Coram Deo Cover Image

Coming soon...

9 November 2014

Beskerming vir pelgrims

Pilgrim's Progress

[youtube=http://youtu.be/qOn2r0q8wEQ]

Het jy al The Pilgrim’s Progress van John Bunyan gelees?  Die boek gaan oor ‘n man wat sy rug op die Stad van Verwoesting draai en na die Hemelse Stad toe vlug.  Oppad kom hy baie gevare teë:  Berg Sinaï, die Moedverloor Moeras, Apollion, die Dal van Doodskaduwee, die Vallei van Vernedering, leeus, Ydelheidskermis, Reus Wanhoop, ongelowiges, skynheilige en vals Christene, die Rivier van die Dood, en meer.  Die Here het hom egter teen al hierdie gevare beskerm.  Is jy ‘n pelgrim wat oppad is na die Hemelse Stad?  Watse gevare is daar op jou pad?  Die Here sal jou teen al hierdie gevare beskerm.  Mag Psalm 121 jou gerusstel.

 

1 ‘n Bedevaartslied.

Ek slaan my oë op na die berge:

waar sal my hulp vandaan kom?

2 My hulp is van die HERE

wat hemel en aarde gemaak het.

3 Hy kan jou voet nie laat wankel nie;

jou Bewaarder kan nie sluimer nie.

4 Kyk, die Bewaarder van Israel

sluimer of slaap nie.

5 Die HERE is jou Bewaarder;

die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand.

6 Die son sal jou bedags nie steek nie,

die maan ook nie by nag nie.

7 Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil;

jou siel sal Hy bewaar.

8 Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar,

van nou af tot in ewigheid.

 

Wie sal ons beskerm? (v.1-2)

Onthou jy die TV program ‘Highlander’? Die karakter se naam was Duncan Macleod.  Hy is 400 jaar tevore in die Skotse hoogland gebore.  Hy was onsterflik.  Wel, byna.  ‘n Koël, kar of meswond kon hom nie doodmaak nie.  Maar hy kon doodgaan as sy kop met ‘n swaard afgekap word.  En sommige van sy vyande het dit geweet.  Daarom het hy dikwels by kerke en begraafplase – ‘heilige grond’ – rondgehang.  Dáár was sy kop veilig.

 

Kan God net sy kinders beskerm by die tempel of op ander ‘heilige grond’? Die psalmis was van sy huis af oppad Jerusalem toe vir een van die jaarlikse Feeste (daarom noem v.1 dié Psalm ‘n bedevaarts- of pelgrimslied).  Om te reis was gevaarlik.  Rowers en wilde diere kon jou doodmaak (23:4, Esra 8:21-23, Lukas 10:30).  Wie sou hom beskerm?

 

Die tempel was op ‘n berg gebou (daarom praat sommige Engelse vertalings van dié Psalm as ‘A Song of Ascents’).  Soos wat hy nader gekom het, sou hy die berg sien en vra:  “Ek slaan my oë op na die berge:  waar sal my hulp vandaan kom?” (v.1).  Hoe sou Duncan Macleod dié vraag antwoord?  ‘Sodra ek by die tempel aankom sal ek op heilige grond wees en kan die vyand my geen skade aandoen nie.’  Was dit die Psalmis se antwoord?  “My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.” (v.2).

 

Jahwe is geen berggod wat tot ‘n berg of tempel op ‘n berg beperk is nie. Toe Israel afgode gedien het, het die Here gesê:  “Waarlik, tevergeefs verwag hulle dit van die heuwels en van die rumoer op die berge; waarlik, in die HERE onse God is Israel se heil.” (Jeremia 3:23).  Jare voor dit het Sirië op die berge teen Israel geveg en verloor.  Wat was hulle slotsom?  “Hulle gode is berggode; daarom was hulle vir ons te sterk; maar as ons met hulle op die vlakte veg, sal ons sekerlik sterker wees as hulle.” (1 Konings 20:23).  Hulle het gou geleer dat hulle verkeerd was; dat Israel se God hemel en aarde besit.  Hy kan op enige plek sy volk beskerm.

 

Moenie van Jesus ‘n berggod maak wat jou net op sekere plekke en in sekere omstandighede kan beskerm nie. Kan God jou in die aand beskerm as jou huis se alarm gebreek het?  Die hekslot van die huis waar ons onlangs vakansie gehou het kon nie sluit nie.  Die eerste dag of twee was ek angstig, totdat ek die beginsel in Psalm 127:1 ter harte geneem het:  “as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.”  Kan die Here jou toekoms beskerm as jy jou pensioenfonds verloor het?  Is jy onder die Here se beskerming as jou man oorsee is vir besigheid en jy alleen by die huis is met die kinders?  Kan Hy jou maat en kinders beskerm as jy doodgaan en hulle alleen agterbly?  Kan Hy jou veilig hou as versoeking en beproewing soos bomme om jou val?  Ons moenie bang wees nie.  Vrees sal jou lamlê.  Nee, dis erger:  dit verneder God tot die status van ‘n berggod wat ons net op sekere plekke en tye kan beskerm.

 

Hoe sal Hy ons beskerm? (v.3-4)

In 2011 het ek en my vrou deur die nag Kaapstad toe gery. Terwyl sy bestuur het, het ek geslaap en andersom.  Ek kon rustig slaap omdat ek geweet het sy is agter die wiel.

 

God is altyd wakker. Hy slaap nooit nie.  Omdat dít so is sal Hy toesien dat sy pelgrim nie ‘n voet swik op die los klippe in die woestyn nie:  “Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie.” (v.3).  “want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.  Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.” (91:11-12).  Het dit al vir jou gevoel of die hemel stil is wanneer jy bid; of die Here slaap?  “Ontwaak!  Waarom slaap U, Here?  Word tog wakker!  Verstoot nie vir ewig nie!” (44:24).  Moenie bang wees nie:  dit lýk net of Hy slaap, maar Hy is wakker:  “Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.” (v.4).[1]  Hy is nie ‘n afgod wat (vir ewig!) slaap nie:  “En hulle [die Baälpriesters] het... die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê:  o Baäl, gee ons antwoord!  Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie.  En hulle het rondgespring by die altaar wat hulle gemaak het.  En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê:  Roep hard; hy is mos ‘n god!  Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word.” (1 Konings 18:26-27).  Raak God ooit moeg of uitgeput?  “‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie” (Jesaja 40:28).  Sal jy rustiger slaap as jy weet dat God nooit slaap nie; dat Hý oor jou waak?

 

Moenie lewe asof God slaap en onbewus is van jou probleme nie. Moenie wakker lê oor jou kinders, werk, toekoms, geld, en veiligheid nie.  Laat God toe om God te wees.  Werp jou sorge op Hom (1 Petrus 5:7) en slaap rustig.  Sal jou probleme verdwyn omdat jy angstig is en wakker lê?  Kan die Here jou probleme wegvat?

 

Waarteen sal Hy ons beskerm? (v.5-6)

‘n Mens kry sonsteek as jy vir lang tye in die warm son is. Jou liggaam word te warm en kan homself nie afkoel nie.  Dit oorverhit tot 40.6˚C. Dis nie ‘n gewone koors wat deur inflammasie of infeksie veroorsaak word nie.  Sonsteek kan dodelik wees.  Jou liggaam begin verskriklik sweet en hou dan ewe skielik op.  Jy dehidreer en jou vel raak droog.  Jy voel duislig en naar.  Jy kry hoofpyne en stuiptrekkings.  Jou hart klop baie vinnig.  Jou spiere kramp.  Jy is verward en hallusineer.  Hou dít in gedagte wanneer jy v.5-6 lees:

 

“Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand. Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie.”

 

Die gemiddelde soldaat het ‘n skild in sy linkerhand gehad. Sy regterkant was onbeskerm.  Dit is wat die psalmis in v.5 bedoel:  “die Here is jou skaduwee aan jou regterhand.”  Onthou ook dat groot dele van Israel woestyn is.  Om vir ure in die bloedige son te loop is gevaarlik (sien Jona 4:8).  Daarom sê hy:  “die Here is jou skaduwee aan jou regterhand.  Die son sal jou bedags nie steek nie”  Die psalmskrywer onthou seker ook hoe die wolkkolom die volk oorskadu het toe hulle deur die woestyn getrek het:  “Hy het ‘n wolk uitgebrei as bedekking en vuur om die nag te verlig.” (105:39).

 

Wat bedoel die psalmis as hy sê dat die maan jou snags nie sal steek nie (v.6)? Ons weet nie presies watse effek die maan op mense het nie.  Party glo dat mal mense deur die maan geaffekteer is (vandaar die Engelse term ‘lunatics’).  Dit mag wees dat v.6 eenvoudig beteken:  ‘Die Here sal jou teen alle gevare van die dag en die nag beskerm.’  Só sê Psalm 91:5-6 dit:  “Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!”  Onthou ook dat baie mense in dié tyd geglo het dat die son en maan gode is.  Die psalmis sê dus:  ‘Jahwe is die enigste God.  Jy hoef nie bang te wees vir afgode nie.  Die Here sal jou beskerm.’

 

Is God nogsteeds die skaduwee aan ons regterhand? Hoor die Woord van die Here:

 

  • “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.” (91:1).
  • “Dan skep die HERE oor elke woonplek van die berg Sion en oor sy plekke van samekoms ‘n wolk bedags en rook met die glans van vuurvlamme in die nag; want oor alles wat heerlik is, sal daar ‘n beskutting wees. En daar sal ‘n afdak wees vir ‘n skaduwee bedags teen die hitte en vir ‘n skuilplek en oevlug teen die stortbui en die reën.” (Jesaja 4:5-6).
  • “En elkeen sal wees soos ‘n toevlug teen die wind en ‘n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ‘n dor streek, soos die skaduwee van ‘n swaar rots in ‘n land wat versmag.” (Jesaja 32:2).
  • “Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan. Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.” (Openbaring 7:15-16). Kontrasteer dit met 16:8: “En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee om die mense met vuur te skroei.”

 

Die enigste manier hoe jy in God se skaduwee kan skuil is deur geloof in Jesus. Is geloof net om die feite van die evangelie te glo:  ‘Jesus is God en het mens geword; Hy was sondeloos in sy lewe, maar het die straf van sondaars op Homself geneem in sy kruisdood; Hy is begrawe en het op die derde dag opgestaan’?  Geloof is nie minder as dit nie, maar dis verseker meer as dit (sien Jakobus 2:19).  Geloof is om onder Jesus se ‘vlerke’ te skuil, sodat die roofvoël van God se oordeel jou nie sien nie (Matteus 23:37).  In Alec Motyer se woorde:  ‘The only way to flee from God is to flee to Him.’

 

Wanneer sal Hy ons beskerm? (v.7-8)

John Witherspoon het vir jare elke dag te perd van sy huis in Rock Hill na New Jersey College se kampus toe gery. Een dag het ‘n kollega in sy kantoor in gestorm:  ‘Dr. Witherspoon, dr. Witherspoon!  Ek wil jou vertel van die Here se verstommende beskerming!  Ek was oppad tussen Rock Hill en die kampus.  My perdekar het omgeslaan en is teen die rotse verpletter!  Ek het nie ‘n skrapie opgedoen nie!’  Dr. Witherspoon het nie ‘n oog gewink nie, maar gesê:  ‘Laat ek jou iets méér verstommend vertel.  Ek het al honderde kere op daardie pad gery.  My perdekar het nog nooit omgeslaan nie; dis nog nooit teen die rotse verpletter nie.  Die Here het my nog élke keer beskerm.’

 

Beskerm die Here ons net as ons na ons asem hyg, hoendervleis kry, en dit naelskraap was? Die Here het sy pelgrim bewaar teen wilde diere, rowers, elke onheil, en selfs teen die dood:  “Die HERE sal jou bewaar vir [teen] elke onheil; jou siel [lewe] sal Hy bewaar.” (v.7).  “Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie... Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap.” (91:10, 13).

 

Wat bedoel die psalmis as hy in v.8 sê: “Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar”?  Dié frase word gebruik van soldate wat uitgaan om te veg en dan terugkeer huistoe; van mense wat soos skape uitgaan weiveld toe en in die aand terugkeer na die kraal toe (2 Samuel 5:2, Numeri 27:17).  Die Here sal sy weermag teen die vyand beskerm, sy skape veilig hou teen wolwe.  Aan dié wat Hom gehoorsaam sê Hy:  “Geseënd sal jy wees by jou ingang, en geseënd sal jy wees by jou uitgang.” (Deuteronomium 28:6).  God sal jou nie net in dié lewe bewaar nie, maar “van nou af tot in ewigheid.” (v.8).

 

Hoe moet jy hierop reageer? Glo hierdie leerstelling.  Moenie twyfel dat die Here jou tot die einde toe en vir ewig sal bewaar nie.  Die duiwel sal jou nie steel nie.  Jy sal nie jou redding verloor nie.  Die Bybel sê:

 

  • “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.” (Johannes 10:28-29).
  • “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:38-39).
  • “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.” (1 Tessalonisense 5:23-24).
  • “En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan.” (2 Timoteus 4:18).
  • “Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas 24).

 

Beteken hierdie leerstelling jy kan geestelik lui wees en sondig soos jy wil? Sal jy nie in elk geval veilig in die hemel aanland nie?  Dalk nie.  Moet dit nie vanselfsprekend aanvaar nie.  Jy móét aanhou om die evangelie te glo en onder Jesus se vlerke te skuil.  Moenie ophou bid dat God jou teen die bose sal bewaar nie (Matteus 6:13).  ‘Eens-gered-altyd-gered’ moet in balans gebring word met “wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Matteus 10:22).  God bewaar jou deurdat jy glo:  “‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis... wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof...” (1 Petrus 1:4-5).

 

Hoe het Pelgrimsrus sy naam gekry? In die 1872 het Alec Patterson spoelgoud hier ontdek.  Van oraloor het prospekteerders daarheen gestroom.  Soos wat die myners aangekom het, het die nuwe inwoners vir mekaar gesê:  ‘Another pilgrim has come to rest.’  In 1972 het Pelgrimsrus ‘n spookdorp geword.  Later het die regering dit herstel en tot ‘n lewende museum verklaar.  Jy het ‘n beter erfenis as spoelgoud:  ‘n ewige stad wat nooit ‘n spookdorp of museum sal word nie.  Die Here sal jou beskerm tot jy daar kom.  Dan sal die psalmis en ander gelowiges wat reeds daar is sê:  ‘Another pilgrim has come to rest.’

 

[1] Maar wat van Jesus: volgens Matteus 8:24 het Hy in die boot aan die slaap geraak?  Dié vers sê nie vir ons dat Hy nie God is nie, maar dat Hy volkome mens is.  Vir die tydjie wat Hy op aarde was het Hy die onafhanklike gebruik van sy Goddelike eienskappe prysgegee (Filippense 2:6-7).

Kategorieë