Lukas 13:1-9
In 1824 het John Elias te Holyhead in Wallis gepreek. By vorige geleenthede het ’n groep dronkaards die byeenkoms onstig. Toe Elias weer daar moes preek, toe vra hy die dronkaards om hulle te gedra. Hy was onseker of hulle sou luister en het ’n eksperiment probeer. Hy het gemaak of hy die dronkaards in sy hand vashou en hulle opveil:
‘Who will take them? Who will take them? Churchmen, will you take them?’
‘We? We, in our baptism have professed to renounce the devil and all his works. No; we cannot take them.’ ...
‘Independents, will you take them?’
‘What? We? We, ages ago, left the Church of England because of her corruption. No; we will not take them.’ ...
‘Baptists, will you take them?’
‘We? certainly not! We dip all our people in water as a sign that we take those who have been cleansed. No; we will not have them.’ ...
‘Wesleyans, will you take them?’
‘What? we? Good works is a matter of life with us. We do not want them.’ ...
Who will take them? Who will take them? Who will take them?’
Elias het onverwags begin fluister: ‘Methinks I can hear the devil at my elbow saying, “Knock them down to me! I will take them.”’ Na dertig sekondes van doodse stilte het Elias gesê: ‘I was going to say, Satan, that you could have them, but I can hear Jesus saying, “I will take them! I will take them! Unclean, to be washed; drunkards, to be sobered; in all their filth and degradation, I will take them, and cleanse them in mine own blood.”’ Toe die skare dit hoor, is hulle met blydskap vervul.1
Ek sal saam met die hemel bly wees (15:7, 10) as selfs net een persoon vandag tot bekering kom.
1. Bekering en ongeloof (v.1-5)
Gert hoor ’n sterk boodskap in die kerk. Die mense is aangegryp. Gert hoop dat sy vrou mooi luister. Die Jode in v.1 was so: toe hulle Jesus se lering oor bekering, vergifnis en die hel hoor (12:58-59), het hulle gedink Hy bedoel dit vir ander: “Juis in daardie tyd was daar mense teenwoordig wat Hom vertel het van die Galileërs wie se bloed Pilatus met dié van hulle offerdiere gemeng het.” (v.1). Dit is asof hulle gesê het: ‘Iemand wat op so ’n wrede manier sterf, moet seker ’n groot sondaar wees (vgl. Joh. 9:2). So iemand verdien die straf waarna U sopas verwys het.’ Jesus se reaksie het hulle uitgeboul: “Hy het hulle geantwoord en gesê: ‘Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as al die ander Galileërs omdat hulle hierdie dinge gely het?... Of daardie agttien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle geval het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die inwoners van Jerusalem?” (v.2, 4). Die waarheid is almal van ons is sondaars wat die dood verdien (Rom. 3:23, 5:12, 6:23a).
Verontskuldig jy jouself deur te sê jy is nie so skuldig nie? Jy mislei jouself. Robert Murray McCheyne sê: ‘If I had told some of you, when you were little children playing beside your mother’s knee, the sins that you were afterwards to commit, you would have said: “Am I a dog, that I should do this thing?” and yet you have done them. If I could show each of you the sins that you are yet to commit, you would be shocked and horrified... I suppose that the most of you think it quite impossible you should ever be guilty of murder, or adultery, or apostasy, or the sin against the Holy Ghost; this arises from your ignorance of your own black heart... you carry about with you a slumbering volcano—a heart whose wickedness you do not and cannot know.’2
Jesus se waarskuwing geld vir almal: “Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom!” (v.3, 5). Volgens 12:56-57 het Israel Jesus nie as die Messias herken of erken nie. Wanneer Jesus die Jode beveel om hulle te bekeer, verwys Hy spesifiek na hulle ongeloof. Hulle moet Hom nie langer verwerp nie, maar op grond van sy werke glo dat Hy die Messias is (Joh. 10:37-38, 14:11). Kon Jesus wonderwerke doen as Hy nie deur God gestuur is nie (Joh. 3:2)? Was dit sielkundige manipulasie? Verseker nie. Kon manipulasie al ooit ’n blinde laat sien of ’n stomme laat praat (Matt. 12:22)? Het Jesus wonderwerke deur die duiwel se mag gedoen? Ook nie, omdat Satan homself nie uitdryf of teen homself baklei nie (11:14-18).
Die bewyse is op die tafel. Jy het een van twee keuses: [a] Bely jou ongeloof as sonde—glo in Jesus, wees lief vir Hom, bewonder Hom, gehoorsaam Hom, aanbid Hom en volg Hom. [b] Skryf Hom af as ’n mal mens en ’n leuenaar; spoeg op Hom en roep saam met die skare: ‘Weg met Hom! Kruisig Hom!’ (23:18, 21).3
Min kerkmense dink hierdie preek is vir hulle. In hulle geval is ongeloof nie ’n probleem is nie. Of so dink hulle. Ongeloof beteken nie noodwendig dat jy Jesus se liggaamlike opstanding, maagdelike geboorte of wonderwerke ontken nie. Ongeloof is ook as jy die feite rondom Jesus se persoon en verlossingswerk bely sonder om jou te bekeer (Jak. 2:19). Baie van die Jode het dit gedoen. Hulle het Jesus se wonderwerke gesien; hulle kon dit nie ontken nie. Tog het hulle nagelaat om hulleself te verloën en Jesus te volg (9:23).
Party mense dink intellektuele instemming is voldoende: solank jy glo Jesus het vir jou sonde gesterf, is jy veilig. God het jou vergewe en jy is op pad hemel toe, al het jou lewe nie verander nie. Jesus kan jou Verlosser wees al is Hy nie jou Here nie. Jy kan ’n seksueel losbandige dronkaard wees en nog steeds hemel toe gaan.
Hierdie lering is baltant onbybels. Volgens die Bybel is geloof sonder bekering geen geloof nie. Geloof en bekering is kante van dieselfde munt. Jy bekeer jou van sonde tot God (Heb. 6:1). Paulus beaam dit: “terwyl ek teenoor Jode sowel as Grieke kragtig getuig het van bekering tot God en geloof in ons Here Jesus.” (Hand. 20:21). Sonder bekering kan daar nie vergifnis wees nie. Die twee loop saam: “...dat in sy Naam bekering tot die vergewing van sondes aan alle nasies verkondig moet word.” (24:47). “Petrus antwoord hulle: ‘Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.” (Hand. 2:38). “Bekeer julle en draai terug, sodat julle sondes uitgewis kan word” (Hand. 3:19).
Mense wat geloof en bekering teen mekaar afspeel, vergeet dat ongeloof ’n sonde is waarvan jy jou moet bekeer (v.3, Matt. 21:32, Joh. 16:8-9, Rom. 11:23). Ongeloof is die lelike stiefma van elke ander sonde. Harry is byvoorbeeld seksueel losbandig, want hy glo nie die Here kan hom gelukkig maak nie (Joh. 4:14, 18). Hy glo nie God is goed nie, maar dink die Here wil goeie dinge van hom weerhou (Gen. 3:1). Hy glo nie God sien wat hy agter toe deure in die donker doen nie (Ps. 139:11-12). Hy glo nie God is waaragtig, heilig en regverdig om sy sonde te straf nie. Hy glo nie Ef. 5:5-6 nie: “Want dit moet julle goed begryp: Geen hoereerder of onreine of gierigaard—so iemand is ’n afgodedienaar—het ’n erfdeel aan die koninkryk van Christus en van God nie. Laat niemand julle verlei met niksseggende redenasies nie, want daardeur kom die toorn van God oor die seuns van die ongehoorsaamheid.”
Uiteindelik sal Harry God se bestaan ontken. Sy ateïsme is ’n verskoning vir sy sonde (Rom. 1:18-32). Maar sy ongeloof verander nie die feite nie—die Here gaan hom straf. Vir die Jode het dit ’n wrede dood beteken. Soos die Galileërs deur Pilatus geslag is (v.1), sou die res van Israel in 70 n.C. deur die Romeine geslag word. Dit was God se straf oor hulle (v.3, 5). Die Grieks vir ‘omkom’ (appolumi) verwys ook na die hel (Matt. 10:28). Dit is die verdiende straf vir mense se ongeloof (2Tess. 2:12).
Party mense dink ongeloof is nie so erg nie. Hulle sal by ’n ongelowige se begrafnis sê: ‘Darem is die pyn nou verby en rus hy op ’n beter plek.’ Dit is ’n leuen. Omdat die persoon hom nie bekeer het nie, sal God hom straf (v.3, 5). Ek sal nie op sy begrafnis skreeu dat hy in die hel is nie. Maar ek gaan nie lieg en sê hy is hemel toe nie. Ek sal liewer stilbly en die evangelie vir die naasbestaandes preek.
Bekeer jou (v.3, 5). Moenie op ’n bekering van jare gelede staatmaak as jy huidiglik in sonde lewe nie. Bekeer jou opnuut (Op. 2:5, 3:19). Doen dit deeglik (Esra 10:13). Bely jou sonde spesifiek en universeel. Met universeel bedoel ek jy moet al jou sondes bely: die sonde van ’n korrupte natuur, hart, begeertes, wil, emosies, gedagtes, woorde en dade. Doen restitusie om te bewys jy het jou bekeer—vat die gesteelde goed terug.
Dalk moet jy vir die eerste keer tot bekering kom en die evangelie glo (11:32, 15:7, 10, 17-21, Hand. 16:14, 30-34). Vra die Heilige Gees om jou van sonde te oortuig (Joh. 16:8). Bid dat Hy jou ’n nuwe mens maak (2Kor. 5:17). Vra Hom om jou te wys dat jy saam met Christus gekruisig is (Gal. 2:20, 5:24). Bekeer jou en bely dit openlik deur die doop (Hand. 2:38). Raak ontslae van die dinge wat tussen jou en die Here staan. Die Efesiërs het hulle okkultiese boeke verbrand (Hand. 19:18-19). Toe my suster tot bekering kom, het sy haar onbeskeie klere, vieslike CD’s en DVD’s verbrand.
As jy jou so bekeer het, moet jy aanhou om goeie vrug te dra (8:15). Volhard in die samekoms van die gelowiges onder die Woord, rondom die nagmaaltafel en in gebed (Hand. 2:42). As jy jou so bekeer, sal jy nie op elke kamp van voor af tot ‘bekering’ kom sonder om te verander nie. Vra die Here om ’n ware bekering in jou te bewerk (Hand. 5:31, 11:18, 2Tim. 2:25). Iemand wat ’n vals bekering ondergaan, huil oor die gevolge van sy sonde (Ps. 78:34-37). Hy is jammer hy is uitgevang en haat dit om skuldig te voel (2Kor. 7:10). Hy bekeer hom vir ’n tyd, maar keer terug na sy sonde (Jer. 34:15-16). Iemand wat waarlik tot bekering kom, haat die sonde self. Hy het berou dat sy sonde die Here bedroef. Hy is bereid om die gevolge van sy sonde te dra. Hy weet God skuld hom nie vergifnis nie en beroep hom op sy genade.
2. Die vrug van bekering (v.6-9)
Hoekom plant die boer in v.6 ’n vyeboom in sy wingerd? Party reken dit is om die voëls weg van die druiwe te lok. Ek weet nie of dit so is nie, maar weet dat Jesus ’n geestelike les wil leer. Israel is die wingerd en vyeboom wat suur of geen vrugte geproduseer het nie (v.6, Jes. 5:2, Jer. 8:13, Hos. 9:10, 10:1, Miga 7:1). Sonder die vrug van bekering het Israel se belydenis as God se uitverkore volk niks beteken nie (v.6). Sonder die vrug van bekering beteken jou Christelike belydenis niks. Dra vrugte wat by die bekering pas (Matt. 3:8, Hand. 26:20). Ek bedoel nie jy moet beter lewe om ’n Christen te word nie. Maar as jy jou bekeer (v.5), sal die vrug van bekering volg (v.6). Die vrugte dui aan watter soort boom jy is (6:43-49).
Tydens die drie jaar van sy bediening het Jesus goeie vrugte aan die vyeboom gesoek (v.7). Toe Hy niks kry nie wou Hy die nuttelose vyeboom uitkap, vervloek en in die hel verbrand:
“Toe het hy vir die tuinier gesê, ‘Kyk, dis al drie jaar wat ek vrugte aan hierdie vyeboom kom soek en niks kry nie. Kap dit uit. Waarom moet dit die grond langer uitput?’” (v.7).
“Die byl lê reeds teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” (3:9).
“Toe hulle die volgende dag van Betanië af vertrek, het Hy honger geword. Hy het van ver af ’n vyeboom met blare gesien, en gaan kyk of Hy nie miskien iets daaraan sou vind nie. Toe Hy by die boom kom, het Hy niks gevind nie, net blare, want dit was nie tyd vir vye nie. Hy sê toe vir die vyeboom: ‘Mag niemand tot in ewigheid ooit weer 'n vrug van jou af eet nie!’ Sy dissipels het dit gehoor... Toe hulle vroegoggend daar verbygaan, het hulle die vyeboom gesien, verdor tot in sy wortels. Petrus het onthou—en sê vir Hom: ‘Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdor!’” (Mark. 11:12-14, 20-21).
“Elke loot aan My wat nie vrug dra nie, sny Hy weg... As iemand nie in My bly nie, word hy soos ’n loot buite uitgegooi, en verdroog. Hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.” (Joh. 15:2, 6).
Almal van ons verdien God se straf, maar Hy is geduldig: “...Meneer, laat dit nog hierdie jaar bly staan, totdat ek rondom gespit en mis gegee het.” (v.8). “...Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom... En beskou die lankmoedigheid van ons Here as ’n geleentheid tot verlossing” (2Pet. 3:9, 15). God is meer gretig om mense te red as wat hulle is om hulle te bekeer. Spurgeon het gesê: ‘Slow are the steps of repentance, but swift are the feet of forgiveness.’4 Die verlore seun het kop onderstebo en sleepvoet huistoe gekom. Sy pa het hom tegemoet gehardloop en hom omhels, gesoen en vergewe (15:20).
Wat meer moet die Here doen om te wys Hy wil mense red? Hy het die grond omgespit, sodat die reënwater die boom se wortels makliker kon bereik. Hy het bemesting in die grond ingewerk (v.8). Jesus het aan die kruis gesterf om ons te red en ons sondes te vergewe. Ongelukkig het die Jode dit gemis. Hulle het hulle kans verspeel. Toe evangelie aanhoudend na hulle toe kom, het hulle verwerp (Hand. 9:23, 13:45-46, 14:2, 19, 17:5, 13, 18:5-6, 12, 19:8-9, 20:3, hfst. 21-25, 28:25-27, 1Tess. 2:14-16). Daarom het God die meeste van hulle uitgekap (v.9). In 70 n.C. het Hy Jerusalem en die tempel deur die Romeine verwoes. Deur die geskiedenis is die Jode uit verskillende lande verban en vervolg.
Die Here kan dit met ons ook doen (Rom. 11:21-22, Openbaring 2-3). Hy kan sy Woord wegvat as ons dit nie wil hê nie (Amos 8:11). Bekeer jou (v.5). Bly deur geloof en gebed in Christus en sy Woord, dan sal jy die goeie vrug van die Gees dra (Joh. 15:4-5, 7, Gal. 5:22-23). Eendag sal selfs die Jode tot bekering kom; die afgekapte vyeboom sal uitspruit en goeie vrugte dra. ’n Wêreldwye herlewing sal volg (Jesaja 60, Rom. 11:12, 15, 23-26, 32). Praat van genade! In Jes. 55:6-9 lees ons:
6 Soek die Here terwyl Hy Hom laat vind,
roep Hom aan terwyl Hy naby is.
7 Die goddelose moet van sy pad afsien,
en die boosdoener van sy planne.
Hy moet na die Here terugkeer,
sodat Hy hom genadig kan wees,
en na sy God,
want Hy vergeef oorvloediglik.
8 “Ja, my planne is nie julle planne nie,
en julle paaie is nie my paaie nie,”
is die uitspraak van die Here.
9 “Want soos die hemel hoër is as die aarde,
so is my paaie hoër as julle paaie,
en my planne as julle planne.
Ons planne is boos en ons paaie sleg (Jes. 55:7). Die Here se planne en paaie is vol genade en vergifnis (Jes. 55:7-8). Soos die hemel hoër is as die aarde, is die Here se planne en paaie hoër as ons s’n (Jes. 55:9). Wie kan die hoogte van God se genade en vergifnis verstaan (Ef. 3:18-19)?5 Iemand wat dink hy weet, verstaan nog niks. “...namate die sonde toegeneem het, het die genade nog soveel oorvloediger geword.” (Rom. 5:20).
1 Edward Morgan, John Elias: Life, Letters and Essays (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1973 [1844, 1847]), 143-5
2 Robert Murray McCheyne, Sermons of M’Cheyne (London: The Banner of Truth Trust, 1961, 1972), 34-5
3 C.S. Lewis, Mere Christianity: Fiftieth Anniversary Edition (New York: HarperCollinsPublishers, 2002 [1942]), 52
4 C.H. Spurgeon, The Treasury of the Bible: New Testament—Vol. 2 (London: Marshall, Morgan & Scott, 1962), 26
5 Dane Ortlund, Gentle and Lowly: The Heart of Christ for Sinners and Sufferers (Wheaton, Illinois: Crossway, 2020), ch. 17