geloof die onmoontlike vermag. Solank jy die almagtige Vader vertrou en tot Hom bid, maak dit nie saak hoe ‘groot’ jou geloof is nie. Die Here vereis nie groot geloof nie, maar ware geloof wat Hom en sy beloftes glo. Ware geloof beteken nie jy is selfversekerd. Jy sê nie: ‘As ek hard genoeg glo, sal die Here vir my ’n Rolls Royce gee.’ Dit is die Word of Faith beweging se vals geloof. Dit is die soort geloof wat ’n foto van jou droom vakansiehuis teen jou yskas plak en sê: ‘As ek dit genoeg sien en uitspreek, sal ek dit kry.’

Ware geloof bely liewer sy eie swakheid en glo die Here is tot alles in staat. Ware geloof sê soos die Romeinse soldaat: ‘U hoef nie in my huis te kom bid nie. As U net ’n woord spreek, sal my slaaf gesond word.’ Jesus prys hierdie geloof (7:9). Ware geloof word nie afgesit as die Here nie dadelik antwoord nie, maar hou aan totdat hy ja sê (Matt. 15:28). Ware geloof sal deur die dak breek om by Jesus uit te kom (5:19-20). Ware geloof sê vir Jesus: ‘Ek glo; kom my ongeloof te hulp!’ (Mark. 9:22-24). Ware geloof rus nie op my sterk greep van Jesus nie, maar op sy sterk greep aan my. Ware geloof sê nie: ‘Ek kan alles doen waarop ek my gedagtes rig; waar daar ’n wil is, is daar ’n weg; ek moet net in myself glo en vir sê ek kan.’ Ware geloof fokus nie op groot of klein geloof nie. Dit kyk weg van self en herinner God aan sy beloftes (Jes. 62:6-7). Dit bely geloof kom deur die Woord van Christus (Rom. 10:17). Ware geloof soek nie groter geloof nie, maar meer van Christus. Dit besef ’n heilige lewe en elke antwoord op gebed hang nie af van hoe jou groot geloof is nie, maar van hoe groot die God is in wie jy glo. Ware geloof glo by God is niks onmoontlik nie; Hy kan enigiets doen (1:37, 18:27, Gen. 18:14, Jer. 32:17, 27). Ware geloof glo in God wat sy volk deur die Rooi See gelei het; wat brood uit die hemel en water uit ’n rots gegee het (Eksodus 14-17). Ware geloof glo God kan ’n donkie laat praat (Num. 22:28-30). Dit glo Hy kan die son vir ’n dag en ’n nag laat stilstaan (Jos. 10:12-13). Dit glo Hy kan ’n byl laat dryf, verhinder dat vuur brand, honger leeus se bekke toesluit en dooies laat opstaan (2Kon. 6:5-7, Daniël 3, 6, Johannes 11, 20).

Om hierdie rede bid ware geloof oor alles, al lyk die antwoord onmoontlik: “As julle geloof soos ’n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie wildevyeboom gesê het, ‘Trek jou wortels uit die grond en gaan plant jouself in die see,’ en hy sou na julle geluister het.” (v.6). Bedoel Jesus letterlik ons moet bid dat bome hulleself ontwortel en in die see plant? Nee. Hy gee ’n uiterste voorbeeld om te wys al sou God v.6 sê, sal ware geloof dit bid en glo: ‘Die Here kan dit doen.’ Ware geloof bely gebed is so almagtig soos God self. Gebed kan die onmoontlike vermag, want God kan die onmoontlike doen: “As julle geloof het soos ’n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê, ‘Verplaas jou hiervandaan daarheen,’ en hy sal soontoe verskuif. Ja, niks sal vir julle onmoontlik wees nie.’ ” (Matt. 17:20, eie beklemtoning). “Aan Hom, wat deur sy krag wat in ons werk, die mag het om oneindig meer te doen as alles wat ons bid of dink” (Ef. 3:20).

Ware geloof besef die beperking lê nie by God nie, maar by ons. Kleingeloof maak dat ons nie oor sekere dinge bid nie. Iemand wat nie glo God kan ’n dowe genees nie, sal nie daarvoor bid nie: “...tog het julle niks, omdat julle nie bid nie.” (Jak. 4:2). Die kleingelowige bid vir ’n rukkie oor ’n saak, maar hou dan op. So iemand betwyfel God se almag, goedheid, liefde, wysheid en getrouheid aan sy beloftes. Wie so bid moenie ’n antwoord verwag nie (Jak. 1:5-8).

 

2. Hoe bid mens met geloof?

Elia het gebid dat dit nie reën nie; later het hy die Here gevra om reën te stuur (Jak. 5:16-18). Hy het God op sy Woord geneem. God het gesê daar sal droogte wees as die volk afgode aanbid (Deut. 28:23-24). Hy het gesê Hy sal reën stuur as hulle berou het en Hom aanroep (2Kron. 7:13-14).

Bid God se beloftes. Moenie twyfel, omdat die situasie onmoontlik lyk en jy geen uitkoms sien nie. Glo die Here kan die onmoontlike doen (v.6). In Mark. 11:20-25 lees ons: “Toe hulle vroegoggend daar verbygaan, het hulle die vyeboom gesien, verdor tot in sy wortels. Petrus het onthou—en sê vir Hom: ‘Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdor!’ Jesus antwoord hulle toe: ‘Julle moet geloof in God hê. Amen, Ek sê vir julle: Wie vir hierdie berg sê, “Lig jouself op en gooi jouself in die see,” en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gaan gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle, alles waarvoor julle bid en vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so gebeur. En wanneer julle staan en bid—as julle iets teen iemand het, vergeef hom, sodat julle Vader in die hemele julle ook julle oortredings kan vergeef.’ ” Jesus sinspeel op Sag. 4:6-7. Toe die Jode uit Babilon terugkeer, het hulle die tempel herbou. Hulle vyande het hulle teengestaan, leuens vertel en die koning oorreed om hulle te stop. Die Jode was moedeloos. Die profeet Sagaria het die Joodse goewerneur (Serubbabel) aangemoedig om die werk klaar te maak. “ ‘Nie deur mag of deur krag nie, maar deur my Gees,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. ‘Wie is jy, groot berg? Voor Serubbabel word jy ’n vlakte. Hy sal die sluitsteen naderbring onder uitroepe van, “Genade, genade hiervoor!’ ” Die hindernisse het soos ’n berg voor die volk gelê, maar met die Gees se hulp sou Serubbabel die taak voltooi en die boonste sluitsteen lê. Deur gebed kan die Here berge platvee en ten spyte van alle opposisie sy kerk bou (Ps. 110:1, Matt. 16:18, 2Kor. 10:3-5). LGBTQ+, Wokeness, Sosiale Marxisme, Islam, Afrika-godsdiens, wêreldregerings en Satan self sal die knie voor Jesus buig en erken dat Hy die Here is (Fil. 2:10-11). Die probleem is ons glo nie dit kan gebeur nie, daarom bid ons nie daarvoor nie. Ons gebede sentreer rondom ons klein lewens.

Beteken ons biddelose ongeloof die Here se raadsplan sal nie uitwerk nie? Nee. God sal die Gees van gebed oor iemand anders uitstort (Sag. 12:10). Hulle sal die Here vir die onmoontlike vertrou en daarvoor bid. Hy sal hulle gebede antwoord en ’n herlewing in hulle midde stuur. Hulle sal sy vreugde smaak, terwyl ons geestelik honger ly. Ons sal klein antwoorde op gebed sien, omdat ons ’n klein beeld van God het en klein bid. Die Here sal nie skade ly nie; ons sal. Die kerk in Indonesië en Iran sal herlewing sien, terwyl kleingelowige kerke in Suid-Afrika middelmatig aangaan. Oor 30 jaar sal ons nog steeds net vir goeie gesondheid, ’n veilige reis, genoeg kos en ons kinders se eksamens bid. Ek weet nie van jou nie, maar ek soek meer. Ek wil nie die status quo of bestaande toestand handhaaf waarin ons jaar in en jaar uit kerk hou en skaars ’n indruk op die samelewing maak nie. Die duiwel skrik nie vir biddelose Christene en hulle dagstukkie-gebede nie. Wie so bid wil met ’n peashooter ’n tank stop. Solank ons biddeloos is en klein bid, sal mense ‘musical churches’ speel en van kerk na kerk skuif, maar die duiwel se koninkryk sal onbedreig bly. Al groei ons gemeente, sal ons nie bekerings sien nie. Anders as in Handelinge sal die doop van nuwe bekeerlinge ’n spesiale geleentheid eerder as die norm wees. Die doopbad sal ’n broeiplek vir muskiete of ’n stoorplek word.

Wil jy deel van so ’n gemeente wees? Ek wil nie. Word ’n bidder volgens Hand. 1:14, 2:42, Rom. 12:11-12, Kol. 4:2: bid met volharding saam met ander gelowiges en op jou eie. Dien die Here met ywer. As jy reeds so bid, wil ek jou uitdaag om jou visie volgens v.6 te verbreed. Bid groot. Bid vir die onmoontlike. Dit sal net gebeur as jy onthou tot wie jy bid: die God wat hemel en aarde gemaak het (Gen. 1:1); die ewige, heilige, hoogverhewe en alomteenwoordige God (Ps. 90:2, 99:1-3, 113:4-6, Jer. 23:24). Vir party mense trek so ’n God hulle nie nader nie—Hy skrik hulle af. Nader tot Hom deur geloof in sy Seun (Matt. 11:28-30). Hy sal jou sondes wegwas deur sy bloed (Jes. 1:18, Ef. 1:7). Bring jou gebede deur Christus na die Vader toe (1Tim. 2:5, Heb. 4:14-16). Sy oor is altyd oop, omdat Jesus aan die kruis vir ons sonde gesterf en die weg gebaan het (Heb. 10:19-22). Jy kan 24 uur per dag, sewe dae per week bid. By die Here bestaan daar nie kantoorure, skofte of vakansiedae nie. Gebruik jy die voorreg? Glo jy die Here wil, kan en sal jou help? Wys dit. Bid sonder ophou en moenie moedeloos raak nie (18:1, 1Tess. 5:17). Glo Hy sal antwoord as jy bid (11:9-10). Moenie opgee as Hy nie dadelik antwoord nie. Volhard. Elia het so gebid. Toe die Here sê dit gaan reën, het Elia Hom geglo en gebid. Selfs toe daar na die eerste ses pogings geen teken van reën was nie, het hy aangehou. Hy het God se Woord geglo (1Kon. 18:1, 41-46).

Hoe moet jy bid as jy nie ’n spesifieke belofte het nie? Beroep jou op die algemene beloftes van God. Sê as jy vir ’n geliefde se bekering bid: ‘U het nie ’n behae in die dood van die goddelose nie; U wil hê hy moet hom bekeer en lewe. U wil hê alle mense moet gered word en tot die kennis van die waarheid kom. U het gesê as ek in die waarheid en ’n heilige lewe volhard, sal ek myself red, sowel as die wat my hoor.’ (Eseg. 18:32, 1Tim. 2:4, 4:16). Sê as jy vir jou kinders se redding bid: ‘U het gesê U sal u Gees en u Woord in my nageslag se mond sit. In Handelinge het hele gesinne tot bekering gekom. Sal U dit nie vir my ook doen nie?’ (Jes. 59:21, Hand. 2:39, 11:14, 16:15, 31-34, 18:8). Sê as jy vir iemand se genesing bid: ‘U is ’n goeie Vader. U gee presies wat u kinders vra. Sal U asseblief my ma genees?’ (Matt. 7:9-13).

Dalk huiwer jy om so te bid. Bid dan volgens jou geloof: “Nadat Jesus die huis binnegegaan het, het die blindes na Hom gekom, en Jesus het vir hulle gesê: ‘Glo julle dat Ek dit kan doen?’ Hulle antwoord Hom: ‘Ja, Here.’ Toe het Jesus hulle oë aangeraak en gesê: ‘Laat met julle gebeur soos julle glo.’ En hulle oë is geopen.” (Matt. 9:28-30). James Fraser het so gebid. Fraser was ’n sendeling onder die Lisu-bevolkingsgroep in China. Uit tweeduisend gesinne was die bekerings bittermin. Selfs dié wat kwansuis tot bekering gekom het, het teruggeval om hulle afgode te dien. Fraser het besluit om meer te bid. Hy het ander gevra om saam te bid. Hy het die Here vir ’n paar honderd gesinne vertrou. Toe iemand hom vra hoekom hy nie vir ’n duisend gesinne se bekering bid nie, toe sê hy: ‘Want ek het nie geloof daarvoor nie. Ek het geloof om die Here vir ’n paar honderd te vertrou.’ Die Here het sy gebed verhoor. Binne ’n paar jaar het 129 gesinne tot bekering gekom.2 Waarvoor vertrou jy die Here? Vra Hom om jou deur sy Woord en sy Gees te lei waarvoor jy moet bid. Waak teen blote emosie. Moenie selfsugtig bid nie, maar meet jou gebede aan die Bybel. Prys en dank die Here as Hy jou gebede verhoor (Ps. 50:15).

Sê jy: ‘My geloof is kleiner as ’n mosterdsaad’? Jy fokus weer op jou geloof eerder as op die Here. Glo jy in die God van hemel en aarde, en in sy Seun Jesus Christus? Dan het jy genoeg geloof.

Dalk is jou probleem nie kleingeloof nie, maar ongeloof. Jy glo God bestaan, maar het ’n beter verhouding met hond as met die Here. Jy bid as jy ’n krisis het, per gewoonte voor jy eet, of as iemand by die kerk jou vra om te bid. Tog het jy nie ’n persoonlike verhouding met die Here nie. Bekeer jou van jou ongeloof. Glo in Jesus as jou persoonlike Verlosser en Here. Vra Hom vir geloof as jy nie weet hoe om te glo nie (Ef. 2:8-9, Fil. 1:29). Glo sy bloed kan jou van alle sonde reinig (1Joh. 1:7). Glo 1Kor. 1:30: “Deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons die wysheid geword het wat van God kom, regverdiging sowel as heiliging en bevryding.” Bid om vol van die Gees en geloof te wees (Hand. 6:5). Vra die Gees om jou te leer bid (Rom. 8:15, 26-27). Bid vir gawe van geloof (1Kor. 12:9). Dan sal jy soos George Müller ’n man van gebed word en baie antwoorde op gebed sien. Volgens Müller se joernale het hy meer as 50 000 spesifieke antwoorde op gebed gesien. Dit is meer as een antwoord per dag vir 60 jaar! Uit die 50 000 antwoorde het die Here 30 000 op dieselfde dag en partykeer in dieselfde uur verhoor.3 Moenie net hiervoor wens en dink dit kan nie met jou gebeur nie. Het jy geloof soos ’n mosterdsaad? Glo jy in God wat die heelal en alles daarin gemaak het? Dan het jy genoeg geloof (v.6). Wys jou geloof deur met volharding te bid.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Stuart Olyott, Something Must Be Known & Felt (Bridgend, Wales: Evangelical Movement of Wales, 2014), 125-7

3  https://www.crossway.org/articles/what-george-mueller-can-teach-us-about-prayer/

Kategorieë